Baie mense het gedink dat antieke natuurgodsdienste dood is en nie meer bestaan nie, maar dit is besig om regoor Westerse nasies te voorskyn te kom. Waarom gebeur dit en waarop dui dit?

Wat is die dryfkrag agter hierdie wêreldwye neiging? Waarheen lei dit? Wat beteken dit vir u?

Die een-en-twintigste eeu het merkwaardige geskiedkundige gebeure beleef – die vooruitgang van Rusland na die ondergang van die USSR, die herlewing van militante Islam, die opgang van China, die verbrokkeling van die Europese Unie en die immer toenemende verdeeldheid in die Verenigde State. Een van die verbasendste gebeure was egter die heropkoms van antieke heidense idees en tradisies in Westerse lande wat eens as “Christelik” beskou was.

As deel van hierdie wêreldwye neiging, het Ysland sy eerste tempel in meer as 1,000 jaar gebou om die ou Nordiese gode, Thor en Odin te aanbid. In Engeland kom duisende mense by Stonehenge bymekaar met die somer-sonstilstand om die opkomende son te groet net soos die ou antieke heidene dit gedoen het. In Edinburgh, Skotland, vermaak kunstenaars wat soos rooi duiwels geverf is, skares mense om die antieke Keltiese Vuurfeeste van Beltane en Samhain te vier. Baie mense kom weer op antieke V.K. terreine bymekaar om ’n strooiman te verbrand – soos die Druïdes [Keltiese priesters] dit eens gedoen het. In Amerika reis duisende mense na Burning Man-feeste wat voorsiening maak vir ongebonde gedrag wat ooreenstem met ou heidense gebruike.

In Griekeland bevorder die Helleniste die aanbidding van die antieke gode Zeus, Apollo en Athena, terwyl kinders in die Getty Museum in Los Angeles gebede skryf aan Aphrodite of Venus, die Grieks-Romeinse godin van liefde en wellus asook beskermer-godin van prostitute. In Oos-Europa vier mense antieke seremonies in verband met vrugbaarheid deur rond te dans en oor vuur te spring – gewoontes uit ’n voor-Christelike verlede. In Rusland neem kerkleiers met kommer kennis van die toenemende belangstelling in heidense tradisies. In Amerika is die godsdiens wat die vinnigste groei heksery en standbeelde wat satanisme bevorder verskyn op openbare gronde. Die V.S. Lugmag-akademie het selfs ’n heidense kapel gebou.

Waarom sou die terugkeer van die heidendom vandag van belang wees vir progressiewe Westerse lande waar verdraagsaamheid, aanvaarding en diversiteit bevorder en gevier word? Is daar ’n grootliks onherkenbare betekenis aan die dramatiese veranderings wat plaasvind? Ignoreer ons belangrike lesse uit die geskiedenis? Indien wel, watter gevolge wag daar op ons in die dae wat voorlê? Waarom behoort u besorg te wees?

 

Die heidense wêreldbeskouing

Om die belangrikheid van wat aan die gang is te begryp, is dit nodig dat ons die idees en praktyke wat die heidense wêreld insypel verstaan en hoe dit verskil van die Judeo-Christelike tradisie. Die term heidens is aanvanklik gebruik om iemand te beskryf wat nie in die God van die Bybel geglo het óf nie Bybelse riglyne gevolg het nie. Die deur-en-deur heidense Grieks-Romeinse wêreld wat oorgegee was aan afgodery en die aanneming van gode en praktyke van ander godsdienste asof dit uitruilbaar is, is ’n eertydse voorbeeld hiervan. Sulke konsepte en praktyke was heeltemal in teenstelling met die invloed van Bybelse Godsdiens. Die Grieke en Romeine was ’n mengsel van politeïste wat baie gode en godinne aanbid het, panteïste wat geglo het dat “god” oral in die natuur is, wat ons vandag ateïste noem wie glad geen god aanbid nie. Sulke heidene het geen kennis van die God van die Bybel gehad nie (vergelyk Handelinge 17:23). Die idee van een ware, persoonlike God was oor die algemeen vreemd vir hulle.

