Waarom word sommige geloofsoortuigings “hoofstroom” genoem en ander word vervloek as ’n gruwel of iets erger? Hoe kan u onderskei tussen ’n ketter en ’n ware Christen? Die geskiedenis openbaar ’n paar verstommend ironiese dinge!

Ketter! Jy is anatema [’n vervloeking]”!


Vir eeue lank het hierdie woorde wat Christus bely het vir baie mense dwarsdeur die Middeleeue met verskrikking vervul. Hierdie ernstige veroordeling het nie net uitsetting uit die Rooms-Katolieke kerk beteken nie, maar kon ook marteling of die dood beteken en dit het ook dikwels gebeur. ’n Algemene vorm van teregstelling was verbranding op die brandstapel en duisende mense het daardie gruwelike lot gely. Afwyking van die godsdienstige ortodoksheid was gevaarlik!

Wat is ’n ketter? “Iemand wat een of meer waarhede van die Christelike geloof verwerp, wat afwyk van die regsinnige leer; veral ’n afvallige van die Rooms-Katolieke geloof” (HAT Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal). Die woord anatema beteken “een wat vervloek is deur kerklike gesag” (Merriam-Webster Dictionary) en deur die tweeduisend jaar van die Roomse kerk se bestaan, het baie mense wat so vervloek is, dikwels gevind dat hulle ook beskuldig was van ’n halsmisdaad, wat strafbaar was deur marteling of dood deur die burgerlike owerhede.

Die “oorspronklike” Kerk van God

Moderne geleerdes erken dat die Kerk, soos dit in die eerste eeu bestaan het, heel anders in geloofsoortuiging en in praktyk was as dit wat gevolg het in die daaropvolgende eeue. Jesse Lyman Hurlbut, ’n Protestantse geestelike en skrywer, erken die dramatiese verandering wat plaasgevind het. Hy skryf: “Vir vyftig jaar na Paulus se lewe hang ’n gordyn waardeur ons tevergeefs probeer kyk oor die Kerk en wanneer dit ongeveer 120 n.C. uiteindelik lig met die geskrifte van die vroegste kerkvaders, vind ons ’n Kerk wat in baie aspekte heeltemal verskil van dié in die dae van Petrus en Paulus” (The Story of the Christian Church, bl. 41). Hierdie Christelike Kerk, vóór die veranderinge wat in die tweede en derde eeue begin plaasvind het, staan vandag by geskiedkundiges en teoloë bekend as “Die oorspronklike Kerk”.

Hoe was dit om ten tye van die Apostels ’n gelowige in Christus te wees? Geskiedkundig was dit baie anders as vandag. Byvoorbeeld, u sou die Bybelse Sabbat heilig gehou het, soos die gebod sê: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig” (Exodus 20:8) en u sou daarby ook die jaarlikse Heilige Dae onderhou het, (Exodus 20:8-11; Levitikus 23; Hebreërs 4:9-10; 1 Korinthiërs 5:8) asook die Christelike Pasga (Lukas 22:15; 1 Korinthiërs 11:23-25). Heidene wat lede van die oorspronklike Kerk was sou nie “probeer om Joods te wees” wanneer hulle al tien van die Tien Gebooie onderhou het nie; inteendeel, hulle het daarna gestreef om God te gehoorsaam (Mattheüs 19:17; 1 Johannes 2:3-4; 5:3; Openbaring 14:12).

Die “oorspronklike Kerk” het geglo dat die Evangelie van die Koninkryk van God wat Jesus verkondig het, verwys na ’n werklike Koninkryk op aarde wat deur Jesus van Nasaret as die Messias gevestig sou word wanneer Hy weer kom om Sy duisendjarige vrederyk te begin. In die gedagtes van die meeste belydende Christene, is die boodskap van Christus se Wederkoms wanneer Hy as Koning oor ’n werklike aardse Koninkryk vanuit Jerusalem sal regeer, nie letterlik waar nie en behoort dit slegs as ’n versinnebeelding beskou te word. Indien iemand glo in wat hulle spottend die “politieke Messias” noem, sal sodanige oortuiging gebrandmerk kan word as kettery.

