Sal die koms van die nuwe eeu wêreldwye kernvernietiging bring of sal dit ’n era van blywende vrede inlei? Sal die geprofeteerde “Oorlog van Armageddon” die planeet oorweldig? Sal die mensdom oorleef? Wat sê die Bybel? Kom Armageddon werklik?

Gedurende die “Koue Oorlog” van die 1950’s het die bedreiging van kernoorlog soos ’n wolk oor die Verenigde Stte, sowel as die Sowjet-Unie gehang en inwoners van albei lande het geskarrel om bomskuilings te bou. In 1962 het die Kubaanse Missielkrisis ’n vreesbevange wêreld tot op die rand van kernuitwissing gebring. Deur die 1970’s en 1980’s het Sjinese kerntoetse aan teenstandernasies ’n nuwe opkomende geopolitiese supermag aangedui.

Vir die grootste gedeelte van die afgelope 50 jaar het die mensdom met die bedreiging van skielike en gewelddadige vernietiging geleef. Gedurende die afgelope dekade, sedert die ineenstorting van die Sowjet-Unie, het baie mense minder bang geword vir kernkatastrofes, maar is ons werklik veilig? Selfs vandag kan Rusland en die Verenigde State kernmissiele met ’n 15 minute kennisgewing lanseer. Geheimsinnige lande gaan voort om atoomwapens te ontwikkel en die bedreiging van kernterrorisme neem net toe soos wat die tegnologie dit moontlik maak om al hoe kleiner toestelle te bou en deur die groeiende aantal wetenskaplikes met die kennis om dit te vervaardig.

Die verskrikking het al selfs na die buitenste ruim beweeg. Volgens Generaal Joseph Ashy, hoofbevelvoerder van die Verenigde State se Ruimtekommandement: “Ons gaan vanuit die ruimte veg en ons gaan in die ruimte in veg ... Dit is waarom die V.S.A. programme ontwikkel het in gerigte energie en tref-om-te-dood meganismes ... Ons sal eendag vanuit die ruimte aardse teikens betrek - skepe, vliegtuie en grondteikens” (aangehaal uit “Waging War in Space,” The Nation, 27 Desember 1999).

Met hierdie gevare steeds ’n ontsaglike werklikheid, is daar nog ’n wêreldoorlog om die draai? Bybelprofesie gee vir ons die antwoord. Die meeste Bybelstudente het gehoor van die groot eindtydgebeurtenis wat tot ’n punt kom en bekend is as die “Oorlog van Armageddon”, maar wat is hierdie oorlog en hoe sal dit u en u gesin raak?

Die boek van Openbaring - die laaste boek in die Bybel - onthul die ligging vir die vergaderplek van die geskiedenis se grootste oorlog: “En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Op. 16:16). Waarom en hoekom sal die leërmagte daar versamel? Net twee verse vroeër lees ons: “Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Op. 16:14).

Let hierop! Die eintlike stryd word nie die stryd van Armageddon genoem nie. Dit word die “stryd van die groot dag van God die Almagtige” genoem, maar oorlogvoorbereidings begin by Armageddon. Wat is hierdie plek? Die woord Armageddon is ’n transkripsie van die oorspronklike Hebreeus har megiddo wat beteken die “heuwel van Megiddo” of die “berg van Megiddo”.

Megiddo lê ongeveer 55 myl noord van Jerusalem in Israel. In antieke tye het dit die hoofroete tussen Egipte en Damaskus bewaak. Dit kyk ook uit oor die grootste vlakte in Israel, die Jisreëlvallei of die Esdraelonvlakte. Die Ou Testament spreek van baie groot strydgevegte wat hier plaasgevind het en in die Eerste Wêreldoorlog het die Britse Generaal Allenby, Turkse militêre magte hier verslaan, in wat bekend geraak het as die “Slag van Megiddo”.

