Niemand van ons het God al van aangesig tot aangesig gesien nie. Tog beweer miljarde mense dat hulle in Hom glo. Hoe werklik is Hy vir u?

Niemand van ons het God al van aangesig tot aangesig gesien nie. Tog beweer miljarde mense dat hulle in Hom glo op een of ander manier. Aangesien u hierdie tydskrif lees, is u waarskynlik een van hierdie gelowiges. Dit is goed – maar hoe werklik is God vir u? Is u bereid om “alles op die spel te plaas”, met die wete dat Hy bestaan, dat u Hom ken en dat Hy u sal beloon indien u Hom ywerig gehoorsaam of sal u net só ver gaan en ’n streep trek wat u nie sal oorsteek nie?

Oorweeg die volgende en kyk ernstig in die spreekwoordelike spieël. Die Bybel vertel aan ons dat ’n man 2,000 jaar gelede in die stofpaaie van Israel geloop het en daarop aanspraak gemaak het dat Hy van God gekom het en na Hom sou terugkeer. Hy is doodgemaak en baie mense sê dat Hy tot die lewe opgewek is en deur honderde getuies gesien is. Verder het Hy verkondig dat Hy sal terugkom om heerskappy te gee aan ’n groep individue wat saam met Hom is, wat in hierdie lewe geroep en uitverkore en aan Hom getrou is (Lukas 19:12-27; Openbaring 17:14).

Eerlikwaar, dit is baie om in te neem. Selfs diegene wat Hom gevolg het en Hom in die vlees geken het, wat al Sy wonderwerke gesien het en drie en ’n half jaar lank deur Hom onderrig is het dit aanvanklik moeilik gevind om Sy opstanding te aanvaar. Hulle het geweet daar is iets ánders aan Jesus en het Hom selfs as die geprofeteerde Messías verkondig, maar hulle geloof het gewankel by verskillende geleenthede. Nadat Hy gekruisig is, het hulle nie Sy opstanding verwag nie, al het Jesus voor Sy dood verkondig dat dit sou gebeur.
 

Is sien regtig glo?

Die Bybel vertel ons min van die apostel Thomas, maar as daar iets is wat lesers van hom weet, dan is dit dat hy gesê het: Toon my die bewyse! Nadat die ander Apostels beweer het dat hulle Jesus lewendig gesien het, het die “ongelowige Thomas” beswaar gemaak: “As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie” (Johannes 20:25). Eers toe Jesus aan hom verskyn het het Hy natuurlik geglo. Ons kan Thomas dankbaar wees dat hy vir ons die geleentheid moontlik maak om ’n bietjie selfondersoek te doen want Jesus het vir hom gesê: “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is dié wat nie gesien het nie en tog geglo het” (vers 29). Glo ons, hoewel ons Hom nie gesien het nie?

Dit was nie asof ’n opstanding uit die dood toe nog nóóit tevore plaasgevind het nie. Hierdie dissipels moes vertroud gewees het met die verhaal van die man wat weer lewendig geword het toe hy in die graf van Elisa gegooi is (2 Konings 13:21). Hulle moes die Skrifgedeeltes geken het wat ’n opstanding uit die dood voorspel het (Job 14:14-15; Psalm 17:15; Daniël 12:1-2).

Hulle het ook ’n eerstehandse getuienis gehad naamlik ’n opstanding wat baie van hulle met hul eie oë gesien het; Jesus het ’n man met die naam Lasarus opgewek nadat hy vier dae in die graf was, terwyl selfs sy suster gewaarsku het dat die liggaam teen daardie tyd al sou sleg ruik (Johannes 11:39). Dit moes nogal ’n gesig gewees het toe Lasarus lewendig en gesond uit die graf uitgeloop het, nog toegedraai in grafdoeke (vers 44)! Die opstanding van Lasarus was so ’n voldonge feit dat selfs Jesus se teenstanders dit nie kon ontken nie. Sommige van hulle wou selfs vir Lasarus doodmaak in ’n vergeefse poging om die getuienis van hierdie wonderwerk te vernietig (Johannes 12:9-11).

