Ondanks ’n bevolking van 1,4 miljard mense wat op ’n vasteland, ’n derde van die grootte van die Verenigde State, woon, het die meeste kenners Indië lof toegeswaai omdat hulle die COVID-19-pandemie vir meer as ’n jaar lank so goed hanteer het. Suksesvolle beheer van die Coronavirus het egter in April 2021 vinnig agteruitgegaan, toe daar ’n toename in gevalle, elke week honderde duisende nuwe slagoffers besmet is. Met die hoogtepunt tydens die toename in Mei, is ’n rekord van 400,000 COVID-19 gevalle elke dag in Indië aangemeld. In die eerste week van Mei alleen het Indië 2,7 miljoen nuwe COVID-19-gevalle en 234,000 sterfgevalle gerapporteer (“India reports over 400,000 daily cases for the third time in a week as second wave hammers country,” CNBC.com, 7 Mei 2021).

Teen die einde van Junie 2021 het Indiese gesondheidsowerhede meer as 30 miljoen gevalle van COVID-19 aangeteken en byna 400,000 sterfgevalle – wat Indië toe in die die tweede plek naas Amerika geplaas het wat betref die aantal mense wat deur die virus geraak is.

Daar word vermoed dat verskeie faktore tot die toename bygedra het. Teen Januarie het die land oorgerus geraak oor pandemie-beperkings. Die dra van maskers het afgeneem en tydens sport, godsdienstige geleenthede en politieke byeenkomste het toenemende getalle mense bymekaargekom in beknopte ruimtes sonder om sosiale afstand te handhaaf (“Inside India’s COVID-19 Surge,” NewYorker.com, 4 Mei 2021).

Hospitale en mediese fasiliteite in Indië was oorweldig deur die skielike toename in infeksies in April en eers teen die middel van April was slegs een persent van die Indiërs volledig teen die virus ingeënt. Teen die einde van Junie was minder as vier persent Indiërs volledig ingeënt, in vergelyking met die koers van die Verenigde Koninkryk wat bo 60 persent was en die V.S. se koers wat bo 50 persent was.

 

Verwoestings van dood en siekte

Die skielike toename het in so ’n kort tydperk soveel sterftes veroorsaak dat burgers wat geliefdes in die hoofstad van die land, Nieu-Delhi, verloor het, tydelike verassings-gebiede geskep het en hulle tot massabegrafnisse gewend het (“Mass cremations in New-Delhi as India’s capital faces deluge of COVID-19 deaths,ABC.net.au, 23 April 2021). Alhoewel krematoriums dwarsdeur die nag gebrand het, kon werkers nie voorbly met die voortdurende aflewering van nog lyke wat verbrand moes word nie. In arm plattelandse dorpies is liggame in vlak sandgrafte begrawe of COVID-19-slagoffers is in die Ganges-rivier gestort en die polisie het die lyke stroomaf gevind waar hulle op die rivieroewers uitgespoel het (“Bodies of COVID-19 victims among those dumped in India’s Ganges – govt document,” Reuters.com, 16 Mei 2021).

As gevolg van die afwesigheid van moderne mediese hulpmiddels, het baie besmette Indiërs verkies om op hulle Hindoe-geloof en sy heilige simbool, die koei, te vertrou deur te reis na koei-skuilings en hulle liggame met koeimis, urine en melk gesmeer (“Indian doctors warn against cow dung as COVID cure,Reuters.com, 11 Mei 2021) en die vrees laat toeneem dat ander siektes dalk versprei kon word deur hierdie potensiëel gevaarlike praktyk.

Onhigiëniese toestande was ook ’n faktor wat dit moontlik gemaak het vir die virus om vinnig regdeur Indië te versprei. UNICEF India berig dat 50 miljoen mense in 15 stede geen toegang tot veilige en bekostigbare drinkwater het nie (“In urban India, 50 million people in 15 cities have no access to safe, and affordable drinking water: Unicef-report,HindustanTimes.com, 24 April 2021). Daarbenewens is die landelike sanitasie-stelsel in wanorde, aangesien “ongeveer 1,200,000 toilette geen watertoevoer het nie en duisende toilette is heeltemal verlate, met dakke wat inmekaargetuimel het, waterpype in swak toestande en deurweekte gebreekte deure” (“The pandemic has exposed India’s dirty truth: a broken sanitation system,IndianExpress.com, 29 April 2021). In die afwesigheid van veilige drinkwater en behoorlike afvalbestuur, kon die virus ’n groter tol eis op siek en swak gevoede liggame.

