Voel u God se Gees in u lewe bring verandering te weeg? Kan u gevul word met dieselfde Gees van Pinkster as Christus se eerste dissipels? Ja, u kan!
 
Dit was ’n onvergeetlike 50 dae vir Christus se dissipels. Hulle Leermeester het teruggekeer uit die dood na ’n brutale teregstelling en het hulle vir 40 dae geleer. By een geleentheid het meer as 500 van hulle Hom gesien (1 Korinthiërs 15:6). Die dissipels het saam met Hom geëet, met Hom gepraat en selfs die wonde waar Sy liggaam deurboor is, aangeraak.

Dit was egter nie al nie. Na 40 dramatiese dae van opleiding het die Verlosser opgevaar in die wolke, terwyl die dissipels met verwondering en verbasing toegekyk het. Hy het hulle egter nie alleen gelaat nie – Hy het belowe om aan hulle iets te gee wat hulle sal bemagtig met ’n geestelike lewenskrag wat hulle nooit voorheen ervaar het nie (Lukas 24:49).

Die dissipel Lukas beskryf Christus se bemoedigende woorde: “En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie” (Handelinge 1:4-5).

Van watter gebeurtenis het die herrese Christus gepraat? Wat was hierdie “belofte” wat sou kom? Die meeste studente van die Bybel ken die basiese storie, maar baie van hulle is nie ten volle bewus van die diepliggende impak wat hierdie gewigtige 50ste dag van daardie punt vorentoe sou uitoefen op die Kerk van God nie. Dit is die dag van Pinkster – die dag van wonderwerke – die dag waarop die Nuwe-Testamentiese Kerk begin het!

Die Dag waarop die Kerk begin het

Wat het gebeur op daardie verstommende Pinksterdag in 31 n.C.? Lukas lewer verslag van daardie dag se gebeure: “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” (Handelinge 2:1-4).

Die begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk was gekenmerk deur wonderbaarlike dinge wat gesien en gehoor was. Dit was ’n ontsagwekkende vertoning van goddelike mag wat herinner aan die ontsagwekkende vertonings wat God laat plaasvind het die dag toe Hy aan Moses die Wet op die berg Sinai gegee het (Hebreërs 12:18-21). Dit is ’n feit dat volgens Joodse tradisie God se Wet eeue tevore op die berg Sinai, in werklikheid op Pinksterdag gegee is!

Maar nog meer belangrik as die dinge wat gesien en gehoor was, was die dinge wat nie gesien en gehoor kon word nie. Hierdie openbarings van God se majesteit kondig die uitstorting van die mag van die heelal – God se Gees – aan! Dieselfde mag wat die son en die sterre laat ontbrand het – die mag wat die planete gevorm en in hul wentelbane geplaas het – sou nou letterlik in mense op Aarde wees (Johannes 14:17).

Hierdie mense aan wie die Gees gegee was, sou nooit weer dieselfde wees nie! Soos Christus gesê het dit sou, het die Gees van God hulle van binne af na buite verander. Eens bedeesde mans was nou gevul met die einste geloof en moed van Christus, hul Redder. Dit het hulle gelei om die Evangelieboodskap onbeskroomd te verkondig. Dit het hulle na persoonlike verandering en groei gelei. Die apostel Petrus – dieselfde man wat Christus drie maal verloën het – het nou opgestaan en die menigte veroordeel omdat hulle die Seun van God laat doodmaak het, en het die vergadering sonder vrees uitgedaag om hulle te bekeer van hul sondes (Handelinge 2:14-39).

Die Kerk het gegroei. Die eerste paar dosyn het na honderde, duisende en selfs tienduisende gegroei (Handelinge 21:20). In die eeue wat gevolg het, het God se getroue dissipels volhard, gelei deur dieselfde Gees wat uitgestort was op daardie gedenkwaardige dag.

Is daardie selfde Gees besig om u te verander? Motiveer dit u? Wil u graag meer diepgaande, persoonlike verandering in u lewe hê? Wil u graag meer bewys hê dat u deur God se Gees gelei word? Wil u graag meer betrokke wees in die Werk wat Christus vandag doen?

