Wat is die mees belangrikste ding in u lewe? U antwoord op hierdie vraag is van wesenlike belang aangesien dit gaan bepaal watter keuses u gaan maak in die dae en jare wat voorlê. Ons kom almal elke dag te staan voor keuses en besluite en hierdie keuses bepaal ons toekoms. Ons karakter word inderdaad gevorm deur hierdie keuses wat ons maak. Uiteindelik sal die keuses wat ons maak bepaal of ons aan die groep gaan behoort wat Jesus Christus by Hom gaan skaar met Sy wederkoms - aan wie Hy sê: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 25:34).
Dit is hoekom dit belangrik is om ondersoek in te stel waarop ons ons toegeneentheid vestig. Dit waarop ons ons toegeneentheid vestig, wys wat vir ons belangrik is. Baie mense het van die begin die verkeerde dinge liefgehad, en hulle keuses dienooreenkomstig gemaak. Baie lewens het dus as gevolg van ongelooflike kortsigtige keuses skipbreuk gely.
Baie voorbeelde in die Skrifte wys vir ons die gevolge van waar ons ons toegeneentheid vestig en kan ons help om meer volledig te verstaan wat ons die meeste moet liefhê - en waarom. Wanneer u dit werklik verstaan, dan kan die vraag, “Wat het u die meeste lief?” die mees belangrikste een wees wat u nog ooit moes beantwoord!
Liefde vir Hierdie Huidige Wêreld
Hoe sou dit wees om die apostel Paulus persoonlik te geken het, en om saam met hom op sy reise te gegaan het? Kan u u voorstel hoe dit moes gewees het om sy preke te hoor, die wonderwerke te sien wat God deur hom gedoen het? Om ure in geselskap met hom God se plan en doel te bespreek? Ons mag dink dat indien ons die geleentheid gehad het om tyd saam met die groot manne van die Bybel deur te bring, dit baie makliker vir ons sou wees om ’n geestelike ingesteldheid te handhaaf. Dit is egter nie noodwendig waar nie!
In Filémon 24 praat Paulus van Demas wie hy beskryf as ’n “mede-arbeider”. Demas word ook genoem in Kolossense 4:14 waar hy saam met die geliefde geneesheer Lukas groete stuur aan die broeders in Kolosse. Demas was duidelik goed bekend met die apostel Paulus vir baie jare. Hy het tyd saam met Paulus deurgebring gedurende Paulus se eerste Romeinse gevangenskap. Hy moes baie belangrike take vir Paulus verrig het - selfs die Evangelie verkondig het in Paulus se plek toe Paulus onder huisarres was.
Paulus wat ’n steng werks-etiek gehad het, noem Demas ’n mede-arbeider. Dit wys daarop dat Demas ook hard in die bediening gewerk het en dat Paulus agting en respek vir hom en sy pogings gehad het.
Nieteenstaande dit, het Paulus later gesien dat Demas sy toegeneentheid op die verkeerde aangeleenthede toegespits het. In 2 Timótheüs 4:10, geskryf net ’n paar maande voor Paulus se teregstelling aan die einde van sy tweede Romeinse gevangenskap, gee Paulus aan Timótheüs die slegte nuus dat Demas die Kerk verlaat het. “Demas het my verlaat,” skryf hy, “omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het”. Na al die moeite en inspanning wat Demas daaraan gewei het om die Evangelie te verkondig en die honderde ure wat hy saam met Paulus deurgebring het, het hy nooit heeltemal in sy hart van die wêreld weggedraai nie.
As jy die wêreld lief het, kan jy God nie werklik liefhê nie. Die waardes aan die kern van hierdie gemeenskap is in teenstelling met die dinge van God (1 Joh. 2:15-17). Dit sal uiteindelik tot die ashoop van die geskiedenis verban word, saam met die gemeenskap wat dit omskryf. Hoe lief is u vir hierdie wêreld en sy lewenswyses?
Liefde vir Uitnemendheid
Baie mense wil as belangrik beskou word. Hulle begeer status, en dit lei onvermydelik tot afguns en politiek. Hierdie begeerte het tot die”geesteswrakke” van sommige in ons dag gelei, maar dit is niks nuut nie. Hierdie selfde misplaasde toegeneentheid was ook aan die werk in die lewe van baie wat met sommige van God se grootste dienaars te doen gehad het, soos in die Bybel beskryf word.
