Een van die Bybel se duidelikste waarskuwings behels die gevaar van godsdiensmisleiding. Jesus sê: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! [Ek is ’n Christen, of ’n predikant van Christus] en hulle sal baie mense mislei” (Mattheus 24:4–5). Die apostel Paulus het gewaarsku dat daar voor Christus se wederkoms ’n groot afvalligheid sal kom en dat baie mislei sou word omdat hulle die waarheid nie liefgehad het nie (2 Thessalonicense 2:3, 10–11). Paulus maak ook die stelling dat die tyd sal kom wanneer mense “die oor sal afkeer van die waarheid” en hulle sal wend tot fabels (2 Timotheus 4:3–4). Die apostel Petrus skryf: “Daar was ook valse profete onder die volk ... wat verderflike ketterye heimlik [subtiel] sal invoer …met verdigte woorde voordeel uit julle trek” (2 Petrus 2:1–3). Hierdie profetiese waarskuwings het ’n ontnugterende werklikheid geword!

Vir baie mense vandag is die grootste dilemma om vas te stel waar God werk. Wie verkondig die waarheid? Wie moet u glo? Meer as 200 splintergroepe het in onlangse jare uit die Wêreldwye Kerk van God afgestig. Voeg hierby die meer as 600 kerklike organisasies wat deur die Protestante Hervorming voorgekom het wat die Katolieke Kerk laat versplinter het. Al hierdie groepe maak aanspraak daarop dat hulle kinders van God is wat die goddelike waarheid verkondig. Kan al hierdie groepe wat oor verskeie leerstellinge verskil, reg wees? Die Bybel vertel ons dat Christus nie verdeeld is nie en dat ware Christene “almal eenstemmig” moet wees en “verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening” (1 Korintiërs 1:10). Die geestelike chaos van ons tyd toon aan dat baie mense duidelik mislei is, maar hoe kan u weet wie reg en wie verkeerd is? Hoe kan u voorkom dat u mislei word? Hoe kan u u pad deur die gevaarlike waters van misleidende godsdiens-idees vind, wanneer dit voorkom asof hulle almal op die Bybel gegrond is? Waarom laat God toe dat soveel verwarring bestaan? Ons sal hierdie belangrike vrae in die artikel beantwoord.

’n Fundamentele misleiding

Een van vandag se grootste misleidings is dat u gered is indien u in Jesus glo. Hierdie idee is geskoei op ’n verkeerde begrip van beide God en die Bybel. Baie mense glo in Jesus, maar verstaan nie werklik die Bybel of onderhou God se gebooie nie. Tog onthul die Bybel dat slegs diegene wie God roep die Skrif en die Plan van God sal verstaan (Johannes 6:44; 65). Ons word ook vertel dat God nie vandag groot getalle mense roep nie (1 Korintiërs 1:26–27) en dat van diegene wat geroep word, net ’n paar uitverkies sal word (Mattheus 20:16). Diegene wat verkies is om onder die eerstelinge in die Koninkryk van God te wees, moet getrou wees (Openbaring 17:14). Hulle moet voorkom dat hulle mislei word en moet vasstaan tot die einde toe (Mattheus 24:11–13). Hulle moet hindernisse oorkom en uithou deur beproewinge (Openbaring 3:10–12). Hulle moet koers hou en die wedloop voltooi (1 Korintiërs 9:24–27). Indien ons mislei is of gereeld versuim om die toetse en beproewinge wat ons teëkom te oorkom, sal ons nie ’n loon ontvang nie. Die Bybel onthul dat om ’n Christen te word, meer behels as om eenvoudig in Jesus te glo! Ons moet ook verstaan hoe God werk in die lewens van diegene wat Hy roep.

