Ons leef in 'n uiters bose wêreld! Wanneer ons byvoorbeeld dink aan die geweld, swaarkry en armoede van party van ons Westerse landgenote—en elders—en aan talle ander wreedhede wat regoor hierdie aarde gepleeg word, is dit duidelik dat Christus binnekort moet kom! Ons moet hierdie boodskap oor Christus se eerskomende Koninkryk en Sy leefwyse, heelhartig uitdra.

Ons moet egter self die weg van God volg, sodat ons die voorbeeld kan stel. Ons woorde en dade moet ooreenstem! Ons moet ook al ons prioriteite in orde kry. Ons moet nie dink dat dit genoeg is om net “die Werk te doen” nie. Ons moenie dink dat wie ook al die “strengste” is, noodwendig die beste is nie.

Wat is die ware “kern” van Jesus Christus se eintlike lering? Kom ons kyk na die Bergpredikasie om uit te vind. In Mattheus 5, brei Jesus Christus uit oor die sleuteleienskappe van 'n ware Christen. Jesus verduidelik dat die “armes van gees”—diegene wat besef hoe nietig 'n mens in vergelyking met die grote God is—deur Hom vereer sal word. Jesus beskryf dan hoe geseënd die “sagmoediges” is. Die woord “sagmoedig” beteken nie net nederig nie, maar ook ontvanklik. Almal van ons wat werklik in God se Koninkryk wil wees, moet ontvanklik wees vir die leringe van God se Woord en Sy getroue leraars. Ons moet God werklik toelaat om met verloop van tyd “Christus se gesindheid” in ons te plaas. “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid” (vers 6). Indien ons ons werklik op God beroep om te word soos Hy is, en deur Sy weë vervul te word en nie ons eie nie, sal ons geseënd en vir ewig in Sy Koninkryk wees. Jesus sê: “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (vers 7). Dit blyk hieruit dat dit die barmhartiges is wat God se genade sal ontvang en nie diegene wat slegs “nougeset” of “onverbiddelik teenoor sondaars” is nie.

Regdeur die Bergpredikasie, sien ons dat Jesus die gesindheid van diepe nederigheid, welwillendheid en barmhartigheid onderrig, asook vergewensgesindheid en liefde teenoor jou vyande (vers 44)!

In Mattheus 6, sê Jesus ons moet “liefdadigheid” op 'n ongesiene wyse laat geskied om God te behaag—nie mense nie (Mattheus 6:1)! Ons word ook aangesê om in privaatheid voor God te bid en om te vas sonder om aandag te trek, iets wat ons sal doen, mits ons waarlik glo dat God 'n werklikheid is en dat Hy elkeen van ons sal beloon, op Sy manier en wanneer dit Hom pas, as ons Hom werklik met ons hele hart soek. Jesus sê vir ons in Mattheus 7:1-3: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?”

In die daaropvolgende verse verduidelik Jesus dat ons ernstig moet waak daarteen om te nougeset te wees oor klein “splinters” of kwessies met ander mense terwyl ons dalk terselfdertyd groot “balke” sonde, selfregverdiging of koppigheid in ons eie oë het! Ons in die Lewende Kerk van God, moet baie versigtig wees om mekaar nie te veroordeel nie—veral nie die nuwelinge uit die wêreld nie—oor onbetaamlike roklengtes, haarstyle, grimering of iets dergeliks wat nietighede is in vergelyking met gesindhede van verwaandheid en koppigheid wat dikwels gepaardgaan met sulke ongeregverdigde veroordelings van mense met die beweerde probleme nie. Hierdie probleme—mits dit inderdaad probleme is—moet liewers in die hande van die leraars gelaat word! Selfs dan moet die leraars uiters versigtig wees en die klem op minsaamheid en liefde en barmhartigheid plaas, eerder as om “veroordelend” te wees!

Die apostel Jakobus maak dit baie duidelik wanneer hy skryf: “Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word. Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel” (Jakobus 2:12-13). Diegene wat dus geen barmhartigheid betoon nie, mag vind dat hulle geen barmhartigheid sal ontvang wanneer sy dag van rekenskap aanbreek nie! Ons moet almal hieruit leer!

Bo en behalwe die persoonlike minsaamheid en barmhartigheid wat ons teenoor mekaar moet betoon, moet ons besig wees om mekaar—en die buitewêreld—te help wanneer dit duidelik ons plig is om dit te doen. Onthou Jesus se onderrig in Mattheus 25:31-46, waar Hy sê ons moet voedsel gee aan dié wat honger is, klere aan dié wat behoeftig is en ander mense in enige en elke noodgeval opreg dien! Hy sê: “En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen” (vers 40).

