Indien u geluister het na die regte mense – of miskien meer akkuraat, die verkeerde mense – kon u moontlik gehoor het dat die mensdom in Desember 2012 óf die einde van die wêreld, óf die aanbreek van ’n nuwe era sou beleef.

Sommige mense beweer dat daar ’n geheimsinnige “ekstra planeet” is – wat onder andere Nibiru of Planet X genoem word – wat in ons sonnestelsel rond sweef en wag om teen die einde van 2012, teen die aarde te bots. Ander mense beweer weer dat die planeet se magnetiese veld sal omswaai – waardeur massiewe kontinentale omwentelinge, rampspoedige vulkaniese uitbarstings en wêreld-beëindigende oorstromings veroorsaak sal word. Nog ander mense voorspel rampe wat verband hou met die aarde se kruising van die “galaktiese vlak” van die Melkweg.

Waarom Desember 2012? Omdat ’n paar mense beweer dat die Maja – ’n antieke, Meso-Amerikaanse ryk – op 21 Desember 2012 (of ’n paar dae voor of na dit) voorspel het dat die einde van ’n era sou aanbreek, wat groot verwoesting sal bring, of moontlik ’n nuwe goue era van vrede – of moontlik albei.

Was daar enige rede om rampspoed te verwag gedurende Desember 2012? Baie mense beweer dat verslae van NASA en ander wetenskaplike organisasies hulle aansprake ondersteun. Die Maja is onder die volke van die antieke wêreld wat die meeste bestudeer en nagevors is. Het hulle dus inderdaad sulke voorspellings gemaak aangaande Desember 2012?

Die antwoord is ’n dawerende “nee!
Dink aan die bewering wat sommige mense gemaak het dat ’n rigtinglose planeet in ons sonnestelsel skuil, op koers om met ons planeet te bots, om binnekort die lewe op die aarde vir ewig te verander, indien dit nie heeltemal beëindig sal word nie. In die mensdom se eindelose astronomiese opnames van die nagtelike hemel, was daar dus ’n “Nibiru” of ’n “Planet X” onder die sterre wat besigtig is, terwyl dit op ons afpyl in ’n dans van interplanetêre dood en verdoeming?

Nie in die minste nie! Ten spyte van al ons gesoekery is geen sodanige voorwerp nog ooit gesien nie. Volgens dr. David Morrison van NASA se amptelike “Ask an Astrobiologist” Webblad, het sy organisasie “duisende navrae ontvang aangaande Nibiru en 2012”. Die antwoord is eenvoudig: Daar is nie so ’n ruimtelike voorwerp in sig nie. Hy sê: “Vir ’n sterrekundige is volgehoue aansprake aangaande ’n planeet wat ‘naby’ maar ‘onsigbaar’ is, net eenvoudig dwaas”. Hy skryf selfs nog meer onomwonde: “Die doemprofete is besig om ’n kullery te bevorder”.

Amerika se ruimte-agentskap het ook ingegaan op die moontlikheid van ’n ommekeer van die magnetiese pole en die gevolge van so ’n gebeurlikheid. Die bewyse van die aarde se kors en ondersoek van diep kern-monsters geneem van die oseaan-vloer dui op die moontlikheid dat die aarde reeds voorheen pool-ommekerings ondergaan het – tye toe die magnetiese noorde en suide “kante omgeruil” het. Nie een hiervan was egter op enige wyse vereenselwig met groot vernietiging op enige wyse nie: “Die fossielrekord toon geen drastiese veranderings in die plant- of dierlewe nie ... daar is niks in die miljoene jare van geologiese rekord wat aandui dat enige een van die 2012 doem-scenario’s verbonde aan ’n pool-ommekering ernstig opgeneem moet word nie”. (“2012: Magnetic Pole reversal Happens All the (Geologic) Time”, NASA.gov, 30 November 2011).

Wel, moontlik sal die kruising van die “galaktiese vlak” – ’n gebeurtenis wat party mense beweer die Maja in antieke tye voorspel het om plaas te vind in Desember 2012 – ons benadeel? Nie volgens ruimtewetenskaplikes nie. Sterrekundige Bruce McClure van EarthSky.org, wys daarop: “Nee, die aarde sal nie deur die galaktiese vlak in 2012 beweeg nie, in teenstelling met wat u dalk gehoor het. Die aarde sal nie in die nabye toekoms fisies deur die vlak van die Melkweg sterrestelsel gaan nie” (EarthSky.org).

Wat het die Maja (nie) gesê (nie)?

Indien ’n persoon die wetenskap agter die baie aansprake van komende wêreldwye verwoesting wat voorspel word deur 2012-ologiste ondersoek, vind mens konsekwent dat wetenskap nie die aansprake ondersteun nie.

