Vraag: Wat het gekleurde eiers en donsige hasies met Christus se dood en opstanding te doen?

Antwoord: Enigeen wat vertroud is met biologie sal gou besef dat hase nie eiers lê nie! Wat het dié simbole in gemeen? Hase is bekend vir hulle reproduktiewe neiging. Eiers word beskou as ’n simbool van vrugbaarheid.

Dus, wat het vrugbaarheid met Paasfees te doen? Baie mense wat die vakansiedag vier, besef nie dat Paasfees [Easter], nie ’n Bybelse vakansiedag is nie – dit is afgelei van die voor-Christelike vieringe van lente-vrugbaarheid, gewy aan heidense godinne met name soos Ishtar, Astarte en Ostara, van wie die naam “Easter” afgelei is. Op die koop toe is diegene wat ’n woordspeling maak met “Son rise” en “sunrise”, moontlik nie daarvan bewus dat hulle Paas-oggend se “sonop”-diens – terwyl hulle in die rigting van die opkomende son gedraai is tydens hulle aanbidding – direk in die Skrif veroordeel word nie. In Esegiël 8:14-16, vind ons dat die Israeliete “Tammus beween” in ’n sonsopkoms erediens, ’n gebruik wat God sê Hy verafsku.

“Wel, ons ‘doop’ net ’n heidense gebruik en maak dit Christelik”, mag sommige mense sê. Wat sê God egter oor daardie benadering? Die profeet Jeremia het God se baie duidelike en reguit opdrag aangeteken: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie” (Jeremia 10:2). Die gedeelte in Jeremia gaan voort om die vervaardiging van afgode van hout te beskryf, en maak dit dus duidelik dat God nie heidense praktyke ingevoer wil hê in aanbidding van Hom nie.

Wil God dus hê dat Christene Hom moet aanbid op Paassondag? U mag verbaas wees om te leer dat daar geen Bybelse rekord is van aanbidding op Paassondag nie, en dat daar geen sodanige opdrag is vir ons om vandag so ’n erediens te hou nie! Soos gereelde lesers van hierdie tydskrif weet, het Christus gesterf en Hy is in die graf geplaas kort voor sononder op ’n Woensdag, net voor die aanvang van die jaarlikse Heilige Dag wat bekend staan as die Eerste Dag van Ongesuurde Brode (sien Levitikus 23:6). Ons weet uit die Skrif dat Jesus in die graf was vir drie dae en drie nagte – 72 uur – wat beteken dat hy net voor sononder op Saterdag opgestaan het! Teen die tyd dat die vroue op Sondagoggend by die graf gekom het, het Hy alreeds opgestaan (Mattheüs 28:1-8)!

Toe die skrifgeleerdes en die Fariseërs daarop aangedring het om ’n teken van Christus se Messiasskap te sien, het Hy gesê dat Hy aan hulle “die teken van die profeet Jona” sou gee (Mattheüs 12:39; Johannes 2:19). Trouens, Hy het gesê dat dit die enigste teken is wat Hy sal gee. Jona was vir drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis, en Christus sou in die graf wees vir dieselfde tydsduur. Let daarop dat dit ook die latere “Goeie Vrydag” gebruik ontbloot as ’n onbybelse fiksie, aangesien ’n begrafnis op Vrydag sou vereis dat Christus in die graf moes wees tot Maandagaand, maar die Skrif toon duidelik dat die graf reeds leeg was toe die vroue Sondagoggend daar aangekom het.

Dus, indien Paassondag ’n valse gebruik is, en Christene nie die weë van die heidense kulture rondom hulle moet naboots nie, hoe moet Christene Christus se offer herdenk? Weereens onthul die Skrif die antwoord aan ons. Die apostel Paulus het aan Christene in Korinthe gesê: “... want ook ons paaslam is vir ons geslag” (1 Korinthiërs 5:7). Tydens Sy laaste Pasga-maaltyd saam met Sy dissipels, het Christus nuwe simbole van brood en wyn ingestel, as simbole van Sy liggaam en Sy bloed (Mattheüs 26:26-28). Paulus herinner die Korinthiërs daaraan dat die onderhouding van Pasga ’n jaarlikse herdenking van Christus se offer is. “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Korinthiërs 11:23-26).

Christus se liggaam was gebreek vir ons fisiese genesing (Jesaja 53:5), en Sy bloed was gestort vir die vergifnis van ons sondes (Mattheüs 26:28). Christene behoort dus nie ’n nie-christelike vakansiedag met hasies en eiers en ander simbole van vrugbaarheid, wat aangeneem is uit heidense rituele, te vier nie. Hulle behoort die Pasga te onderhou, soos ons beveel is deur Christus en die Apostels, as die ware herdenking van Sy offer.