Is aardverwarming die teken wat die einde van die wêreld aankondig? Wat is die ware betekenis van ontstellende omgewingsveranderings? Hou die gevolge van klimaatsveranderings verband met Bybelprofesieë?


Nie so lank gelede nie het ’n belangrike nuusblad in Engeland ’n hoofartikel geplaas met die opskrif: “Is this the end of the world? Earthquakes, Hurricanes, Floods. What is happening to our planet?” [Is hierdie die einde van die wêreld? Aardbewings, Orkane, Oorstromings. Wat gebeur met ons planeet?]. Die artikel verwys na drie groot orkane wat New Orleans en groot dele van die Amerikaanse Golfkus [Gulf Coast] in 2005 verwoes het. Dit vermeld ook die dodelike hittegolwe en droogtes sowel as die groot getygolf wat oor die Indiese Oseaan gespoel en ’n spoor van dood en verwoesting nagelaat het.

Die skrywer rammel ’n string wêreldwye rampe af: “Die see word verander in suur, die lug versmoor ons, die pole se ysbedekking smelt. Hongersnood, pessiektes en plae was gewoonlik onheilspellende woorde uit die Bybel; nou is dit redes tot empatie-uitputting ... Geen wonder sommige mense glo ons leef nou in die Laaste Dae nie.” Die artikel beskryf verder hoe 200 toonaangewende wetenskaplikes die Britse Eerste Minister, Tony Blair, gewaarsku het dat “wêreldwye rampspoed nader is as ooit tevore as gevolg vanklimaatsverandering”. Die skrywer erken: “Selfs diegene van ons wat minder daarvan oortuig is dat die einde absoluut voor hande is, hou die nuus dop, lees die koerante of vlug vir die jongste natuurramp en wonder wat op aarde besig is om met ons planeet te gebeur. Is hierdie die begin van die einde?” (The Independant on Sunday, 16 Oktober 2005).

Op 2 Februarie hierdie jaar het die Tussenregeringse Paneel oor klimaatsverandering, ’n liggaam van wetenskaplikes uit die Verenigde Volke met lede uit 113 lande, sy verslag “Klimaatsveranderings, 2007” vrygestel en voorspel dat temperature en seevlakke “nog vir eeue” sal bly styg. Die paneel voorspel dat seevlakke teen die einde van hierdie eeu tussen 7 en 30 duim (17.5cm - 75cm) sal styg en dat temperature tussen 2 en 11 grade Fahrenheit sal verhoog.

Is iets onheilspellend en buitengewoon regtig besig om op hierdie aarde te gebeur, of is die besorgdheid oor klimaatsveranderings niks anders as die vrese van diegene wat die begrip aanhang sonder enige ondersteunende feite? Het ons ’n unieke en ongeëwenaarde tyd in die geskiedenis van ons planeet betree, of neem ons slegs maar die uiterstes van die natuur waar terwyl alles maar nog steeds binne die grense van normale perke val? Is die aarde, wat lank reeds deur menslike ontwikkeling misbruik word, besig om terug te slaan?

Deesdae is baie mense daarvan bewus dat groot veranderings besig is om regoor die aardbol plaas te vind, nogtans besef baie min van hulle dat daar ’n unieke bron is wat diewerklike betekenis van wêreldgebeure verduidelik. Terwyl wetenskaplikes feite kan konstateer, kan hulle slegs oor die toekoms spekuleer. Daarenteen bevat die Bybel dosyne profesieë wat onthul wat die toestande aan die einde van hierdie tydvak sal wees, net voor die Wederkoms van Jesus Christus. Jesus het aan Sy dissipels gesê om ’n hele reeksgebeure dop te hou wat hierdie beslissende keerpunt in die geskiedenis sal aandui. Is wêreldwye omgewingstoestande werklik besig om ooreen te stem met lank-bepeinsde Bybelprofesieë?