God toets diegene wat Hy roep

Toe God vir Abraham geroep het, het Hy hom uitgedaag “Lewe naby My en wees opreg!” (Genesis 17:1 NV). Abraham se uitdaging was om te leer om volgens God se instruksies te leef en om goddelike besluite te neem. Jesus het dieselfde opdrag aan Sy dissipels gegee (Mattheus 5:48). God het Abraham in verskeie omstandighede getoets (Genesis 22:2,12). Op grond van hierdie toetse kon God Abraham se karakter en ware prioriteite onderskei (Genesis 18:19). God was besig om Abraham voor te berei vir ’n baie groot verantwoordelikheid – om die Vader van ’n nasie te word wat God wou gebruik as ’n voorbeeld vir die ganse mensdom (Genesis 12:1–3; Deuteronomium 4:1–10). Voordat Hy aan Abraham hierdie ongelooflike geleentheid kon gee, moes God weet dat hy die regte besluite sou neem.

God het op ’n soortgelyke wyse met antieke Israel gehandel. Hy het die Israeliete oor die kwessie van die Sabbat getoets – of hulle dit sou onderhou volgens Sy instruksies (Eksodus 16:4). Hy het Mirjam en Aäron, die leiers wat die naaste aan Moses was, getoets (Numeri 12). Hy het die hele vergadering van Israel (Numeri 14) en die leiers onder Moses (Numeri 16) getoets om te sien of hulle God se aangewese regeringstruktuur sou volg. In elke geval het hulle die toets gefaal en hul lewens verloor omdat hulle mislei is. God het ook die Israeliete gewaarsku dat hulle vals leraars moes uitken en hul misleidende idees moes verwerp (Deuteronomium 13:1–4). Ons moet hierdie selfde lesse leer. Dít is deel van God se doel vir die mensdom (Deuteronomium 30:15–20). God begeer dat ons wysheid en karakter ontwikkel sodat ons bevoeg sal wees om saam met Jesus Christus te regeer. Toekomstige leiers in die koninkryk van God moet noodsaaklike toetse slaag (1 Petrus 4:12–19). Ons kan nie bekostig om mislei te word nie!

Die Bybel onthul verskeie aspekte van God se toetsprogram. God toets ons deur te sien hoe ons in ware lewensituasies optree – deur waar te neem watter besluite ons neem as ons voor ’n keuse staan. Ons moet onsself ook ondersoek (1 Korintiërs 11:28–32). Dít is ’n noodsaaklike deel van die Pasga en Dae van Ongesuurde Brode. Deur die tyd te neem om ons gedagtes, gesindhede, idees, motiewe en prioriteite met die standaarde wat God in die Bybel uitlê te vergelyk, kan ons meer van God se gedagtes ontwikkel. Ons kan onsself maklik om die bos lei indien ons nie gereeld selfondersoek doen in die lig van God se Woord nie. Om te voorkom dat ons mislei word, moet ons idees wat ons van andere kry evalueer. Paulus vermaan Christene: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Johannes waarsku: “Glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Johannes 4:1). Die vroeë Kerk moes onderskei tussen ware apostels en bedrieërs (Openbaring 2:2). Ons staar dieselfde situasie vandag in die gesig. U kan nie bekostig om deur bedrieërs mislei te word wat hulle as apostels, profete en predikante van God voordoen nie. Maar hoe kan u sodanige besluite neem? Watter riglyne kan u gebruik? Die Bybel gee ons baie advies!

Fokus op die waarheid

Jesus het die stelling gemaak dat ’n huis wat op soliede klip gebou is, beproewings sal deurstaan, maar ’n huis wat op sand gebou is, sal meegesleur word (Mattheus 7:24–29). Die punt wat Hy gemaak het was dat indien ons ons oortuigings solied op die Bybel grond, ons sal seëvier, maar indien ons op ons eie idees staatmaak, ons mislei sal word. Jesus sê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Paulus skryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Timotheus 3:16). Tog twyfel baie mense vandag oor die egtheid asook die gesag van die Bybel, as gevolg van die invloed van skeptici in ons wêreldlike samelewing. Bybelse teksverse word in twyfel getrek en verwerp wanneer hulle nie saamstem met ons eie menings nie. Dit lei tot verwarring oor godsdiensidees. Radio, televisie en die Internet, het die supermark vir selfaangewese godsdiensleraars geword. U kan egter voorkom dat u mislei word deur eenvoudige, tog op die man af, vrae te vra.

