Die wêreld is in ’n warboel. Te midde van voortgesette aaklige wêreldwye nuus, en miskien selfs moeilike persoonlike beproewings, is u bekommerd dat u nie die krag sal hê om met vertroue – selfs met blydskap – die dae wat kom, die hoof te bied nie? Depressie en angs is baie wesenlike probleme. Volgens ’n onlangse studie deur die Sentra vir Siektebeheer, ly een uit elke tien volwasse Amerikaners aan depressie. Volgens ’n onlangse studie deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie, pleeg byna ’n miljoen mense wêreldwyd jaarliks selfmoord, die selfmoordsyfer het met 60% toegeneem oor die laaste 45 jaar.

Christene behoort egter gevul te wees met blydskap (Galasiërs 5:22), vrede (Psalm 119:165) en vertroue of vrymoedigheid, wat “groot beloning het” (Hebreërs 10:35). Tog is daar baie redes waarom mense wanhopig is. Sommige ly aan fisiologiese toestande. Ander was slagoffers van trauma. Sommige is verlam deur berou oor sonde. Nog ander word eenvoudig oorweldig deur die lewe se beproewings. Wat van u? Hoe kan u vreugde en vertroue hê in die jare wat voorlê?

Skriftuurlike vermaning

Christene, in wie die Heilige Gees woon, behoort nie ’n “gees van vreesagtigheid” te hê nie, “maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timotheüs 1:7). Daarbenewens sê Jesus Christus aan ons om nie bekommerd te wees oor ons lewens nie, maar om eerder eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek (Mattheüs 6:25-33). Baie mense is vertroud met hierdie vermanings, maar twyfel nog steeds of hulle die krag sal hê om te volhard en te oorwin! Dikwels is hierdie twyfel die gevolg van ons gevoel dat ons nie “waardig genoeg” is vir God om ons te ondersteun nie.

Ongetwyfeld, waar daar nog sonde in ons lewens is, behoort ons ons sekerlik daarvan te bekeer (Mattheüs 3:8; Openbaring 2:22). Nogtans is selfs die mees regverdige persoon baie ver van volmaaktheid af (Romeine 3:23). Christene behoort die vertroue te hê dat, hoewel ons in hierdie lewe almal onvolmaak bly, dit God se plesier is om die werk wat Hy in ons begin het, te voltooi (Lukas 12:32). Ongeag ons tekortkominge – ongeag die rampe wat besig is om die wêreld rondom ons te verslind – kan ons die krag hê om te oorwin! Indien God ons geroep het (Johannes 6:44), indien ons geantwoord het op Sy roepstem (Handelinge 2:36-39), sal ons Hom ywerig en boetvaardig soek (2 Petrus 3:18). Dan kan ons weet: “Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).

Ons kan kies om Hom te verlaat, en kan selfs Christus se offer vir ons verwerp (Hebreërs 6:6). Sy wil is egter om ons nooit te verlaat nie (Hebreërs 13:5)!

Twyfel u soms of u “goed genoeg” is vir God om u te ondersteun deur werklike rampspoedige tye? Indien dit so is, dink aan die ou en dikwels vergete voorbeeld van ’n man wat tydens die ondergang van sy volk geleef het. Hierdie man was ver van volmaak af, nogtans het God hom ondersteun, vir Sy doeleindes!

’n Onvolmaakte voorbeeld

Jójagin het duisende jare gelede in antieke Juda geleef. As jong koning, het hy “verkeerd gedoen” tydens sy regering (2 Konings 24:8-9). God het hom egter ondersteun om Sy doel te dien. Trouens, Jójagin, se naam beteken “die Here sal ondersteun”. God sou inderdaad getrou gewees het om Jójagin “te ondersteun”, om van hom ’n kragtige voorbeeld te maak vir ons vandag.

Jójagin het geleef tydens rampspoedige tye. Sy volk het verder weggedraai van God af. Ongelukkig is die Westerse wêreld vandag besig om verder weg te beweeg van ’n diepe agting en ontsag vir die Skepper en Sy ware weë. Soos die Bybel herhaaldelik waarsku: God sal mense en nasies wat Hom lief het en gehoorsaam, seën en Hy sal diegene vervloek wat Hom voortdurend verwerp (vgl. Levitikus 26 en Deuteronomium 28).

Jójagin het ook in ’n tyd geleef toe sy volk op die rand van ekonomiese ineenstorting verkeer het. Ewe-eens waarsku invloedryke ekonome vandag dat ons wêreld op die rand van ekonomiese ineenstorting huiwer, Amerika staan die gevaar om in nog ’n resessie en potensieel meer skadelike een, te verval (CNNMoney, 24 Februarie 2012).

