Ons leef in tye van chaos en onsekerheid. Tog het God aan ons merkwaardige bronne van krag en stabiliteit gegee om ons hierdeur te help.

Die lewe bied baie uitdagings vir elkeen van ons. Sommige mense ly aan fisiese gebreke. Ander mense ervaar pynlike egskeidings. Besighede misluk en afdankings vind plaas. Baie mense het deur die geskiedenis heen oorloë beleef of kinders verloor. Selfs minder belangrike struikelblokke, wat relatief onbeduidend mag wees, kan ons lewe en gedagtes baie in beslag neem. Daar is baie pyn in die lewe en die lys van beproewings skyn eindeloos te wees. Hierdie beproewings hoef egter nie hopeloos voor te kom nie. Daar is drie pilare van stabiliteit wat u kan help om die ewewig te handhaaf gedurende moeilike tye, net soos hulle baie ander mense al daarmee gehelp het.

Tyd genees die pyn van vorige beproewings of die pyn raak mettertyd ten minste minder. Die meeste mense kom byvoorbeeld uiteindelik oor die verlies van ’n geliefde. Hulle kan hulle verlies in perspektief plaas alhoewel hulle altyd ’n gemis in hulle harte sal voel. Die grootste stabiliteit kan egter bereik word deur die regte perspektief van u doel in die lewe te hê en om bewus te wees van die “groter geheelbeeld” wat rus op drie soliede pilare, soos ’n mens op ’n driepoot stoel kan rus. Dit sal u meer help as selfs die positiefste gesindheid of die langste verloop van tyd.

Bestaan God?

Die vraag oor God se bestaan is nie so eenvoudig as wat dit mag lyk nie. Nie almal stem saam oor die antwoord nie, maar daar is geen “middeweg” nie. Hy bestaan of Hy bestaan nie. Die antwoord hang nie af van ons opvoeding nie, maar eerder van of ons God se bestaan aan onsself bewys het. Daar is ’n groot verskil tussen om geloof te hê teenoor om geloof wat gebaseer is op feitelike bewyse te hê. Geloof is belangrik en gaan inderdaad verder as feite – maar geloof behoort nie blind te wees nie.

Richard Dawkins, een van vandag se mees uitgesproke ateïstiese kampvegters, stel geloof in God gelyk aan geloof sonder bewyse. Hy sê “Geloof is ’n handige verskoning om die noodsaaklikheid van om te dink en bewyse te evalueer, te systap. Geloof is die geloof ten spyte van of selfs miskien vanweë die gebrek aan bewyse” (“Editorial: A scientist’s case against God,” The Independent, 20 April 1992).

Wanneer Dawkins sê “geloof”, bedoel hy natuurlik geloof in God. Indien hy eerlik wou wees sou hy ook moes erken die evolusieteorie vereis ook geloof. Op 13 Februarie 1993 tydens ’n vergadering van die Amerikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap, toe daar bespreek is hoe om te handel op “Die Nuwe Anti-evolusionisme”, het Michael Ruse, ’n wêreldbekende op die gebied van evolusie en filosofie, erken “daar is beslis geen twyfel daaroor dat in die verlede – ek dink ook in die hede – evolusie vir baie evolusioniste gedien het as iets met elemente wat, laat ons maar sê, soortgelyk is aan ’n wêreldse godsdiens”.

Terwyl hy erken dat evolusie soortgelyk is aan ’n wêreldse godsdiens, het Ruse nooit die woord geloof gebruik nie maar geloof is die kern daarvan om evolusie met godsdiens gelyk te stel. Laat ons ook in die lig hiervan nie Dawkins se definisie van geloof vergeet nie: “Geloof is geloof ten spyte van of miskien vanweë die gebrek aan bewyse”.

