Miljoene mense wat hulself as “Christene” beskou, het hul bekering as vanselfsprekend aanvaar. Hoe kan u seker wees dat u waarlik bekeerd is?


Daar is oral tekens dat ons in die “laaste dae” leef. Ekonomiese krisisse bly weerklink oor die hele wêreld, gebeure in die Midde-Ooste is besig om op te vlam namate die beweging bekend as die “Arabiese Lente”, voortgaan om diktators wat vir dekades lank regeer het, tot ’n val te bring. Hierdie gebeure saam met baie ander, is ’n aankondiging van die eersdaagse wederkoms van Jesus Christus as Koning van konings (Openbaring 11:15).

Wat dan egter van ons? Terwyl die tyd besig is om uit te loop vir die wêreld, en vir ons individueel, behoort ons ernstig na te dink of ons werklik dienaars van die lewende Christus is. Jesus herinner ons daaraan: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Openbaring 2:26).

Dus, is u besig om te “oorwin”? Is u besig om u lewe – dag na dag, maand na maand en jaar na jaar – te verander, deur Jesus Christus wat Sy lewe binne-in u leef?

Ons behoort “realisties” te wees aangaande ons eie toestand. Soos die apostel Paulus aan die Korinthiërs geskryf het: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie – as julle ten minste nie verwerplik is nie!” (2 Korinthiërs 13:5). Leef die Christus van die Bybel werklik Sy lewe in u deur die Heilige Gees wat? Of, het u (net soos ek!) eenvoudig grootgeword in ’n kerk en al sy leerstellings en gebruike as vanselfsprekend aanvaar?

’n Dooie godsdiens

Alhoewel mense geneig is om hul gunsteling sienswyses en mensgemaakte tradisies te koester – en alhoewel ons dit haat om gesê te word dat ons verkeerd is – is vandag se “hoofstroom Christelikheid” ’n dooie godsdiens.

Sommige van ons besef dit. Die meeste mense haat egter om dit te erken. Mense vind dit pynlik om te erken dat hulle verkeerd is. Hulle sal egter binnekort geen ander keuse hê nie. God sal ’n einde maak aan die mensdom se sekulêre en anti-God lewenswyses. “Daarom sal Ek só met jou handel, o Israel; omdat Ek só met jou sal handel – maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel!” (Amos 4:12).

Is u voorbereid hierop? God sê aan ons om ons gereed te maak! Die tyd is nou! In die verlede het die meeste van u wat die Wêreld van Môre gereeld lees, besef dat iets geestelik vir u ontbreek het vir baie jare. Nou het u begin om ’n groot deel nuwe waarheid te verstaan. ’n Nuwe lewenswyse gaan voor u oop. Nou begin u om werklik ​​Bybelprofesieë te verstaan, asook die grootse doel wat hier benede uitgewerk word. Dus, vra uself af: Indien u werklik ’n Christen was al die jare voor u begin het om te leer wat u nou weet, hoekom het u soveel gebrek aan begrip kortgekom? Waarom het dit toe gelyk of God soveel minder werklik is as wat Hy tans is?

Ons moet die feite in die oë kyk! Om onsself te verontskuldig sal hoegenaamd van geen nut wees wanneer ons voor die regterstoel van God gebring word nie! Ons behoort onsself eerlik te ondersoek!

Beteken dit iemand anders?

Die klein woordjie my is vir die meeste mense kosbaar. Hulle praat liefdevol van “my opinie” – “my godsdiens”, “my manier” en “my God”. Mense hou nie daarvan om vertel te word dat hul opinie, of hulle geloof, verkeerd is nie.

Nogtans, in hierdie doolhof van godsdienstige Babilon, moet iemand verkeerd wees! Is u bereid om te erken dat dit u kan wees? Mag God u help om dit te doen! Want, as ons ons Bybels glo, sal ons vind dat die meeste mense op hierdie aarde deurtrek is van godsdienstige dwaling. Selfs die meeste belydende Christene is mislei!