Die meeste van u besef seker dat nóg Jesus Christus, nóg die apostels Petrus, Jakobus, Johannes en Paulus, ooit aangehaal is waar hulle handgeld of voedsel ingesamel het om aan verhongerde mense êrens in die wêreld te stuur nie. Afrika byvoorbeeld, is relatief naby Israel en daar was destyds net sulke groot behoeftes soos vandag die geval is. Die werklike voorbeelde om hulp aan ander mense te verleen, is eerder in die konteks van 'n buurman wat naby is, waar dit 'n persoonlike verantwoordelikheid word. Jesus en die Apostels het nie die wêreld deurkruis om siekes op te spoor nie, hoewel dit nie verkeerd is om dit te doen nie. Die meeste van ons besef dat die heel grootste behoefte by verre is om die boodskap oor die regte leefwyse uit te dra, sodat mense in die eerste plek nie siek word, ongeletterd, doelloos of armoedig sal wees nie! Ons weet dat ons grootste diens aan die wêreld is om die “antwoord”—die Koninkryk van God en Sy weë—te verkondig, eerder as om te voorsien in die tydelike materiële behoeftes van misleide mense.

Hoe ook al, dit is goed vir ons en dit is ook 'n groot hulp vir ons direkte bure, om Jesus se leringe in die gelykenis oor die “Barmhartige Samaritaan”, na te volg soos ons moet. Onthou dat die godsdiensleiers aan die anderkant van die pad “verbygeloop het” toe hulle die man in ernstige nood sien. 'n Onbekende Samaritaan het egter die beseerde man gesien en “innig jammer gevoel” (Lukas 10:33). Hy het alles moontlik vir die man gedoen en die herbergier selfs betaal om verder na hom om te sien tot hy weer kon kom. Hy was 'n ware vriend—'n opregte “naaste”—vir hierdie man wat onder rowers deurgeloop het. Hy het barmhartigheid betoon. Jesus sê dan ook: “Gaan en doen jy net so” (Lukas 10:37).

Wanneer daar dus 'n werklike noodgeval of spesiale behoefte in u buurt is of by iemand met wie u paaie kruis, is dit u verantwoordelikheid om barmhartigheid te betoon! Ons moet beslis inspring en iemand in die buurt probeer bystaan wat siek is en voedsel of sorg nodig het. As iemand se huis afgebrand het, behoort ons te help om dit te herbou. Ons moet betrokke raak—na die beste van ons vermoë—om hulp te verleen as daar 'n ernstige oorstroming in 'n naburige stad of 'n vernietigende veldbrand, aardbewing of ander natuurramp is. Ons sal waarskynlik talle geleenthede hê om uit te help onder sulke omstandighede in die traumatiese jare wat voorlê!

Hoewel ons min mense is, moet ons in die Lewende Kerk van God probeer “inspring” en alles in ons vermoë doen om die gesindheid en gewoonte te ontwikkel om te gee, te help, diensbaar te wees en om barmhartigheid te betoon aan diegene om ons! Dit is goed vir ons sowel as vir die mense wat hulp nodig het.

Ons lees in 1 Korintiërs 12:12-14: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie.”

In die bogenoemde gedeelte sien ons dat die hele Kerk die “liggaam”—die fisiese instrument—is waardeur Jesus Christus vandag werk. Ons is almal betrokke! Elkeen van ons moet ons deel doen om mekaar en die wêreld tot diens te wees en om die Werk te doen om Christus se boodskap wêreldwyd te verkondig. Namate ons getalle toeneem, mag dit in baie van ons gemeentes nuttig wees om komitees of “spanne” te hê wat aangestel is om die siekes op gereelde grondslag te besoek en te bemoedig en diegene te kontak wat nou en dan 'n diens mis, om uit te vind of hulle nie dalk hulp nodig het nie. Ons kan miskien groepies individue hê wat die nuwer lidmate besoek en hulle ook oornooi na ons huise toe om te kom kuier, sodat elkeen werklik deel voel van die “familie” van die Kerk van God. Dit is belangrik dat elkeen van ons hierdie diepe begrip en gevoel dat ons almal “familie” is bepeins, daaroor bid en dit aankweek in hoe ons teenoor mekaar optree. In dit alles is dit van kardinale belang dat ons 'n werklike liefde en 'n spontane besorgdheid vir ander mense het.