Baie ander mense is genees. Daar was feitlik geen soort siekte of aandoening wat Jesus nie genees het nie. Hy het melaatses, blindes, stommes, kreupeles, duiwelsbesetenes en nog meer siekes genees. Baie van hierdie individue was welbekend in hulle gemeenskappe – nie vreemdelinge wat deur ’n bulderende “evangelis” teen die voorkop geklap is, soos wat ’n mens moontlik in ’n hedendaagse televisieprogram mag sien nie.

Ek onthou dat ek ’n televisie-aanbieding gesien het waar ’n kind vorentoe gebring is wat vermoedelik doof was as gevolg van ’n demoniese gees. Die “evangelis” (“kwaksalwer” is waarskynlik akkurater) steek toe sy vingers in die ore van die kind en roep “Kom uit!” aan die sogenaamde gees. Terwyl hierdie man sy gesig teen die gesig van die kind gehou het, het hy die kind verskeie kere in ’n baie duidelike en luide toon beveel: “Sê: ‘Ba-ba’”. Die verwarde en bang kind het herhaal: “Ba-ba”. Natuurlik kan selfs ’n kind die lippe lees van iemand wat “Ba-ba” oorbeklemtoon. Die musiek het harder geword, die kind is as genees verklaar en die gehoor het met betraande gesigte hulle hande rondgeswaai en uitgeroep: “Loof die Here!”

Daarteenoor was die mense wat deur Jesus genees is, dikwels in hulle gemeenskappe daarvoor bekend dat hulle aan verskillende kwale gely het. Hierdie genesings was nie slinkse truuks om ’n liggelowige gehoor te mislei nie. Ons het ook die voorbeelde van Lasarus (Johannes 11:39-44), die duiwelbesete man in die land van die Gadaréners (Markus 5:1-17), ’n verlamde man (Markus 2:3-12) en vele ander. Die bevolking het geweet dat hierdie werklike genesings was; selfs die twissieke Fariseërs moes erken dat Jesus se wonderwerke van genesing ég was, soos blyk uit Nikodémus se belydenis (Johannes 3:2).

Ons lees dat Jesus water in wyn verander het, ’n stormagtige see laat bedaar het en op die water geloop het. Die vrae bly dus: Glo u dat hierdie wonderwerke plaasgevind het? Glo u dat daar ’n Almagtige God is wat met die mensdom werk op hierdie klein planeet wat om ’n ster van gemiddelde grootte wentel – een van tien miljarde in ons sterrestelsel, wat self slegs een sterrestelsel is onder die huidig geskatte een-tot-twee triljoen waaruit ons heelal bestaan?

Waarlik, ons kan wonder, soos koning Dawid toe hy opgekyk het na die ontsaglike gesig van ’n helder naghemel: “[W]at is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:5). Dít, liewe vriende, is ’n omvangryke vraag!

Ons verstaan vandag baié beter hoe klein ons werklik is in vergelyking met die omvang van ons heelal!

 

“Wys my ’n wonderwerk!”

Die meeste van ons dink dat ons sou glo indien ons net ’n wonderwerk kon sién – maar dit is ’n dwaling wat nie gerugsteun word deur die feite nie. Die mense van antieke Israel het baie wonderwerke gesien wat dit vir hulle moontlik gemaak het om uit Egiptiese slawerny te vlug. Hulle het drie plae beleef en gesien hoe hulle Egiptiese bure sewe ander plae verduur het wat wonderbaarlik van aard en tyd was. Hulle het deur die Rooi See ontsnap en is bonatuurlik gevoed met manna wat elke dag van die week behalwe die sewende dag beskikbaar was. Dit het 40 jaar lank aangehou. Keer op keer het God in die woestyn vir hulle voorsiening gemaak.

Ons sien nogtans dat hulle hierdie wonderwerke slegs in hulle gedagtes onthou het, nét totdat die volgende uitdaging te voorskyn gekom het. “Wie was dit dan wat gehoor het en Hom verbitter het? Was dit nie almal wat onder leiding van Moses uit Egipte gegaan het nie? En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:16-19).

