Vraag: Ek lees in Johannes 6:44 dat dit God die Vader is wat ons tot Sy Waarheid roep en dat ons Hom nie kan kies tensy Hy ons na Hom toe trek nie. Ek het gedink ons het die vryheid wat ons toelaat om Hom sélf te kies, maar hierdie vers laat dit lyk asof ons nie ’n keuse het nie. Het ons?

 

Antwoord: Eerstens is dit nodig om te verstaan dat dit God se wil is dat almal ’n ware geleentheid tot die ewige lewe sal ontvang (Johannes 3:16-17; 2 Petrus 3:9). God sal nie Sy aanbod van redding weerhou van enigiemand wat ooit geleef het nie, en sal elkeen van ons op ons eie tyd roep soos dit Hom behaag (Romeine 9:15; 1 Timótheüs 2:3-5).

Baie mense besef egter nie dat God nie nou almal roep nie. Indien Hy die hele mensdom gedurende hierdie tydvak wou red, sou ons Sy poging, ’n kolossale mislukking moes noem. Inderdaad, indien God nou die hele wêreld sou wou red, sou Hy daarin slaag! Beoog God nie redding vir die ontelbare miljoene mense wat gesterf het sonder om ooit die Naam van Jesus Christus te hoor nie? Natuurlik het Hy dit in gedagte! Die Skrif vertel vir ons van ’n toekomstige tyd wanneer almal wat ooit geleef het, die ware Evangelie en die roeping van God sal hoor (Eségiël 37:1-14; Romeine 11:26; Openbaring 20:5, 11-13). Ons lees egter ook dat God sommige as “eerstelinge” roep (Jakobus 1:18) sodat hulle die geleentheid gebied kan word om selfs in hierdie bose tyd, op die Evangelie te reageer.

 

Ons groot verantwoordelikheid

Van die oomblik af dat Adam en Eva besluit het om Satan te volg in plaas van om die opdragte van hulle Skepper te gehoorsaam (Génesis 3), het God die mensdom toegelaat om te eksperimenteer met tallose oplossings vir die wêreld se probleme wat deur die mens self uitgedink is. Die Bybel en die wêreldse geskiedenis getuig van die mens se totale mislukking om sy omgewing en homself te regeer. God laat ons deur die metode van beproewings en foute leer dat om dinge op ons eie manier te doen, nie die blywende vreugde, sukses en vervulling – wat ons almal begeer – sal bring nie. Nogtans, te midde van hierdie siek sondige wêreld, roep God sommige mense nou om Hom te dien. Uiteindelik sal almal geroep word om lede van Sy gesin te word (Hebreërs 2:9-11). God lei diegene wat Hy roep na die liggaam van Christus, naamlik Sy Kerk (1 Korinthiërs 1:2; 12:13). Hy bring ons tot bekering (2 Timótheüs 2:25-26).

Diegene wat nou tot bekering geroep is en die Gees van God gegee is, het ’n groter verantwoordelikheid om die sonde te oorwin deur die krag van daardie Heilige Gees (Kolossense 3:5-10). Sodra ons dus geroep en geplaas is in die Kerk wat Christus gebou het (Matthéüs 16:18) deur die krag van God se Heilige Gees, bly ons steeds vry om ons eie keuses te maak. Ons het nog steeds die vryheid om aan die Goddelike wil ongehoorsaam te wees, maar die straf om hardnekkig voort te gaan om God se Wet te oortree, sal uiteindelik ’n streng en sekere straf meebring (Romeine 6:23; Hebreërs 9:27-28; 10:26-27).

 

Ons verstommende geleentheid

God het sommige mense in alle eeue geroep om getuies te wees teen die euwels en sondes van hierdie wêreld (Deuteronómium 8:19-20). Jesaja 59 getuig sonder omhaal van woorde van God se gesindheid ten opsigte van die opstandige lewenswyse van die mensdom. Selfs vandag nog roep God sommiges om deel te hê aan Sy finale waarskuwing aan hierdie sterwende en ongehoorsame wêreld. U het in aanraking gekom met die werk wat God vandag deur Sy Kerk doen. Indien u dus opreg na die waarheid van God soek en meer wil leer oor Sy plan vir u plek in Sy Koninkryk, gaan voort om u Bybel deeglik te bestudeer en lees noukeurig wat die Lewende Kerk van God op wvm.org aanbied.

Vra God om u te wys wat u behoort te doen en watter rol Hy verkies u kan vervul. Indien God u nóu roep, word u geseën met die geleentheid om deel te wees van die eerste opstanding (Openbaring 20:5-6) en om God te dien deur onder Jesus Christus te regeer in die vinnig-naderende toekomstige Duisendjarige Vrederyk. Wat ’n verstommende roeping!