COVID-19 het virusse op ’n daaglikse basis voorbladnuus gemaak, maar hoeveel van ons verstaan wat virusse eintlik is? Is ’n virus lewendig of nie? Hoe werk virusse? Hoe pas dit in by God se plan van die skepping?

Alhoewel dit duidelik is dat die Almagtige nog nie elke detail oor Sy wonderlike skepping aan ons geopenbaar het nie (vgl. Spreuke 25:2), kan ons nogtans heelwat verstaan van hierdie mikroskopiese bedreigings wat sulke verskriklike nuus opgelewer het. Terwyl die besonderhede van die virus se oorsprong verborge is, is hulle huidige rol in ons wêreld maar net te pynlik sigbaar. Tog kan dit moontlik op iets meer dui.

Kom ons beskou dit van naderby.

Wat is ’n virus?

Is virusse “lewendig”? Dit hang af van hoe ons “lewe” definieer. Virusse voldoen nie in die algemeen aan al die kriteria wat die bioloë gebruik om te bepaal of iets lewendig is nie, hoewel díe punt in sommige kringe betwis word.

Bakterieë – mikroskopiese, eensellige organismes – beskik oor duidelike eienskappe wat met lewende dinge verband hou. Die virus kan byvoorbeeld voedselbronne ten volle verwerk vir energie en kan dit selfs voortplant. Virusse kan egter nie een van hierdie take volledig uitvoer nie en benodig die werking van ’n gasheer-sel om energie te verskaf om die masjinerie te laat werk om meer virusse te bou.

Dit is met die uitvoering van hierdie tweede taak – om ons selle te gebruik om dit self te reproduseer – dat virusse vir ons so ’n bron van ellende word.

Op ’n manier is die sukses van virusse ’n huldeblyk aan die vernuftige ontwerp van lewe se “bedryfstelsel” en die krag van die geprogrammeerde taal wat deur die genetiese kode van lewe verteenwoordig word. Net soos menslike rekenaartale – byvoorbeeld C++ of Java – gebruik kan word om baie verskillende take te verrig, so kan die genetiese kode wat uitgedruk word in DNA- en RNA-molekules ook baie take verrig. (Sien “Die wonder van DNA” in ons Mei-Junie 2014 uitgawe vir meer besonderhede.) Baie soos hulle rekenaar-naamgenote, voer virusse nuwe stukkies kodes [bits] in wat ’n sel “herprogrammeer” om ’n virus-vervaardigingsfabriek te word.

Die basiese struktuur van die meeste virusse is heel eenvoudig: Een of ander soort-van proteïenomhulsel, wat ’n kapsied genoem word en stringe DNA of RNA bevat wat binne in die kapsied is. Alhoewel die struktuur eenvoudig mag wees, is daar ’n groot verskeidenheid in die viruswêreld. Sommige virusse is eenvoudig, soos die koronavirus wat COVID-19 veroorsaak – die struktuur daarvan is bloot ’n sfeer wat omring is deur proteïen-“uitsteeksels” – waar die virus sy naam vandaan kry (corona is Latyns vir “kroon”). Die “uitsteeksels” heg vas aan reseptore op sekere selle in ons liggaam, wat die virus toegang gee tot die binnekant van daardie selle.

Virusse kan ook ’n meer ingewikkelde struktuur hê. Byvoorbeeld bakteriofage – virusse wat bakterieë besmet – kan maklik aangesien word vir spinnekoppe op ’n uitheemse planeet, met “spykerbeentjies” en ’n proteïen-omhulsel wat lyk soos ’n stingel wat ’n groot “kop” regop hou.

Ongeag die struktuur, is die funksie van elke virus in wese dieselfde: Verkry toegang tot die binnewerking van die gasheer-sel en voer nuwe programmering in om meer virusse te vervaardig.

Daardie nuwe programmering sê aan die sel se masjinerie om meedoënloos te begin om kopieë van die virus te maak – ’n proses wat die sel dikwels laat bars en nuwe kopieë van die virus vrystel, gereed om ekstra selle te besmet. Voor hy doodgaan kan sommige virusse een enkele sel gebruik om tienduisende nuwe virusse te vervaardig.

