Is ek sommer laf? Hoekom sou ek ’n vraag soos hierdie vra?

Die antwoord is dat miljarde mense ’n heeltemal verwronge idee het van wie die ware Jesus Christus was, hoe Hy werklik Sy lewe hier op aarde geleef het en wat Hy waarlik verkondig het! ’n Verkeerde begrip van al hierdie vrae sal beslis ’n invloed uitoefen op u rol in die ewige lewe.

Dink!
Die oorgrote meerderheid van hoofstroom Protestante en Katolieke het ’n heeltemal onbybelse begrip van hoe Jesus van Nasaret gelyk en opgetree het, en wat Hy regtig sou doen in verskeie situasies. Dit affekteer hulle hele gesindheid teenoor die Christendom en hulle verhouding met God Self.

Die sleutel, natuurlik, is of ons menslike wesens eintlik die Bybel glo. Die ware Jesus sou egter nie algemeen aanvaar word in die moderne Christendom, of in die “ordentlike” samelewing van vandag nie. Hy het nie verkondig dat “alle godsdienste gelyk is” nie, of dat ons “hemel toe” gaan as beloning wanneer ons net “gaaf is” teenoor mekaar nie. Die ware Jesus Christus van die Bybel het uitgeroep: “Ek is die weg en die waarheid en die leweniemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6).

Indien u eerlik met uself is, sal u moet erken dat hierdie Jesus Christus van die Bybel verwerp sal word as Hy vandag in die vlees sou verskyn. Hoe sou ons moderne predikante en ander leiers reageer op Jesus se verklaring aan die Siro-Fenisiese vrou wat gevra het vir genesing van haar dogter? Jesus het gesê: “Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie” (Mattheüs 15:26).

Wat! Hoe sou daardie “polities verkeerde” stelling oorgekom het in ’n vergadering van die “Ministeriële Alliansie”?

Verstaan asseblief. Jesus het alle mense innig liefgehad. Hy het egter nie gekom met ’n boodskap dat “alle mense hier en nou gered” is nie. God het ’n plan waardeur die meeste mense hulle een geleentheid vir verlossing sal kry tydens die Groot Wit Troon Oordeel. In hierdie hedendaagse tyd, word alle soorte mense – maar slegs ’n klein groepie – as “eerstelinge” geroep. Die meeste mense wat Christus se boodskap destyds gehoor het, selfs dié wat dit vandag hoor, hoor dit slegs as ’n “getuienis”.

Dus, toe Jesus met die Samaritaanse vrou gepraat het, sê Hy met gesag: “Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode” (Johannes 4:22). Hoe durf Jesus so ’n “partydige” stelling maak? Hy het egter! God het inderdaad Sy primêre openbaring aanvanklik aan die Israelitiese volk gegee, aan wie die “woorde van God” eerste gegee is, soos die apostel Paulus in Romeine 3:1-2 erken. Trouens, Jesus se getroue “slaaf”, die apostel Paulus, het aan die heidense Christene in Efese gesê: “DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld” (Efesiërs 2:11-12). “... sonder hoop en sonder God in die wêreld”? Dit is presies wat God aan hierdie heidene gesê het wat nie die ware God van Israel geken of verstaan het nie.

Paulus herinner die jong evangelis Timótheüs daaraan “dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Timótheüs 3:15-16).

Toe Timótheüs ’n kind was, was die “Heilige Skrifte” wat hy geken het, die Ou Testament. Die meeste van die Nuwe-Testamentiese boeke het toe nog nie bestaan nie! Paulus sê dat hierdie Ou-Testamentiese Skrifte “jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus”. Paulus het geen konflik gesien tussen die Ou-Testamentiese Skrif en die Christelike geloof en praktyk nie, en bevestig die hele Skrif (insluitende die Ou Testament) is nuttig vir lering en vir onderwysing in geregtigheid. Dit is nie die woorde van iemand wat ons leer dat daar weggedoen is met God se Ou-Testamentiese wette nie!

Die apostel Paulus het Christene beveel: “WEES my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1). Die apostel Johannes het opgemerk: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:6).

