Ander stede mag wel groter en digter bevolk wees maar een klein stadjie met ’n ryk geskiedenis is die belangrikste stad wat die toekoms van die planeet Aarde aanbetref!

’n Stad wat sedert antieke tye gebuk gaan onder probleme, het ’n merkwaardige toekoms wat voorlê!

Die Palestynse nasionalistiese organisasie Hamas het in Desember 2022 sy planne aangekondig om “Jerusalem en sy heilige plekke te bevry” van Israeliese heerskappy. Baie min mense buite Israel het hulle daaraan gesteur. Hamas, wat allerweë as ’n terreurgroep veroordeel is, het sy 35ste bestaansjaar gevier deur landkaarte te versprei wat ’n “Palestina” aandui wat strek vanaf die Jordaanrivier tot by die Middellandse See – dit het die einde van Israel en die vestiging van Jerusalem as Palestina se hoofstad geïmpliseer. Hoewel min mense verwag dat Hamas se dreigemente sal slaag, bly dit ’n bron van spanning en bloedvergieting.

Alhoewel dit die middelpunt van konflik in die Midde-Ooste is, dink relatief min mense deesdae aan Jerusalem as ’n ware “wêreldstad”. Die Amerikaanse tydskrif Foreign Policy publiseer ’n ranglys van “wêreldstede” wat die metropolitaanse gebiede aandui wat die kern van ekonomiese, politieke, media- en kulturele belang op ons planeet is. Vanaf Januarie 2023 is Londen in die Verenigde Koninkryk en die stad New York in die Verenigde State, die top-gegradeerde stede met ’n “Alfa++”-gradering. “Alfa+”-stede sluit Beijing en Sjanghai in China, Tokio in Japan en die eilandnasie Singapoer in. Jerusalem in Israel, wat ónder die “Beta”- en “Gamma”-ranglys val, word as “Toereikend” aangewys, met meer as 200 ander stede wat op die planeet, belangriker geag word as Jerusalem.

Finansiers verwys dikwels na die stad New York in die Verenigde State of Londen in die Verenigde Koninkryk as die hoofstad van die wêreld. Los Angeles, Kalifornië, word soms as die wêreld se vermaaklikheidshoofstad beskou. Meer as 1,5 miljard Moslems regoor die wêreld beskou Mekka as die belangrikste stad wat hulle geloof aanbetref en meer as ’n miljard Rooms-Katolieke beskou die Vatikaanstad as die belangrikste stad so ver dit húlle geloof aangaan. Gebaseer op die blote grootte is die Tokio-metropolitaanse gebied in Japan die wêreld se grootste stedelike gebied en die tuiste van meer as 35 miljoen inwoners.

Gemeet aan deesdae se gewildste maatstawwe lyk dit of die antieke stad Jerusalem nie baie belangrik is nie. U Bybel openbaar tog ’n redelik onbekende feit: Jerusalem sal die middelpunt wees van geprofeteerde eindtydgebeure en sal binnekort die hoofstad van die planeet Aarde word!

 

Die manjifieke Babilon het opgang gemaak en kom tot ’n val

Koning Nebukadnésar het die hangende tuine van Babilon gebou wat lank beskou is as een van die sewe wonders van die antieke wêreld. Die antieke Griekse geskiedskrywer Herodotus het met betrekking tot Babilon geskryf dat benewens sy grootte, “daar in grootsheid geen ander stad is wat naastenby daarmee vergelyk kan word nie” (Histories, boek 1, afdeling 178).

Babilon was op ’n stadium die wêreld se grootste stad. Geskiedkundiges en argeoloë beweer vandag dat dit die eerste stad was wat ’n bevolking van meer as 200,000 inwoners gehad het. In 2019 is dit deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie tot ’n Wêreld-erfenisstad verklaar, net soos Jerusalem wat daardie benoeming in 1981 gekry het.

In die Bybel is koning Nebukadnésar se groot trots en gespog oor sy prestasies opgeteken. Die profeet Daniël het die koning gewaarsku om homself te verootmoedig. “Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel, het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?’” (Daniël 4:29-30). God het koning Nebukadnésar gestraf en hy het uiteindelik sy les geleer: “Nou prys ek, Nebukadnésar … die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel” (vers 37).

Nebukadnésar se magtige ryk het uiteindelik tot ’n val gekom en die groot stad Babilon daarmee saam.