Ruse het verder gepraat van evolusie as nie net ’n huidige vorm van wêreldse godsdiens nie, maar ook ’n geskiedkundige een. “Ek dink byvoorbeeld aan die bekendste familie in die geskiedenis van evolusie, naamlik die Huxleys ... Inderdaad, indien u Thomas Henry Huxley se boek lees, wanneer hy op sy stukke is, is daar geen twyfel dat vir Huxley, evolusie en wetenskap op ’n baie belangrike vlak, in die algemeen funksioneer, maar evolusie beslis in die besonder, ’n bietjie soos ’n soort wêreldse godsdiens is ... Dus soos ek sê, wat Thomas Henry Huxley betref, dink ek nie dat daar enige twyfel is dat evolusie, op ’n sekere vlak, ’n bietjie soos ’n soort wêreldse godsdiens gefunksioneer het” nie.

Ruse het ’n opmerking oor Thomas Huxley se kleinseun gemaak: “Ek dink Julian Huxley was beslis ’n ateïs, maar ... indien ’n mens na sy gedrukte literatuur, asook na al sy private dokumente wat by die Rice Universiteit gevind kan word kyk, kom dit herhaaldelik baie sterk in sy briewe na vore dat vir Julian Huxley, evolusie soos ’n soort wêreldse godsdiens gefunksioneer” het.

Sodat daar nie ’n misverstand ontstaan nie; Ruse is ’n onversetlike evolusionis, soos hy dit baie duidelik gemaak het in sy eie simposiumrede en sy antwoorde op vrae wat gevolg het. Tog het hy aangehou om te bevestig dat evolusie ’n sekulêre godsdiens is:

“Ek kom egter hierheen en sê: Ek dink dat ’n mens filosofies sensitief behoort te wees oor wat ek dink die geskiedenis toon, naamlik dat evolusie ... net soos godsdiens, die maak van vooropgestelde of metafisiese aannames behels, wat op ’n sekere vlak nie op ervaring gegrond kan word nie [Met ander woorde daar is nie bewyse deur getuienisse nie]. Ek dink ons almal het dit geweet, maar ek dink dat ons almal nou baie meer sensitief is vir hierdie feite. Ek dink ook dat die manier om skeppingsleer te hanteer, maar ook die manier om evolusie te hanteer, nie is om hierdie feite te ontken nie, maar om dit te herken en te sien waarheen ons kan gaan as ons van daar af aanbeweeg”.

Soos Ruse verduidelik het, dit sal vir Dawkins en ander evolusioniste soos hy, wat die geloof in God belaglik maak, dalk goed wees om in die spieël te kyk en hulle eie geloof in hulle Darwiniese god te erken. Natuurlik, om evolusie in enigeen of al sy vorme te misken, bewys nie die ware God nie, maar ’n mens moet vra: Is daar enige alternatief? Panspermia, dit wil sê dat lewe van êrens anders na ons planeet gekom het, verskuif maar net dieselfde basiese vraag na ’n ander deel van die heelal. Kan lewe spontaan ontstaan uit nie-lewende materiaal sonder intelligente leiding?

Om evolusie te betwis, is nie naastenby so moeilik as wat ’n mens sou dink nie, maar die ander kant van die saak is die probleem om te bewys hoe dit redelikerwys kon gebeur. Hoe het lewe in die eerste plek ontstaan? Ons hoor gedurig dat daar water op een of ander planeet is – asof dit al is wat nodig is om lewe voort te bring. Dit klink so eenvoudig, maar is dit?

Bill Bryson is ’n produktiewe en boeiende skrywer. Al is hy ’n evolusionis, skryf hy herhaaldelik oor die wonder van lewe en die onmoontlikheid daarvan dat dit net toevallig kon gebeur het. Hoe werk dít! In sy boek, The Body: A Guide for Occupants, sê hy die volgende: “U kan al die slimste mense wat tans leef of wat nog ooit geleef het bymekaar bring en hulle toerus met die somtotaal van hulle menslike kennis en saam sal hulle nie ’n enkele lewende sel kan maak nie” (2019, bl. 4).