Jójagin het beleef hoe sy volk te staan gekom het voor oorweldigende militêre uitdagings. Vandag word die Westerse wêreld gekonfronteer deur toenemende bedreigings op verskeie gebiede. Byvoorbeeld: Die Amerikaanse Weermag se generaal wat in beheer was van die Verdedigingsintelligensie-agentskap het gewaarsku dat China besig is om voor te berei vir ruimte-oorloë asook met die ontwikkeling van tegnologie om die Amerikaanse navigasie-, kommunikasie- en intelligensie-satelliete te vernietig (The Washington Free Beacon, 23 Februarie 2012). NASA het onlangs bekend gemaak dat rekenaarinbrekers [“hackers”] verlede jaar 13 keer in hul rekenaarstelsels ingebreek het, insluitend een aanval waar “rekenaarinbrekers wat deur ’n Chinees-gesetelde IP adres gewerk het, ingebreek het in die netwerk van NASA se Jet PropulsionLaboratorium” en tydelik “volle toegang tot die stelsel” van “mission-critical” JPL rekenaars verkry het (Reuters, 2 Maart 2012)! Intussen, as gevolg van begrotingsdruk, is Brittanje besig om die moontlikheid te ondersoek om groot gedeeltes van sy tenkmag in Duitsland te berg – ’n voortgesette vervulling van Hosea 7:11, waarvolgens moderne Efraim (Brittanje) uitgebeeld word as ’n “onnosele duif”, deur haar vertroue te plaas in buitelandse moondhede (insluitende “Assirië” wat in profesieë geïdentifiseer word as die hedendaagse Duitsland)!

Jójagin het ’n koninkryk wat in opstand was geërf. Hy sou Juda slegs vir ’n kort tydjie – vanaf 598-597 v.C. – regeer en hy sou spoedig ontsetel word deur Nebukadnésar se magtige Babiloniese weermag (2 Konings 24:8; 2 Kronieke 36:9-10). Jójagin sou sy troon en sy volk verloor. Sy land se ekonomie sou in duie stort. Sy koninkryk sou vernietig word en sy volk sou afgemaai word. Hy en sy gesin sou gevange geneem word na Babilon, waar marteling, of selfs teregstelling, op hulle kon wag. Vir Jójagin mag alles verlore gelyk het. Nogtans beteken sy naam “die Here sal ondersteun” en die Here het Jójagin staande gehou, vir Sy doel!

Volgens die Babiloniese Kronieke het Nebukadnésar se leërs Palestina binnegeval in Desember van die jaar 598 v.C. Hulle het Jerusalem op 16 Maart 597 v.C ingeneem. Die Babiloniërs het die stad geplunder en Jójagin en sy gesin gevange geneem. Nebukadnésar het Jójagin se oom, Mattánja, op die troon van Jerusalem geplaas – en sy naam verander na Sedekía (2 Konings 24:12-17).

Ten spyte van hierdie onrus, en selfs in ’n tyd van nasionale ineenstorting en ballingskap, het God die onvolmaakte Jójagin ondersteun. Die Babiloniese Kronieke verwys na Jójagin as “Yaukin” en maak melding van spesiale rantsoene van duur voedsel wat aan hom en sy gesin voorsien is. Van veel groter betekenis – soos weerspieël word deur die feit dat Esegiël sy geskrifte dateer van die jaar van Jójagin se ballingskap en nie van Mattánja se troonbestyging nie – God het seker gemaak dat Jójagin sal voortleef in koninklike status as die wettige erfgenaam van die troon van Juda!

Hoekom het God Jójagin op al hierdie maniere ondersteun? Hy was besig met die vervulling van Sy doel, aangesien die Messias sou kom deur die geslagslyn van Jójagin. Let daarop dat dit Jójagin en sy afstammelinge is wat in Mattheüs se geslagsregister genoem word as die voorouers van Jesus Christus (Mattheüs 1:11-12)! Hierin lê die les. God sal diegene wat Hy verkies, ondersteun.

Hou moed!

Een les uit Jójagin se lewe is dat God die mag het om ons staande te hou vir Sy doel, ongeag die gevare of beproewings wat ons in die gesig mag staar! Jójagin was ’nonvolmaakte mens, nogtans het God hom ondersteun vir Sy doel. Vandag roep God onvolmaakte mense om Sy Heilige Gees – na bekering en doop – te ontvang, om die menslike natuur te oorwin en ons met die “nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Efesiërs 4:24). Christene bewys aan God hulle liefde vir Hom deur hulle gehoorsaamheid aan Hom (1 Johannes 5:3).

Profesieë toon aan dat die moderne Westerse nasies maatskaplike beproewings van toenemende felheid sal verduur. Toenemende persoonlike beproewings sal ook kom. Nogtans, maak nie saak watter uitdagings Christene mag ervaar nie, ons kan staande bly, want ons het toegang tot ondenkbare krag – die krag van die Here God wat diegene wat Hy vir Sy doel geroep het, ondersteun! Indien God Jójagin staande gehou het vir Sy doel, dan sal Hy sekerlik diegene in wie Hy werk om Sy welbehae te doen (Filippense 2:13), ook ondersteun!