Die meeste Amerikaners het altyd aanvaar – selfs gedurende verskriklike oorloë of finansiële omwentelinge – dat dinge binne ’n paar jaar “beter sal gaan”. Dit was dan ook tot dusver inderdaad die geval. Ons het altyd op een of ander manier “deurgedruk”, en dit het ook so uitgewerk dat ons kinders en kleinkinders ’n beter leefwyse kon hê as wat ons gehad het – ten minste wat fisiese dinge en fisiese gerief aanbetref.

Bedagsame waarnemers begin egter besef dat hierdie situasie end se kant toe staan. Ek wil u almal, ons intekenaars, waarsku dat in die jare wat voorlê, Amerikaanse rykdom, mag en invloed – en die weelderige “Amerikaanse lewenstyl” – nooit weer dieselfde gaan wees nie.

Die geprofeteerde “tyd van benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7), waaroor ons so dikwels geskryf het, is nou besig om oor ons te kom soos nog nooit tevore nie. Die mense wat van Amerikaanse en Britse afkoms is in die Verenigde State, Kanada, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en Suid Afrika, ondervind nou die beginstadium van ’n tyd van nasionale tugtiging van ’n liefdevolle God wat ons wil “wakker skud voor dit te laat is!” Ons weelderige, hard-drinkende, dwelm-gebruikende, ontugtige, owerspelige en perverse lewenstyle – indien daarmee onbepaald voortgegaan word – sal die liggame en verstande van ons kinders en kleinkinders vernietig.

Dit lyk dus asof God gesê het: “Genoeg!”
Ons het genoeg “vroegtydige waarskuwings” gehad – deur die skokkende gebeure van 11 September 2001, voortdurende terroriste-aanvalle, en die groeiende haat teen Amerika en Brittanje regoor die wêreld weens die oorlog teen Irak. Dit het alles ’n impak gehad, maar niks in vergelyking met wat ons nou ervaar nie. Die feitlikeineenstorting van die totale internasionale finansiële stelsel – met die vernaamse blaam hiervoor vierkantig geplaas op die Verenigde State – is bestem om ons vinnig na die finale scenario te bring wat ons Skepper duisende jare gelede voorspel het.

Lees net hierdie ontnugterende nuusberig: “Die regering van die Verenigde State is bereid om meer as $7.76 biljoen te voorsien, namens die Amerikaanse belastingbetaler, nadat dit $306 miljard van “Citigroup Inc.” se skuld gister gewaarborg het. Hierdie waarborge, waarvan die waarde die helfte bedra van alles wat in die nasie geproduseer is gedurende verlede jaar, is bedoel om die finansiële stelsel te red nadat die kredietmarkte 15 maande gelede vasgebrand het. Die ongehoorde waarborg van fondse sluit die $3.18 biljoen in wat alreeds deur finansiële instellings getap is in die grootste reaksie op ’n ekonomiese noodgeval sedert die “New Deal” van die 1930’s, volgens data wat deur Bloomberg ingesamel is. Die verbintenis verdwerg die plan wat deur die wetgewers goedgekeur is, die Departement van Finansies se $700 miljard ‘Troubled Asset Relief Program’. Die Federale Reserwe se uitlening verlede week was 1,900 keer meer as die weeklikse gemiddelde vir die drie jaar voor die krisis” (Bloomberg News, 24 November 2008).

Negentienhonderd keer meer as die vorige weeklikse gemiddelde! Hierdie werklik massiewe uitstorting van geld – hoofsaaklik “drukkersgeld” wat deur niks gerugsteun word nie – lê die grondslag vir ’n massiewe devaluasie van die Amerikaanse dollar, net soos wat met die Duitse mark gebeur het gedurende die Weimar Republiek. Binnekort, binne ’n enkele paar jaar, mag die dollar as “speelgeld” deur ander nasies beskou word. Dit sal die lewenstandaard van alle Amerikaners drasties verlaag, en ingevoerde produkte se pryse sal die hoogte in skiet. God is besig om ons te verootmoedig en ons “trotse mag [te] verbreek” (Levitikus 26:19), soos nog nooit tevore nie!

Soos ons baie keer al verduidelik het, het die Ewige God aan ons voorvaders gesê: “Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld. Vervloek sal wees jou mandjie en jou bakskottel ... Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak. Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees. En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie” (Deuteronomium 28:15-17, 43-45).