 

Herleefde ryke se opkoms en ondergang

Die koninkryk van Babilon het tot ’n val gekom voor die groot Medo-Persiese Ryk en toe daardie ryk onder die Grieke tot ’n val gekom het, het die wêreld die opgang van die Grieks-Masedoniese Ryk aanskou. Die magtige krygsman, Alexander die Grote het militêre veldtogte regoor Europa en Asië onderneem, waardeur hy meer as ’n dosyn stede met die naam “Alexandrië” tot sy eie eer gevestig het. Die stad Alexandrië in Egipte het vir byna ’n duisend jaar as hoofstad van die Egiptiese koninkryk gedien voor die Moslem-verowering in 641 n.C. Met die opgang van die Romeinse Ryk het die stad Rome tot wêreldprominensie uitgestyg, met keisers en pouse wat vanaf sy beroemde sewe heuwels regeer het.

Waarom is hierdie koninkryke van belang? U Bybel openbaar ’n opeenvolging van groot koninkryke. Die profeet Daniël het dit voorspel en ’n raaiselagtige figuur beskryf met ’n kop van goud, ’n bors en arms van silwer, maag en dye van brons, bene van yster en voete van yster en klei (Daniël 2:32-43). Ons lees ook van ’n dier met tien horings wat wêreldryke verteenwoordig (Daniël 7). Die apostel Johannes het geprofeteer van ’n eindtydse “dier”-figuur wat die wêreld vanuit ’n magtige hoofstad sal regeer. Hoe magtig sal hierdie dier-krag word? Ons lees dat “aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Openbaring 13:7).

Die goeie nuus is dat Jesus Christus, die toekomstige Koning van die konings, hierdie komende dier-mag sal oorwin en vernietig (Openbaring 17:14). Waar sal Christus die Koning, Sy Regering vestig? Watter stad op aarde sal die hoofstad van die wêreld wees?

Die antwoord is: Jerusalem! Baie verskillende Skrifture bevestig hierdie wonderlike feit. Let op na ’n spesifieke profesie oor die toekoms van hierdie stad: “Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom” (Jesaja 2:1-2).

Gereelde lesers van ons Wêreld van Môre-tydskrif weet dat berge ’n Bybelse simbool vir ’n koninkryk of regering is. Jesaja het duidelik gesê dat die Here se Koninkryk in Jerusalem gevestig sal word. Ja, Jerusalem sal die hoofstad van die wêreld wees! Let op dat “al die nasies sal daarheen toestroom” en hulle aan die nuwe wêreldregering onderwerp.

Ons moet verstaan dat hierdie Regering nié in die hande van die selfsugtige mensdom sal wees nie. Dié nuwe Regering sal die wêreldregerende Koninkryk van God wees. Hierdie wêreldregerende Koninkryk sal deur die Verlosser en Koning van die konings, Jesus Christus, regeer word! Dit is die goeie nuus waarna ons almal uitsien. Ek hoop dat u uitsien na daardie tyd van wêreldvrede en sal smag na die Koninkryk om te kom en bid, “laat u koninkryk kom” soos ons geleer word om te bid in Matthéüs 6:10!

 

Hedendaagse konflik oor Jerusalem

Wanneer die Vredevors terugkeer, sal Jerusalem Sy hoofstad word – die middelpunt van wêreldregering, godsdiensonderrig en opvoedkunde. Jerusalem se naam beteken inderdaad “stad van vrede”. Dit lyk egter nie of daardie naam vandag se realiteit in dié gekwelde hoofstad weerspieël nie. Trouens, die meeste hedendaagse nasies erken nie eers Jerusalem as Israel se hoofstad nie as gevolg van daardie nasie se voortdurende geskille met die Palestyne, wat óók op die stad as hulle hoofstad aanspraak maak. Daar was ’n wêreldwye omstredenheid toe die V.S. president Donald Trump, in Desember 2017 aangekondig het dat die V.S., Jerusalem as Israel se hoofstad sal erken. Australië het ’n rukkie lank hulle voorbeeld gevolg, maar in Oktober 2022 sy besluit herroep en weer sy vorige standpunt ingeneem dat Tel Aviv as die Israeliese hoofstad beskou word.

Sedert die Sesdaagse oorlog in 1967 was Israel in oorloë betrokke en het oor vredesvoorstelle met verskeie Arabiese state onderhandel. Israel kon egter nog nooit ’n permanente vredes-ooreenkoms met die Palestyne bereik nie. Voor sy dood in 2001, het Faisal Husseini, ’n verteenwoordiger van die Palestynse Owerheid in Jerusalem, verklaar dat Israel “moet onttrek uit die hele Oos-Jerusalem na die grense soos dit voor 1967 was ... alle nedersettings en Israeliese woonbuurte in Oos-Jerusalem moet afgebreek word ... Israel moet die Palestyne vergoed vir die skade wat aangerig is, met inbegrip van die veranderings in die karakter van die stad en die lewens van sy burgers” (The Jerusalem Post, 19 November 1999).