In die Grieks-Romeinse heidendom was daar min vaste geloofsbelydenisse. Die waarheid was relatief – daar was baie min begrip van absolute reg en verkeerd en geen werklike konsep van sonde, skuld of oordeel nie. Elke persoon het self oor sy of haar lewenspad besluit. Heidene het hoofsaaklik op die aardse lewe gefokus, die bevrediging van fisiese begeertes en die najaag van persoonlike geluk. Terwyl dit bedrieglik aantreklik en subtiel mag wees wat sommige van die foute betref, verg dit nie veel navorsing om te sien dat die algehele heidense benadering totaal en al vreemd is aan wat die Bybel openbaar nie.

Anders as die God van die Skrif, was die gode van die Griekse godewêreld byvoorbeeld ’n klomp losbandiges. Mites is gevul met verhale oor hulle wellus, afguns, moord en ander gruwelike dade. Openlike seksualiteit en liederlikhede het baie heidense seremonies gekenmerk – veral die lente- en middelsomer se feeste van vrugbaarheid. Die aanbidding van Aphrodite het besoeke aan tempelprostitute ingesluit wat inkomste vir die tempel verdien het en wat deur die Bybel veroordeel word (Levítikus 19:29; Deuteronómium 23:17). In die Grieks-Romeinse samelewing was hoerery, homoseksualiteit en die seksuele mishandeling van kinders, wat deur Plato bepleit en deur die Spartane beoefen was, algemeen en aanvaarbaar. Kuns wat ons pornografie sou noem, was oral. Die Romeinse baddens, herberge en drinkplekke was plekke om enige vorm van fisiese begeerte te bevredig. Een rede waarom die heidene die Bybelse Godsdiens as ’n bedreiging beskou het, was omdat hulle gevrees het dat die Bybel se leerstelling oor seks “hulle pret sou bederf” (Steven Smith, Pagans & Christians in the City, bl. xiii).

Die Bybel leer ons dat kinders ’n geskenk van God is (Psalm 127:3-5) en dat hulle kosbaar in Sy oë is (Matthéüs 19:13-15). In die antieke heidense wêreld was kindermoord egter algemeen. Aristoteles was ’n voorstander daarvan om kinders vir bevolkingsbeheer dood te maak en om van misvormde babas ontslae te raak. In die geskiedenis word daarvan melding gemaak dat ’n Romeinse burger sy vrou kon beveel dat indien sy ’n kind sou hê terwyl hy weg was, sy dit moes hou as dit ’n seun was, maar dit moes doodmaak as dit ’n meisie was (Ken Spiro, WorldPerfect, bll. 6-7). Die heidene van antieke Kanaän en Carthago het babas lewendig verbrand as offers aan die afgod Baäl, met die hoop dat hulle reën of veilige reise in ruil daarvoor sou ontvang – ’n praktyk wat die Skrif duidelik veroordeel (Levítikus 18:21; Deuteronómium 18:10). Die Bybel sê ook dat mense na die beeld van God geskape is (Génesis 1:26-27) en om mekaar nie dood te maak nie (Exodus 20:13). In die heidense wêreld het die menslike lewe egter weinig waarde gehad. Die Romeine het nie net op die slagveld doodgemaak nie, maar ook op groot skaal vir vermaak. Duisende mense is in arenas wat regoor die ryk versprei was gedood terwyl skares gejuig het.

Waarom is ’n begrip van antieke heidense idees en tradisies vandag vir ons tersaaklik?

 

Die terugkeer van die heidendom

Gedurende die afgelope jare was daar ’n toenemende besef dat die verspreiding van Christelike idees in die Weste en algemene respek vir die Bybel, nie die heidendom uitgeskakel het nie. Baie antieke idees het eenvoudig in die geheim voortgegaan en het begin om weer in vandag se gunstiger klimaat te voorskyn te kom. Europa en Amerika het die afgelope paar eeue toenemend wêrelds geraak namate voor-Christelike idees en tradisies meer aanvaarbaar geraak het. Dit kom voor asof die Westerse lande, wat voorheen as “Christelik” beskou was, midde in ’n “heidense herlewing” is, soos wat dit in Desember 2018 in ’n New York Times-artikel met die titel “The Return of Paganism” opgemerk is. Baie konsepte wat as “progressief“ in ons moderne samelewing beskou word, vorm eintlik deel van die herlewing van heidense idees wat lynreg teenoor die leer van die Bybelse Christendom staan en daardie idees het gevolge.