Dit blyk dat indien die antieke Maja enige soort van wêreldwye of kosmiese bohaai voorspel het in Desember 2012, hulle ’n bietjie van die spoor af was. Het hierdie antieke mense ooit werklik die dinge voorspel wat aan hulle toegedig word?

Die bewyse sê baie duidelik dat hulle nie het nie.
Alhoewel baie amateurs, Maja-stokperdjie-liefhebbers en New Age ghoeroes beweer dat hulle 2012-verwante besonderhede kan ontrafel uit die baie, baie artefakte en rekords wat ons van die antieke Maja-kultuur het – soos die indrukwekkende, gedetailleerde Dresden Codex en die befaamde ná-koloniale Chilam Balam – is die kragtige konsensus van Maja-geleerdes dat nie een enkele een van hierdie werke óf verdoemenis en somberheid of ’n groot nuwe era van vrede in 2012, voorspel nie. Selfs die idee dat die Maja-kalender op die een of ander manier in 2012 “eindig”, is weerlê deur moderne navorsing. Die Kansas Universiteit geleerde, dr. John Hoopes, ’n spesialis in pre-Columbiaanse beskawing, verduidelik: “Nêrens in die databasisse van die wetenskap sê dit dat die 2012 datum die einde van die Maja-kalender is nie”. Om die waarheid te sê, nie net het Maja verwysings na datums heel verder as 2012 wat reeds vir dekades bekend is nie. ’n Onlangse bevinding in die noorde van Guatemala, in die Maja se Xultun ruïnes, is een van die oudste Maja-kalenders wat nog ooit ontdek is, wat ook van datums melding maak duisende jare in die toekoms (“Ancient Time: Earliest Mayan Astronomical Calender Unearthed in Guatemala Ruins”, Scientific American, 10 Mei 2012). Oorvloedige bewyse dui aan dat die Maja geglo het tyd sou inderdaad voortgaan soos nog altyd, lank ná 2012 gekom en gegaan het.

Trouens, soos dr. Robert Sitler, skrywer van The Living Maya – ’n kundige wat die Maja vir dekades bestudeer het – in korrespondensie opgemerk het: “Die 2012 verskynsel het ontstaan buite die Maja-kulturele konteks en word nou eers ingevoer in die Maja-wêreld”.

Ongelukkig, alhoewel die idee hoegenaamd geen basis vir die waarheid bevat nie, is die idee van ’n antieke Meso-Amerikaanse beskawing wat op een of ander manier deur tyd tot in ons dag kon sien en daarin ’n spesifieke datum vir globale verandering en rampspoed gesien kon word, vir baie mense te moeilik om te weerstaan. Gevolglik het die gekkespul en ophef voortgegaan. Dit is dalk nie ’n verrassing nie, gegewe die voor-die-hand-liggende onrus rondom ons in ons wêreld van vandag.

Wat is geprofeteer?

Vir diegene wat vertroud is met die Skrif, is die wetenskap se uitspraak op die 2012-histerie geen nuus nie. Daar is, na alles, ’n Almagtige God in die hemel wat wel die einde verklaar van die begin af (Jesaja 46:10) en wat profetiese kennis openbaar van die gebeure wat nog moet plaasvind. In teenstelling met die periodieke uitsprake van New Age ghoeroes en profeet na-apers deur die jare, is Sy rekord volmaak!

In die bladsye van die Skrif maak God dit duidelik dat daar inderdaad botsings met liggame uit die ruimte sal wees (Openbaring 8:8-11), asook rampspoedige, planeet- veranderende aardbewings (Openbaring 16:18-20). Nogtans vertel dieselfde God aan ons ook van spesifieke gebeure wat hierdie rampe moet voorafgaan: Vals en misleidende godsdienstige magte wat wêreldwye gesag moet bekom (Openbaring 13:11-14); ’n groot ekonomiese, militêre, politieke reus wat die hele wêreld sal oorheers in samewerking met die valse wêreldwye godsdiens (verse 1-4), ’n tydperk van twee-en-’n-half jaar van gruwelike vervolging van ware Christene en die afstammelinge van Israel, in die Skrif bekend as die “Groot Verdrukking” (Mattheüs 24:21; Openbaring 7:14), ’n jaar-lange tydperk van God se wraak op ’n rebelse wêreld (Jesaja 34:8), direk voor die wederkoms van Jesus Christus – die werklike einde van hierdie tydvak!

Kan iets dramaties met ons planeet gebeur in Desember 2012? Beslis. Ons leef in dramatiese tye! Indien daar egter iets gebeur, sal dit die naderende einde van die wêreld aandui? Die wetenskap werp groot twyfel oor die geldigheid van die 2012-behepte doemprofete. Dit is eintlik God wat die saak heeltemal duidelik maak: Die einde van hierdie tydperk sal binnekort aanbreek, maar dit sal nie op 21 Desember 2012 wees nie!