VRAAG: Ek is jare gelede gedoop. Ek het aanvanklik toe ek u tydskrif en beeldsendings oor die noodsaaklikheid van doop gesien het, aanvaar dat dit dus nie op my van toepassing is nie. Nadat ek nou u literatuur gelees het, begin ek wonder of ek behoorlik gedoop is. Hoe kan ek weet?


ANTWOORD: Christus het sy dissipels beveel om diegene te doop wat God tot bekering geroep het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matthéüs 28:19-20).

Wat is die vereistes in God se oë om te voldoen aan ’n geldige doop? Jesus Christus weet sekerlik, aangesien dit Hy is wat die doop as ’n vereiste vir redding vasgestel het: “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Markus 16:15-16).

Wat moet ’n mens glo? ’n Mens moet die Evangelie glo wat Jesus verkondig het. Wat is daardie Evangelie? “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Jesus Christus, die Seun van God, het die goeie nuus gebring dat God se Koninkryk uiteindelik beheer sal neem oor al die wêreld se regerings en ’n tyd van vrede sal administreer tussen nasies wat voorheen in oorlog gewikkel was.

Waarvan moet ’n mens homself bekeer? Van sonde. Wat is sonde? “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Is u gehoorsaam aan Jesus se opdrag om u te bekeer van oortreding van die Tien Gebooie (Matthéüs 19:17-19)?

Met hierdie punte in gedagte, kan u uself afvra: Het u werklik berou oor u sondes gehad toe u gedoop is? Indien u geweet het wat sonde is, maar nie met die hulp van u Verlosser besluit het om heeltemal daarvan af te sien nie, het u nie regtig berou gehad nie. Indien u nie eers geweet het wat sonde is nie (miskien het u geglo dat u as Christen sal kan doen wat u wil en dat dit nie as sonde gereken sal word nie), het u u beslis nie van u sondes bekeer nie.

Een teken van ’n ongeldige doop is dat dit nie die skriftuurlike voorbeeld gevolg het nie. Let op dat die Skrif duidelik opdrag gee dat iemand heeltemal onder die water gedompel behoort te word by die uitvoer van die doop (Matthéüs 3:13-16; Johannes 3:23; Handelinge 8:38-39). ’n Blote besprinkeling voldoen nie aan die Bybelse simboliek van die afwas van sondes van die verlede nie (Handelinge 22:16).

Indien u boonop op ’n baie jong ouderdom gedoop is – dalk selfs as ’n baba – sou u nie kon begryp wat dit beteken om berou te hê nie. Indien u nie eers die een was wat op eie versoek gedoop is nie, is dit ’n duidelike teken dat u nie ware berou kon toon nie.

Dalk voel u dat u wel berou gehad het toe u gedoop is. Indien wel, vra uself dan af: Het u die ware Evangelie geglo? Die meeste mense wat hulleself deesdae “Christene” noem, het ’n vae en verkeerde idee van die Evangelie. Sommige mense beskou dit as 'n boodskap oor Jesus, terwyl ander mense dit beskou as ’n boodskap oor welvaart of selfverwesenliking. Min mense verstaan die Waarheid – dat die Evangelie wat Jesus verkondig het, die Evangelie van die Koninkryk van God is. Dit is die boodskap van ’n Koninkryk wat binnekort sal kom en deur Jesus Christus Self regeer sal word onder wie die ganse mensdom die vreugde en seëninge sal ervaar wat dit sal meebring wanneer hulle leef volgens God se lewende weg.

Sommige mense laat hulle halsoorkop doop omdat hulle dink dat dit die sosiaal aanvaarbare ding is om te doen – miskien omdat hulle vriende almal gedoop is en hulle uitgesluit voel. As gevolg hiervan, versoek hulle om gedoop te word, lank voordat hulle “die koste” van hierdie ewige verbintenis “bereken” het (Lukas 14:28). Omdat die doop so ’n gewigtige besluit is, behoort u op u hoede te wees vir diegene wat u aanjaag om gedoop te word, sonder om u tyd te gee om daaroor te bid, te studeer en te vas terwyl u na die wil van God in u lewe soek. Om meer oor die doop te wete te kom en om diep na te dink oor u begeerte daarna, skryf aan die streekkantoor naaste aan u. Die lys van kantore verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif of skakel ons vir ’n gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie, Behoort u Gedoop te word?