Beveel die Bybel ons om Kersfees en Paasfees te onderhou of is dit heidense praktyke wat vermy moet word (sien Jeremia 10:1–4)? Het Jesus en die apostels die Sabbat en Heilige Dae onderhou, of het hulle Sondag onderhou (sien Lukas 4:16; Handelinge 17:2; 1 Korintiërs 5:7–8)? Het Jesus se evangelie gehandel oor die komende koninkryk van God of net oor Sy lewe, dood en opstanding (sien Markus 1:14–15)? Het die Kerk dieselfde evangelie gepreek, of ’n ander een (sien Handelinge 8:12; 28:23, 31)? Gaan gelowiges hemel toe wanneer hulle sterf (sien Handelinge 2:34; 13:36)? Het mense ’n onsterflike siel (sien Esegiël 18:4, 20)? Word die term Drie-eenheid in die Bybel aangetref? Word sondaars vir ewig gekasty of word hulle eenvoudig verbrand (sien Maleagi 4:1–3)? Is die Heilige Gees ’n persoon of die krag van God (sien Handelinge 8:18–19)? Ontvang alle belydende Christene die Heilige Gees, of word dit slegs met bekering, doop en die oplegging van hande aan diegene wat God se opdragte gehoorsaam gegee (sien Handelinge 2:38; 5:32; 8:14–19)? Het ons vandag ’n bediening nodig, of is elkeen ’n predikant (sien Titus 1:5–11; 1 Timotheus 3; Efesiërs 4:11–12)? Moet ons regering in die kerk hê (sien Handelinge 15)? Is dit skriftuurlik vir die kerk om hul eie leiers te kies deur te stem vir die gewildstes of voorsien God ander wyses (sien Numeri 14:1–10; vergelyk Handelinge 6:1–4 met Eksodus 18:17–26; Galasiërs 1:15–16; 2:7–8)? Is dit belangrik om die identiteit van die Israelitiese nasies te ken (sien Genesis 48; 49; Esegiël 3; 33; hersien ook die boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?). Is hierdie konsep vir die Nuwe Testamentiese Kerk belangrik (sien Mattheus 10:6)? Wat is die ware doel vir die menslike lewe (sien Romeine 8:14–18; 1 Johannes 3:1–3)?

Uit die Skrif kan u die waarheid aangaande al hierdie sake bewys! U moenie mislei word deur die teenstellende idees wat u hoor nie. U moet uself vra waar u eerste die waarheid aangaande elk van hierdie onderwerpe geleer het en wie hierdie waarhede steeds duidelik en kragtig preek? Kan u agterkom wie begin het om hierdie waarhede prys te gee, te verander en te verwerp? Indien u sulke individue of organisasies volg, sal u mislei word! Jesus vertel Sy dissipels: “Julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). U kan voorkom dat u mislei word deur op die waarheid gefokus te bly, die waarheid te bewys en daaraan vas te kleef. God se Waarheid verander nie – dit is die soliede klip waarop ons moet bou!

Omskryf die sending

Baie mense is vandag verwar en mislei oor waarom ons geroep is en wat ons as Kerk moet doen. Individueel is ons geroep om te leer om te leef “van elke woord wat deur die mond van God [die Bybel] uitgaan” (Mattheus 4:4)! Ons moet “ligte” vir die donker wêreld wees en die mensdom die behoorlike manier van leef wys (Mattheus 5:14). As Christene moet ons “toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus (2 Petrus 3:18). Ons uitdaging is om te leer om in elke situasie te dink en op te tree soos Jesus sou doen – om die gesindheid van Christus te ontwikkel (Filippense 2:5). Jesus het nie met God gestry of probeer om rondom die duidelike bedoeling van die Skrif te redeneer nie – Hy het Sy Vader se opdragte uitgevoer (Filippense 2:8), want Hy het geweet dat dit die beste was (Deuteronomium 4:40; Spreuke 3:1–2). Baie mense vandag is mislei om te glo dat hulle God se opdragte in die Bybel kan verwerp – indien hulle voortgaan om te bid, kerk toe te gaan en vriendelik te wees met ander mense! Die Bybel noem dit geveinsdheid (Romeine 2:17–24; Jakobus 2:10)! Ons moet hierdie misleiding vermy.

