Vraag: Ek het pas ontdek dat die weeklikse Sabbat, volgens die Bybel, op Vrydag teen sononder begin en Saterdag teen sononder eindig. Wat behoort ek te doen om “dit heilig te hou” soos ons in Exodus 20:8 beveel word?
 

Antwoord: Sommige mense beskou verkeerdelik die Sabbat as ’n dag waarop God ons belas deur ons te verbied om te doen wat ons wil. Dit is eintlik ’n tyd wat Hy vir ons beswil geskep het, om te kan ontlaai van die week se spanning en ons die geleentheid te bied om ons aandag te vestig op die Een wat daardie dag gemaak het en dit vir Sy heilige doel afgesonder het. “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Markus 2:27-28).

Waarom onderhou ons die Sabbat? Ons doen dit om een van die Tien Gebooie wat God gegee het, te gehoorsaam. Jesus Christus het dit ook Sélf onderhou en Sy volgelinge geleer om dit te onderhou (Matthéüs 19:17). Die vierde Gebod lui:

“Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Exodus 20:8-11).

Deur elke Sabbat heilig te hou, staak ons ons gewone werk en aktiwiteite wat ons aandag aflei van God en Sy plan vir ons. Dit gee vir ons genoeg tyd om die Bybel te lees, te bid en te mediteer oor die dinge van God. Op die Sabbat behoort ons daarop te fokus om God te aanbid en van Hom te leer. Diegene wat binne ’n redelik bereikbare afstand van ’n groep ware Christen-gelowiges woon, behoort in aanbidding en gemeenskap saam te kom, tensy dit vanweë hulle gesondheid, onverstandig of onmoontlik is. “[E]n laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag [van Christus se Wederkoms] sien nader kom” (Hebreërs 10:24-25).

Jesus verduidelik: “So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen” (Matthéüs 12:12). Om op die Sabbat iemand wat in lewensgevaar is te red, is nie ’n oortreding van God se Wet nie; Jesus het siekes op die Sabbat genees en as gevolg daarvan het die Fariseërs saamgesweer om Hom dood te maak (verse 13-14). Christene moet hulleself egter ondersoek om seker te wees dat hulle nie die opdrag van Jesus Christus misbruik nie. Dit is gepas vir ’n Christen om op die Sabbat ’n lewe te red maar dit is nie gepas om op die Sabbat geld te verdien deur gewone sake te doen met die verskoning om mense “te help” nie.

Wanneer ons God se ware sewendedag Sabbat behoorlik onderhou, seën Hy ons ryklik.

“As jy jou voet terughou van die sabbat – om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ’n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die Here het dit gespreek” (Jesaja 58:13-14).

God se Sabbatte is ’n tyd van vreugde en van fisiese en geestelike verkwikking. “Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof – ’n feesvierende menigte!” (Psalm 42:5).

Om meer te wete te kom oor die betekenis en onderhouding van die sewendedag Sabbat, kan u gerus gratis eksemplare van ons boekies, Watter Dag is die Christelike Sabbat? en Die Heilige Dae – God se meestersplan, aanvra of dit aanlyn lees by wvm.co.za