Die meeste Bybelstudente is bekend met Korag, Datan en Abiram se opstand soos beskryf in Numeri 16. Soos so dikwels die geval is, was die dinge wat hulle Moses van beskuldig het eintlik die dinge waaraan hulle self skuldig was! Korag het gesê dat Moses hom verhef oor die vergadering van die Here (vers 3), terwyl Datan en Abiram verklaar het dat die hele rede agter die Uittog was sodat Moses gedurig oor hulle kan baas speel (vers 13). Natuurlik was hierdie aanklag belaglik. Indien Moses eenvoudig wou “baas” speel, kon hy dit gewees het deur in Egipte te bly as ’n prins! Moses het nie uitnemendheid liefgehad nie; hy was die sagmoedigste mens op die aardbodem (Num. 12:3). Hy was ook bereid om in die land Midian te bly as ’n herder. Korag en ander het egter status liefgehad en dit begeer dat ander hulle belangrik ag, hulle het verkies om in opstand te kom teen God se dienaar Moses, en eintlik teen God Self.
Aan die einde van sy lewe moes Johannes (die geliefde dissipel) handel met individue in die Kerk wat probeer het om oor te neem omdat hulle dit liefgehad het dat mense hulle as belangrik moet beskou. Diótrefes was só ’n persoon (3 Joh. 9). Diótrefes het selfs so vermetel geword dat hy diegene wat getrou aan die waarheid en aan Johannes se leierskap gebly het, uit die Kerk gesit het. Diótrefes wou in beheer wees, en was bereid om oor ander te loop om daardie status te bereik.
Alhoewel Diótrefes gesê het dat hy ’n Christen is, was sy gesindheid teenstrydig met alles wat Christus persoonlik geleer en voor gestaan het. In Mattheus 23, byvoorbeeld, het Jesus Christus die Fariseërs aangekla omdat hulle as belangrik gereken wou wees. Hulle het status en vertoon liefgehad en was hoogsbelangrik in hul eie oë. Hulle was gedurig besig met ’n geknoei en met politiekery sodat hulle een voor die Sadduseërs kon wees, en selfs onder mekaar. Dit was algeheel teenstrydig met Jesus Christus se voorbeeld, wat sekerlik die mees werklik belangrikste man was wat die aarde nog ooit bewandel het. Christus het Homself vrywillig ontledig van Sy goddelike krag en glorie wat Hy met die Vader vir ewig gedeel het en het in die vorm van ’n dienskneg gekom sodat Hy kon dien en die mensdom kon vrykoop (Fil. 2:5-8). Diegene wat status lief het behaag God nie, en het ook nie Christus se gees nie.
Lief vir die Lofbetuiginge van Mense
Terwyl sommige mag en status lief het, wil baie ander eenvoudig die goedkeuring en versekering van ander hê. Koning Saul was so ’n man, en baie van sy swak besluite was gemotifeer deur ’n begeerte om goedkeuring van ander te ontvang. In 1 Samuel 15 is so ’n voorbeeld waar Saul ’n duidelike opdrag van God, om die Amalek en hulle besittings geheel en al te vernietig, oortree het. Hoekom? Soos hy uiteindelik aan Sameul erken in vers 24, het hy dit gedoen om die mense se guns te verkry, selfs al het dit God se bevele direk teengestaan. Vir Saul, soos vir baie ander, lyk mense baie meer werklik as God!
Jesus Christus het baie dramatiese tekens gedoen wat duidelike bewys gelewer het dat Hy werklik is wie Hy sê Hy is - Israel se Messias. Die Evangelie van Johannes, in die besonder, maak hierdie punt duidelik en fokus op sewe spesifieke tekens van Sy Messiasskap. Johannes het ook aangeteken dat, hoewel baie van die godsdiensleiers hierdie tekens gesien het en daardeur beïndruk was, hulle nie Jesus as die Messias wou erken nie. Wat kon hulle weerhou het van so ’n bekentenis? Johannes verduidelik dat hulle eenvoudig “die eer van die mense meer liefgehad [het] as die eer van God” (Joh. 12:43). Die Fariseërs het alreeds ooreengekom om enigeen wat Jesus as die Messias erken, uit die sinagoge te sit. Die gedagte aan so ’n verbanning was te veel vir baie, selfs al het hulle die waarheid diep in hulself geweet.