Jesus het gesê: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie” (Markus 16:15). Vandag verskil miljarde belydende Christene egter oor wat die ware Evangelie is.

Dink aan wat die grootste enkele groep belydende Christene met meer as ’n miljard aanhangers, sy lede leer: “Die koninkryk van God beteken dan dat God in ons harte regeer; dit beteken daardie beginsels wat ons afsonder van die koninkryk van die wêreld en die duiwel; dit beteken die goedgunstige invloed van genade; dit beteken dieKerk” (“Kingdom of God”, Catholic Encyclopedia). Baie ander mense identifiseer die Koninkryk van God met die hemel, waarin hulle verwag om te woon na hulle dood. Sommige mense het geen belangstelling in die Koninkryk van God nie en fokus slegs op die persoon van Jesus Christus.

Almal kan nie reg wees nie. Sedert Christus se dood en opstanding, is die verskeidenheid van leerstellings wat verkondig word in die naam van “Christelikheid” nogtans uiteenlopend. Selfs gedurende die eerste eeu n.C. moes die Apostels met valse leraars en leerstellings worstel. Die apostel Paulus het gekla oor die dwaalleringe wat in die vroeë Kerk ingebring is. Hy sê: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Galasiërs 1:6-7).

Van die begin af het die Kerk wat Jesus Christus gestig het, geglo dat Christus sou terugkeer in krag en heerlikheid om ’n wêreld-regerende Koninkryk te vestig en dat Sy heiliges onder Hom op aarde sou regeer vir ’n tydperk wat bekend staan as die “Millennium”. Hoewel daardie hoop-gevulde boodskap van die begin af na aan die hart van ware Christenskap was, is dit nogtans in later eeue verwerp as blote versinnebeelding. Die ortodoksie van die eerste-eeuse Kerk was gou beskou as kettery.

Paulus het ook gewaarsku dat valse leraars sou kom en valse leerstellings verkondig. “Maar wat ek doen, sal ek nog doen om die aanleiding af te sny vir die wat ’n aanleiding wil hê, sodat hulle in die saak waar hulle op roem, net soos ons bevind mag word. Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:12-15).

Die moeilikheid het begin

In die vierde eeu n.C. het die Roomse kerk ’n reeks raadsvergaderings of sinodes gehou om die leerstellings vas te stel wat hulle voortaan sou handhaaf. Tydens die Raad van Nicea (325 n.C.), is Sondagviering amptelik gekodifiseer (waaronder ander leerstellings). Daarna, tydens die Raad van Laodicea (ongeveer 364 n.C.), is nie net die Sondagonderhouding bekragtig nie; die lank-gehandhaafde onderhouding van die Bybelse sewende-dag Sabbat was verbied. Dit was nodig dat Roomse kerkleiers daardie uitspraak maak, want die Christelike onderhouding van al tien die Tien Gebooie, met inbegrip van die gebod rakende die sewende-dag Sabbat, was steeds wydverspreid.

Kerkreël 29 van die Raad van Laodicea lui: “Christene moet nie verjoods deur op die Sabbat te rus nie, maar moet op daardie dag werk en eerder die Here se Dag [’n verwysing na Sondag] vereer; en as hulle kan, dan rus as Christene. Maar as iemand gevind word wat verjoods, laat hulle anatema wees van Christus”.

Die Raad van Laodicea het nie net mense verbied om op die Bybelse Sabbat te rus soos vereis word in die Tien Gebooie nie; dit het bepaal dat mense weliswaar werkop daardie dag en daardeur ontheilig wat God heilig gemaak het. Diegene wat geweier het om die Sabbatsgebod te oortree, was as ketters verban en anatema verklaar.