Algemeen aanvaarde idees van vandag – dat God nie bestaan nie, dat die Bybel nie Goddelik geïnspireerd is nie, dat alle godsdienste ewe geldig is, dat absolute waardes van reg en verkeerd nie bestaan nie en dat daar nie iets soos sonde bestaan nie – was almal deur antieke heidense filosowe verkondig. Net soos wat owerspel, hoerery, homoseksualiteit, pornografie en kindermoord verskoon was en wyd in die antieke heidense wêreld beoefen was, word hierdie aktiwiteite tans toenemend algemeen en word dit selfs vandag gevier. Die “wêreldse humanisme” wat die moderne samelewing oorheers, is in baie gevalle ’n dekmantel vir “neo-heidendom” wat homself in ons een-en-twintigste-eeu se kultuur laat geld. Wanneer daar op Google gesoek word na die term “moderne heidendom” of “hedendaagse heidendom” vind ons ’n verbasende vlak van belangstelling om antieke, heidense praktyke weer prominent te maak. Hoe kon die anti-Christelike waardes en idees van die heidendom egter die Judeo-Christelike waardes vervang? Dit het dan gelyk of dit vir so lank stewig in die kultuur van die Westerse beskawing verweef was?

 

Saad lank gelede gesaai

Die vrugbare grond vir die agteruitgang van die Christelike invloed en die terugkeer van die heidendom, was in werklikheid reeds voorberei gedurende die vroeë eeue van die Christendom. Namate die Kerk oor die hele Mediterreense streek gegroei en versprei het, het dit met baie heidense idees en praktyke in aanraking gekom waarmee sommige mense nie weggedoen het nie, maar eerder in hulle leerstellings aangeneem en opgeneem het. Hierdie gebruike was baie gewild en afvallige kerkleiers het geredeneer dat die integrasie daarvan, dit vir heidene makliker sou maak om hulleself tot hierdie nuwe godsdiens te bekeer. Die Bybelse Sabbat wat deur Jesus, die Apostels en vroeë Christene onderhou is, (Lukas 4:16; Handelinge 13:14, 42-44; 17:1-2) is prysgegee ten gunste van Sondag, ’n dag wat reeds deur heidene erken was en wat, soos Keiser Konstantyn, die son aanbid het. Die gewilde winterfees van die Saturnalia – ’n tyd van dobbel, vrolikheid en sosiale omruiling van rolle – is na “Kersfees” verander en is as Jesus se verjaardag gevier, ondanks die totale gebrek aan Bybelse ondersteuning vir die groot afdwaling van die oorspronklike Christelike praktyk wat die fees verteenwoordig het. (Sien Gerald E. Weston se artikel “Kersfees – maak dit saak?” elders in hierdie uitgawe.) Die heidense vrugbaarheidsfeeste in die lente met eiers, konyne en seksueel-georiënteerde aktiwiteite ter ere van Aphrodite en Ishtar (“die koningin van die hemel”), was aangeneem deur toenemend afvallige leiers en hulle het dit “Paasfees” [Easter] genoem onder die dekmantel van die herdenking van Jesus se opstanding – selfs al word hierdie praktyke deur die Skrif veroordeel (sien byvoorbeeld Jeremia 7:18; 44:18-23; Eségiël 8:15-18). Dit behoort ons nie te verbaas dat sommige Christene hulle geloof begin bevraagteken wanneer hulle na die oorsprong van hierdie belangrike vakansiedae kyk nie.