Een van die beginsels in die Bybel wat die minste verstaan word, is dat God hierdie wêreld doelbewus verblind het (Romeine 11:8), en toelaat dat dit sy eie weg volg en lesse leer gedurende hierdie eerste 6,000 jaar van menslike geskiedenis. Terselfdertyd het God Satan toegelaat om die mensdom te beïnvloed. Die Skrif beskryf Satan duidelik as “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9).

Vind u dit moeilik om te glo? Dit is waar. Op baie plekke dui u Bybel aan dat hierdie hele wêreld heeltemal mislei is in geestelike dinge. Onthou dat ’n misleide persoon nie weet dat hy mislei is nie. Hy is opreg, maar hy is opreg verkeerd!

Die groot, vals godsdienstige stelsel wat ons Westerse wêreld vandag oorheers, word uitgebeeld in Openbaring 17. God beskryf hierdie afvallige kerk as ’n gevalle vrou – ’n groot hoer, “met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery” (vers 2).

As gevolg van valse leringe en beginsels wat sedert kinderjare aanvaar is, is die meeste mense geestelik dronk – hulle het ’n verwronge uitkyk sodat hulle nie in staat is om geestelike waarhede te eien nie. Net soos dronkaards, is hulle dwaas tevrede met die wasige, mistige, verwarde geestelike toestand waarin hulle hulself bevind.

Hulle dink hulle is almal reg – so bolangs, ten minste. Diep binne-in spook die besef egter dat iets kortkom – hul godsdiens kom so leeg voor. God lyk op een of ander manier so onwerklik, en so baie, baie ver weg.

’n Vervalste Christendom

Die groot godsdienstige misleiding wat hierdie wêreld in ’n wurggreep het, is die gevolg van Satan, die duiwel, se werking deur vals predikante wat ’n vervalste Christendomverkondig. Na alles, ’n bedrieër is ’n vervalser. Satan, die duiwel, is die opperste vervalser van alle eeue! Daarom het sy predikante ’n leerstelling wat lyk of dit die waarheid kan wees.

Die apostel Paulus beskryf hierdie vals Christelike predikante – wat reeds in sy tyd aan die werk was: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy [die duiwel se] dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korintiërs 11:13-15).

Ja, Satan die duiwel het predikante! Hulle gee voor om predikante van Christus te wees! In werklikheid verkondig hulle ’n leerstelling van “geen werke nie” – geen gehoorsaamheid aan God se wet nie. Daarom sal hulle self geoordeel word volgens hulle bose werke!

God waarsku ons om elke gees of geestelike lering wat van mense afkomstig is te toets. “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1).

Onwetend, en in die meeste gevalle opreg, is die meeste van u wat hierdie artikel lees, in die verlede mislei deur valse prediking – wat ontstaan en voortgevloei het uit Satan, die duiwel, deur sy bose geeste wat die godsdienstige stelsels en valse predikante van ons dag inspireer en beïnvloed! Dit is tyd om wakker te word!

In hierdie laaste dae voor die wederkoms van Jesus Christus, behoort u te weet of u gereed is om u God te ontmoet! U behoort met ’n oop gemoed gewillig te wees om te bewys of u ooit werklik bekeerd was.

Dit is ’n ernstige saak! Mense se misplaaste vertroue in ’n valse bekering is ’n groot en dodelike misleiding, wat kan veroorsaak dat hulle hul ewige lotsbestemming kan verbeur! Wat egter van u? Is u bereid om hierdie moontlikheid onder oë te neem? Is u bereid om te verander as God aan u bewys dat u werklik nog nooit werklik voorheen bekeerd was nie?

Wat bekering regtig is

God se Woord sê: “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie” (Romeine 8:9). In eenvoudige taal gestel, u moet Christus se Gees in u hê, of u is nie ’n Christen nie – u was nog nooit bekeerd nie.

’n Waarlik bekeerde persoon is gevul met en word gelei deur die Heilige Gees van God. God plaas en lei Sy lewe eintlik in ons deur middel van Sy Heilige Gees. Op hierdie manier word ons deur Hom verwek as kinders – en deel dus in Sy karakter! “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Romeine 8:14).