In latere eeue het ’n uitspraak as anatema oor ’n individu ’n indrukwekkende seremonie deur die Pous self vereis. “Anatema bly ’n baie belangrike verbanning wat met groot erns bekend gemaak behoort te word. ’n Prosedure vir hierdie seremonie is deur pous Sagarius opgestel (741-52) ... Hy neem sy sitplek aan die voorkant van die altaar of op ’n ander geskikte plek in en spreek die voorgeskrewe anatema uit wat eindig met hierdie woorde: ‘Dus, in die naam van God die Almagtige, Vader, Seun en Heilige Gees, van die geseënde Petrus, Prins van die Apostels en van al die heiliges, op grond van die mag wat aan ons gegee is om te bind en te ontbind in die hemel en op die aarde, ontneem ons [die persoon] self en al sy medepligtiges en al sy handlangers van die gemeenskap met die Liggaam en Bloed van ons Here en ons skei hom af van die gemeenskap van alle Christene, ons sluit hom uit van die boesem van die Heilige Moeder van die kerk in die hemel en op aarde, ons verklaar dat hy geskors en met die banvloek getref is en ons oordeel hom om veroordeel te word tot die ewige vuur saam met Satan en sy engele en al die goddeloses, so lank as wat hy nie die boeie van die duiwel verbreek, boete doen en die kerk tevrede stel nie; ons lewer hom aan Satan oor, om sy liggaam dood te maak, sodat sy siel op die dag van die oordeel gered kan word’. Hierop reageer al die assistente bevestigend: ‘Fiat, Fiat, Fiat’” (“Anathema”, Catholic Encyclopedia).

Hierdie gelowiges was uitgesluit ... geskors ... veroordeel!

Klein kuddetjie ... of ketters?

Jesus het voorspel dat Sy Kerk ’n “klein kuddetjie” sou wees (Lukas 12:32) wat vervolg sou word. “Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ’n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ’n diens aan God bewys” (Johannes 16:2). Hy het ook gesê: “As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg ...” (Johannes 15:20). Dit sal voortduur tot en met die tyd van Sy Wederkoms. “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word terwille van my Naam” (Mattheüs 24:9).

Is daar vandag groepe wat Christus bely, maar beskou word as ketters? Daar is verseker. Deesdae word daardie groepe wat iets anders as die “hoofstroom” bely egter eerder “sektariërs” as ketters genoem en die term “sekte” self het ’n besondere negatiewe betekenis. Wanneer hulle die term “sekte” of “kultus” hoor, is die meeste mense geneig om te dink aan ’n groep wat sy lede fisies of sielkundig benadeel. In die akademiese bestudering van godsdiens het die term egter ’n eenvoudiger betekenis: “’n Stelsel of gemeenskap van godsdienstige aanbidding of ritueel”.

Wanneer u ook na die 19de eeuse Engelse geskrifte kyk, sal u sien dat “kultus” ’n nie-veroordelende woord was, wat basies ’n sinoniem vir “sekte” of “denominasie” was. Vandag egter, het die woord van betekenis verander en ons vind dat dit dikwels op ’n veroordelende manier gebruik word. Sommige mense gebruik dit om hulle afkeur uit te spreek teenoor groepe wat hulle lede aan uiterste fisiese, emosionele of persoonlike spanning blootstel. Binne die “hoofstroom Christelikheid” is daar egter ’n toenemende neiging om die woord “kultus” te gebruik as ’n manier om daardie kerke wat nie hoofstroom teologie verkondig nie, te verkleineer.