Dekades van waarskuwings

Besorgdheid oor ’n waarneembare skakel tussen dramatiese omgewingsgebeure, wêreldwye klimaatsveranderings en die toekoms van die menslike beskawing is nóg nuut,nóg verrassend. Dr. Paul Ehrlich, professor van biologiese wetenskappe aan Stanford Universiteit, het geskryf: “Die ontsettende omgewingsgevare wat ons beskawing in die gesig staar, is sekerlik geen geheim nie ... Vir dekades het omgewings-wetenskaplikes waarskuwings gerig oor onderling-ineenskakelende omgewingsneigings, soos die verlies aan plant- en dier-verskeidenheid, skielike klimaatsveranderings en verspreiding van giftige chemikalieë oor die aarde heen, wat tensy dit gekeer word, uiteindelik ons beskawing ten gronde kan laat gaan” (One with Nineveh, bl. 7). Ehrlich haal aan uit ’n 1993 verslag deur 58 wetenskaplike akademici: “Die omvang van hierdie bedreiging ... is gekoppel aan die grootte van die menslike populasie en die hulpbronne wat elke persoon verbruik ... Soos wat die menslike getalle verder toeneem, netso sal die potensiaal vir onomkeerbare veranderings met verreikende omvang, ook toeneem” (ibid., bl.8).

Terwyl hy gedien het as voorsitter van die Raad op Omgewingskwaliteit tydens die Carter-administrasie, was Yale se professor vir bosbou, Dr. James Speth, een van diegene wat alarm gemaak het aangaande die bedreigings vir die wêreldwye omgewing. Vir meer as 25 jaar het Speth wetenskaplikes se onrusbarende verslae rakende verwagte wêreldwye klimaatsontwrigtings versamel – verslae wat ontstellend korrek bewys was. Speth en andere het begin om te sien daar is ’n “nuwe agenda van wêreldwye omgewingsuitdagings wat meer dreigend en moeiliker sal wees as die oorwegend-huishoudelike sake wat ons motiveer ... Klimaatsveranderings, uitputting van die oseane se visserye, ontbossing van die trope, uitwissing van spesies, agteruitgang van landbougrond en ander ongewenste prosesse was besig om op ’n onrusbarende skaal en tempoplaas te vind” (Red Sky at Morning, bl. xi).

Navorser Clive Ponting van die Universiteitskollege van Swansea in die Verenigde Koninkryk, waarsku: “Dit is nou feitlik seker ... dat wêreldwye temperature sal styg tot ’n vlak wat nog nooit voorheen in gevestigde gemeenskappe ondervind was of selfs in die laaste 100,000 jaar nie ... Aardverwarming is derhalwe ’n bewys – vir die eerste keer op ’n wêreldwye skaal – van die gevolge wanneer ekologiese beperkings negeer word. Die gevolge vir lewe, die aarde en die mensdom, sal ontsaglik wees” (A Green History of the Earth, bl. 405). Wat presies is egter besig om met die aarde se omgewing te gebeur wat sulke ernstige besorgdheid by die wetenskaplikes wek?

Ons bedreigde planeet

Die mees fundamentele en verreikende omgewingsuitdagings wat ons vandag die hoof moet bied, is toenemende vlakke van planeetverwarmende kweekhuis-gasse, soos koolsuurgas, metaangas en chloorfluoorkoolstof, wat die hitte vanaf die son vasvang. Koolsuurgas word vrygestel wanneer fossielbrandstof verbrand word – olie, petrol, steenkool en natuurlike gas. Metaangas word vrygestel deur die mikrobiese ontbinding van organiese materiaal. Lugversorgingstelsels gebruik chloorfluoorkoolstof. Konsentrasievlakke van koolsuurgas in die atmosfeer het gestyg vanaf voor-industriële vlakke van 280 dele per miljoen (voor 1750 n.C.) tot meer as 380 dele per miljoen in 2005. Yskern-monsters uit Antarktika toon dat “koolsuurgas [nou] 27 persent hoër [is] as tydens enige ander periode die afgelope 650,000 jaar” (Environment, Jan/Feb. 2006 bl. 6-7). Vrystellings van koolsuurgas in die atmosfeer wêreldwyd kan met soveel as 60 persent tussen 2001 en 2025 toeneem, soos wat digbevolkte nasies soos Indië en China voortgaan om te industrialiseer en meer petrolaangedrewe voertuie aanskaf (Speth, bl. 18). Tussen een derde en die helfte van die wêreld se bosse is vernietig. Dit gee weer aanleiding tot die verhoging van koolsuurgas-vlakke, omdat bome koolsuurgas uit die atmosfeer onttrek (ibid., bl. 14).