Die werklike Gees van Christus het voortgegaan om Sy Kerk vir bykans 2,000 jaar sedert daardie gedenkwaardige dag, te lei. Die vraag is, hoe kan u seker maak dat dieselfde Gees u lei?

Waarom hulle Pinkster gevier het

Waarom het die dissipels eintlik op Pinksterdag saamgekom? Waarom op daardie dag? Wat was hul besig om te doen? Presies wat is Pinkster en waarom het die eerste Christene dit gevier? Die antwoord mag u verstom!

Die waarheid lê in die werklike oorsprong van Pinkster. Hierdie vierdag was eintlik ’n Heilige Dag wat eeue tevore aan die Israeliete gegee was! Pinksterdag was eintlik ’n feesdag wat Christus en Sy dissipels elke jaar van hul lewens gevier het, want dit was een van die antieke Feesdae van die nasie Israel. Dit het plaasgevind in die vroeë somer (laat Mei of vroeg in Junie) [Noordelike halfrond] en het die vroeë koringoes in Israel uitgebeeld. Levitikus 23 gee aan ons die besonderhede: “Dan moet julle tel van die dag ná die Sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende Sabbat moet julle vyftig dae tel” (Levitikus 23:15-16).

Pinkster was ’n jaarlikse Heilige Dag, so genoem omdat dit bereken was deur “vyftig dae te tel”. Dit was “een van die groot feeste van die Joodse jaar en was die rede waarom daar so baie Jode uit baie dele van die wêreld besoek afgelê het in Jerusalem ten tye van die eerste Christelike Pinkster” (A Feast of Festivals, Hugo Slim, 1996, bl. 144).

Die ware feit dat daar so baie Jode van oral oor die wêreld was wat hierdie Feesdag gevier het, het die “spreek in ander tale” op daardie merkwaardige dag noodsaaklik gemaak. Christus het Sy Kerk begin deur Sy dissipels getuienis te laat lewer aan baie Jode en Jodegenote van oor die hele Romeinse Ryk: “Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frígië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere” (Handelinge 2:9-11). Terwyl die dissipels die Evangelieboodskap verkondig het, het elke luisteraar dit in sy of haar eie taal gehoor (nie in ’n onbekende of onherkenbare taal, soos party mense verkeerdelik aanvaar nie)!

Na daardie eerste merkwaardige dag het die Kerk van God voortgegaan om Pinkster te vier. Soos David Brickner en Rich Robinson skryf in Christ in the Feast of Pentecost: “Daar kan geen twyfel bestaan dat die Fees van Pinkster baie belangrik was vir die vroeëre Kerk nie, hoofsaaklik omdat die vroeëre Kerk ’n Joodse Kerk was” (2008, bl. 11). Die boek Handelinge getuig van hierdie feit met Lukas se verwysings na Paulus se reise: “Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem te wees” (Handelinge 20:16). Waarom sou Paulus hom haas om in Jerusalem te wees met Pinkster as hy nie die Fees onderhou het nie? Die enigste redelike antwoord is dat hy beplan het om dit wel in Jerusalem te onderhou.

Is dit dus slegs vir die lede van die Kerk wat as Jode gebore is? Nee, glad nie! Paulus het ook in sy brief aan die Korinthiërs daarvan melding gemaak dat hy “in Éfese [sal] bly tot Pinkster toe” (1 Korinthiërs 16:8). Waarom sou Paulus op hierdie manier na Pinkster verwys aan ’n oorwegend nie-Joodse gemeente, tensy nie-Joodse Christene dit ook onderhou het nie?

Die sogenaamde “Kerkvaders” het voortgegaan om vir eeue in ’n positiewe lig van Pinkster te praat, soos wyle Samuele Bacchiocchi verduidelik in God’s Festivals in Scripture and HistoryPart 1. Soos Bacchiocchi uitwys, het Clement van Alexandrië (ongeveer 150-215 n.C.) opgemerk: “Vyftig is die simbool van hoop en vergifnis wat tydens Pinkster gegee word”; Tertulianus (ongeveer 160-225 n.C.) het geskryf: “Pinkster is ’n mees vreugdevolle tyd”; Origen (ongeveer 185-254 n.C.) het gepraat van Christene as “altyd in die seisoen van Pinkster”; Eusebius (ongeveer 260-340 n.C.) het verwys na Pinkster as ’n “verhewe en heilige plegtigheid” en as die “fees van feeste”; en Johannes Chrysostom (ongeveer 347-407 n.C.) het ’n preek gelewer oor “Waarom word Handelinge gelees tydens Pinkster?” (1995, bl. 204, 206-209).