Om eerlik te wees, in die verlede het die meeste van u wat hierdie artikel lees, nie eens geweet wat die Heilige Gees is, wat dit veronderstel was om in u lewe te doen, en wat die werklike gevolg gaan wees wanneer u deur God se Heilige Gees gelei word nie.

In Romeine 5:5, sê God dat “die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is”. Deur middel van Sy Gees, gee God ons Sy liefde. So is ons deel van Sy natuur – Sy karakter. God se karakter word uitgebeeld in die geestelike beginsels soos vervat in die Tien Gebooie – gehoorsaamheid aan God se Wet. “Want dit is die liefde tot God dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

God se Gees lei ons om aan Hom gehoorsaam te wees as ons Skepper en Heerser. Die apostel Petrus is geïnspireer om ons te herinner dat God die Heilige Gees gee “aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32).

Werklike bekering dan, behels ’n ware oorgawe om God en Sy wette te gehoorsaam. Petrus was geïnspireer om aan ons te sê hoe om ons te bekeer. Hy het gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Ons het berou oor sonde maar wat is die Bybel se definisie van sonde? “Sonde is immers die oortreding van die wet van God” (1 Johannes 3:4, NV). Dus, om werklik bekeerd te wees moet u berou hê omdat u God se wet verbreek het! Onthou dat Jesus Christus in die Nuwe Testament, God se Wet vergroot [uitgebrei] het – veral in Mattheüs 5 en in die Bergpredikasie as ’n geheel. Ons moet nie net die letter nie, maar ook die gees of die bedoeling van God se wet in elke faset van ons lewe onderhou. Jesus sê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Dan is dit noodsaaklik dat ons gedoop word as ’n uiterlike teken van ons bereidwilligheid om die ou “self” heeltemal te begrawe – om letterlik ons lewens aan God en aan Jesus Christus as ons persoonlike Verlosser, Hoëpriester en Meester, oor te gee.

Die apostel Paulus beskryf die doop as ’n begrafnis van die ou self (Romeine 6:1-4). Dit moet ’n algehele onderdompeling van die liggaam onder die water wees, as ’n simbool van die begrafnis van die ou selfsugtige self in die graf.

Valse bekering is baie algemeen

Om eerlik te wees, selfs die meeste sogenaamde “gedoopte” mense (baie is net “besprinkel”), het nooit regtig geweet waarvan hulle hul moet bekeer nie! Hulle het nie geweet wat sonde werklik is nie. Miskien het hulle opreg bedoel om “beter te doen” of “om vrede te maak met God”. Omrede hulle egter nie geleer het wat sonde regtig is nie, het hulle nooit werklik berou gehad oor sonde nie! Hulle was nooit “gebroke” deur die ellendige toestand van hul lewens nie, nooit vasberade om hulle eie menslike ydelheid en selfsug – wat voortdurend in die begeerlikhede van die vlees uitgebeeld word – te “begrawe” nie.

Hulle het nooit werklik berou gehad nie! Hulle het nooit die Bybel ernstig bestudeer nie. Hulle het net voortgegaan om “saam te gaan” met die gebruike, die gewoontes en die tradisies van hierdie wêreld. Hulle lewens het eintlik nie verander nie. Hulle het nooit daartoe gekom om God persoonlik te leer ken nie! Dit is hoe die meeste “Christene” vandag is.

In teenstelling hiermee, toe Hy van waarlik bekeerde mense praat het Jesus verduidelik: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Johannes 16:13). Indien u werklik bekeerd is, sal God se Gees u lei in die waarheid wat u nie voorheen geken het nie, en sal u help om Bybelprofesieë te verstaan op ’n manier wat u dit nooit voorheen verstaan het nie.

Ja, waarlike bekering is eintlik ’n omwenteling in die lewens van Christene! Dit vernuwe hul gedagtes, hul gesindhede – hul ware karakter! Bekeerde Christene begin om God te leer ken, soos nooit tevore nie. Hulle begin om op ’n persoonlike manier te bid en met God te praat. Hulle gebede word werklik verhoor! Namate hulle groei, raak hulle meer en meer soos Christus met elke maand en jaar wat verbygaan!