Die geskiedkundige bewyse is onbetwisbaar: Belydende Christene wat beweer dat hulle die leerstellings van Jesus volg, het baie idees en gebruike by die heidense wêreld geleen en dit is iets waarteen die Bybel duidelik waarsku (Deuteronómium 12:29-32; 16:21-22; 18:9-12). Die geskiedkundige Will Durant het gesê: “Die Christendom het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit aangeneem … [Die] Griekse geheimenisse is oorgedra in die indrukwekkende verborgenheid van die Mis … Uit Egipte het die idees van ’n goddelike drie-eenheid gekom ... die aanbidding van die Moeder en Kind ... Vanuit Frigië het die aanbidding van die Groot Moeder gekom ... die Christendom was die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld” (Caesar and Christ, bl. 595). Ander geskiedskrywers het gedokumenteer dat baie onskriftuurlike praktyke van die moderne hoofstroom-Christendom – kruise, Christusbeelde, kerktorings, heiligdomme, priesterlike klede, aandenkings, Sondagaanbidding en selfs die titel Pontifex Maximus – is “direk uit die heidense kultuur in die na-Apostoliese periode oorgeneem” (Frank Viola en George Barna, Pagan Christianity?, bl. 6).

Alhoewel baie mense aanvaar dat die Protestantse Hervorming van die 1500’s, ware Bybelse Christelikheid heringestel het, is dit eenvoudig nie waar nie. Alhoewel sommige nie-Bybelse praktyke soos aflate, belydenis aan ’n priester, gebede tot heiliges, rosekranse, die idees van die vagevuur en transsubstansiasie asook die rol van die pous afgeskaf of afgewater is, is baie ander leerstellings van heidense oorsprong behou. Alhoewel die Hervorming die Protestantisme afgesny het van die kerklike beheer van die Roomse kerk oor leerstelling en praktyk, het die nuwe klem op godsdiensvryheid “die deure oopgemaak vir groter verdeeldheid asook tot ongelowigheid” (Harold Lindsell, The New Paganism, bl. 42). Die godsdienslose vrugte van die Hervorming het in die daaropvolgende eeue na vore gekom.

 

Neo-heidene van die Verligting

Die Verligting was ’n intellektuele beweging wat in die 1700’s in Europa ontstaan het. Dit het ’n deurslaggewende rol gespeel in die herlewing van antieke heidense idees wat steeds ons moderne wêreld vorm. Kritiese denkers van die Verligting was gegrief oor die korrupsie, buitensporigheid en onderdrukking van die Roomse kerk en die dryfkrag agter hulle was die winde van verandering wat die Hervorming veroorsaak het. Oor die jare wat gevolg het, het kritici onophoudelike aanvalle op die Christendom, die Bybel en God geloods. Hulle wapens het onder meer die herontdekking en die popularisering van heidense Grieks-Romeinse geskrifte ingesluit, asook die wanbegrip, wanvertolking en misbruik van ontdekkings in die natuurlike wêreld.

Net soos hulle antieke heidense voorgangers, het die “neo-heidene” van die Verligting op die natuurlike wêreld gefokus en het hulle die idee verwerp van een bonatuurlike God wat in menslike aangeleenthede ingryp. Bekoor deur die menslike rede het hulle die idee bespot dat die Bybel ’n Goddelik geïnspireerde boek is wat akkurate geskiedenis en universeel toepaslike morele wette bevat. Die opkoms van die sogenaamde “hoër kritiek” in die Westerse akademiese wêreld het bewerings gegenereer dat baie boeke in die Bybel vals is, dat wonderwerke onmoontlik is, dat Jesus nie die Goddelike Seun van God is nie, net ’n reisiger wat in Palestina gepreek het en dat Sy opstanding toneelspel, vindingrykheid of verbeelding is.

Hierdie anti-Christelike perspektief is aangehelp deur wetenskaplike ontdekkings en teorieë wat gelyk het of dit in stryd was met ’n godsdienstige wêreldbeskouing – gedeeltelik as gevolg van ongegronde (en onbybelse) bygelowe wat met die “Christendom” geassosieer was. Copernicus het toe alreeds bewys dat die aarde rondom die son wentel en nie andersom nie. Mediese vooruitgang het getoon dat siektes nie altyd deur vloeke van God veroorsaak word nie, maar deur kieme en ook voorkombaar is deur middel van nuwe mediese gebruike. Hierdie en ander ontdekkings het almal op die gebied van die natuurlike wêreld voorgekom. Die heidense filosowe het hierop gefokus en as gevolg hiervan het dit vir sommige mense gelyk asof God en die Bybel onnodige produkte van menslike verbeelding is. Midde in ’n atmosfeer van gretigheid om die bonatuurlike te verwerp, het Charles Darwin se evolusieteorie wat beweer het dat die lewende wêreld verklaar kan word sonder om ’n mens op ’n Skepper te beroep, ’n bereidwillige gehoor gevind.