In die volgende paragraaf verwys hy na lewe as ’n ”wonderwerk”. Bryson verstaan dat DNA nodig is om ons selle te maak, maar wat is DNA? “U DNA is bloot ’n handleiding om u te maak” (bl. 6). Hoe het die “handleiding” egter tot stand gekom? Hoe het die eerste proteïen ontstaan, aangesien proteïene benodig word om ander proteïene saam te stel? Daar is soveel erkennings in The Body: A Guide for Occupants en in A Short History of Nearly Everything – nog ’n boek deur Bryson – dat enige regdenkende persoon behoort te wonder hoe enigiemand in so ’n onsinnige teorie soos evolusie kan glo.

Michael Denton, wat ’n Ph.D.-graad in biochemie het, is een individu wat tot die gevolgtrekking gekom het dat evolusie onmoontlik is en dat getuienis van mense dit nie ondersteun nie. In sy boek, Evolution: A Theory in Crisis, skryf Denton, “Alhoewel die kleinste bakterie ongelooflik klein is ... is elkeen in werklikheid ’n ware mikro-miniatuur fabriek en bevat duisende uitsonderlik ontwerpte stukkies ingewikkelde molekulêre masjinerie ... verreweg meer ingewikkeld as enige masjien wat deur die mens gebou en absoluut sonder weerga is in die nie-lewende wêreld” (1986, bl. 250).

Lees dit weer! Hou in gedagte dat hy as ’n wetenskaplike praat, nie as ’n teoloog nie! Hy skryf verder: “Die kompleksiteit van die eenvoudigste bekende soort sel is so groot dat dit onmoontlik is om te aanvaar dat so ’n voorwerp sommer skielik saamgeflans kon word in ’n soort toevallige, baie onwaarskynlike soort gebeurtenis. So ’n gebeurtenis sou niks anders as ’n wonderwerk wees nie” (bl. 264).

Wanneer ons rekening hou met die ongelooflike kompleksiteit van lewe – vanaf die kleinste selletjies tot die organe wat saamwerk om ons te laat funksioneer, tot die skoonheid en harmonie van die natuurlike wêreld – dui die bewyse op ’n Verstand wat dit alles saamgevoeg het en daardie Verstand is wonderlik groot en onbeskryflik. Indien u nie ’n eksemplaar het van ons hulpbronne, Die Ware God – Bewyse en Beloftes en Evolution en Creation: What Both Sides Miss, nie, maak seker dat u u gratis eksemplaar bestel en bewys God se bestaan vir uself. Dit gee aan u ’n baie sterk been om op te staan in tye van benoudheid – daar is egter meer daaraan verbonde om stabiel te bly as om op een enkele been te steun.

Die Bybel as ’n kragtige steunpilaar

’n Mens kan die minagting bespeur wat na vore kom in Richard Dawkins se aanhaling uit The God Delusion, wanneer hy dít bespotlik maak wat Christene asook Jode beweer hulle Bron van leerstellings en inspirasie is – die Bybel.

Om eerlik te wees, baie van die Bybel is nie sistematies boos nie, maar net eenvoudig eienaardig, soos wat ’n mens sou verwag van ’n chaotiese saamgeflanste bloemlesing van onsamehangende dokumente – saamgestel, hersien, vertaal, verdraai en “verbeter” deur honderde anonieme skrywers, redakteurs en kopieerders – onbekend aan ons en meestal onbekend aan mekaar, wat oor ’n tydperk van nege eeue strek (2006, bl. 268).