Ongelukkig het die meeste mense wat hulleself “Christene” noem, nog nooit eens begin om hulle voor te berei vir die pad na ware Christelike lewe nie.

Is u gewillig om hierdie feit te erken – en daarvolgens te handel?

Trotseer die menslike natuur

Die Almagtige God wat ons denke en ons menslike natuur geskape het, waarsku ons in die boek van Spreuke. Hy vermaan ons: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 16:25; 14:12). Dit is slegs menslike natuur om te glo dat u doen en late korrek is. God sê egter dat die pad wat vir u reg lyk, in die dood sal eindig! Onthou dat die loon van die sonde, die dood is (Romeine 6:23).

Die grootste struikelblok wat die meeste mense verhoed om die waarheid te aanvaar en hul waarlik te bekeer, is hul ydelheid. Talle mense het grootgeword in, en een of ander soort kerk bygewoon, dus haat hulle dit om te erken dat hulle hulself nooit bekeer het nie! Die menslike natuur veroorsaak dat die meeste mense hulle eie geregtigheid wil verkondig. Hulle het nooit werklik berou nie, hulle het nooit daartoe gekom om hulself werklik as sondaars te verafsku nie!

Die ware God beveel ons egter om op te hou om onsself te regverdig! “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:7).

Miskien dink u dat u nie goddeloos was nie? Die Almagtige God sê: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (Romeine 3:10). Hy herinner ons, “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (vers 23).

Ja, ons het almal gesondig! Ons het almal God se wette gebreek. Die meeste mense breek steeds Sy wette – en probeer om dit te regverdig waarom hulle dit doen!

God vermaan egter ernstig: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:8-9).

Ons eie menslike weë en redenasies, sonder God, is altyd verkeerd! Moet dit nie slegs toepas op ander mense nie – pas dit op uself toe!
Dit is byna seker dat die meeste van u wat hierdie artikel lees, nog steeds dit het wat die Bybel beskryf as ’n “wêreldse” verstand. Baie van u dink u is alreeds “gered”, terwyl die waarheid van die saak is dat u nog nooit tot die punt van totale onderwerping aan God en Sy absolute heerskappy oor u lewe, gekom het nie! Daarom het u nog nooit God se Heilige Gees ontvang nie en is u ook nie verwek as Sy geestelike seun of dogter nie.

Dit is waarom u nie voorheen in staat was om Bybelprofesieë te verstaan nie! Dit is waarom u nooit regtig die grootse doel wat hier benede uitgewerk word, verstaan het nie. Dit is ook waarom dit gelyk het of God altyd so ver weg was – so onwerklik.

Hierdie gebrek aan God se Gees is die rede waarom u nie voortdurend groei in genade en kennis nie – waarom u tekort geskied het aan lewensbelangrike skriftuurlike waarhede vir soveel jare van u lewe.

Nou is dit tyd om wakker te word! Nou is dit tyd om u regtig te bekeer!

Wat u behoort te doen

Eersteens, u behoort hierdie artikel van toepassing te maak op uself. U behoort ook daarna te streef om nie toe te laat dat u gevoelens seergemaak word deur die korreksie en vermaning wat hier gegee word in opregte liefde nie!

Onthou dat toe Jesus aan Sy dissipels gewys het dat hulle van Hom en Sy boodskap moet “eet”, was baie van hulle se gevoelens seergemaak en hulle het hul onttrek. “En baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (Johannes 6:60). “Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie?” (vers 67).

Petrus het daarna ’n antwoord gegee wat vandag nog dieselfde betekenis het. Hy het gesê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (vers 68).

Indien God aan u gewys het deur die “vrugte”, dat wat u in hierdie tydskrif lees, die waarheid is, dan behoort u bang te wees om van die waarheid af weg te draai! Waarheen anders kan u gaan?

Duisende van u het tot die besef gekom dat u die waarheid en die boodskap van God ontvang deur middel van hierdie Werk – die Tomorrow’s World-beeldsending en dieWêreld van Môre-tydskrif. U begin besef dat hierdie die Werk is van die ware Kerk van God.