Die verhoging van atmosferiese koolsuurgas is in nou verband met die stygende temperature in die wêreld. Gedurende die laaste 30 jaar het die aarde met 0,36 grade Fahrenheit per dekade verwarm. Dit het die aarde se gemiddelde temperatuur opgestoot tot die “hoogste sedert die einde van die laaste ystydperk, sowat 12,000 jaar gelede” (New York Times, 26 September 2006). Al Gore, voormalige Visepresident van die Verenigde State, wys in sy merkwaardige boek, An Inconvenient Truth, daarop dat 20 van die 21 warmste jare sedert die 1860’s, tydens die laaste kwart eeu ondervind was (bl. 72-73). Die uitwerking van die verhoogde temperature is meer dramaties nader aan die Noord- en die Suidpole, waar die smeltende sneeu en ys minder sonlig reflekteer en die ontblote land en see meer hitte van die son absorbeer – en daardeur die verwarmingseffek vergroot. Verskeie onlangse studies toon dat die smelting van die winter see-ys in die Noordpool tydens die laaste twee jare geweldig toegeneem het, met ’n stuk so groot as Turkye wat in slegs 12 maande verdwyn het” (The Independent, 9 September 2006). 

Reg oor die wêreld is gletsers besig om teen ’n al hoe vinniger tempo te smelt. Studies toon aan dat die ontdooiende areas van ysgrond in die subarktiese gebiede, metaangas sal vrystel en dié gas het ’n 20 keer hoër verwarmingskapasiteit as koolsuurgas. Navorsers sien hierdie onverwagte vrystelling van groot hoeveelhede metaangas as ’n “klimatoriese tydbom” wat net wag om te ontplof, wat dan weer wêreldtemperature dramaties sal verhoog (Science News, 9 September 2006). Noorweegse wetenskaplikes het ontdek dat die konsentrasie van chloorfluoorkoolstof – wat hitte ’n duisend keer meer vasvang as koolsuurgas, tussen 2001 en 2004 verdubbel het (New Scientist, 30 September 2006). Al hierdie faktore het die temperatuurstyging die laaste 20 jaar versnel.

Een gevolg van temperatuurstyging in die wêreld en die gevolglike smelting van see-ys en kontinentale gletsers, is die styging van die seevlakke. Terwyl warmer temperature gletsers laat smelt wat op hulle beurt water in die oseane vrylaat, sal die seevlakke dienooreenkomstig styg. Deur die laaste eeu heen, het die vlakke van die oseane met nagenoeg 8 duim (omtrent 20 cm) gestyg, terwyl die aarde se temperatuur met sowat een graad verhoog het (New York Times, 20 Junie 2006). Wetenskaplikes beraam dat ’n drie grade verhoging van die temperatuur, baie van die dryfys in die Noordpool en ysbanke in Antarktika sal smelt, sowel as die Groenland-gletser, wat die oseaanvlakke met etlike voet kan laat styg (The Revenge of Gaia, Lovelock, bl. 51-53). Dit sal ’n groot deel van Florida, die VSA se Golfkus en die oostelike seekus, groot dele van Suidoostelike Engeland en baie van die laagliggende eilande in die Indiese Oseaan oorstroom. Miljoene mense sal ontwortel word en gedwing word om te verhuis vanuit Kolkato, Beijing en Shangai (Gore, bl. 198-209). Stygende seevlakke maak kusontwikkeling en stede langs die getyriviere meer kwesbaar vir stormdeinings. Indien London oorstroom en verwoes sou word deur stormdeinings, kan dit as ’n finansiële sentrum geruïneer wees “wat daartoe sal lei dat Frankfurt Europa se finansiële sentrum sal word” (The Times, 23 Augustus 2006). Sir David King, hoofwetenskaplike raadgewer vir die Britse Regering, het opgemerk dat “die kaarte van die wêreld oorgeteken sal moet word” (Gore, bl. 196-197) as gevolg van die stygende temperature en seevlakke.