Inderdaad, ander nasies moet nou toenemend honderde miljarde dollars aan die Verenigde State “leen”. Dit gaan een of ander tyd stop. Krediteure gaan begin aandring op terugbetaling. Waarmee gaan Amerika hulle betaal? Die nasie sal hoofsaaklik bankrot wees! Op daardie stadium gaan Amerika se krediteure begin saamstaan in ’n verenigde poging om Amerika te breek. Hulle sal dan God se profesie ten uitvoer bring, dat die hedendaagse afstammelinge van die nasies van Israel, veral die seuns van Josef – Amerika en die nasies wat van Britse afkoms is – aangeval en verower gaan word en uiteindelik in nasionale slawerny geneem sal word. In ’n profesie wat geskryf islank na die aanvanklike (en op daardie tydstip, enigste) ballingskap van die Huis van Israel, het God voorspel: “En dit is die woorde wat die Here gespreek het oor Israel en Juda: Want so sê die Here: Ons het ’n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie! Vra tog, en kyk of ’n manspersoon baar? Waarom sien Ek elke man met sy hande op sy heupe soos een wat baar, en is alle aangesigte in bleekheid verander? Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word. En op dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie (Jeremia 30:4-8).

Indien u nog nie verstaan wat die Bybel openbaar aangaande die hedendaagse identiteite van die antieke stamme van Israel nie, skryf asseblief onmiddellik aan ons, bel ons, of gaan aanlyn na www.wvm.co.za en bestel ons gratis boekie: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? Hierdie insiggewende boekie, onderskraag deur besondere inligting uit die Bybel en uit die geskiedenis, gee bewyse van waar om die hedendaagse nasies van antieke profesieë te vind.

Wat gaan met die Verenigde State gebeur indien wêreldwye finansiële ontwrigting voortduur? Kyk wat een Russiese deskundige voorspel:

“’n Vooraanstaande Russiese politieke ontleder het gesê dat die ekonomiese beroering in die Verenigde State sy siening, wat hy lankal het, bevestig dat die land op pad is na ’n ineenstorting en dat dit sal verdeel in afsonderlike dele.

 

Professor Igor Panarin het in ’n onderhoud met die gerespekteerde dagblad Izvestia – wat Maandag gepubliseer is – gesê: ‘Die dollar word nie deur enigiets ondersteun nie. Die land se buitelandse skuld het soos ’n sneeustorting gegroei, alhoewel daar in die vroeë 1980’s geen skuld was nie. In 1998, toe ek my eerste voorspelling gemaak het, het dit $2 biljoen oorskry. Nou is dit meer as $11 biljoen. Dit is ’n piramide wat slegs kan ineenstort’.            

“Die koerant sê dat Panarin se vreeslike voorspellings vir die V.S. ekonomie, wat aanvanklik 10 jaar gelede tydens ’n konferensie in Australië gemaak is gedurende ’n tyd toe dit gelyk het of die ekonomie sterk staan, deur hierdie jaar se gebeure meer geloofwaardigheid gegee is.

“Toe hy gevra is wanneer die V.S. ekonomie ineen gaan stort, het Panarin gesê: ‘Dit is alreeds besig om ineen te stort. As gevolg van die finansiële krisis het drie van die grootste en oudste vyf banke op Wallstraat alreeds opgehou om te bestaan, en twee oorleef net-net. Hulle verliese is die grootste in die geskiedenis. Wat ons nou gaan sien, is ’n verandering in die beherende samestelling op ’n wêreldwye finansiële skaal: Amerika sal nie meer die wêreld se finansiële reguleerder wees nie’. ... Hy het dit selfs geopper dat ‘ons Alaska kan eis – dit was na alles, slegs op huurpag gegee’. Panarin, 60, is ’n professor by die Diplomatieke Akademie van die Russiese Departement van Buitelandse Sake. Hy het verskeie boeke oor inligtingsoorlogvoering geskryf” (Ria Novosti, 24 November 2008).

Geagte intekenaar, indien daar ooit ’n tyd was dat ons hier by die Wêreld van Môre u in die naam van Jesus Christus moet waarsku om u finansiële huis – en veral ugeestelike huis – in orde te kry, dan is dit nou! In ’n kragtige eindtydse profesie waarop ons almal tog moet ag slaan, waarsku Jesus Christus ons: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:31-36).

Mag God u insig gee. Mag God u die geloof en die moed gee om te handel volgens Sy Waarheid gedurende hierdie belangrike tyd in die geskiedenis van die mens.