Hierdie twee, net soos al die ander Apostels, het geweet dat Jesus Christus gekom het om die volmaakte voorbeeld te stel, en dat Christene Sy voorbeeld behoort te volg, versterk deur die Heilige Gees. Dit was die alledaagse begrip in die apostel Paulus se tyd, toe die Christendom oor die Romeinse Ryk versprei het.

Jesus Christus was inderdaad ’n besnede Jood (Lukas 2:21-22; Hebreërs 7:14). Dit was Jesus se “gewoonte” om die sewende-dag Sabbat saam met die ander Jode te onderhou (Lukas 4:16). Ver verwyderd daarvandaan om God se Sabbat af te skaf, het Jesus gesê dat die Sabbat vir die “mens” gemaak is – nie net vir die Jode nie en dat Hy“Here” van die Sabbat is. Dus is die Sabbat in werklikheid die ware “Dag van die Here” so ver dit ’n dag van rus en aanbidding aanbetref!

Dus, indien u op die een of ander manier “kon ondersoek instel” na ware Christelikheid gedurende die eerste eeu na Christus, wat sou u sien? U sou ’n groep toegewyde gelowiges gesien het wat glo in Jesus as die beloofde Messias. U sou ’n gemeenskap van gelowiges gesien het vir wie die God van Israel, die God van die skepping, ’nwerklikheid was. Hierdie mense sou dus nie net praat oor die persoon van Jesus Christus nie. Hulle sou doen wat Hy beveel het.

Begin u nou verstaan dat die ware Christus van die Bybel heeltemal “anders” was as die patetiese “Sondagskool Jesus” wat vandag aan die meeste kerkgangers voorgehou word? Weereens, Jesus was nie “gaaf” nie toe Hy aan die godsdienstige leiers van Sy dag gesê het: “Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg” (Mattheüs 23:33-34).

Die waarheid is dat Jesus Christus die enigste ware God kragtig verkondig het. Hy het die een weg soos God dit bedoel het kragtig verkondig. Hy het nie op enige manier al die ander heidense godsdienste van die wêreld onderskryf of as “gelyk” oorweeg – in die verlede, hede of toekoms – nie. Hy verklaar baie duidelik: “Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie” (Johannes 10:7-8).

Indien u dus bereid is om Jesus se opdrag te gehoorsaam: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4), dan sal u moet erken dat diegene wat probeer om “gered” te word of om die ewige lewe te verwerf deur iemand anders te volg, behalwe die ware Christus van die Bybel, eenvoudig “buite orde” is. God het, en is nou besig om niemand anders te gebruik as die ware openbaarder van God, behalwe Jesus Christus nie. Daardie ware Jesus Christus van die Bybel sal binnekort terugkeer na hierdie aarde, as Koning van die konings en Here van die here om te heers oor die nasies op hierdie aarde – nie bo in die hemel nie! U behoort te besef: “Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer” (Openbaring 19:15).

Waarom sou Jesus ’n “ysterstaf” moet gebruik? Omrede, soos die hele Bybel aandui, God toegelaat het dat Satan die duiwel alle nasies mislei. In Openbaring skryf die apostel Johannes oor ’n finale “geestesoorlog” wanneer die duiwel vir die laaste maal hierheen teruggewerp sal word: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satanwat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Aangesien die mense op so ’n groot skaal mislei is, sal honderde miljoene mense letterlik teen Christus veg wanneer Hy weer kom as Koning van konings (Openbaring 17:14).

Die ware Jesus Christus van die Bybel sal regtig “nodig hê” om oorweldigende geweld te gebruik om mense te oortuig dat Hy die Seun van God is! Dit sal nodig wees dat mense “geskud” word sodat hulle gewillig sal wees om uiteindelik die ware God van die Bybel te gehoorsaam en te doen wat Hy sê.

Andersins sal hulle voortgaan met hulle filosofering, argumentering en bepaling van hul eie standaarde van wat hulle dink “goed” of “polities korrek” is. Vir u eie beswil, my vriende, leer asseblief om u Bybel te bestudeer en die letterlike woorde daarvan te glo en begin om die ware God van die Bybel, die ware God van die skepping, te “soek”. God is werklik. U en ek het nodig om “die werklikheid te besef” namate die einde van hierdie era nader kom.