Israel het natuurlik nie uit Oos-Jerusalem onttrek nie en is ook nie van plan om dit te doen nie. In Julie 2000 het die Israeliese eerste minister Ehud Barak, gedoen wat geen Israeliese onderhandelaar voorheen gedoen het nie – hy het voorgestel dat Israel, administratiewe selfbestuur aan Palestyne in Oos-Jerusalem toestaan. Barak wou egter hê dat Israel veiligheidsbeheer oor Oos-Jerusalem behou en die Palestyne het sy voorstel verwerp. Onderhandelings het verbrokkel, wat aanleiding gegee het tot die huidige konflik. Wat het die dooie punt in die onderhandelings veroorsaak? Die een kwessie wat onoplosbaar blyk te wees, is die volgende: “Wie sal Jerusalem beheer?”

Indien albei kante hulle standpunte as ononderhandelbaar beskou, is dit uit die aard van die saak ’n dooiepunt. Die Israeliese standpunt bly onveranderd – dit wil sê, hulle dring daarop aan dat Jerusalem verenig sal bly onder uitsluitlike Israeliese soewereiniteit.

Ja, die verskil tussen sienings oor die soewereiniteit van Jerusalem blyk onoorbrugbaar te wees! Wat is die mening van die internasionale gemeenskap oor hierdie konflik? Wat is die oplossing? In 1980, toe Israel Jerusalem as sy “verenigde en ewige hoofstad” verklaar het, het die Vatikaan sterk beswaar gemaak teen daardie verklaring. Later, in 1984, het pous Johannes Paulus II gevra dat Jerusalem “spesiale internasionaal gewaarborgde status” kry. In sy Paasfees-toespraak in April 2022, het pous Franciscus daarop aangedring dat Israeli’s en Palestyne “vrye toegang tot die heilige plekke verkry in wedersydse respek vir die regte van albei”.

Ons kan seker wees daarvan dat die status van Jerusalem steeds ’n groot kwessie in geopolitiek sal wees. Hou gerus die Midde-Ooste dop en die verloop van gebeure wat groot veranderings in politieke en godsdienstige beheer oor die stad Jerusalem sal beteken.

 

Vertrap deur heidene

Jesus het gepraat van ’n tyd wanneer vyandelike leërs die Heilige Land sal binneval en die stad Jerusalem sal omsingel. “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:20). Ons sien dus dat Jesus sê daar ten minste twee tekens is om na op te let: Die “gruwel van die verwoesting” (Matthéüs 24:15; Markus 13:14) asook Jerusalem wat omring is deur leërs. Dit sal nie net enige leërs van die Midde-Ooste wees nie, maar die heidense leërs wat Jerusalem vir drie-en-’n-half jaar sal beheer, soos ons in Openbaring 11:2 lees. In Lukas 21 lees ons die volgende:

“Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ’n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:22-24).

Die apostel Johannes het geskryf: “En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap” (Openbaring 11:1-2).

Vir 42 maande sal die Heilige Stad Jerusalem nie deur die Jode beheer word nie, maar deur die heidene. Wanneer u deur die boek Openbaring lees, sal u opmerk dat hierdie tydperk van drie-en-’n-half jaar die Wederkoms van Christus voorafgaan.

 

Daaglikse offerande begin en eindig

Nadat Daniël ’n openbarende visioen van ’n engel ontvang het, het hy gevra wat die boodskap beteken. Die engel het vir hom gesê: “Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe” (Daniël 12:9). Meer as 2,500 jaar later kan ons nou hierdie profesieë verstaan – dit is die tyd van die einde!

Hierdie profesieë bevat een lewensbelangrike eindtydse uiteensetting wat baie mense nie raaksien nie: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11). God openbaar dat teen die tyd van die einde, kort voor die Wederkoms van Christus, die daaglikse offer “afgeskaf” sal word. Dit beteken uiteraard dat die offers eers begin moet word! Die Romeinse leërs het Jerusalem en die tweede tempel in 70 n.C. vernietig. Die Jode het sedert daardie tyd nie tempel-offers gebring nie.