Dawkins mag dalk na ’n kundige klink vir diegene wat onkundig oor die Bybel is, maar sy feite is nie heeltemal korrek nie. Hy sien nie die geheelbeeld en die eenheid van denke raak wat in die Skrif gevind word nie. ’n Vergelyking van die eerste en laaste boeke van die Bybel, Génesis en Openbaring, toon byvoorbeeld algemene temas wat die vertelling “afsluit”. Ja, hierdie boeke is vyftien eeue uitmekaar geskryf, in twee verskillende tale, op twee verskillende plekke – tog gee The Companion Bible 30 ooreenkomste tussen hulle – soos die begin van sonde in Génesis en die einde van die sonde in Openbaring, asook die boom van lewe wat in Génesis verwerp word en die boom van lewe wat in Openbaring aanvaar word (E.W. Bullinger, “Appendixes to the Companion Bible”, 1972, bll. 5-6).

Die feit dat hierdie wonderlike reeks boeke oor ’n tydperk van 1,500 jaar geskryf is deur ongeveer 40 verskillende mans, vanaf Irak tot Italië en plekke tussenin en ook geskryf is in die vorm van geskiedenis, poësie, sang, briewe en profesie – alles in twee primêre tale naamlik Hebreeus en Grieks en in ’n mindere mate in Aramees – dien slegs om die Bybel se eenheid van denke nog merkwaardiger te maak. Ons behoort ook daarop te let dat dit in honderde tale en dialekte vertaal is en dat daar baie meer eksemplare daarvan is as van enige ander boek.

Moontlik is die merkwaardigste eienskap omtrent die Bybel, die vervulde profesie daarvan. Jesus het amper 2,000 jaar gelede voorspel dat die wêreld tot op ’n punt sou kom waar alle lewe vernietig kon word en in werklikheid ook vernietig sal word – tensy Hy terugkom om ’n einde te maak aan die mensdom se waansinnigheid (Matthéüs 24:22). Dit was glad nie moontlik op die stadium toe Sy voorspelling geskryf is nie en was óók nie moontlik gedurende die daaropvolgende 1,900 jaar nie. Met die aanbreek van die atoomtydperk sowat 75 jaar gelede, het dit ’n werklike bedreiging geword.

Die profeet Sagaría het baie vroeër voorspel dat Jerusalem ’n plek met baie probleme sou wees as gevolg van die teenwoordigheid van die Jode (Sagaría 12:1-3; 14:1-2). Dit kon van 135 n.C. toe die Joodse volk uit Jerusalem verdryf is, nie vervul word nie en ook nie tot ten minste 1967 nie, toe hulle weereens die stad beheer het. Vandag is dit egter ’n etnies verdeelde stad, soos Sagaría 14:1-2 voorspel het.

Sommige profesieë in die Bybel is duidelik en maklik om te verstaan terwyl ander onduidelik en weliswaar moeiliker is om te verstaan as gevolg van verskeie redes. Dan is daar dié waarvan die betekenisse voor die hand liggend is, maar slegs wanneer ’n mens se aandag daarop gevestig word. Ons lees byvoorbeeld van twee manne wat deur die krag van God profeteer en die aarde teister vir ’n periode van drie-en-half jaar om die opstandige mensdom se aandag te trek. Teen die einde van daardie tyd sal hulle in die stad Jerusalem doodgemaak word.

“En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is. En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie en ’n halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie. Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het” (Openbaring 11:7-10).

Let daarop dat mense regoor die aarde die profete se dooie liggame sal sien en vir ’n tydperk van drie en ’n halwe dae sal feesvier. Hoe is dit moontlik? Ons beskou onmiddellike kitskommunikasie van vandag as vanselfsprekend, maar dit het die uitvinding van nuwe materiale, vuurpyle wat satelliete in ’n wentelbaan om die aarde kan plaas, rekenaars, LED-skerms, slimfone ensovoorts vereis. Hierdie profesie sou slegs in ons moderne tyd vervul kon word, want dit voorspel iets wat nie 1,900 jaar gelede enigsins moontlik was nie.