Die Bybelse sending van die Kerk word duidelik gestel: verkondig die goeie nuus van Christus se opoffering vir ons sondes (Mattheus 1:21) en verkondig die evangelie van die komende koninkryk van God (Markus 1:14–15; 16:15; Handelinge 8:12). Die evangelie moet as getuienis verkondig word – om die nasies te laat weet wat aan die kom is – hoewel baie mense nie sal glo wat hulle hoor nie (Mattheus 24:14). Die Kerk het ook die verantwoordelikheid om die kudde te voed – om diegene wat nou geroep is te leer om volgens elke woord van God te leef (Johannes 21:15–17). Nog ’n aspek van die Kerk se sending is om die wêreld te waarsku teen die ontnugterende gebeure wat die einde van hierdie tyd en die wederkoms van Christus sal aandui (sien Mattheus 24; Markus 13; Lukas 21). Dít is ’n hooftaak van God se eindtyd Werk (sien Esegiël 3; 33). Naastehulp, vriendelikheid en welwillendheid in die gemeenskap is goed en wel, maar dit kan nie God se duidelike sending vir Sy Kerk vervang nie! Om aan te neem dat ons uit hierdie duidelik omskrewe sending kan kies en keur, is om misleiding te bevorder. U moet uself vra: wat doen u en die groep waaraan u behoort? Is u op die sending gefokus wat God omskryf het, of is u mislei en besig om u eie ding te doen?

Ken u vyand!

Die Bybel onthul dat Satan die oorheersende invloed op hierdie wêreld is wat almal wat hy kan, verblind, mislei, verdeel en bedrieg (2 Korintiërs 4:4). Dit wil blyk dat baie Christene vandag dink dat hulle immuun is teen Satan se invloed omdat hulle in die Kerk “geroep” is, tog vertel Petrus ons: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). Petrus het uit ondervinding gepraat, want hy is op verskeie geleenthede deur sy eie idees en deur na die verdwaalde idees van andere te luister, mislei (sien Mattheus 16:21–23; Galasiërs 2:11–14). Paulus waarsku die Kerk dat “wrede wolwe onder julle sal inkom … wat verkeerde [misleidende] dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29–30). Paulus was bekommerd dat die mense mislei sou word deur vals leerstellings wat deur vals leraars versprei is wat aanspraak maak dat hulle leraars van Jesus Christus is – maar in werklikheid engele van Satan is (2 Korintiërs 11:1–15). Satan se pogings en aktiwiteite skep verwarring en misleiding (1 Korintiërs 14:33).

Wanneer u die verwarring rondom leerstellinge oorweeg wat die kerk en samelewing vandag deurtrek, moet dit duidelik wees wie hierdie probleme veroorsaak! Sommige van die misleidende idees wat deur die kerk die rondte doen sluit in:

Die Werk is verby; slegs mnr. Armstrong is opdrag gegee om die evangelie te verkondig.

Ons hoef nie vandag ’n bediening of regering in die kerk te hê nie. Omdat ons almal predikante is, kan ons ons eie leiers kies – ons hoef nie dat God daardie besluite neem nie.

Dit is aanvaarbaar om Sondag, Paasfees en Kersfees te onderhou as ons almal opreg is in ons harte.

Daar is ware Christene wat nie die Bybel verstaan of die gebooie onderhou nie.

God se mense hoef nie oor basiese leerstellings saam te stem nie en individue kan vir hulself oor leerstelling besluit, gegrond op hul eie gevoelens.

Ons het nie nodig om die Pasga op 14 Nisan te onderhou nie, hoewel die Bybel daardie datum spesifiseer.

Ons kan besluit watter kalender om te volg, gegrond op ons eie redenasies.

Ons het nie meer nodig om tiendes te betaal nie; die dieet-wette is nie meer van toepassing nie; daar is geen plek van veiligheid gedurende die verdrukking nie; begrip van die identiteit van nasies is onnodig om profesie te verstaan; almal sal gered word.

