Die kans is groot dat u nog nie gehoor het van Joseph Leopold Coyle nie, maar tog gebruik min mense in die ontwikkelde wêreld nie gereeld een van sy uitvindings nie – ’n nuwigheid wat die lewe waarskynlik baie geriefliker vir u maak – veral met ontbyt.

Vir die meeste van ons is die lewe van vandag op baie maniere geriefliker as wat dit vir ons grootouers was as gevolg van talle redelik eenvoudige uitvindings wat nou as vanselfsprekend beskou word. Wanneer ons dink aan lewensveranderende uitvindings, dink ons dikwels aan baie ingewikkelde masjiene soos vliegtuie, enjinaangedrewe vervoer of dalk selfs MRI-masjiene. Ons daaglikse lewens word egter ook baie makliker gemaak deur ’n groot verskeidenheid skynbaar onbeduidende artikels, wat dikwels oor die hoof gesien word omdat dit as gewoon en alledaags beskou word.

Ons is nie besonder beïndruk wanneer ons dink aan ’n verfroller nie. dit is eenvoudig, maar tog uiters tydbesparend, of miskien die ritssluiter, wat baie take vergemaklik. Albei hierdie uitvindings het ’n sterk Kanadese verbintenis. Laat ons egter in hierdie artikel kyk na iets wat ons waarskynlik nie eers as ’n uitvindsel sal beskou nie.

 

Miljarde eiers

Vir eeue lank, selfs millennia, was een van die groot uitdagings vir boere, asook die verkopers van plaasprodukte en verbruikers, hoe om ’n baie belangrike voedselproduk na die mark en dan na die huis te vervoer sonder smerige en onherstelbare skade.

Eiers is ’n belangrike deel van die dieet van miljoene mense. In 2018, volgens Statistics Canada, het Kanadese boere net meer as 800 miljoen dosyn – ongeveer 9,6 miljard – eiers geproduseer (“Poultry and egg statistics, May 2019 and annual 2018,” StatCan.gc.ca, 27 Mei 2019). In 2020 het plase in die Verenigde State, 111,6 miljard eiers geproduseer (“Total egg production in the United States from 2000 tot 2020”, Statista.com, 19 April 2021). Dit is moeilik om mens self so ’n hoeveelheid voor te stel. China, die wêreld se grootste produsent en verbruiker van eiers, het 31 miljoen ton hiervan in 2016 geproduseer – ongeveer 566 miljard eiers (“Egg production in China,” World’s Poultry Science Journal, Junie 2018, bl. 1-10).

Eiers is ’n baie belangrike bron van proteïene en vitamiene vir ’n groot persentasie van die wêreldbevolking. In meer landelike omgewings kan baie mense ’n paar hoenders grootmaak om in die plaaslike aanvraag te voldoen, maar die meerderheid van die aarde se bevolking wat nou in stede en groot dorpe gekonsentreer is, maak staat op voedsel wat versprei word vanaf gebiede van landbouproduksie na markte en dan na hulle tuistes.

Baie – indien nie die meeste nie – van hierdie eiers sou hopeloos deurmekaar geskommel gewees het, tensy daar een of ander manier was om dit te vervoer sonder om die brose doppe te kraak of te breek. Dit was vantevore ’n voortdurende probleem. Die versameling en verskuiwing van eiers na die mark en dan na die huise van kopers het groot verliese veroorsaak as gevolg van gebreekte eierdoppe.

Joseph Leopold Coyle verskyn op die toneel. Hy is in 1871 in die Kanadese provinsie Ontario gebore en het as landmeter gewerk en later ingeskryf as leerling-joernalis. In 1906 vestig hy hom in Smithers in die pragtige Bulkley Valley van Brits-Columbia en stig in 1910 The Interior News, wat vandag nog gepubliseer word. Coyle was ’n baie vindingryke en kreatiewe man wat probeer het om items uit te dink wat praktiese, alledaagse probleme sou oplos.

In 2017 word ’n artikel in die Times Colonist gepubliseer wat gehandel het oor die bydraes van Kanadese uitvinders en onder andere die agtergrond van een van Coyle se uitvindings:

“Destyds was The Interior News se kantoor geleë op ’n plek wat bekend gestaan het as Aldemere [Smithers] in Bulkley Valley in Brits-Columbia, naby ’n hotel waar daar ’n gereelde woordestryd plaasgevind het tussen die hotel-eienaar en ’n boer, Gabriel Lacroix. Die eienaar kon dit nie hanteer dat sy gereelde bestelling eiers dikwels as ’n mengsel van loperige eiergele by hom uitgekom het nie.