 

Impak op die wêreld

Die krisis in Indië het lande wêreldwyd geraak deur die beskikbaarheid van entstowwe te beperk, aangesien Indiese entstofvervaardigers hulle eie desperate burgers voorkeur gegee het. Indië is tans die wêreld se toonaangewende vervaardiger van entstowwe en meer as 70 lande, waaronder Brittanje, het op Indië gesteun om 60 miljoen dosisse AstraZeneca-entstof vir hulle inentingsprogramme te voorsien (“India Cuts Back on Vaccine Exports as Infections Surge at Home,” NYTimes.com, 25 Maart 2021). Sedert die toename in gevalle, het Indië ook besluit om die uitvoer van entstowwe na armer lande wat op dié land staatmaak vir hulle eie inenting, grootliks te verminder.

Dit alles is ’n harde slag vir ’n wêreld wat sy hoop op entstowwe vestig om nasionale ekonomieë weer op die been te bring, wêreldreise opnuut aan te moedig en vertroue te gee aan mense wie se lewens diep deur die pandemie geraak is. As ’n verdere knou vir die land se vooruitsigte, lyk dit asof daar meer probleme voorlê. Met die verskyning van ’n nuwe virusvariant, bekend as “Delta Plus” het openbare gesondheidskundiges gevrees dat die nuwe variant teen September of Oktober 2021 tot ’n derde golf van infeksies kon lei (“Can India Prevent Third Covid Wave?” BBCNews.com, 24 Junie 2021).

Intussen sien ons die impak van ons nou-gekoppelde wêreldekonomie. Australië het baie goed gevaar om die impak van COVID-19 tot die minimum te beperk en het onlangs 70 mense met dubbel Indiër-Australiese burgerskap – wat óf positief vir die virus getoets het óf in noue kontak met ’n positiewe geval was – verhoed om terug te gaan na daardie land (“More than as 70 passengers barred from first repatriation flight from India after 40 test COVID positive,” SBS.com.au, 14 Mei 2021).

 

’n Beter toekoms is op pad

Jesus Christus het Sy dissipels gewaarsku dat daar in die laaste dae pessiektes op verskillende plekke sou uitbreek, maar dit sou slegs die begin van smarte wees (Matthéüs 24:7-8). God het ook aan die Israeliete gesê dat Hy terreur en siektes oor hulle sou bring indien hulle sou weier om Hom te gehoorsaam (Levítikus 26:14-16). God beloof egter om diegene wat Hom volg en hulle bekeer, te vergewe en van seëninge van gesondheid en vrede te voorsien (Jeremia 33:6, 8).

Hierdie is nie bemoedigende tye nie, maar daar sal ’n einde aan pandemies kom! Indië en ander siektegeteisterde nasies van hierdie wêreld sal gereinig en beskerm word teen dodelike siektes wanneer God se hand die weg na ’n gesonder toekoms lei. ’n Dag sal aanbreek wanneer die hele mensdom in behoorlike higiëne onderrig sal word. Dit sal beskikbaar wees vir alle mense en effektiewe gesondheidsbeginsels sal toegepas word om springlewendige blakend gesonde samelewings te bevorder. God verwag van ons om ons bes te doen om ons liggame waarmee Hy ons geseën het, te versorg. Die apostel Paulus skryf: “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Korinthiërs 6:19-20). Selfs tydens hierdie gesondheidskrisis kan u nuttige Bybelse gesondheidsbeginsels in u eie lewe toepas. Lees ons aktuele boekie, Bybelse beginsels van gesondheid aanlyn by wvm.co.za of bestel u gratis eksemplaar by die streekkantoor die naaste aan u. Sien die streekkantore op bl. 2.

Wanneer Jesus Christus terugkeer en die Koninkryk van God ’n onstabiele wêreld sal vervang deur perfekte orde te bring, sal alle bose dinge verwyder word, saam met die pyn en lyding wat dit veroorsaak. Uiteindelik sal daar nie meer pyn wees nie! Die apostel Johannes is geïnspireer om ons ’n vlugtige blik op hierdie nuwe wêreldregering te gee wat binnekort sal kom, wanneer hy skryf: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Deur te bid en na God te soek en uit te sien na Sy vinnig-naderende Koninkryk, kan ons hoopvol en vol vertroue wees dat ’n glorieryke toekoms die beproewings van hierdie huidige tydperk sal oortref. Mag God daardie dag bespoedig!