Sulke kulturele veranderings tydens en na die Verligting het ’n baie betekenisvolle verskuiwing in die wêreldbeskouing van Westerse nasies tot gevolg gehad, wat op ’n Judeo-Christelike grondslag vir die grootste deel van ’n millennium gefunksioneer het. As gevolg van die gees van die heersende tyd is aanvaar dat die menslike rede Bybelse openbaring as ’n riglyn vir die waarheid sou kon vervang, dat die wetenskaplike metode meer betroubaar as die Skrif was en dat ’n wêreldse lewensbenadering tot geluk en ’n beter wêreld sou lei. Hierdie anti-Christelike idees was geskenke van die Verligting wat ons universiteite binnegedring het en die gekwelde wêreld waarin ons leef, gevorm het terwyl die heidendom teruggekeer het namate die Bybelse Godsdiens begin kwyn het. Soos die geskiedskrywer Peter Gay van die Yale-universiteit egter opgemerk het, was die kritici, skeptici en hervormers van die Verligting “moderne hedendaagse heidene” wie se heidense denke “teen hulle Christelike erfenis gerig was” in ’n poging om ’n wêreld vry van morele beperkings te skep (The Enlightenment: The Rise of Modern Paganism, bll. xi, 8).

 

’n Gevaarlike pad vorentoe

Dit is nodig dat ons ’n aantal belangrike vrae vra. Wat is die werklike betekenis van die moderne herlewing van antieke heidense idees en tradisies? Wat is die dryfkrag in hierdie geskiedkundige verskuiwing? Waarom gebeur dit vandag in die Westerse wêreld? Waarheen lei dit?

In die afgelope dekades het verskeie waarnemers besef dat ons besig is om terug te val in ’n toestand wat gelyksoortig is aan ’n voor-Christelike verlede. Die geskiedskrywer Jacques Barzun het opgemerk dat gedurende die afgelope 500 jaar, “die Weste aan die wêreld ’n stel idees en instellings gebied het wat nie vroeër of elders gevind word nie” en dat wêreldse idees en praktyke, wat hoofsaaklik uit die Verligtingstydperk spruit, “besig is om sy eie ondergang te bewerk” (From Dawn to Decadence, bl. xv). Die Britse joernalis Ferdinand Mount, het waargeneem dat “die samelewing wat nou te voorskyn kom ’n verstommende – amper onheilspellende ooreenkoms – toon met die wyse waarvolgens die Grieke en Romeine geleef het”, met die klem op fisiese plesier, sinnelose geweld, onbeperkte seksuele vryhede, veelvuldige gode en geen skuldgevoel nie (Full Circle, bl. 1). Alhoewel sommige mense weerstand teen hierdie “progressiewe” veranderings gebied het, het ons wêreldse Westerse samelewings as ’n geheel voortgegaan om Bybelse waardes oorboord te gooi en geheel en al heidense veranderings aan te neem – duidelik op ’n gevaarlike pad.

Byna 80 jaar gelede het die maatskaplike kritikus T.S. Eliot, opgemerk dat die toekoms van die Westerse samelewings bepaal sou word deur ’n wedywering tussen die Christendom en wat hy “moderne heidendom” genoem het (Pagans & Christians in the City, bl. 8). ’n Geslag later het die teoloog Carl F.H. Henry gewaarsku dat neo-heidene dreig om “die grondslag van die Westerse beskawing te ondermyn” en dat die resultaat van hulle idees reeds sigbaar was naamlik “morele en intellektuele verval wat slegs vergelyk kan word deur Pompeii en Sodom” (The Twilight of a Great Civilization, bl. ix). Verskeie geleerdes erken vandag dat daar ’n kragtige godsdienstige element in die “kultuuroorlog” is wat in die Westerse beskawing gevoer word namate hoofsaaklik heidense en goddelose idees in botsing kom met Judeo-Christelike waardes en Bybelse konsepte.

