’n Eenvoudige stukkie advies openbaar ook ’n beginsel eie aan die Christelike leefwyse.

Hou altyd ’n flitslig byderhand in u huis of werkplek, of wanneer u reis. Hou dit maklik bereikbaar en hou dit in ’n werkende toestand. U weet nooit wanneer u dit mag nodig kry nie. Dit mag klink na algemene kennis, maar lig kan werklik u lewe red. Dit is dus geen verrassing dat lig een van die heel belangrikste begrippe in die Bybel is nie.

Moet lig nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is een van die basiese behoeftes van lewe. Selfs in die swart dieptes van die oseane, onaangeraak deur daglig, is daar lewensvorms wat lig gebruik en wat toegerus is om “bioluminesensie” vir ’n verskeidenheid van funksies voort te bring. Plante het dit nodig. Diere het dit nodig. U het dit nodig.

 Skakel ’n lig aan en u aktiveer een van u belangrikste sintuie om voorbereid te wees teen onsigbare gevare – daar is talle kreature vir wie helder lig baie ongerieflik is. Sommige van die lastige dierasies wyk met die eerste straal van skielike lig – soos wasbere en ander nagtelike indringers en die alomteenwoordige kakkerlak. Lig kan selfs meer gebruik word om plae en roofdiere weg te hou.

 Lig bied ook veiligheid tydens noodgevalle, wanneer motors in die nag breek of kragnetwerke onklaar raak en ons bevind ons in letterlike duisternis waarin ons kan struikel, maar dít is nie die enigste duisternis waarin ons kan struikel nie.

Die lig van die mens

Die apostel Johannes skryf van Jesus Christus: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie” (Johannes 1:1-5). In hierdie gedeelte identifiseer Johannes baie duidelik dat Jesus lank voor Sy verwekking op aarde bestaan het as die ware geestelike Lig van die mensdom.

Die woord “lig” in hierdie verse, phos in die antieke Grieks, beteken letterlik “glans” of selfs in sommige gevalle “geestelike verligting” en is afgelei van die oorspronklike woord phaō, wat beteken om “openbaar te maak”. Wanneer Johannes sê dat hierdie lig teen die duisternis skyn (onkunde en afvalligheid van hierdie wêreld, Romeine 1:20-22) kon die duisternis dit nie begryp (of bemeester) nie.

Soos u kan sien was dit ’n baie kragtige lig. Op watter wyses verlig die lig van Christus en die kennis van God se weë die lewe en jaag dit die skaduwees weg?

Een van die skrifgedeeltes in die Bybel wat te min gebruik word, is Mattheüs 18:15, wat na een manier verwys. Deur ’n saak wat ons grief onder die aandag van ’n buurman te bring, eerder as om dit te verswyg en te probeer om ons sin te kry, “skyn ons ’n lig” op die situasie en handel ons met deursigtigheid (Johannes 3:20-21), ongeag die ander persoon se optrede.

God laat sy lig skyn

God se Woord skyn ook ’n lig, deur voorskrifte oor gebed te gee, veral oor wat die Bybel voorbidding noem (1 Timótheüs 2:1-3). Vurige, opregte gebede deur diegene wat aan God se wil gehoorsaam is het “groot krag” (Jakobus 5:16) en sal nie ongehoord by God verbygaan nie. Getroue gebede, selfs vir diegene wat dalk u vyande is, is vir God baie belangrik (Mattheüs 5:43-45). Indien ons onsself dwing om ’n poging aan te wend, word die pad na vergifnis, besluitneming en ware gemoedsrus vir ons duidelik gemaak en goed verlig. Ons skyn die lig van genade op ander en sodoende sal God dit op ons skyn (Markus 11:25). Daar is nie ’n veel beter manier om die skaduwee van emosionele onrus en weersin weg te jaag nie en hoe groter die wrok is, hoe groter is die verligting.

Uiteindelik bied die Evangelie die ware kennis van die pad na bekering en redding. Wanneer God iemand in Sy gesin inroep, maak Hy die weg bekend deur die gawe van die Heilige Gees (1 Korinthiërs 12:3; Efesiërs 3:4-6). Hierdie openbaring kom direk van God af en kan nie verstaan word sonder Sy hulp nie. Wanneer God egter eers hierdie lig in u oë skyn en u op Hom vertrou (Jesaja 50:10), word die deur vir u oopgemaak om nooit weer in die duisternis te wandel nie.

Daardie lig is kosbaarder as enige ander, maar dit kom net met ’n roeping en teen ’n prys en moet nooit ligtelik opgeneem word nie. Word dit vir u aangebied? Indien God se roeping begin om u lewe te verlig, moet u dit nie uitstel nie, reageer daarop terwyl u kan!