Ons immuunstelsels is ontwerp om hierdie indringers te beveg deur die virusse direk vas te vang en te vernietig of deur die selle wat deur die virusse “opgekommandeer is”, te vernietig. (Meer inligting oor ons merkwaardige immuunstelsel kan gelees word in ons Maart-April 2019 artikel, Oorlogvoering onder u vel wat aanlyn beskikbaar is op wvm.co.za.) Tog kan die stryd tussen virusse en ons immuunstelsel soms baie sekondêre skade aanrig en in sommige gevalle kan die skadelikste gevolge van ’n infeksie kom uit die newe-effekte van die geveg.

Waar kom die virus vandaan?

Nuwe soorte virusse kan op baie maniere ontstaan. Wanneer ’n gasheer met meer as een soort virus besmet is, kan die virusse se gene “meng en pas” om ’n splinternuwe virus te skep. Veral die liggame van varke is van die optimale biologiese omgewings vir virus-vermenging en die stam van die H1N1 “Varkgriep” wat in 2009 ’n pandemie veroorsaak het, is vermoedelik veroorsaak deur die uitruiling van menslike, voël- en varkvirusse.

Dit is hoe virusse muteer [verander]. Daar is egter ’n dieper raaisel: Waar het virusse oorspronklik vandaan gekom? Hierdie vraag gee wetenskaplikes hoofbrekens. Virusse bied ’n uitdaging vir die meeste bioloë se pogings om hulle oorsprong binne die neo-Darwinistiese evolusieteorie maklik of gerieflik te verklaar. Sommige van hulle beskou die eenvoud van virusse as ’n bewys dat virusse vóór selle moes ontwikkel het, terwyl ander bioloë op die probleem van die “hoender of die eier” wys. Dit is die volgende: Indien virusse nie kan voortplant sonder selle nie, hoe kon dit bestaan het voordat selle bestaan het?

Trouens, selfs vir diegene wat erken dat die oorsprong van ons wêreld in ’n almagtige Skepper gevind word, bly virusse ’n raaisel. Dit sou onredelik wees om te glo dat God virusse sou skep net om skade aan te rig – Hy het immers die skepping “baie goed” verklaar voordat Hy van Sy kreatiewe dade gerus het (Génesis 1:31). Daar is egter verskeie verklarings wat ooreenstem met God se Woord. Virusse se vermoë is byvoorbeeld om genetiese materiaal in te spuit, opsigself nie skadelik nie. Om die waarheid te sê, baie mediese navorsers ondersoek virusse as hulpmiddels om nuttige genetiese inligting aan pasiënte toe te dien wat geen-terapie benodig. Dit is moontlik dat virusagtige meganismes en strukture oorspronklik ’n rol van instandhouding of herstel gespeel het in die ontwerp van lewe. Tog is dit slegs spekulasie. Baie van wat ons nie van die wêreld weet nie, sal eendag geopenbaar word, maar nou ken ons dit net “ten dele” (1 Korinthiërs 13:12).

Vervloek, maar nie vir ewig nie!

Ongeag watter goeie doel virusse kon gehad het in die wonderlike natuurlike orde wat God geskep het, het die vloek wat ons eerste ouers met hulle sonde oor die wêreld gebring het, ’n invloed op die hele skepping gehad. Soos God aan Adam en Eva verduidelik het, sou die sondige wêreld nie vir hulle aangenaam wees nie. Die grond sou nie net vir hulle kos oplewer om te eet nie, maar sou ook “dorings en distels” voortbring (Génesis 3:18), aangesien dit ’n vyandige omgewing geword het wat ly onder “die slawerny van die verganklikheid” (Romeine 8:20-22) – ’n wêreld, volgens die beroemde woorde [’n gedig] van Alfred, Lord Tennyson, “red in tooth and claw”.

Dit maak nie saak watter voordelige doeleindes virusse ookal gedien het in die natuurlike orde nie, lyk dit nie of hulle langer daardie voordelige doel dien nie – maar teen ’n baie hoё prys. Die wêreld sal nie altyd gevul wees met pyn en lyding nie. God sê vir ons deur die antieke woorde van die profeet Jesaja dat ’n beter tyd sal aanbreek. Roofdiere en prooi sal nie meer in stryd met mekaar wees nie, maar sal vreedsaam saam wei en die skepping self sal verander om die vrede te ervaar wat nou buite bereik bly (Jesaja 11:6-8). Oor hierdie tyd verklaar die Ewige: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (vers 9).

Die dag sal aanbreek wanneer aansteeklike vlae van virusdraende siektes die stryd sal verloor teen die verspreiding van iets baie meer kragtigs; genesing en hoop vanaf die troon van God en van die Lam (Openbaring 22:1-3). Mag God daardie dag bespoedig!