Twee van die magtigste en invloedrykste nasies in die geskiedenis van die wêreld – Groot Brittanje en die Verenigde State van Amerika, steier op die rand van ekonomiese ineenstorting en nasionale ondergang. Hierdie onheilspellende toestande kan toegeskryf word aan die gebrek aan finansiële dissipline wat voortvloei uit sedelike verval. Terwyl baie mense vandag die idees van die wêreld se intellektueles absorbeer dat God nie bestaan nie en dat die Bybel niks meer as ’n versameling mites en fabels is nie, het antieke Bybelse profesieë lankal hierdie ontnugterende verwikkelinge voorspel wat vandag besig is om gestalte aan te neem – reg voor ons oë!

Snelle opgang na en dramatiese afname in beroemdheid

Die afgelope 250 jaar getuig van die merkwaardige gedaanteverwisselings van die Engelse en Amerikaanse nasies. Engeland, ’n klein eiland geleë aan die kant van die Europese vasteland, het ’n seemoondheid geword wat die seeroetes van die wêreld beheer het en het ’n ryk saamgestel wat die aardbol omgord. Londen het die finansiële hoofstad van die wêreld geword, en die Britse pond het een van die sterkste geldeenhede op hierdie planeet geword. Gedurende hierdie uitbreidende eeue was wat ook al Brits was, beskou as die beste! Ongeveer hierdie selfde tyd het die nedersetters van die oorspronklike dertien kolonies, tesame met duisende immigrante vanuit Europa, oor die Noord Amerikaanse vasteland versprei om die Verenigde State van Amerika te word – en uiteindelik die mees magtigste nasie wat die wêreld ooit gesien het. Die Amerikaanse dollar het opperheerskappy gevoer tussen wêreld se geldeenhede. Amerikaanse finansiële bronne het die einste nasies wat deur die geallieerde magte in die Tweede Wêreldoorlog verslaan is, weer help opbou, en die Amerikaanse kultuur het die wêreld deurtrek.

Gedurende die afgelope paar dekades het dit alles egter dramaties verander! Die Britse Ryk het verbrokkel, en die Koninklike Vloot is afgeskaal tot ’n klein fraksie van sy vorige grootte weens besnoeiings aan die begroting (The Times, 4 Januarie 2010). Vandag is die Britse pond, die Britse banke en die Britse ekonomie in die moeilikheid en waarnemers waarsku dit kan “Brittanje se mag op die internasionale verhoog verswak” (Daily Express, 8 Desember 2009). In die afgelope maande het vreemde nasies probeer om die Londense Aandelebeurs te koop, en die EU se nuwe Franse finansiële amptenaar is by magte om regulasies op die Stad van Londen te lê wat finansiële dienste uit Brittanje kan dryf (The Times, 2 Desember 2009).

Amerika het terselfdertyd die teiken van wrewel geword omdat hulle Irak binnegeval en die oorlog in Afganistan uitgebrei het. Buitelandse nasies blameer die inhalige buitensporighede en kortsigtige praktyke van die Amerikaanse finansiële instellings daarvoor dat die wêreld se ekonomiese stelsel byna ineengestort het. Oor die laaste 25 jaar het Amerika se status gedaal van die wêreld se grootste uitlener na die wêreld se grootste skuldenaarnasie. Verlede September was Chinese beleggers in besit van $789.9 miljard Amerikaanse skatkisnote, terwyl Japannese beleggers $751.5 miljard gehou het – wat hierdie twee nasies die grootste besitters van Amerikaanse skatkisnote maak, ver meer as Groot Brittanje wat die derde plek inneem met $249.3 miljard! Hierdie Amerikaanse skuld was aangegaan om oorloë in die Midde-Ooste en Sentraal-Asië te finansier, asook om vir die staat se gesondheidsorg te betaal en vir ander regeringsuitgawes wat die jaarlikse inkomstebelasting oorskry asook vir groot handelstekorte wat opgehoop word sodat Amerikaners bo hulle vermoëns kan leef – alles met die goedkeuring van lede van die Kongres en presidente wat tevrede was om geld van ander nasies te leen om die Amerikaanse ekonomie aan die gang te hou en stemme te koop om weer verkies te word!

Maak Alarm!