Selfs vandag, is baie “hoofstroom” Christene bekend met Pinksterdienste, Pinksterpreke en Pinkster-temas. Hoeveel Christene onderhou egter werklik Pinkster? Onderhou u Pinkster as ’n Heilige Dag van God? Dr. Bacchiocchi gaan voort: “Pinkster is ’n gewilde tema van die Christelike woordeskat. Nie slegs Christelike predikante nie, maar ook gewone lede praat dikwels van die nodigheid van ’n nuwe Pinkster vir vandag se kerk. Christene bid dikwels vir die krag van Pinkster, die eenheid van Pinkster, die moed van Pinkster, die herlewing van Pinkster. Daar word baie gepraat van die ondervinding van Pinkster, veral tussen evangeliese Christene, maar min, indien enige, bespreking oor die nodigheid om die Pinksterfees te onderhou” (bl. 226).

Onderhou u Pinksterdag? Christus het. Sy dissipels het. Die apostel Paulus het. God se ware Kerk gaan ook voort om dit vandag te onderhou. In 2010 het Pinksterdag op Sondag 23 Mei geval en in 2011 val dit op Sondag 12 Junie. Vra uself af: Gaan u Pinkster hierdie jaar onderhou? Indien nie, waarom nie?

Hoe om Pinkster te onderhou

Hoe behoort u Pinkster te onderhou? Deur die jare heen het baie onskriftuurlike tradisies oor hoe om Pinkster te onderhou, ontstaan, sommige grens aan die belaglike. In sommige Europese katedrale, gedurende die Middeleeue, “was daar ‘Heilige Gees gate’ in die plafonne van die kerke, wat hulle oop gelaat het na die lug ... Op Pinkster was duiwe deur die gate losgelaat om bo in die kerk rond te vlieg” (Encountering God: A Spiritual Journey from Bozeman to Banaras, Diana L. Eck, 2003, bl. 130). Word God behaag deur dramatiese vertonings soos duiwe wat bo rondsweef en roosblare wat van die plafon af neerdaal (soos ook deur sommige kerke in die Middeleeue beoefen was)? Is dit die manier waarop God wil hê dat ons Hom moet vereer en die ware Gees van Pinkster moet terugkry?

Die boek Levitikus in die Ou Testament verduidelik dat die Pinksterfees eerder ’n Heilige Dag vir Israel was, waartydens hulle hul moes weerhou van hul normale, alledaagse werk en moes saamkom met ander gelowiges om God te aanbid. “En julle moet op daardie selfde dag uitroep: ’n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is ’n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte” (Levitikus 23:21).

Op hierdie Heilige Dag kom God se mense saam om te hoor hoe Sy ware leraars oor die werklik betekenis van Pinkster vir vandag se Christene preek. Hulle verduidelik dat God se heiliges die eerste vrugte van die Koninkryk van God is – die “vroeë oes” in God se plan van redding vir die hele mensdom (Jakobus 1:18). Hulle sit dit uiteen dat God se heiliges vandag geroep word om hul voor te berei om saam met Christus te regeer in Sy Koninkryk (Lukas 19:17; Openbaring 5:10)

Op Pinkster leer God se leraars ons hoe Sy Gees ware Christene sal bemagtig. Soos Petrus verduidelik het, behels die ontvangs van die Gees geloof, waaragtige bekering en doop (lees die artikel “Doop: Ritueel of Vereiste?” elders in hierdie uitgawe): “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Namate Christene hul daartoe verbind om God te gehoorsaam (Handelinge 5:32), sal die Gees van Waarheid hulle verder in Sy Waarheid inlei (Johannes 16:13).