Terwyl gletsers en see-ys smelt, sal miljoene liter vars water in die oseane vrygelaat word. Dit sal die soutkonsentrasie van die oseaanwater verdun en kan die vloei van die Golfstroom ontwrig. Dit kan katastrofiese uitwerkings hê op die landbou-areas in Noordwestelike Europa. Stygende temperature word ook verbind met rekord hittegolwe en toenemende droogtes, wolkbreuke en rampspoedige oorstromings, sowel as ongeëwenaarde storms en orkane. Die drie orkane wat New Orleans in 2005 voos geslaan het, was groter en meer intense storms as wat nog ooit voorheen geboekstaaf was! In 2006 het sommige van die warmste en droogste toestande die rekord landbou-produksie in Australië verwoes (The Sydney Morning Herald, 28 Oktober 2006). ’n Onlangse verslag deur ’n regeringsagentskap in die Verenigde Koninkryk, voorspel dat die aarde se temperatuur teen 2050 met 3º C (5.4º F) sal verhoog, wat droogte en hongersnood vir 400 miljoen mense tot gevolg sal hê en natuurlewe sal vernietig ... as gevolg van verlies aan bewerkbare grond en waterskaarste” (The Times, 4 Mei 2006). Temperatuurverhogings het alreeds die bevolking van die Koningspikkewyne in Antarktika met 70% verminder, omdat die vaste see-ys wat noodsaaklik is vir hulle nesmakery, so verdun is dat dit uitmekaar breek en die see indryf (Gore, bl. 178). Stygende temperature in onlangse dekades wêreldwyd het ook bygedra tot die verspreiding van siektes soos malaria en Wesnylkoors na nuwe gebiede (Environment, 26 Junie 2006, bl. 6-7). Oor die laaste kwarteeu het omtrent 30 nuwe siektes te voorskyn gekom – en ou siektes is nou weer besig om kop uit te steek (Gore, bl. 174).

Beskawing in gevaar

Wetenskaplikes wat die gevolge van aardverwarming beraam, beskryf die toekoms met ’n sombere perspektief – wat merkwaardige bybelse ondertone het. Een wetenskaplike merk op: “Ons is besig om fisiese, chemiese en biologiese sisteme ... [van die aarde] ... te wysig teen ’n sneller tempo en oor groter ruimtelike skale, as wat nog ooit op aarde geboekstaaf is. Die mensdom het hul onwetend in ’n grootse eksperiment met ons planeet begewe ... [wat] verreikende implikasies vir alle lewe op aarde inhou ... ons nader vinnig baie van die aarde se limiete. Huidige ekonomiese praktyke wat die omgewing skaad ... kan nie mee voortgegaan word sonder die risiko dat noodsaaklike wêreldwye sisteme oor die aardbol heen onherstelbaar beskadig sal word nie” (Speth, bl. 17). Die Universiteit van Cambridge se professor Martin Rees, merk op dat “die mensdom in die een-en-twintigste eeu meer aan die wanaanwending van die wetenskap uitgelewer is as ooit voorheen. Die druk wat op die omgewing uitgeoefen word deur kollektiewe menslike handelinge mag as sneller dien vir katastrofes wat groter bedreigings inhou as natuurlike gevare ... Ek dink die kanse is nie beter as vyftig-vyftig dat ons huidige beskawing op Aarde sal kan oorleef tot die einde van die huidige eeu sonder ’n ernstige terugslag nie” (Our Final Century, bl. 8, 186). 