Die lys kan aangaan, maar dit wys wat gebeur wanneer ons mislei word om dít wat die Bybel duidelik stel, te ignoreer. Om te voorkom dat ons mislei word, moet ons die vrugte van misleiding en diegene wat hierdie misleidende idees aanmoedig, herken (1 Petrus 5:9; Efesiërs 6:11). Jesus sê dat ons vals leraars deur hul vrugte sal herken en Hy waarsku dat menige belydende Christene eintlik mislei is omdat hulle nie hul vyand en sy metodiek herken nie (Mattheus 7:15–23)!

Dink krities

Baie mense neem aan dat Christenskap net oor liefde, vertroue, geloof en hoop gaan. Tog waarsku Jesus Sy dissipels om “versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” te wees, omdat hulle te doen sal hê met “wolwe” wat daarop uit is om te mislei en vernietig (Mattheus 10:16). As Christene moet ons leer om te dink – krities te dink! In Spreuke word ons vertel “Iemand wat in ’n regsaak eerste praat, is altyd onskuldig, maar dan kom iemand anders en ondervra hom” (Spreuke 18:17 NV). Dit is waaghalsig om die eerste idee wat u hoor of boek wat u lees te glo! Ons moet vra: wie is hierdie mense wat idees promoveer of boeke en artikels skryf? Waar kry hulle hul gesag? Wat is hulle geskiedenis? Hoe het God hulle oor die jare gebruik? Baie van Jesus se luisteraars was vertroud met Sy agtergrond (Markus 6:3). Petrus en Paulus het hul name en persoonlike geskiedenis openlik bekend gemaak vir almal om te oordeel (sien Galasiërs 1:11–24; 2 Petrus 1:16–19). Indien u die een of ander groep wil volg, moet u iets van hulle weet en waar hulle hul idees vandaan kry – anders loop u die risiko om mislei te word!

Die Bybel maak ook die stelling: “As daar nie goeie oorleg is nie, val ’n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding” (Spreuke 11:14). Indien u advies soek en geskikte bronne nagaan voordat u tot ’n gevolgtrekking kom, kan u voorkom dat u mislei word. Moenie net die nuutste idee glo wat u hoor of op skrif sien nie. Kyk wat kritici te sê het voordat u dit koop! Stel vas wat geldig is en wat nie. Wees waaksaam vir die feit dat ons trots ons wil laat glo dat ons geen hulp nodig het nie – dat ons alles op ons eie kan uitredeneer! Dit is ’n voorskrif vir mislukking wat net dwase navolg (Spreuke 12:1, 15). Paulus adviseer Christene om alles versigtig op te weeg – hy sê nie “glo maar net” nie (1 Thessalonicense 5:21). Petrus waarsku dat Paulus se geskrifte buite konteks verdraai sou word deur onkundige en ongebalanseerde individue (2 Petrus 3:16). Dit is leersaam dat diegene wat met die Sabbat, Heilige Dae, dieetwette en baie ander leerstellings wil wegdoen, Paulus se geskrifte gebruik om hul punt te bewys – ten spyte van Petrus se duidelike waarskuwing! Ons moet waaksaam wees hiervoor. Om te voorkom dat ons mislei word, moet ons leer om krities te dink. Dit is deel van ’n Christen se verantwoordelikheid.

Vriende, God vertel ons dat Satan die hele wêreld mislei het (Openbaring 12:9). Hy het Eva mislei en Adam sy leierskapsposisie laat ontduik. Hy het Petrus mislei en Paulus bedrieg voor sy roeping. Hy het Ananias en Saffira aangemoedig om leuens te vertel en gevolglik te sterf (Handelinge 5:1–11). Hy het onmin gesaai tussen Paulus en Barnabas in ’n poging om die verkondiging van die evangelie te verhoed (Handelinge 15:36–41). Satan en dié waarin hy geslaag het om te beïnvloed, het deur die jare verwoesting gesaai onder die ware gelowiges. As Christene moet ons in staat wees om hulle bedrieglike metodes te herken en weerstaan. Dit is waarom God duidelike waarskuwings en nuttige beginsels in die Skrif voorsien. Ons uitdaging is om hierdie inligting te gebruik sodat ons kan voorkom dat ons mislei word!