Die dag van rekenskap is egter aan die kom! China, wat Amerika se skuld gekoop het, het dit duidelik gemaak dat Amerika se roekelose spandabelrigheid nie kan voortgaan – ten koste van China – nie. China het ook begin om van dollars ontslae te raak en goud te koop. ’n Vorige Amerikaanse beampte van die Tesourie, Fred Bergsten, het gewaarsku dat die Amerikaanse skuld besig is om te groei tot onbeheerbare vlakke en dat die Amerikaanse ekonomie ineen kan stort as buitelandse beleggers hul van die dollar onttrek. Bergsten is van mening dat Amerika se lot “alreeds in die hande van sy buitelandse krediteure is” en dit sal Amerika se vermoë beperk om die ekonomiese en buitelandse beleid van sy eie keuse te volg (Foreign Affairs, Nov-Des 2009). Selfs meer ontnugterend is die skatting van Niall Ferguson, ’n Brits-gebore professor in ekonomie wat nou onderrig gee by Harvard Universiteit. Hy waarsku in die tydskrif Newsweek se uitgawe van 7 Desember 2009 dat “stygende skuld, stadige groei en hoë besteding rykevernietig – en Amerika kan volgende wees”. Hy gaan voort: “Dit is hoe ryke verval. Dit begin met ’n skuld ontploffing. Dit eindig met ’n onverbiddelike inkorting van die hulpmiddels wat beskikbaar is vir die Weermag, die Vloot en die Lugmag” – wat stadig en onherroeplik die vermoë van skuldenaar nasies beperk om mag op die wêreldverhoog te projekteer. Nogtans is dit wat besig is om vandag met Amerika en Brittanje te gebeur; andere sien hulle as nasies wat besig is om ten gronde te gaan! Waarom is dit egter besig om vandag met Amerika en Brittanje te gebeur?

Profesieë neem gestalte aan!

Dit lyk of min ekonome daarin belangstel om te erken dat die dekades van toenemende skuld ook getuig van verontrustende tekens van toenemende sedelike verval: Stygende egskeidings, toename in die gebruik van verdowingsmiddels, toenemende aanvaarding van homoseksuele gedrag en huwelike tussen lede van dieselfde seksuele geslag, ’n groter wordende gaping tussen die oormatige ryk en die spartelende armes en wetlike sanksies teen gebed in skole, die lees van die Bybel en die vertoning van die Tien Gebooie in openbare geboue. Baie politieke en selfs geestelike leiers “verbind nie die kolletjies” tussen dít wat aan die gebeur is in ons hedendaagse wêreldlike samelewing en die profetiese waarskuwings in die Bybel, wat toegespits is op die hedendaagse Israelitiese nasies nie. Die wyse Koning Salomo het lank gelede opgemerk: “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ’n slaaf van die man watuitleen” (Spreuke 22:7) – ’n kragtige beginsel wat Amerikaners en ander Israelitiese nasies blykbaar vergeet het.

Moses het selfs vroeër aan die twaalf stamme van die nasie van Israel gesê dat hulle ryklik geseën sal word indien hulle die gebooie van God onderhou, maar hy het ook gewaarsku dat hulle ernstige gevolge sal maai indien hulle nie aan hulle Skepper en Here gehoorsaam is nie (sien Levitikus 26; Deuteronomium 28). Die seëninge vir gehoorsaamheid sluit in: “... jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie” (Deuteronomium 28:12). Die vloeke vir ongehoorsaamheid sou nogtans insluit: “... in jou weë sal jy geen voorspoed hê nie ... Die vrugte van jou land en al jou werk sal ’n volk eet wat jy nie ken nie ... Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim ... Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees ... Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die Here teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ’n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het ...” (Deuteronomium 28:29-48). ’n Groeiende koor stemme waarsku dat hierdie vloeke vandag besig is om die losbandige Israelitiese nasies in te haal. Ander Hebreeuse profete het ook herhaaldelik gewaarsku dat die toekomstige ondergang van God se uitverkore Israelitiese nasies “skielik” en onverwags sal kom (Jesaja 9:13, 29:5, 30:13; Jeremia 6:26, 15:8). Hedendaagse finansiële ontleders besef dat dit kan gebeur indien die nasies wat aan Amerika leen besluit om van hul dollars ontslae te raak en hul lenings op te roep. Die profeet Habakuk se waarskuwing aan die antieke Babiloniërs: “Die tyd kom vinnig nader … dat skuldeisers vir wie jy sidder, skielik voor jou sal staan en jou sal kaalstroop” (Habakuk 2:7, NV.) – kan ook van toepassing wees op skuldbelaaide nasies soos Amerika en haar Israelitiese neefs. Profetiese Skrifgedeeltes bevat ’n ernstige boodskap: Skuld en ongehoorsaamheid lei tot die ondergang van nasies!