Met al die historiese veldslae wat by Megiddo plaasgevind het, het die woord “Armageddon” in gebruik geraak om enige grootskaalse, vernietigende en beslissende stryd te simboliseer. Die mensdom het verskeie verskriklike massavernietigswapens ontwerp. Sal hierdie wapens ons Armageddon meebring?

Die kern-era begin

Die mensdom voer al vir duisende jare oorlog. Dit is egter minder as sestig jaar gelede dat ’n nuwe wapen van ongekende vermoëns die eerste maal losgelaat is. Die Verenigde State het op 4 en 6 Augustus 1945 atoombomme op die stede van Hiroshima en Nagasaki in Japan gegooi. ’n Nuwe era van massavernietiging het begin.

Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het Generaal Douglas MacArthur, Opperbevelvoerder van die Geallieërde Magte, Japan se onvoorwaardelike oorgawe aanvaar. Aanboord die oorlogskip USS Missouri, het Generaal MacArthur die keuse en die gevaar wat die mensdom in hierdie era, in die gesig staar, opgesom:

Militêre alliansies, mags-ewewigte, verbondsnasies, het almal om die beurt gefaal en oorlogvoering as die enigste uitweg gelaat. Die uiterste vernietiging van oorlog skakel nou hierdie alternatiewe uit. Ons het ons laaste kans gehad en indien ons nie ’n groter en meer regverdige stelsel ontwerp nie, is ons Armageddon voor die deur. Die probleem is basies teologies en behels ’n geestelike oplewing en verbetering van die menslike karakter, wat met ons byna ongeëwenaarde vordering in wetenskap, kuns, literatuur en alle materiële- en kultuurontwikkelings van die afgelope tweeduisend jaar sal sinkroniseer. Dit moet uit die gees wees indien ons die vlees wil red.

Mense sal voortgaan om ’n weg na vrede te soek, maar sonder om erkenning te gee aan die Skeppergod en Sy opperheerskappy oor die aarde, sal nasies uiteindelik faal. Die apostel Paulus het bykans 2,000 jaar gelede van die mensdom se gewelddadige en teen-God neigings geskryf: “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Rom. 3:15-18).

Is daar enige huidige gevaar van kernoorlog? Miskien het internasionale verdrae vrese vir ’n Koue Oorlog besweer; sedert 1968 het meer as 180 volke die verdrag teen die vermeerdering van kernwapens onderteken, maar verskeie kernvolke het nie die verdrag onderteken nie. Baie wat geteken het, word daarvan verdink dat hulle die bepalinge daarvan verbreek. Terroristegroepe sit ook hul aktiwiteite voort en steur hulle nie aan internasionale wetgewing nie.

Bykomend tot kommer oor kernwapens, is chemiese en biologiese wapens ’n groeiende bedreiging en ’n nuwe bedreiging is op die horison. Tesame met die gevreesde kern-, biologiese- en chemiese- (KBC) massavernietigingswapens, hou ’n nuwe kategorie - genetika, nanotegnologie en robotika (GNR) - nuwe gruwelbeloftes in vir die 21ste eeu.

In sy skrikwekkende skrywe “Why the future doesn’t need us [Waarom die toekoms ons nie nodig het nie]” (Wired Magazine, April 2000, bll. 238-262), bepeins Bill Joy, stigter van Sun Microsystems en ’n vroeë pionier van die minirekenaar-era, die effek van die nuwe GNR-tegnologie op die vegtende mensdom: “Ek dink nie dit is ’n oordrywing om te sê dat ons op die rand staan van die verdere vervolmaking van uiterste boosheid nie; ’n boosheid waarvan die moontlikheid selfs verder strek as die massavernietigingswapens toevertrou aan die nasie-state, tot ’n verrassende en verskriklike bemagtiging van ekstremistiese individue”.