Die diepsinnige onderwysing oor Christelike liefde wat ons in die briewe van die apostel Johannes en ook in 1 Korintiërs 13, die “liefdeshoofstuk”, lees, behoort vir ons almal van nut te wees, terwyl ons hierdie gedeeltes ernstig bestudeer en dit oordink. 
God praat met elkeen van ons in 1 Johannes 4:7-8: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde”. Ons Skepper vermaan ons hier op kragtige wyse dat ons moet leer om mekaar lief te hê as ons soos God wil wees! Hierdie totale oorgawe van onsself, hierdie algehele spontane besorgdheid, is belangriker as enige ander enkele eienskap!

Die apostel Johannes skryf ook onder inspirasie: “Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword” (1 Johannes 4:11-12). Ons liefde vir mekaar moet dus 'n werklikheid wees en ons moet, net soos Jesus vir ons gedoen het, ons lewens vir mekaar aflê!

Om eerlik te wees, dit is nie maklik nie! Almal van ons wil eerder na die “self” omsien as na andere. Regdeur die Nuwe Testament sien ons egter dat as ons leer om van onsself te gee, ons in ruil baie, baie meer van ons Skepper sal ontvang.

Johannes skryf: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê” (1 Johannes 4:20-21). As elkeen van ons dus mediteer en bid oor die diepliggende behoefte vir liefde, genade, vergewensgesindheid en 'n deurlopende spontane besorgdheid, sal ons werklik meer soos Jesus word en sal Sy seëninge beslis kragtiger op die Kerk, die Werk en op elkeen van ons persoonlik uitgestort word.

Jesus beveel ons: “'n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34-35). Hier sien ons dat ons mekaar moet liefhê soos Jesus die voorbeeld gestel het met 'n deurlopende minsaamheid, diensbaarheid en 'n spontane besorgdheid! Om die waarheid te sê, net soos met die Sabbat, is 'n spontane liefde wat ons teenoor mekaar betoon, 'n teken dat ons inderdaad God se mense is!

Wanneer u nadink oor watter tipe persoon u graag die ewigheid mee wil deel, vra uself eerlik af: “Sou ek saam met ander mense wou wees wat altyd baie streng is, veeleisend en gou om te oordeel, selfs as ek die geringste foutjie begaan?” Of sou u eerder die ewigheid wou deel met iemand wat regtig onderworpe is aan God, in Sy gebooie wandel en warmte, minsaamheid, genade en 'n spontane besorgdheid uitstraal—met die wêreld se geduld teenoor andere, al is hulle nie heeltemal perfek nie?

Ek dink ons ken almal die antwoord! 
Aangesien ons inderdaad in die proses is om gevorm en gebrei te word om soos God Self te word, is dit noodsaaklik dat ons—deur God se Heilige Gees in ons—leer om die soort liefde en spontane besorgdheid uit te leef wat Jesus Christus ons tot voorbeeld was. Eerstens natuurlik, moet ons God liefhê met ons hele wese. Dit is die eerste en groot gebod (Mattheus 22:35-38), terwyl die tweede gebod daaraan gelyk is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (vers 39). Een van die heel mooiste uitdrukkings hoe om dit te doen, vind ons in die “liefdeshoofstuk” wat Paulus geskryf het, naamlik 1 Korintiërs 13. Ek gaan nie nou op hierdie hoofstuk probeer uitbrei nie, aangesien ek dit gereeld in preke doen, maar onthou asseblief die laaste vers: “En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” (vers 13).

In die Bergpredikasie sê Jesus dat ons ons “lig” moet laat skyn (Mattheus 5:16). As ons almal dit opreg ter harte neem, kan ons as 'n Kerk, meer as ooit tevore, begin om die soort “lig” te wees waarvan Jesus gepraat het. Met die naderende einde van hierdie era—namate afgryslike beproewinge, siektes en die dood om ons ervaar word—moet ons sorg dat hierdie dinge ons nader aan mekaar bring! Sulke gebeure moet ons nader aan God bring! Dit moet ons op ons knieë dwing. Ons moet ook meer as ooit tevore bereid wees om onsself waarlik in liefde, minsaamheid en diens aan God en ons medemens te gee, want ons weet dat dít is hoe ons Skepper sê ons Hom moet eer. Dit is die weg na die ewige lewe en die vreugde in God se Koninkryk en gesin!