Wonderwerke is soos kos en water; diegene wie se geloof op wonderwerke gebou is, moet een na die ander wonderwerk beleef om in hulle herhalende behoefte te voorsien. Dit wil nie sê dat wonderwerke nie belangrik is nie – ons lees van baie wonderwerke in die Bybel. Moontlik het u dit al self ervaar. Om die waarheid te sê, u het! Die lewe self is ’n wonderwerk en so omvangryk dat ons elke dag meer leer oor hoe wonderbaarlik dit is.

Daar word aan ons vertel: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:20). Liewe lesers, sien u nie die wonderbaarlike dinge rondom u nie?

My vrou en ek het onlangs een klein wonderwerkie gesien. Ons het opgemerk dat die Carolina-Bluebirds nie vanjaar in een van ons voëlhuisies nes maak nie en daarom het ek besluit om ondersoek in te stel. Ek loer toe deur die opening in die nes en sien hoe ’n groot oog na my staar. Die opening was te klein vir ’n volwasse eekhoring, maar dit het gelyk soos die oog van ’n klein knaagdier. Was dit ’n rot? Nadat ek die boonste gedeelte van die nes verwyder het, kom die diertjie te voorskyn. Tot ons verbasing was dit ’n vlieënde eekhorinkie. Die maatjie het gekom en ’n klein entjie verder, onderstebo aan die boomstam gehang en ’n paar minute na my gekyk terwyl ons die bure se dogtertjie gaan roep het sodat sy hulle ook kon sien. Watter pragtige klein diertjies!

Dalk dink u nie dat dit ’n wonderwerk is nie – maar watter lewe is nie ’n wonderwerk nie? Daar is soveel spesies en sub-spesies, afsonderlik, maar verwant. Daar is grys eekhorings, rooi eekhorings, swart eekhorings en vlieënde eekhorings, maar dit is almal eekhorings en is perfek aangepas om deel te wees van ’n geïntegreerde ekosisteem. Sommige van hulle is onderskeidelik deur God geskep; ander diere, soos ons troeteldiere, vertoon hulle wonderlike verskeidenheid as gevolg van noukeurige kruis-“teling” deur menslike kundiges. Of ons nou voëls, reptiele, knaagdiere, visse, blomme of enige ander lewe bespreek, sien ons uitsonderlike ontwerp, beplanning en skoonheid in die skepping. Hoe kan ons vergeet wat ons in die spieël sien? Dawid het oor die hoogtepunt van God se fisiese skepping geskryf: “Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed” (Psalm 139:13-14). Dink daaraan; weet u siel dit baie goed?

Geloof is moeilik om te begryp. Dit moenie blind wees nie, maar soos ek hierbo getoon het, duur geloof wat gebaseer is op wonderwerke nie lank nie. Selfs Johannes die Doper het moontlik op ’n stadium in sy lewe getwyfel. Ons kan nie met sekerheid sê nie, want daar is meer as een verklaring vir die volgende gedeelte, maar ’n mens wonder tog of Johannes aanstoot geneem het oor iets wat Jesus gesê of gedoen het. “En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag? En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig” (Matthéüs 11:2-5).

Ons kan nie seker wees of Johannes sy dissipels na Jesus toe gestuur het vir hulle voordeel of vir sy eie nie. Johannes het Jesus van kleins af geken en het as volwassene bewyse gesien dat Hy die Messías is (Johannes 1:32-34). Jesus verwys ook na die wonderwerke wat Hy gedoen het, maar maak dan hierdie interessante opmerking: “En salig is elkeen wat aan my nie aanstoot neem nie” (Matthéüs 11:6). Het iets gebeur wat Johannes laat twyfel het?

 

Hoe sterk was hulle geloof?