U het egter nog nooit gedink om iets werklik daaraan te doen nie! Indien ons die dienaars is van die Allerhoogste God, dan behoort u ons lering en voorbeeld te volg wanneer u sien dat dit volgens die Bybel is. U behoort sulke artikels soos hierdie meer letterlik en persoonlik op u eie private lewens toe te pas.

Die apostel Paulus was geïnspireer om te skryf: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1). U behoort die voorbeeld van God se ware leraars en van Jesus Christus na te volg.

Eintlik het die meeste van u wat hierdie artikel lees, nog nooit berading ontvang van een van God se ware leraars oor werklike bekering en doop nie. Die geleentheid is egter daar, indien u bereid is om dit te gebruik. Menige van u, lesers van die Wêreld van Môre, het geskakel, geskryf of met ons deur die Internet kontak gemaak om persoonlike berading te vra van ’n ware leraar van Jesus Christus. Indien u begin verstaan dat die Werk agter hierdie tydskrif, vandag die werk van God se ware Kerk is, en u die belangrikheid van verandering in u lewe besef het en opreg is, moet u nie nalaat om ons by die naaste Streekskantoor aan u te kontak, soos gelys op bl. 2 van hierdie uitgawe nie.

Op een of ander wyse het almal van u, geagte lesers, nodig om die lewensbelangrikheid van ware bekering te besef! Moet dit nie so lank uitstel dat u die geleentheid verbeur nie! Onthou dat God nie die gewoonte het om Sy Werk deur misleide predikante te doen nie! Indien u werklik seker wil wees van u geestesgesteldheid, moet u beraadslaag met die ware leraars van God wat as instrumente gebruik word om Sy boodskap te verkondig aan hierdie sterwende wêreld. U behoort dan nederig ag te slaan op hulle advies – om hulle voorskrifte te volg – indien u tevrede gestel is dat hulle werklik leraars van God is.

Wees bereid om te verander

Moet nooit vergeet dat voor werklike bekeringwerklike berou kom nie. U behoort uself te verootmoedig totdat u opreg kan sê, soos Dawid gedoen het: “Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my” (Psalm 51:4-5).

Let op dat Dawid nie probeer het om homself te regverdig nie – hy het sy sonde vrywillig erken en vir vergifnis gevra. Hy gaan voort: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in U oë” (vers 6). Dit was nie vir God nodig om met Dawid te argumenteer of te “redeneer” om sy skuld te erken nie! Dawid het, in die lig van God se gebooie, by die punt gekom om homself te sien soos hy werklik was en om homself te verafsku. Nie een van ons is enigsins beter as Dawid nie!

Wanneer u uiteindelik gereed is om berou te hê omrede u God se wette gebreek het deur menslike tradisies na te volg, of om in te stem met hierdie samelewing en sy weë, weet dan dit is wat God van u vereis: “Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:19).

Was u voorheen ’n “godsdienstige tydverdrywer” wat daarvan gehou het om met God se leraars te argumenteer oor “hoe ek dit sien”? Was u “gevoelens seergemaak” as hulle u, uit die Bybel, gewys het dat u verkeerd was? Wanneer die tyd aanbreek dat u u waarlik bekeer, sal u nie teësinnig ’n ou valse bekering aanhang nie. In stede daarvan, sal u dankbaar wees teenoor u leermeesters. U sal nederig en leerbaar wees soos ’n klein kindjie. U sal nie dink aan uself as ’n “geestelike reus” wanneer u begin om die pad van werklike bekering te bewandel nie. U sal ook die groot gevaar besef indien u u ou geestelike trots en ydelheid toelaat om u te oortuig dat u vorige valse bekering “die ware Jakob” was. Inteendeel, u sal dankbaar wees teenoor God vir Sy kerk, vir Sy leraars wat Sy Waarheid aan u leer (Romeine 10:15). U sal groot vrede hê in die wete dat u, soos nog nooit tevore nie, werklik deur God gelei word.