Wat van die wilde vertoon van ekstatiese uitinge? Verskaf dit God plesier? Is dit bewys dat Sy Gees verandering teweeg bring? Op Pinksterdag toe die dissipels in “tale” gepraat het, was dit duidelik wonderbaarlik – maar wat het hul werklik gedoen? Onthou, Joodse gelowiges van oor die hele bekende wêreld was vir een doel in Jerusalem vergader – om God op die Pinksterfees te aanbid. Wat die Bybel weergee as “spreek in tale” was God se wonderbaarlike bewerkstelliging waardeur pelgrims uit elke nasionaliteit, elkeen die Evangelieboodskap kon hoor wat in hulle eie volkstaal verkondig is (Handelinge 2:8).

Om God se Gees te hê om u te lei in u lewe, moet u gewillig wees om u daartoe te verbind om ’n lewe van gehoorsaamheid aan Hom te leef. Soos Jesus gesê het: “Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:23-24). ’n Deel van daardie gehoorsaamheid is om Pinkster te vier in die gees soos wat God bedoel het. Is u gewillig om dit te doen?

Wat ons moet doen

Wat is die lesse van die 50 dae voor daardie belangrikste Pinkster bykans 2,000 jaar gelede? Op daardie kritieke dag was die dissipels getuie van God se mag. Hulle het geleer dat God se Gees wonderwerke kan verrig om Sy Werk gedoen te kry. Hulle het geleer dat Sy Gees die skeidsmure van kultuur en taal kan afbreek om Sy boodskap aan die wêreld te verkondig. Hulle het geleer dat God se Gees ’n Gees van transformasie is om persoonlike veranderings in hulself te bewerkstellig, sodat hulle kon doen wat hul voorheen nie kon doen nie.

Wat het die dissipels egter nog geleer? ’n Kragtige les van daardie 50 dae was om God se opdragte noukeurig te gehoorsaam. Jesus het Sy dissipels uitdruklik beveel om in Jerusalem te bly om die belofte van die Vader te ontvang (Handelinge 1:4). Indien hulle nie gehoor gegee het aan Sy opdragte nie – of indien hulle nie eens Pinkster onderhou het nie – sou hulle daar gewees het om die Heilige Gees te ontvang wat op daardie historiese eerste dag van die Christelike Kerk uitgestort is? Natuurlik nie!

Die les aan ons is duidelik: Is ons “teenwoordig” wanneer en waar God is, indien ons graag Sy seëninge wil hê, om gevul te word met Sy krag, Sy denke en Sy Gees? Vier ons Pinksterfees – en ander Feesdae – wat Hy heilige tyd gemaak het sodat ons Hom daarop kan aanbid en Sy Naam kan aanroep? Of sal ons soos die baie mense wees wat slegs Christene in naam is maar wat nie werklik doen wat Christus beveel nie, of van wie Christus gesê het: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Jesus het gesê: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Johannes 14:15). Ware Christene moet toelaat dat die Heilige Gees hulle werklik verander – van binne af na buite toe! Hulle moet groei in genade en kennis van Jesus Christus (2 Petrus 3:18) en Hom toelaat om hul vleeslike, menslike natuur van begeerlikheid, gierigheid, naywer en hoogmoed te onderwerp. Hulle raak dan daarop toegespits om andere lief te hê soos hulself (Mattheüs 19:19). Ware Christene moet selfs hul gedagtes onderwerp, namate Sy Gees hulle denke in staat stel om God se wette, in letter en in gees, te gehoorsaam. Soos Paulus geskryf het, moet Geesgevulde Christene “planne verbreek en [ook] elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:5).

Vra uself af tydens hierdie Pinkster of u werklik in elke ding wat u doen aan God gehoorsaam is. Vra uself af of u uself aan u Heer en Meester onderwerp in gedagte, woord en daad! Vra uself ook af of u gehoorsaam is deur die Heilige Dae wat God ingestel het, heilig te hou.

Ware Christene kan God van harte gehoorsaam wees, meer intens as wat hulle dit ooit voorheen gedoen het – deur die krag van die Heilige Gees – die Gees van Pinkster!