’n Ander bewys van die Bybel word dikwels misgekyk al is dit duidelik vir enigiemand om dit raak te sien. In teenstelling met wat baie mense glo, is die Wet van God steeds van krag en is dit ’n kragtige bewys dat die Outeur van die Bybel baie slimmer as enige mens is. Dawkins en andere spog met die wetenskap as die uiteindelike arbiter van wat die waarheid is. Laat ons dus na die bewyse kyk soos na ’n wetenskaplike eksperiment.

Neem een van die Bybelse Tien Gebooie, “Jy mag nie egbreek pleeg nie” (Exodus 20:14). Alles gaan goed solank as wat twee mense volgens hierdie Wet leef, maar wanneer enigeen van hulle dit oortree, begin slegte dinge gebeur; die huwelik eindig dikwels in ’n egskeiding, met stukkende harte en kinders wat verward en seergemaak is. Die uitwerking daarvan duur dikwels lewenslank voort. Wanneer die bedoeling van die Wet uitgebrei word na seks tussen twee ongetroude mense is die gevolg ook onaangename strawwe. Hoeveel mense gaan nie gebuk onder ondenkbare ellende as gevolg van seksueel-oordraagbare siektes nie? Hoeveel enkelmoeders word nie gedwing om in armoede voort te sukkel met hulle kinders as gevolg van ’n dwase besluit om hierdie Bybelse opdrag te verontagsaam nie? Tog doen dit niemand kwaad om geduldig te wag tot die huwelik nie en om dan lojaal te bly aan ’n mens se belofte. Indien dit die geval is, wat is die wetenskaplike gevolgtrekking? Dat God die beste weet!

Die Bybel leer die mensdom ook oor watter soorte vleis geskik is vir mense om te eet en watter vleis nié geskik is nie (sien Génesis 7:1-3 en Deuteronómium 14:1-21). Die meeste mense, met inbegrip van wetenskaplikes en dieetkundiges dink egter hulle weet van beter. Tog weet wetenskaplikes en epidemioloë dat SARS, MERS, Nipah virus, Ebola, die Grieppandemie in 1918, die Varkgriep van 2009 en nog ander siektes die gevolg is van die hantering van daardie vleis wat nie geskik is vir menslike gebruik nie. Terwyl die bron van COVID-19 ’n baie omstrede onderwerp is, die feit bly staan dat die virus sy oorsprong in vlermuise het, hetsy in ’n varsproduktemark of gemanipuleer is in ’n laboratorium. Om nie te praat van die magdom parasitiese en bakteriële siektes wat elke jaar opgedoen word as gevolg van die verbruik van hierdie Bybels-onrein diere nie. Indien u nie vertroud is met ons hulpbronne oor hierdie onderwerp nie, nooi ons u uit om u naaste streekkantoor te kontak en u eie eksemplaar aan te vra van God Answers His COVID-19 Critics, een van ons vele gratis DVD’s.

Waar is God besig om te werk?

Om aan uself te bewys dat God bestaan en dat die Bybel Sy openbaring aan die mensdom is, is van onskatbare waarde, maar ’n mens het ook ’n derde pilaar nodig om gedurende tye van spanning werklike stabiliteit te bewerkstellig. ’n Mens moet ’n opregte verhouding met God die Vader, met Jesus Christus Sy Seun en Sy Skrif ontwikkel en dit beteken meer as om net ’n paar woorde te herhaal. Presies wát openbaar die Bybel dus oor God se wil vir u?

Baie mense dink dat hulle weet maar ons moet weereens vra: Het hulle dit bewys? Die meeste mense aanvaar die godsdienstige oortuigings van ouers en portuurgroepe. Alhoewel baie individue ten minste tydelik afwyk van godsdiens nadat hulle die huis verlaat het, bly Protestante gewoonlik Protestants, Katolieke bly Katolieke en Moslems bly in die Islamitiese geloof. Is alle godsdienste egter gelyk? “Lei alle paaie na die hemel”, soos sommige mense glo? Probeer om met daardie pad by Detroit in Amerika of Pofadder in Suid-Afrika uit te kom! Nee, daar is teenstrydige leerstellings selfs binne hoofstroom godsdienstige kategorieë. Dink net hoeveel Protestantse denominasies is daar. Sommige mense glo dat doop deur onderdompeling nodig is, ander mense glo dat ’n mens net gered word as jy in “tale van engele” kan praat. My vriende, hulle kan nie almal reg wees nie!