Joy staan nie alleen in hierdie nugtere waardebepaling nie. Joernalis Gideon Rose bied die volgende ontleding: “Die werklike moeilike probleem sal ’n nuwe soort vermeerdering wees wat die verkryging van chemiese-, biologiese- en kuberwapens deur sub-nasionale optreders soos terroristegroepe, kultusse of woedende individue behels. Hierdie wapens is maklik om te maak, moeilik om op te spoor en moeilik om teen te beskerm. Dit beteken dat selfs al spandeer die Verenigde State tientalle biljoene dollars op ’n stelsel om Noord-Koreaanse missiele af te skiet, sal ons nog steeds te make hê met die ewe groot probleem om oordeelsdagkulte of toekomstige “Unabombers”, bewapen met dodelike virusse, in hul spore te stuit” (Will Everyone Have the Bomb?, Time Magazine, 22 Mei 2000, bl. 103).

Te midde van al ons wetenskaplike vooruitgang in wapenkunde, het die mens se onmenslikheid teenoor die mens nie opgehou nie. Van Kosovo tot Kasjmir, van Oos-Timor tot Tsjetsjnië, duur oorloë en slagtings voort. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het wreedhede teen mense en volkere meedoënloos voortgesleep. Volgens Newsweek: “Die Volksmoordkonvensie het ‘dade wat gepleeg word met die doel om nasionale, etniese, rasse- of godsdiensgroepe gedeeltelik of algeheel te vernietig’, onwettig verklaar. Na-oorlogse wreedhede [sluit in]: Bosnië: 300,000 dood, 2 miljoen ontwortel; Kambodja: 1 miljoen dood, 500,000 ontwortel; Ruanda: 1 miljoen dood, 3,5 miljoen ontwortel”.

In die lig van hierdie boosheid, kan ons sien waarom oordeel oor die aarde voltrek moet word. Daar is egter ook goeie nuus by die slegte. Jesus Christus, die grootste nuusvoorspeller en profeet in die hele menslike geskiedenis, het vir ons gesê dat die wreedhede sal eindig: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mat. 24:14).

Jesus het ook geprofeteer oor die gevaarlike tye waarin ons leef: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mat. 24:21-22).

Jesus het nie gepraat van geestelike redding nie, Hy het gepraat van die voorspelling van menslike uitwissing - van wêrelduitwissing - die dood van alle lewe op die planeet aarde! Hierdie gevaar word nie slegs deur Bybelstudente erken nie, maar ook deur gerespekteerde wetenskaplikes. Die Bulletin of the Atomic Scientists monitor die gevare verbonde daaraan om in hierdie kerntydperk te leef en druk die gevaar uit met die “Oordeelsdaghorlosie”. Hoe nader die wysers aan middernag staan, hoe nader reken die wetenskaplikes is die mensdom aan kernvernietiging. Op 11 Junie 1998 het die Bulletin die minuutwyser van die horlosie aangeskuif na nege minute voor middernag waar dit tot vandag staan - ’n sprong van 5 minute met die aanduiding dat Indië en Pakistan hulle aangesluit het by die kernklub. Die Bulletin het dit bestempel as ’n “mislukking van wêrelddiplomasie in die kernsfeer”.

Die Bulletin het ook hierdie ontnugterende verslag gebied: “Tussen hulle het Rusland en die Verenigde State steeds meer as 30,000 kernwapens - strategies en takties - in verskeie toestande van gereedheid. Nege jaar nà die val van die Berlynse muur, het Rusland en die Verenigde State gesamentlik sowat 7,000 plofkoppe gereed om afgevuur te word met minder as 15 minute se kennisgewing. Die mensdom, aan homself oorgelaat, het die gereedskap om homself met min waarskuwing uit te wis. Sal ons ons eie vernietiging meebring? Sal Armageddon ’n rol speel in die mensdom se ondergang?

Miskien sal ons nooit weet hoe naby ons gekom het aan die foute wat ’n kernoorlogsbrand kon voorafgaan nie. Die Bulletin herinner ons daaraan dat minstens agt nasies vandag kernwapenkapasiteit het. Hoe sou dit vir u stad wees om die teiken te wees van ’n een megaton kernbom? ’n Megaton is die ekwivalent van een miljoen ton TNT. ’n Een megaton kernbom sal vyf tot tien keer meer plofkrag hê as die verskrikkende atoombomme wat oor Hiroshima en Nagasaki ontplof het! Ná die ontploffing se skokgolf, hitte-uitstraling en intense vrystelling van X-strale, ontlok dit kragtige vuurstorms in sy volgstroom.

