Twee keer in die vorige eeu het Duitsland se pogings om Europa deur militêre optrede te oorheers, die kontinent met bloed-bevlekte ruïnes gelaat! Duitsland het egter in die laaste paar dekades – stadig maar seker – weereens begin om ’n oorheersende rol in Europa te speel: Ekonomies, polities en selfs militêr. Bybelprofesieë het lank gelede al die herlewing van Duitsland net voor die wederkoms van Jesus Christus voorspel. Ons sien hoe hierdie antieke profesieë vandag besig is om gestalte aan te neem!

’n Meervlakkige heropbou!

Na aanleiding van die geweldige Duits-geïnduseerde bloedbad van twee wêreldoorloë, het versiende politieke leiers in Europa gepoog om die bloedige konflikte tussen buurlande te beëindig deur die nasies van Europa in ’n ekonomiese en politieke unie saam te snoer. Die Europese Ekonomiese Gemeenskap van die 1950’s en die Europese Unie van die 1990’s, was grootliks Frans-geïnspireerde pogings om Duitsland aan Europa te bind om toekomstige oorloë op Europese bodem te voorkom. Gedurende daardie jare het die herboude Duitse ekonomie die “lokomotief” geword wat Europese nasies na ’n “al-hoe-hegter unie” gedryf het. Party mense het die EEG en EU beskou as ’n Franse ruiter wat ’n sterk Duitse perd lei!

Die politieke landskap het nogtans dramaties verander toe die Berlynse Muur (wat Oos- en Wes-Duitsland van mekaar geskei het) in November 1989 geval het. Die “verrassende hereniging” van die twee Duitslande in Oktober van 1990 het 80 miljoen Duitsers in die hart van Europa byeengebring, en Duitsland het skielik die nasie met die grootste bevolking in die EU geword. Terwyl die Duitsers hul hoofstad van Bonn na Berlyn verskuif het, het een opmerksame Ierse leier opgemerk: “Die Duitse perd het sy Franse ruiter afgegooi en koers gekies na Berlyn” – wat nou die EU se tweede grootste stad, naas Londen is, heelwat groter as Madrid, Rome, Parys of Brussel. ’n Ander waarnemer het opgemerk dat “dit meer as duidelik is dat die Duitsers die stuurstang vashou, en die Franse trap” (Der Spiegel, 20 Desember 2010).

In onlangse jare het Duitsland die sterkste ekonomie in Europa en die vierde grootste ekonomie in die wêreld ontwikkel. Duitsland is ook die grootste bydraer tot die EU se begroting en die Duitse stad Frankfurt bied ’n tuiste vir die Europese Sentrale Bank. As gevolg van Duitsland se groeiende finansiële invloed was die Federale Republiek van Duitsland in staat om aan te dring op voorwaardes vir die ooreenkomste om EU-lede (Griekeland, Ierland en moontlik Spanje, Portugal en Italië) te borg in die voortgaande finansiële krisis in Europa – dit was uiters kommerwekkend vir ander lede van die Europese Unie (Der Spiegel, 20 Desember 2010). Duitsland het ook gekoukus vir meer toesig en sentrale beheer oor die nasionale begrotings van EU-lede. Daar was selfs bespiegelinge dat, indien EU-lede nie in staat is om ooreen te kom oor die wyse waarop hulle hul voortgesette finansiële krisis kan oplos nie, Duitsland die monetêre unie mag verlaat (saam met ander meer finansieel-stabiele noordelike en sentrale Europese lande) en moontlik weer die Duitse mark in plek van die euro kan instel (Der Spiegel, 27 Desember 2010). Duitsland sou die ooglopende leier van enige nuwe vorm van Europese nasies wees.

Duitse militêre herlewing

Selfs meer interessant en onheilspellend is Duitsland se aktiwiteite in die militêre sfeer! Duitsland en Frankryk het in 1987 ’n Frans-Duitse militêre brigade op die been gebring, waardeur hul soldate saam kon werk in die verdediging van Europa. In Desember 2010 sien Frankryk die eerste ontplooiing van Duitse soldate op Franse grondgebied, sedert die Tweede Wêreldoorlog. Die Duitse soldate, lede van die Frans-Duitse brigade, is in Strassburg ontplooi – ’n gebied waaroor Duitsland en Frankryk al vir die laaste eeu twis (Detroit Free Press, 10 Desember 2010). Duitsland het ook ’n leidende rol gespeel in die bevordering van ’n gemeenskaplike beleid vir die aankoop van toerusting deur die Europese militêre owerhede.