Hou in gedagte dat die Jode in antieke tye, toe hulle uit ballingskap na Jerusalem teruggekeer het, eintlik begin offer het voordat hulle die fondament gelê het om hulle tempel te herbou. Die Jode het ook die Huttefees met daaglikse offers onderhou (Esra 3:4) en “Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle begin om brandoffers aan die Here te bring, alhoewel die fondament van die tempel van die Here nog nie gelê was nie” (vers 6).

Let op nog ’n belangrike punt: Waarheen het die bannelinge teruggekeer? Esra verwys na die ligging van die heilige plek as die “huis van God” (hoewel die tempel nog nie herbou was nie (Esra 3:8). Dit was ongeveer 536 v.C. Daar was egter nog geen gebou nie – die res van Esra 3 beskryf die lê van die tempel se fondament.

Die feit is dat offers op ’n heilige plek gebring moet word, maar hierdie voorbeeld in Esra wys vir ons dat daar daagliks offers gemaak is al was daar nie ’n fisiese gebou wat ’n tempel genoem kon word nie. Die terugkerende Joodse bannelinge het na die Heilige Plek verwys as die “huis van die Here” al was daar geen tempel gebou nie. Gedurende die afgelope paar jaar het Jode aangedring op ’n godsdienstige teenwoordigheid op die Tempelberg, waar slegs Moslems tans toegelaat word om te aanbid. Die heiligste plek wat tans onder beheer van die Joodse godsdiensowerhede is, is die Westelike Muur of die Klaagmuur – die westelike keermuur na die Tempelberg.

           Offers is egter om ’n ander rede nog nie moontlik nie. Een element wat lank ontbreek het vir die Jode om te begin offer, was die ritueel om rein kalwers dood te maak. Die karkasse van hierdie kalwers moes verbrand word om die as te kon gebruik vir antieke reinigingsrituele. Bekend as “rooi verse” moes hierdie spesiale kalwers ten minste twee jaar oud wees en nooit vir werk gebruik gewees het nie. Hulle moes geen brandmerke of deurboorde ore hê nie, ook geen vlekke en nie meer as twee anderskleurige hare nie. Die Joodse Tempel-instituut berei al dekades lank voor vir toekomstige diere-offers en in 2022 het die instituut vyf potensieel aanvaarbare jaar-oue kalwers vanaf ’n Texas- boerdery ontvang wat vir rituele reinheid geïnspekteer sal word soos wat hulle ouer word (“Red Heifers Arrive in Israel,” Israel365News.com, 16 September 2022). Sal een van hierdie verse gebruik word ter voorbereiding vir ’n herinstelling van die daaglikse offer – mét of sonder ’n herstelde tempelgebou?

 

’n Duisendjarige vrederyk

Jesus Christus sal van die Hemel af kom, saam met al die opgestane heiliges om die aarde te regeer vir ’n duisend jaar van vrede en voorspoed. Jerusalem sal Sy hoofstad wees – die hoofstad van die wêreld. Jerusalem sal nie net die wêreld se regeringshoofstad wees nie, maar ook sy opvoedkundige hoofstad.

Die groot Opvoeder en Leermeester, Jesus Christus, sal ware kennis onderrig wat gebaseer is op die Woord van God. “So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg. So sê die Here van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit – elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel” (Sagaría 8:3-5).

Gedurende die Millennium – die eerste duisend jaar van Christus se heerskappy op die aarde as Koning van die konings – sal alle nasies op aarde hulle oë vestig op Jerusalem as die hoofstad van die wêreld en sal verteenwoordigers stuur om Christus te aanbid. “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaría 14:16).

Alle nasies sal uiteindelik die weg van vrede leer – nie van oorlog nie. Hulle sal ook die ware weg van liefde tot God en liefde vir hulle naaste leer. Nasies sal nie meer militêre mag begeer en hulle tot oorlog wend om probleme op te los nie. Hulle sal wil hê dat die waarheid vir hulle geleer word vanuit die wêreld se hoofstad, Jerusalem.

“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:3-4).

Die stad Jerusalem, sal uiteindelik sy naam, “Stad van Vrede”, gestand doen, want die Here, die Ewige, die verheerlikte Messías, Jesus van Násaret, sal persoonlik daar woon. Hy het gesê: “Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon”. Dit is wanneer ons ware wêreldvrede sal begin ervaar. Soos ons gelees het, sal Jerusalem die “stad van trou” genoem word (Sagaría 8:3). Alle nasies sal die ewige beginsels, Wette en waardes leer wat vrede en voorspoed vir almal waarborg. Jesaja het voorspel, die volk sal na die Heilige Land kom en sê: “Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jesaja 2:3).