Skrywer James Kunstler beskryf ’n reeks van “wêreldveranderende kragte [ekonomies, polities en omgewingsverwant] ... wat die omstandighede van ons daaglikse lewe fundamenteel sal verander ... op ’n skaal wat niemand nog ooit voorheen waargeneem het nie” (The Long Emergency, bl. 1-2). Hy skryf: “Aardverwarming is nie meer ’n teorie wat deur politieke belange betwis word nie, maar ’n gevestigde wetenskaplike konsensus ... [en daardeur, bykomend tot stygende temperature, oorstromings, verspreiding van siektes en groterwordende woestyne] ... sal aardverwarming tot die toestande bydra wat die aarde se ekonomie laat ineenstort” (ibid., bl. 8-9). In hierdie konteks beskryf Kunstler wat wetenskaplikes die “omega-punt” noem – ’n punt waar “die ontsaglike ineengeskakelde netwerk van die Aarde se ekologiese stelsels so verswak sal wees dat menslike bestaan nie langer moontlik sal wees nie” (ibid.).

Larry Schweiger, president van die National Wildlife Federation, het gewaarsku: “Min Amerikaners en min politieke leiers in Washington besef werklik hoe min tyd ons oor het om op te tree voordat ons beheer verloor oor aardverwarming. Binne ons kinders se leeftyd sal die planeet onder die huidige tempo van kweekhuisgasvrystellings, die draaipunt bereik wat onbeheerbare aardverwarming kan aktiveer” (National Wildlife, Aug/Sept. 2006, bl. 9). James Lovelock, ’n medelid van die Royal Society skryf: “Ten spyte van al ons pogings om ’n omkeer te bewerkstellig, mag ons nie in staat wees om te verhoed dat wêreldwye agteruitgang uitloop op ’n wêreld waar onmenslike, brutale, oorlogsugtige heersers oor ’n verwoeste Aarde sal heers nie” (Lovelock, bl. 154).

Klimaatsverandering en profesie

Dit is ontnugterend om te sien hoe voorspellings van vooraanstaande wetenskaplikes en wêreldleiers begin ooreenstem met die Bybel se profesieë wat die einde van hierdie tydvak en die tyd wat Christus se Wederkoms sal voorafgaan, beskryf. Toe Jesus gevra was: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”, het Hy aan Sy dissipels gesê om op die uitkyk te wees vir: “... oorloë en gerugte van oorloë ... en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Mattheüs 24:3-7). Die apostel Johannes beeld dieselfde eindtydse gebeurtenisse uit as die laaste drie “perderuiters” (oorlog, hongersnood en siekte-epidemies) wat ’n kwart van die wêreld se bevolking sal laat sterf (Openbaring 6:3-8). Vandag voorspel wetenskaplikes dat miljoene mense sal sterf in hongersnode wat deur klimaatsveranderings veroorsaak sal word en in oorloë wat gevoer sal word oor skaars hulpbronne soos olie en water (Kunstler, bl.5; Speth, bl. 18-19). Jesus noem hierdie toenemende wêreldwye rampe “die begin van die smarte” wat Sy Wederkoms, wat voor die deur staan, sal voorafgaan (Mattheüs 24:8; 32-35). Wetenskaplikes sê nou dat die huidige klimaatsveranderings slegs maar die voorloper is van meer katastrofiese veranderings wat nog in die toekoms sal plaasvind.

Jesus het ook voorspel dat voor Sy Wederkoms, “ ... daar groot verdrukking [sal] wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie was nie en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:21-22). Is dit slegs maar toeval dat leidende wetenskaplikes vandag bykans dieselfde ding sê – dat stygende temperature moontlik die aarde so dramaties sal verander dat in die jare wat voorlê, “dit vir die aarde onmoontlik sal wees om lewe te onderhou?” Terwyl wetenskaplike studies deesdae die toenemende uitwissing van spesies aanteken, is plankton en koraalriwwe besig om dood te gaan in die warmer en suurder oseane en kommersiële visvang om die wêreld se visvoorraad uit te put. Merkwaardig waarsku die profeet Hosea dat daar ’n tyd sal kom wanneer “... die Here ... ’n regsaak [sal hê] met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie ... Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg: die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel, ja, ook die visse van die see kom om” (Hosea 4:1-3).