Hoe belangrik is ander se opinies vir u? Jesus het baie van die godsdiensleiers van Sy tyd vertel dat hulle eenvoudig nie die liefde van God in hulle het nie! Dit was duidelik, het Hy gesê, omrede hulle die eer wat van ander mense af kom veel meer aanneem dan die eer wat van God alleen kom (Joh. 5:42-44). As gevolg van hierdie denkwyse het baie godsdienstige mense ’n groot uiterlike vertoon gemaak (en maak nog steeds) van hulle liefdadigheid en godsdiensbeoefening (Matt. 6:1-6). Christus het vir Sy volgelinge gesê dat hulle dit in privaatheid en anoniem moet doen. As ons die erkenning en goedkeuring van ander mense soek, mag ons dit kry, dit sal ons egter ontneem van die mees belangrikste goedkeuring wat daar is - God se goedkeuring. Dit kom alles neer op die vraag: Wie se goedkeuring het ons die meeste lief?
Die Liefde vir Geld
Die liefde vir geld motiveer baie mense se besluite. Korporatiewe besluite wat baie pensioenfondse bankrot gelaat het terwyl dit ’n handvol aan die bopunt verryk het, is grotendeels gemotiveer deur ’n liefde vir geld. So ook baie besluite in die voedselproduksie-industrie. Landbou besighede streef na maksimum profyt, ongeag die gevare wat gronduitputting inhou en die gebruik van chemikalië, groei-hormone en genetiese manipulering wat die gebruiker se gesondheid benadeel. Ons nasionale verkragting van die landbougrond en wyering om die grond te laat rus soos God gesê het, is een van die redes waarom ons nasie in gevangenskap sal gaan (Lev. 26:34-35).
Mense het hulle lande verraai en hulle familie en gemeenskappe uitverkoop, alles deur die liefde vir geld. Ander het kontrakte aangegaan om enige tipe misdaad te pleeg, moord ingesluit, alles vir geld. Daar is so te sê geen immorele of vernederende daad wat iemand iewers nie al gedoen het vir geld nie. Paulus het werklik vir Timóteus gesê dat “die geldgierigheid … ’n wortel van alle euwels” is (1 Tim. 6:10).
In die eerste hoofstukke van 2 Konings vind ons die verhaal van die profeet Elísa - een van die mees merkwaardigste dienaars van God wat ooit geleef het. Elísa was ’n man met ’n groot geloof deur wie God baie wonderwerke gedoen het. Gehási was sy dienaar en het vir ’n aantal jare, terwyl hy by Elísa was, baie wonderwerke sien plaasvind. ’n Mens sal sekerlik dink dat ’n man wat in sulke bevoorregte omstandighede leef, sy prioriteite reg sal hê. Dit is egter nie noodwendig die geval nie. Neem kennis van die verhaal in 2 Konings 5 van die Arameërse generaal Naäman wat melaats was. ’n Jong Israelitiese meisie wat gevange geneem is in een van die voortdurende oorloë en grensgeskille wat daardie tyd geheers het, het diens gedoen by Naäman se vrou. Die jong meisie was jammer vir haar meester en het haar meesteres vertel van die profeet Elísa. Sy het haar verseker dat deur Elísa Naäman genees kon word. Dit was die enigste ligpunt wat Naäman kon vind. Koning Aram stuur toe Naäman na Israel om hulp by Elísa te kry.
Naäman was aanvanklik baie in die war omdat Elísa nie opgetree het soos hy verwag het nie. In plaas van ’n groot dramatiese skouspel het Elísa net woord na Naäman gestuur om sewe maal in die Jordaan rivier te bad. Naäman se eerste reaksie was om so ’n sinnelose versoek te verontagsaam, maar het egter besluit om die profeet se instruksie te volg. Die gevolg was dat hy ’n dramatiese genesing ondervind het. Oorval met ’n gees van dankbaarheid keer Naäman terug na die profeet se huis en bied hom ’n aansienlike finansiële beloning aan. Elísa weier die beloning, soos God se ware dienaars altyd besef dat God se genadegawe nie te koop is nie. Gehási het egter die beloning gesien wat Naäman aangebied het en is deur hebsug oorval. Hy het die rykdom wat Naäman saam met hom gehad het, begeer. ’n Rukkie later, toe Gehási dink dat Elísa nie bewus is van sy doen en late nie, sit hy Naäman agterna en haal sy karavaan in. Hy vertel hom toe ’n storie wat hy versin het oor ’n noodgeval wat Elísa van plan laat verander het. Die waarheid is egter dat Gehási geld liefgehad het en nie die geleentheid kon weerstaan om homself te verryk nie.