In 1995 het Duitse soldate begin om buite Duitsland diens te doen as deel van ’n NAVO-vredesmag in die Balkans – ’n mag wat sedertdien dikwels onder Duitse bevel gestaanhet. In 2006 het Duitse troepe, as deel van ’n Verenigde Nasies-vredesmag wat in die Kongo ontplooi is, vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog, aksie in Afrika gesien. Ook in 2006 was Duitse magte vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog, in die Midde-Ooste ontplooi toe die Duitse vloot die kuslyn van Libanon begin patrolleer en Duitse vlieëniers verkenningsvlugte onderneem het. In 2007 stuur Duitsland troepe en vegvliegtuie na die oorlog in Afganistan, as deel van ’n NAVO-sending. Karl-Theodor zu Guttenberg, Duitsland se minister van verdediging, het in Desember 2010 ’n goed-gepubliseerde besoek afgelê aan Afganistan om meer as 4,000 Duitse troepe wat in daardie land gestasioneer was, te bemoedig (The Local, 28 Desember 2010). In 2008 is Duitse gewapende magte na die Horing van Afrika gestuur om seerowers in daardie rustelose gebied te help beveg (euobserver.com, 12 Oktober 2008). Vandag, 65 jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog, doen meer as 8,000 Duitse troepe diens in verskeie dele van die wêreld – ’n feit wat grootliks deur die Duitse volk en die samelewing van die wêreld aanvaar word.

Heeltemal onbekend aan die meeste mense, laat die Duitse Lugmag sedert 1958 sy stralers se vegvlieëniers in Amerika oplei by die Holloman Lugmagbasis naby Alamogordo, Nieu-Meksiko – gedeeltelik te danke aan die uitstekende vlieg-weer reg deur die jaar in hierdie dun bevolkte gebied. Hierdie “bobaas” Duitse vlieëniers word opgelei in Amerikaans-vervaardigde F-4F Phantoms en Europees-vervaardigde Tornado straalvegters. Sommige van die Amerikaanse Lugmag se mees gevorderde vliegtuie – die F-117Nighthawk “sluip”-vegter en die F-22 Raptor-vegter – was ook op die Holloman Lugmagbasis aangehou. Is dit betekenisvol dat, voor die Tweede Wêreldoorlog, Duitse vlieëniers stilweg in Frankryk opgelei was en dat Duitse tenks in Rusland beproef was? Die besonderhede van Duitsland se huidige militêre terugkeer mag vir sommige mense lyk na nie-verbandhoudende en onbelangrike brokkies historiese onbenullighede, maar hierdie tipiese Duitse voorbereidings sal ’n rol speel in ’n groter eindtydse prentjie.

Ernstige gevolge

Dosyne profesieë in die Bybel wys duidelik daarop dat, net voor Jesus Christus se wederkoms, Duitsland (in u Bybel as “Assirië” geïdentifiseer) weer ’n prominente rol sal speel op die wêreldverhoog en ’n groot impak sal hê op moderne Israel (nie net die moderne Joodse nasie van Israel nie maar ook die Amerikaners en die nasies van Britse afkoms). Lank gelede, in profesieë wat ’n tweeledige toepassing het vir vandag, het God die Israeliete gewaarsku dat indien hulle ongehoorsaam sou wees aan Sy wette en hulle sou distansieer van Sy lewenswyse, daar ernstige gevolge sal wees – insluitend militêre nederlaag en ballingskap in vreemde lande (Levitikus 26; Deuteronomium 28). Die profeet Jesaja het voorspel dat God Assirië sal gebruik as die “roede van my toorn ... Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid” (Jesaja 10:5-11). Die profeet Hosea het gewaarsku dat die Israelitiese volke sal opsien na Assirië in ’n tyd van nood (Hosea 7:11-12, 12:1), maar dat Assirië en sy bondgenote op hulle beurt die Israelitiese volke sal wegvoer in ballingskap (Hosea 2:5-13, 5:13; Jeremia 30:4-14, kyk ook veral Esegiël 23:5,9,22) – want die Israelitiese volke het hulle Maker “vergeet” en behandel “die groot dinge” in God se wet as “’n vreemde ding” (Hosea 8:1-14). Hosea het voorspel dat, as gevolg van die Israeliete se verwerping van God se opdrag, die Assiriërs “sy koning [sal] wees; omdat hulle geweier het om hulle te bekeer” (Hosea 11:1-5). Namate ons die stil, maar bestendige terugkeer van Duitsland na ’n posisie van groot prominensie in Europa waarneem, sien ons hoe hierdie antieke profesieë vandag besig is om gestalte aan te neem! Om meer te leer oor Duitsland se impak op toekomstige wêreldgebeure, lees ons Julie-Augustus 2011 Wêreld van Môre-artikel “Die groei van ’n leier” of vra vir ons herdrukte artikel, “Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich”?