 

Die nuwe Jerusalem – én u

Die toekoms van Jerusalem is die goeie nuus van ú toekoms asook die toekoms van die wêreld. Uiteindelik sal die Nuwe Jerusalem uit die hemel na hierdie aarde neerdaal as die hoofstad van die heelal, meer glorieryk as enige menslik ontwerpte hoofstad. U kan oor daardie wonderlike tyd lees in Openbaring 21-22. Intussen sien ons uit na die toekomstige vestiging van die aardse Jerusalem as die wêreld se hoofstad.

Die “Stad van Vrede” het deur die eeue heen hewige oorloë en bloedvergieting beleef. Daar sal egter binnekort vrede kom. Indien u leef volgens die Wette van die toekomstige Koning, Jesus Christus en die Heilige Gees ontvang as u inwonende Bron van krag en vrede, kan u nou al ’n voorsmakie in u eie lewe kry van wat die wêreld binnekort gaan ervaar. Mag God daardie dag bespoedig!

 

JERUSALEM: ’N CHRONOLOGIESE TYDLYN

Een stad troon bo alle ander uit as fokuspunt van Bybelse profesieë: Jerusalem. Ná die laaste kruistog het hierdie stad eeue lank die agterste posisie in geopolitiek ingeneem. Nou het dit weer die middelpunt van wêreldsake geword.

Om te verstaan waarom dit gebeur het, is dit nodig dat ons die mylpale en dramatiese gebeure ondersoek wat Jerusalem deur die eeue gevorm het.

1895 v.C.
Melgisédek, koning van Salem, seën Abram en ontvang sy tiendes (Génesis 14:18-20).

 

1850 v.C.
God gee aan Abraham opdrag om Isak na die land Moría te neem om hom daar te offer (Génesis 22:2). Later voorsien God ’n ram as offer in die plek van Isak.

 

1406 v.C.
Josua verslaan Adóni-Sedek, koning van Jerusalem (Josua 10:1-5, 23-26). Die Jebusiete behou dele van die stad (Josua 15:63).

 

1000 v.C.
Ongeveer 400 jaar later regeer koning Dawid die hele Israel vanuit Jerusalem.

Jerusalem word deur koning Dawid ingeneem (2 Samuel 5:6-9) en die vesting word die Stad van Dawid. Jerusalem word die hoofstad van die hele Israel. Etlike jare later kies God die dorsvloer van Arauna uit – wat aan die Stad van Dawid grens – vir Dawid om te offer sodat God die plaag op Jerusalem kan beëindig (2 Samuel 24:16). Dit word die toekomstige ligging van God se tempel.

Die koninkryk van Juda was vir ’n tydperk van ongeveer 20 jaar in Babiloniese ballingskap, wat uitloop op die vernietiging van Jerusalem.

 

586 v.C.
Koning Nebukadnésar verower en vernietig Jerusalem én die tempel (2 Konings 25:8-10).

 

539 v.C.
Kores die Grote van Persië verower Babilon. Hy laat die Joodse bannelinge toe om na Jerusalem terug te keer (2 Kronieke 36:22-23).

 

63 v.C.
Ná sy onderwerping aan die Persiese Ryk en die Grieks-Masedoniese Ryk, word Jerusalem deur Rome regeer.
Pompejus verower Jerusalem en maak dit ’n deel van die Romeinse ryk.

 

37 v.C.
Herodes die Grote aanvaar koningskap in Jerusalem.

 

31 n.C.
Jesus Christus se kruisiging, Sy opstanding en die begin van die Kerkera.

 

70 n.C.
Die tweede tempel word deur die Romeine vernietig. Die westelike (“Wailing”) muur bly oor.

 

1917
Gedurende die 1,800 jaar ná 70 n.C. beleef Jerusalem baie konflikte, met inbegrip van Moslem-oorheersing. In 1917 betree Jerusalem egter ’n nuwe fase.
Die Balfour-verklaring word deur die Britse regering uitgereik wat die beleid verklaar om ’n Joodse tuisland in Palestina te vestig. Die Britse weermag, onder Generaal Edmund Allenby, verslaan die Turke en gaan Jerusalem binne.

 

1947
Jerusalem word deur die Verenigde Nasies verdeel tussen Arabiese en Joodse beheer.

 

1948
Israel word ’n onafhanklike nasie op 14 Mei. Israel verdedig homself suksesvol teen die aanval van die Arabiese Bond.

 

1967
Tydens die Sesdaagse oorlog verower Israel die hele Jerusalem en plaas dit vir die eerste keer sedert die Romeinse vernietiging in 70 n.C. onder Joodse heerskappy.