Die Bybel openbaar dat die “god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:3-4) Satan die duiwel is – die meeste hedendaagse heidene glo nie eers dat hierdie wese bestaan nie. Dit is nie verbasend nie, want die Skrif openbaar ook dat Satan “die hele wêreld” mislei het (Openbaring 12:9). Hy is die demoniese “outeur” van die geestelike verwarring en vleeslike gesindhede wat die dryfkrag agter die terugkeer van die heidendom is en die Bybels-gebaseerde beginsels van die Westerse beskawing laat verbrokkel. Die kreatiewe vernietigende leiers van die Verligting en hulle moderne volgelinge is Satan se onbewuste medepligtiges (sien 2 Korinthiërs 11:3-4, 13-15).

Min mense besef dat die dramatiese kulturele verskuiwing wat ons tans waarneem, in werklikheid ongeveer 3,000 jaar gelede in die Bybel voorspel is. Die opkoms van die Westerse beskawing was nie ’n ongeluk nie. God het lank gelede Sy Wette, Godsdiens en lewenswyse aan die antieke Israeliete geopenbaar (Exodus 20), sodat hulle ’n lig en voorbeeld vir die wêreld kon wees (Deuteronómium 4:6-8). Die Israeliete het ’n verbond met God gesluit wat seëninge vir gehoorsaamheid en ernstige gevolge vir ongehoorsaamheid ingehou het (Levítikus 26; Deuteronómium 28) – gevolge wat sou insluit dat hulle in ballingskap weggevoer sou word indien hulle hul van Hom sou distansieer. Na hulle Assiriese ballingskap, het die noordelike Israelitiese stamme na Noordwes-Europa en Amerika geëmigreer, waar God se beloftes aan Abraham en sy nageslag vervul is met die opkoms van verskeie Westerse nasies (sien Génesis 12:1-3 en ons gratis hulpbron Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid Afrika? Satan se huidige aktiwiteite is veral gemik op hierdie moderne Israelitiese nasies.

Moses het talle hard en duidelike waarskuwings aan die antieke Israeliete gerig oor wat die gevolge sou wees indien hulle God vergeet en hulle tot ander gode sou wend (Deuteronómium 6:14; 7:16; 8:18-19; 12:29-32) en ’n ontnugterende profesie aangeteken oor wat met die moderne Israelitiese nasies sou gebeur wanneer hulle die laaste dae van hierdie tydperk nader. Hy was geïnspireer om te waarsku, “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg” (Deuteronómium 31:29). Jeremia het ook gewaarsku dat daar “’n tyd van benoudheid vir Jakob” wat oor Jakob se nageslag – die hedendaagse Israelitiese nasies – “aan die einde van die dae” sou kom as gevolg van hulle gretigheid om idees en gedrag te aanvaar wat deur God veroordeel word (Jeremia 30:1-25). Met die herlewing van openlike en onverbloemde heidensheid in baie Westerse lande, is hierdie antieke profesieë vandag besig om bewaarheid te word.

Wanneer ʼn mens sien hoe anti-Christelike idees en praktyke vandag in die Westerse wêreld versprei, lyk dit asof baie mense nie die lesse uit die geskiedenis geleer het nie. Ons is besig om die foute van die antieke Israeliete te herhaal, ondanks die voorbeelde wat God vir ons in die Bybel laat aanteken het vir die “eindes van die eeue” (1 Korinthiërs 10:1-11). Alhoewel ons moderne nasies hulle waarskynlik nie sal bekeer van hulle afvalligheid van God nie, kan u uit hierdie voorbeelde leer en die komende gevolge vermy, indien u die idees en praktyke wat gewortel is in die moderne terugkeer van die heidendom uitken en vermy en begin om opreg te soek na die God en lewenswyse wat aangebied word in die bladsye van die Skrif.