’n Entjie van die kus van Cape Horn, naby die mees suidelike punt van Suid-Amerika, was ’n 23-jarige wetenskaplike op die dek van ’n agtiende-eeuse seilboot besig om fisies weg te kwyn. Hy was op soek na avontuur op die see as die skeepsnatuurkundige aan boord van die HMS Beagle. Sy avontuur was egter van tyd tot tyd deur intense seesiekte bederf. Hy sou later van Sydney, Australië, aan ’n familielid skryf: “Ek haat elke golf van die oseaan met ’n passie, wat ’n mens, wat net die groen water vanaf die kus kon sien, nooit kan verstaan nie”.
Een nag was egter anders. In die donkerte van die nag van 24 Oktober 1832 is die uiteindelike evolusionêre teoretikus Charles Darwin, deur 'n briljante gesig betower. Darwin het die voorval in sy joernaal aangeteken:
“Die nag was pikdonker met ’n vars briesie – Die see het as gevolg van sy uiterste helderheid ’n wonderlike en die allermooiste voorkoms ten toon gestel; elke deel van die water, wat bedags as skuim gesien word, het met ’n dof gegloei. Die vaartuig het twee golwe vloeibare fosfor voor sy boeg uitgedryf en in die volgstroom was ’n melkerige spoor van water. So ver as wat die oog kon sien, was die kruin van elke golf helder en as gevolg van die weerkaatsende lig, was die lug net bokant die horison nie heeltemal so donker soos die res van die hemele nie” (“Charles Darwin’s Ocean Upwelling,” Smithsonian Institution, Ocean.SI.edu, Februarie 2015).
Glimmende wesens
Darwin het ’n verskynsel gesien wat bioluminesensie genoem word – lewende organismes wat sigbare lig uitstraal wat deur ’n interne chemiese reaksie geproduseer word. In hierdie geval is die ligblou gloed wat hy gesien het, geproduseer deur plankton met die naam dinoflagellate (“dinos”), so genoem omdat hulle stekels soos dié van ’n dinosourus lyk. Hierdie mikroskopiese organismes produseer ’n chemiese reaksie wanneer ’n molekule met die naam luciferin, elektrone van suurstof bekom, in samewerking met ’n ensiem wat luciferase genoem word. Die resultaat is ’n klein pakkie lig wat ’n foton genoem word.
Die chemiese reaksie kan vergelyk word met ’n houtvuur wat suurstof gebruik in ’n proses wat “oksidasie” genoem word om ’n houtstomp te oksideer wat lig en hitte produseer. Ons klein dino produseer egter lig sonder hitte. Die “koel” lig word veroorsaak deur die wrywing van water teen die dinos se stekels. Miljoene fotons stel vir ’n breukdeel van ’n sekonde, ligflitse vry deur die miljoene organismes wat saam verskyn as ’n bestendige gloed wat die see-oppervlak verlig.
Elke foton van lig word geproduseer deur ’n ketting van komplekse faktore: Uitsteeksels wat waterbeweging meganies oes, “ratjies” wat ’n waterval van chemiese veranderings aan die gang sit binne-in die sel, met inbegrip van hierdie veranderings teen die wand van ’n interne “sakkie” of orgaanselletjie en uiteindelik, die hittevrye “vuur" wat dan lig produseer. Watter deel van hierdie hele waterval sou onafhanklik ontwikkel en nie deur natuurlike seleksie uitgeroei word nie? Hier sou ’n toevallige kans begin lyk soos ’n 1,000-stuk legkaart wat homself aanmekaar sit deur ’n eksperimenteerder wat die boks skud.
Toeval of skepping?
Die jong Darwin het bioluminesensie in soveel verskillende organismes waargeneem, nogtans het hy waarskynlik nie aan mikroskopiese stekels en vinnig opeenvolgende chemiese reaksies gedink nie. Trouens, die vele klasse organismes wat bioluminesensie produseer, het vir Darwin aansienlike ongemak veroorsaak. Hy het geskryf dat hy gesukkel het om te verduidelik hoe soveel evolusionêr onverwante organismes toevallig hierdie ligproduserende kapasiteit het.
Normaalweg vereenvoudig evolusioniste die oorweldigende onwaarskynlikheid dat toevallige komplekse eienskappe, organismes kan ontwerp deur saam te voeg in “evolusionêre diagram”. Die Smithsonian Institution wei nogtans uit oor die probleem van samestelling: “Die aantal spesies wat bioluminesensie en die variasies in die chemiese reaksies wat lig produseer, is bewyse dat bioluminesensie verskeie kere ontwikkel het – ten minste 40 afsonderlike kere! Hierdie getal bly toeneem namate navorsing nuwe ontdekkings maak. In 2018 het wetenskaplikes ontdek dat die straalvinvisse self 27 afsonderlike kere bioluminesensie, ontwikkel het. Dit is nogal ’n toename van die handjievol kere wat voorheen bekend was” (“Bioluminescence,” Smithsonian, April 2018).