Die volgende vrae moet gevra en voldoende uit die Skrif beantwoord word: Wat is God se wil vir die mensdom? Wat sê die Bybel wat teenstrydig mag wees met die tradisies wat u geleer het terwyl u grootgeword het? Is die Bybel in ooreenstemming met wat u predikant verkondig? Die meeste mense aanvaar dat hulle predikant, wat dalk ’n inspirerende spreker is, die waarheid aan hulle vertel – maar doen hy dit? Is sy boodskappe in ware ooreenstemming met die Bybelse boodskap?

’n Jong man het eenkeer na my toe gekom en ’n Skrifgedeelte bevraagteken wat ek gelees het. Sy predikant het gesê dat die Wet van God swaar is, maar die skrifgedeelte wat ek aangehaal het, het iets anders gesê. Vir wie moes hy glo? Die antwoord kan gevind word wanneer ons ’n ander vraag beantwoord: Gaan u u predikant glo of Christus se apostel Johannes? Lees wat Johannes in 1 Johannes 5:3 sê en besluit self wie om te glo.

Is die Wet afgeskaf? Lees 1 Johannes 2:3-6.

Het Jesus gekom om die Wet te beëindig? Lees Matthéüs 5:17-19.

Het die apostel Paulus die Wet verwerp? Lees 1 Korinthiërs 7:19 en Romeine 3:31.

Glo u u Verlosser? Indien wel, lees in Matthéüs 19:16-19 wat Jesus vir die jong man gesê het toe hy wou weet wat hy moes doen om die ewige lewe te beërwe.

Die vraag oor wáár God werk, is nie ’n vraag wat in ’n enkele artikel beantwoord kan word nie, maar dit kan beantwoord word as u bereid is om die saak te ondersoek. Die Wêreld van Môre bied baie hulpbronne aan om u te help. Die Wêreld van Môre se Bybelstudiekursus bied ’n uitstekende beginpunt. Ons bied ook boekies aan soos, Wat is ’n ware Christen? en Satan se Vervalste Christendom. Al ons hulpbronne is gratis beskikbaar, maklik om te verstaan en gebaseer op die Bybel met verwysings na die toepaslike Skrifgedeeltes.

Die jaar 2020 was spanningsvol en alle aanduidings is dat die jare wat voorlê selfs nog méér spanningsvol sal wees, soos die Bybel so duidelik voorspel. Dit is nodig om deeglik ingelig te wees met betrekking tot die Skrif wanneer dit lyk of die lewe ons gaan oorweldig. Dit begin met die wete dat die Skepper-God bestaan wanneer u aan uself bewys het dat Hy bestaan. Dit vereis ook dat u seker moet weet, gebaseer op feite, nie op tradisies nie, dat die Bybel die ware Woord van die Skepper is. Dit vereis dat u daardie merkwaardige Boek sal bestudeer sodat u God se plan ken – wat Hy van ons verwag en die wonderlike beloning wat Hy ons aanbied.

Hierdie drie pilare moet dan op Jesus Christus as die fondament daarvan staan (1 Korinthiërs 3:11), want Hy is God (Johannes 1:1-2, 14), Hy het die Woord van God geïnspireer en die Bybel openbaar Sy gedagtes. Wanneer u hierdie dinge bewys het, sal dit u aan die geheelbeeld herinner wanneer probleme dreig om u te oorweldig omdat u op die vaste fondament van hierdie drie pilare staan.