Een van die meer invloedryke boeke van hierdie soort, Kingdom of the Cults, deur Walter Martin, is die eerste keer in 1965 gepubliseer. Martin brandmerk ’n aantal godsdienstige groepe as nie-Christelike kultusse as gevolg van hulle teologie. Hy haal die vooraanstaande teoloog en professor Charles Braden aan: “Met die term kultus bedoel ek niks neerhalends van enige groep wat so geklassifiseer is nie. ’n Kultus, soos ek dit definieer, is enige godsdienstige groep wat in een of meer opsigte aansienlik verskil ten opsigte van geloof of praktyk, van daardie godsdienstige groepe wat as die normatiewe beoefening van godsdiens in ons totale kultuur beskou word ... Vanuit ’n teologiese oogpunt bevat kultusse baie belangrike afwykings van die historiese [Rooms-Katolieke] Christenskap. Ironies egter, bly hulle daarop aandring dat hulle geregtig is om as Christene geklassifiseer te word” (bl. 11).

Elders skryf Martin: “’n Kultus is dus ’n groep mense wat gepolariseer is rondom iemand se interpretasie van die Bybel en word gekenmerk deur groot afwykings van die ortodokse Christelike geloof ten opsigte van die vernaamste leerstellings van die Christelike geloof” (Rise of Cults, bl. 12). Let egter op! Wanneer Martin verwys na die “vernaamste leerstellings”, verwys hy na die ortodoksheid wat ontwikkel het na die eerste eeu en later in ’n wetboek gekodifiseer is op grond van die gesag van die Roomse kerk. Die meeste geskiedkundiges, beide sekulêr sowel as godsdienstig, verstaan dit.

Oorweeg hierdie kommentaar deur skrywers Josh McDowell en Don Stewart: “’n Kultus is ’n perversie, ’n verdraaiing van Bybelse Christenskap en/of ’n verwerping van die historiese leer van die Christelike Kerk” (Understanding the Cults, bl. 17). Hulle definisie druis in teen die algemene hoofstroom beeld van ’n “kultus”. Hulle erken eerder: “In die meeste gevalle sou ons dit moeilik vind om enige element af te sonder in die metodiek van ’n kultus wat nie in die een of ander vorm in hoofstroom kerke teenwoordig is nie. Vir Christene behoort die grootste probleem met kultusse die teologie te wees! (ibid. bl. 20).

Net soos baie soortgelyke kommentators, sê McDowell en Stewart nie dat ’n godsdienstige groep skadelik behoort te wees om as ’n kultus gebrandmerk te word nie, dit hoef net anders te wees. Ironies genoeg, terwyl hulle dit sê, verwerp hulle baie van die oortuigings en praktyke van die eerste-eeuse Kerk. Volgens hierdie skrywers kan byvoorbeeld die behoud van dieselfde sewende-dag Sabbat wat Jesus Christus en Sy Apostels onderhou het, gesien word as die kenmerk van ’n kultus!

Vrees, skynheiligheid ... of geloof?

Baie “hoofstroom” predikante vrees dat hulle gemeentelede betrokke kan raak in persoonlike studie wat hulle sal weglei van die leerstellings wat in die vierde eeu n.C. deur die Roomse kerk gekodifiseer is tydens die Raad van Laodicea. Dus is hulle vinnig om die bangmaak-woord “kultus” te gebruik, om sodoende ondersoekers af te skrik van ’n teologies andersoortige groep. Om ’n bepaalde godsdienstige geloof dus te brandmerk as ’n kultus, skep onvermydelik vrees en agterdog betreffende sy lede. Dit kan teologiese verskille omskep in bietjie meer as eenvoudige skynheiligheid.

Vandag word mense wat aan Jesus Christus se oorspronklike, eerste-eeuse geloof vashou, dikwels gemarginaliseer as ketters, nie-Christelike kultuslede, baie soos die geval in die vierde eeu n.C. was. Hulle word “uitgesluit ... verban ... veroordeel”. Die “hoofstroom Christendom” sê weereens aan die oorspronklike geloof, “Ketter! Jy is anatema!”

Gaan u die meerderheid volg? Of gaan u die oorspronklike Christenskap van Christus se “klein kuddetjie” beoefen, die Christelike geloof wat u in u Bybel vind, maak nie saak wat enigiemand anders daaroor te sê het nie?