Op ’n dag het Coyle hierdie argument gehoor en dit was – volgens die legende – op daardie oomblik dat ’n blink gedagte by hom opgekom het. Hy het besluit om ’n houer te skep om die eiers ongeskonde te hou vanaf die hoenderhok tot by die kliënt. In 1917 het hy aansoek gedoen vir patenteregte vir die produsering van ’n ‘eenvoudige, goedkoop en veilige’ manier om ’n dosyn eiers saam in ’n eierhouer te vervoer wat elke eier regop hou en ondersteun” (“Our inventors changed the world,Times Colonist, 27 April, 2017).

Coyle se ontwerp het deur die jare verander en die aanvraag na hierdie nuwe eierhouer het internasionaal versprei; hy het ’n oplossing vir ’n wêreldwye probleem uitgevind. Hy het egter nou ’n nuwe probleem gehad en dit was om tred te hou met bestellings en die behoefte om produksie uit te brei. Om en by Maart 1920 het hy dus ’n masjien ontwerp wat die eierhouers effektief kon vervaardig uit sagte, maar ferm houtpulppapier by fabrieke wat hy in Londen, Ontario en Vancouver, Brits-Columbia asook in die Verenigde State in San Francisco, Kalifornië en Chicago, Illinois gevestig het.

Nie lank nadat hy sy uitvinding bekend gestel het nie, het Coyle gevind dat baie mededingers dit namaak, terwyl sommige van hulle, patentskendings vermy het deur plastiek in plaas van pulp te gebruik. Mededinging en regskoste het verhinder dat hy ryk kon word vanweë sy uitvinding – nietemin was Coyle heeltemal welaf – hy het die lewe saam met sy gesin geniet. Hy het in 1972 op die ouderdom van 100 gesterf. Nie een van sy ander uitvindings het die wêreldwye impak geëwenaar van die nou baie algemene eierhouer, wat elke jaar miljoene kilogram eiers beskerm teen toevallige vernietiging nie.

Die brose eier het beskerming nodig teen stampe en stote. Coyle se eierhouer omvou elke eier in ’n beskermende kokon. Een eenvoudige en briljante idee, gekombineer met baie werk en beleggings, het meegebring dat miljoene eiers na markte en van daar af na die borde van die wêreld se mense vervoer kon word. Verliese vir boere, verskepers, kleinhandelaars en kliënte is drasties verminder, wat die wins verhoog en die kostes vir die verbruiker verminder het.

 

Hanteer versigtig

Ons mense, soos die nederige eier, is broos. Ons is nie net kwesbaar vir fisiese skade nie, maar ook vir invloede en omstandighede wat ons verstandelike en selfs geestelike gesondheid kan benadeel. Ons leef in ’n wêreld wat lewensbeskouings bevorder wat teenstrydig is met gesonde verstand, aangesien opstandiges alles uitdaag, vanaf die werklikheid van die tweeledige geslags/seks-waardes tot die waarde van die menslike lewe self. Baie mense ontken nou die belangrikheid van werk, matigheid, eerlikheid asook lojaliteit binne die huwelik. In werklikheid weet die meeste mense in hulle harte dat om toe te gee aan hierdie sosiale druk die “doppe sal laat kraak” en tot onaangename en tragiese resultate sal lei.

Die Uitvinder van menslike wesens het egter ’n geestelike “eierhouer” geskep om ons te beskerm teen die verwoesting van ’n wêreld wat teen Sy plan vir ons is – ’n wêreld waarin die huidige geestelike leier streef na die vernietiging van die Waarheid en uiteindelik van die hele mensdom (Johannes 8:44; 2 Korinthiërs 4:4; 1 Petrus 5:8). Daardie beskermende eierhouer is God se Wet, wat saamgevat word deur tien oorheersende beginsels (Exodus 20:1-17; Deuteronómium 5:6-21). Alhoewel die eierhouer as eenvoudig beskou word, maar aan die eiers belangrike beskerming bied, word God se Wet dikwels as verouderd of eenvoudig afgemaak, selfs al bied dit die mens veiligheid teen groot benadeling.

Koning Dawid van Israel is geïnspireer om te skryf oor die geestelike beskerming wat gegee word aan diegene wat op die God van die Bybel vertrou: “Want U seën die regverdige, o Here, U omring hom met welbehae soos met ’n skild” (Psalm 5:13). Let daarop dat die Skrif, geregtigheid definieer as die onderhouding van God se Gebooie. Dawid het onder inspirasie geskryf: “My tong sal u woord besing, want al u gebooie is geregtigheid” (Psalm 119:172).

Soos Coyle se eierhouer die eiers daarin beskerm, beskerm die perfekte Wette van ons Skepper, diegene wat hulle daaraan onderwerp.