Op land kom bioluminesensie algemeen voor in vuurvliegies, gloeiwurms, swamme en bakterieë. Die meeste diepsee-wesens het die vermoë om hierdie lig voort te bring; dit is in ten minste 10,000 spesies waargeneem, met ongetwyfeld nog vele meer wat ontdek kan word (Aubin Fleiss en Karen Sarkisyan, “A brief review of bioluminescent systems,” Current Genetics, Augustus 2019). Wat is dus die waarskynlikheid dat bioluminesensie, met sy komplekse stel faktore dít self van niks af toevallig 40 of meer afsonderlike kere saam kon geweef het? Indien ’n mens ’n betreklik minder komplekse polshorlosie op die strand vind, sou dit nie bietjie dik vir ’n daalder wees om die aanname te maak dat die glas, ratte, vere en metaal omhulsel hulleself saamgevoeg het deur die lukrake beweging van seegolwe nie? Wat daarvan om ’n poging aan te wend om daardie verduideliking op meer as 40 verskillende polshorlosies toe te pas?
Die hand van God is geen dilemma nie
Die verduideliking van bioluminesensie is vir evolusioniste ’n reuse taak. Die evolusionis Anthony Campbell, probeer om die probleem met die enkele ensiem, luciferase op te los. In 'n uitgawe van die Luminescence-joernaal gedurende 2012 neem hy hierdie massiewe sprong: “Al wat nodig is, is ’n soliede hok waarin net ’n paar kritiese aminosure is” (”Darwin shines light on the evolution of bioluminescence,” ResearchGate.net, November 2012).
Dit is ’n yslike oorvereenvoudiging, wanneer in ag geneem word dat selfs die eenvoudigste ensiem ’n buitengewoon komplekse en ingewikkelde proteïen is wat soos ’n sleutel funksioneer – in wese ’n bondel geënkodeerde inligting – wat, per definisie, hoofsaaklik ontwerp vereis. Verder kan omgewingsnellers veroorsaak dat hierdie sleutel verander en in ’n ander sleutel “vou” of aan- en afskakel.
Vir verdere verduideliking van hoe selle ensieme en proteïene vervaardig, sien hoofstuk 4 van Evolution and Creation: What Both Sides Miss deur mnr. Wallace Smith. U kan dit aanlyn lees by TomorrowsWorld.org of u gratis eksemplaar bestel by die streekkantoor naaste aan u. Sien die kontakbesonderhede op bladsy 2 van hierdie tydskrif.
Campbell probeer om sy geloofsprong op navorsing te baseer, maar sy vereenvoudiging bevat ’n noemenswaardige fout. Ironies, proefnemers gebruik ingewikkelde ontwerpte laboratorium-eksperimente in hulle pogings om aan te toon hoe voorlopers van komplekse strukture toevallig kan voortspruit. Selfs vanuit hulle eie wetenskaplike kringe het die navorser Clemens Richert kommer uitgespreek dat mense wat redeneer u mag begin vra “wat het die flesse, pipette en roermeganisme van 'n chemie-laboratorium vervang tydens prebiotiese evolusie, wat nog te sê van die hande van die chemikus wat die manipulasies uitgevoer het”. Richert waarsku selfs dat hierdie eksperimente die argument kan benadeel en die “‘Hand van God’-verleentheid” soos hy dit noem, tot geviolg kan hê (“Prebiotic chemistry and human intervention,” Nature Communications, 12 Desember 2018).
Die Lig van die Wêreld
Die skepping getuig van die werke van God se hande. Van ontelbare miljarde organismes op land en in die see, tot die chemiese reaksie van bioluminesensie en sy ongelooflike komplekse ensiem – alles dui op ’n Meesterontwerper (Psalm 19:2; Jesaja 6:3; Romeine 1).
Die geskiedenis van die mensdom is nogtans vol vervalse ligte (Matthéüs 24:24). In elke denkbare vorm is leuens in die wêreld se tradisies, mites, geskiedenis en godsdienste verweef (1 Johannes 5:19; Openbaring 12:9). Ongeag of dit nou die leuens van gekaapte Christelikheid (Matthéüs 7:15-16), Darwin se evolusieteorie (Psalm 10:11, 14:1, 53:2) of wedergebore humanistiese heidendom (Romeine 1:23-24, 28) is, kan ons moed skep dat alle vervalsings uiteindelik sal verbrokkel voor die ware lig wat die duisternis sal deurdring (Jesaja 60:1-3, 19-22). Die skepping getuig van ’n wonderlike en kragtige Skepper en Ontwerper.
Wie dink ú is u Skepper? Stem daardie Skepper werklik ooreen met wat die Skrif sê wie Jesus Christus was, geword het en sal wees? Indien nie, soos Darwin wat in die duisternis verkeer kan u u beurt kry om geskok te word en verbyster te raak wanneer die Skepper van alle lig terugkeer na planeet Aarde om Sy Koninkryk te vestig.