Die profeet Joël voorspel ’n ongeëwenaarde droogte: “Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land! Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind? ... Die veld is verwoes, die akkerland treur, want die koring is verwoes; die mos het weggedroog, die olie het verdwyn. Die landbouers staan beskaamd, die wynboere weeklaag oor die koring en oor die gars, omdat die oes op die land verlore is. Die wingerdstok het verdor, en die vyeboom het verwelk; die granaat, ook die palm en die appelboom, al die bome van die land het verdor ... Die graankorrels het weggekrimp onder hulle kluite, die voorraadkamers is verwoes, die graanbakke afgebreek, want die koring het verdor. Hoe sug die vee! Die troppe beeste is onrustig, want daar is geen weiveld vir hulle nie; ook die troppe kleinvee moet boet ... Selfs die diere van die veld smag na U; want die waterstrome het opgedroog, en ’n vuur het die weivelde van die woestyn verteer” (Joël 1:2-3, 10-20; lees ook “Die Dag van die Here” elders in hierdie uitgawe). Lank gelede het Moses gewaarsku dat ongehoorsaamheid aan God se wette sal lei tot droogte en hongersnood (Levitikus 26:14, 19-20). Is dit blote toeval dat wetenskaplikes nou voorspel dat klimaatsveranderings baie van die aarde se produktiewe landbou-oppervlakte in verdorde woestyn sal verander, wat nie in staat sal wees om voedsel te produseer nie?

Die Bybel se redes vir geprofeteerde rampe is dat die mens God se wette vergeet het – insluitende die biochemiese en ekologiese wette wat God ontwerp het om die funksionering van ons omgewing te beheer en te reguleer (Hosea 4:6). As gevolg hiervan sê God dat Hy ons sal toelaat om die gevolge van die verbreking van daardie fundamentele wette te ervaar en dat ons sal maai wat ons gesaai het (lees Hosea 4:9; Jeremia 2:19). Moderne wetenskaplikes het tot dieselfde gevolgtrekking gekom rakende die wêreldwye klimaatsveranderings wat veroorsaak word deur menslike bedrywighede – dat “ons dit oor onsself gebring het” (Speth, bl. 21). Wetenskaplikes skryf deesdae oor die “wraak van Gaia” – tog is dit niks nuuts nie; duisende jare gelede het Moses die Israeliete gewaarsku dat ás hulle die land besoedel, sál die land hulle uitspoeg (Levitikus 18:28). Ja, soos wat ons voorheen gesê het, die aarde slaan terug! Is ons egter verdoem? Staar ons werklik die einde van die wêreld in die gesig?

Die Wêreld van Môre

Voorspellers wat probeer om verder te kyk as wat hulle beskou as die ineenstorting van ons moderne beskawing, voorsien die noodsaaklikheid van ’n “handboek” – geskryf in duidelike en eenvoudige terme – wat oorlewendes in staat sal stel om “die beskawing weer op te bou sonder om te veel van ons eie foute te herhaal” (Lovelock, bl. 156-158). Hierdie boek moet ’n “handboek wees van hoe om goed te lewe en vir oorlewing”, wat noodsaaklike inligting sal bevat oor die doel van die lewe, ons regte verhouding teenoor die aarde, basiese gesondheidswette en riglyne vir gepaste gedrag” (ibid.). Moderne denkers wat aanneem dat daar nie so ’n boek bestaan nie, besef nie dat hierdie essensiële inligting in die Bybel te vinde is nie. Die Skrif stel dit dat die aarde aan God behoort (Psalm 24:1) en dat die mens veronderstel is om dit as rentmeesters te versorg (Genesis 1:28; 2:15). Wanneer Jesus terugkeer, sal Hy “die verderwers van die aarde ... verderf” (Openbaring 11:18) en Sy heiliges gebruik om “die tye van die wederoprigting van alle dinge” te bewerkstellig – insluitende die omgewing van hierdie aarde (Handelinge 3:19-21). Die huidige dramatiese klimaatsveranderings is nie ’n voorskou van die einde van die wêreld nie, maar eerder die inleiding tot ’n baie meer opwindende toekoms waarvan u deel kan wees – indien u begin lewe volgens wat werklik in die Bybel staan en leer om die betekenis van die omgewingsveranderings wat nou reg oor die aarde plaasvind uit te ken, terwyl ons die Wêreld van Môre nader!