Ons is geneig om te dink dat die vroeë Kerk – anders as vandag – gevul was met sterk geloof en dit is ongetwyfeld die waarheid, alhoewel miskien nie tot die mate wat ons ons voorstel nie. Onthou hoe gereeld Jesus innerlik gesug het oor die gebrek aan geloof van diegene rondom Hom. Hoeveel keer het Hy vir Sy dissipels gesê: “O, julle wat min geloof het?”

Dink aan die ietwat humoristiese verslag van Petrus se ontsnapping uit die tronk. Herodes was ten volle daarop ingestel om Petrus tereg te stel, soos hy kort tevore met Jakobus, die broer van Johannes, gedoen het, maar God het ’n engel gestuur om hom te red. Dit was ’n traumatiese tyd vir die vroeë Kerk en baie mense het bymekaargekom om vir Petrus te bid. Hulle het ongetwyfeld gebid dat hy van die dood gered sou word, maar toe hy na ’n wonderbaarlike ontsnapping by hulle gekom het, kon diegene wat vir ’n wonderwerk gebid het, blykbaar nie aanvaar dat die wonderwerk daar by die voorhek gestaan het nie.

“Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk. En nadat dit vir hom duidelik geword het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was. En toe Petrus aan die deur van die poort klop, het ’n diensmeisie met die naam van Rhodé gegaan om te hoor wie daar was. En sy het die stem van Petrus herken en van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy engel. En Petrus het aangehou met klop; en toe hulle oopmaak, sien hulle hom en was verbaas” (Handelinge 12:11-16).

Is u en ek anders as hierdie toegewyde mense? Sou ons verbaas gewees het in ’n soortgelyke situasie of sou ons ’n antwoord op ons gebede verwag? Ek vra weer: Hoe werklik is God vir u?

 

Waarom is dit belangrik?

Hebreërs 11 staan bekend as die geloofshoofstuk en daarin lees ons: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (vers 6). Waarom is dit onmoontlik om God te behaag, tensy ons glo dat Hy bestaan en dat Hy ’n beloner is van dié wat Hom ywerig soek?

Elke naam wat in Hebreërs 11 se lys genoem word, het die soort geloof gehad wat dade tot gevolg gehad het. Abraham het God gehoorsaam toe hy sy gerieflike huis verlaat het om na ’n land te gaan waar hy ’n vreemdeling sou wees. Hy het ook op God vertrou toe hy opdrag gegee is om sy seun Isak te offer en het geglo dat God hom [Isak] weer sou opwek. (Dit was gedoen as ’n voorbeeld van wat God met Sy Seun sou doen, maar God het Abraham op die laaste oomblik gekeer.) Noag het ’n massiewe boot gebou terwyl sy bure hom waarskynlik gespot het. Dan was daar Moses. “Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien” Hebreërs 11:24-27).

Alhoewel God direk met sommige mense in drome en visioene gepraat het, het baie ander mense deur die eeue heen net die Skrif gehad en ’n persoonlike verhouding, opgebou deur gebed, die bestudering van die Woord van God en vas, om hulle hoop te gee. “Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel – die wêreld was hulle nie werd nie – hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond. En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie” (Hebreërs 11:37-40). God was vir hulle ’n werklikheid!

Indien God ’n werklikheid vir ons is en wanneer ons waarlik glo dat daar ’n beloning is indien ons Hom gehoorsaam, sal ons daarna streef om Sy Gebooie te onderhou. Ons sal die wêreld se vakansiedae versaak wat die naam van Christus op heidense praktyke geplaas het. Ons sal Sy Sabbatte onderhou, dit wil sê die sewende-dag weeklikse Sabbat en die jaarlikse Sabbatte. Ons sal nie toelaat dat iets of iemand ons weerhou van gehoorsaamheid aan ons Here en Verlosser nie. “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind” (Matthéüs 10:37-39). Ja, as God vir ons ’n werklikheid is, sal ons Hom bo alles stel! Hierdie woorde kom direk van Jesus Self af!

Ek vra dus weer: Is Hy ’n werklikheid vir u? Is Hy werklik genoeg dat u Hom sal gehoorsaam en bo enigiets anders sal stel? Indien nie, is dit nie tyd om te verander nie?