Elísa het met God se inspirasie presies geweet wat Gehási gedoen het, en hom gekonfronteer oor sy keuse. Gehási is toe swaar beproef met die gevreesde siekte waarvan Naäman bonatuurlik genees was. Gehási se liefde vir geld het verskriklike verwoestende gevolge veroorsaak in sy lewe.
Ons kan ons toegeneenthede en gevolglik ons prioriteite in die lewe verander. So ’n voorbeeld is opgeteken in Lukas 19, in die ontmoeting van Jesus met die tollenaar Saggéüs in Jérigo. Saggéüs was die hoof van die tollenaars in diens van die Romeinse Ryk en hy het sy gesagsposisie misbruik om homself onregverdig te verryk. Saggéüs se reputasie in die gemeenskap het die tipe lewe wat hy gelei het sodanig gereflekteer dat baie geskok was dat Jesus saam met so ’n man sou eet en tyd in sy geselskap sou deurbring.
As gevolg van sy ontmoeting met Jesus het Saggéüs se prioriteite en toegeneenthede egter heeltemal verander. Hy het kort na hulle aankoms by sy huis, aan Jesus gesê dat hy die helfte van sy besittings gaan gee om die armes te help en dat hy viervoudig die bedrag waarmee hy enigeen afgepers het gaan terugbetaal. Die liefde vir geld was nie meer die dryfkrag in sy lewe nie (vers 8).
Waarop Ons Ons Toegeneenthede moet Vestig
Die apostel Paulus het een van die mees belangrikste sleutels tot persoonlike groei en oorkoming uitgelig: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kol. 3:2). Waarop ons ons toegeneenthede vestig sal grotendeels bepaal waarop ons ons prioriteite stel en die keuses wat ons maak. Een van Jesus se bekendste gelykenisse, die verhaal van die “goeie Samaritaan”, is opgeteken in Lukas 10. Die twee individue wat verby die gewonde man gegaan het, het hulleself as diep godsdienstig mense beskou - ’n priester en ’n Leviet. As u hulle sou gevra het of hulle daarin glo dat hulle hulle medemens net so lief moet hê as hulself, sou hulle positief geantwoord het. Hulle was bekend met God se gebod om só te doen (sien Lev. 19:15-18). Dit is ’n deurslaggewende punt: ons ware gevoelens word baie beter weergegee deur ons dade as deur ons woorde. Ongeag die geloof wat hierdie godsdienstige manne sou bely, toon hulle dade dat om ander wat in nood verkeer te help, nie werklik ’n hoë prioriteit by hulle was nie.
Jesus het hierdie gelykenis van die “goeie Samaritaan” gegee in antwoord op ’n selferkende deskundige op die gebied van godsdienswetgewing, wat Jesus gevra het hoe om die ewige lewe te beërwe. Jesus het die vraag na die vraagsteller terug gedraai deur hom as ’n leraar van die Torah te erken, en aan hom gevra wat hy verstaan God se opdrag is. Die regsgeleerde het die regte antwoord geken! Hy het vinnig geantwoord dat ons God met ons hele hart moet lief hê (Deut. 6:5), en dat ons ons medemens moet lief hê soos onsself (Lev. 19:18). Hy het egter ’n wesenlike fout gemaak. In plaas daarvan om Christus se raad te vra oor hoe om hierdie beginsels beter toe te pas, wou hy op ’n tipiese regsgeleerde manier argumenteer oor die definisie van die woord “medemens”. Hy wou homself en sy keuses in die lewe regverdig, eerder as om werklik te verander.
Dit is nie genoeg om die regte antwoorde te ken, of om die regte dinge te glo nie. Ons moet elkeen die kern van ons wese ondersoek om seker te maak waarop ons ons toegeneentheid gevestig het. Wat het ons werklik die meeste lief? Die manier waarop ons biede ons tyd en geld spandeer gee duidelike aanduidings van die prioriteite wat ons in ons lewens stel. Soos baie Skriftuurlike voorbeelde aantoon, is dit baie maklik vir selfs diegene wat die “waarheid ken” om vir die verkeerde dinge lief te wees. Werklike liefde vir God is die bron waaruit werklike liefde van een tot die ander (1 Joh. 4:20-21), asook ware gehoorsaamheid aan God se wette (1 Joh. 5:3), sal vloei.
Dit waarop ons ons toegeneentheid vestig sal werklik bepaal watter tipe van besluite ons in die lewe maak. Wat het u werklik die meeste lief?