Hoeveel mense sou gedood word deur slegs een so ’n bom? Dr. Alan E. Phillips beskryf dit soos volg: “Die beraming is dat vir ’n stad van een of twee miljoen om getref te word deur ’n een megatonbom, ongeveer een derde onmiddelik sal sterf of dodelik beseer sal word en die res sal lig of glad nie beseer word nie. Die aantal beseerdes, indien hulle in die hospitale regoor Noord-Amerika ingedeel kan word, sal ongeveer een derde van die aantal beddens beset en natuurlik kan geen hospitaal so ’n invloei van dringende gevalle binne ’n paar dae hanteer nie” (Position Paper, Doctors for Global Survival, Kanada, Oktober 1995).

Armageddon in profesie

Soos bo genoem, is Armageddon die vergaderplek vir die hoogtepuntstryd van die Groot Dag van die Almagtige God! Reuse leërmagte sal in die Vallei van Megiddo byeenkom om die finale oorlogsbrand op planeet aarde te begin. Waar pas Armageddon in die panorama van profesie in? Die apostel Johannes het die bekende vier perderuiters van die Openbaring beskryf. Hulle simboliseer, in volgorde, valse Christusse en valse gelowe, oorloë en die vernietigende effek daarvan, hongersnode wat gewoonlik volg op oorloë asook peste en siektes, wat na hongersnood volg.

Kyk wat sê die Bybel oor die verskriklike vernietiging wat die vier perderuiters bring: “En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Op. 6:8).

Selfs die volksmoord wat ons aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog gesien het, sal onvergelykbaar wees met die dood wat oor die aarde sal kom. ’n Kwart van alle mense op aarde sal sterf, terwyl oorlog, hongersnood en siektes oor die planeet sal uitbrei.

Afgesien van die Bybel, sien enigiemand in ons moderne era die moontlikheid van sulke vernietiging? Inderdaad, ja. “My eie grootste kommer oor genetiese manipulasie is ... dat dit die mag gee - hetsy militêr, per abuis of in ’n doelbewuste terroristedaad - om ’n ‘Wit Plaag’ te skep” (Joy, bl. 249). Moderne wetenskaplikes weet dat hierdie gruwels net anderkant die bult mag lê!

Ten spyte van sy inspeksies in Irak, het die Verenigde Nasies daarin misluk om al daardie land se massavernietigingswapens te vernietig. Die Verenigde State se Weermagsekretaris William Cohen het in November 1998 gesê dat Irak genoeg van die dodelike biologiese wapen VX geproduseer het om almal op aarde te vernietig. Gedurende ’n inligtingsessie aan die Departement van Verdediging het hy gesê: “oorspronklik het hulle aangedui dat hulle slegs ’n klein hoeveelheid VX het. Een druppel op jou vinger sal jou binne enkele oomblikke doodmaak. Nou glo die Verenigde Nasies dat Saddam [Hussein] soveel as 200 ton VX geproduseer het en dit is natuurlik teoreties genoeg om elke man, vrou en kind op die aarde dood te maak”.

Ja, ons staar die gevaar van menslike uitwissing in die gesig. Die vierde seël van Openbaring - of die vierde perderuiter van Openbaring - sal die dood van minstens een en ’n half biljoen mans, vroue en kinders tot gevolg hê.

Die vyfde seël, waarvan ons in Openbaring 6:9 lees, onthul ’n marteltydperk van Christene gedurende die Verdrukkingstydperk van ongeveer twee-en-’n-half jaar. Dan lees ons van die sesde seël wat die Dag van die Here inlei, die tyd van God se woede en oordeel oor die nasies. Daar word na die sesde seël verwys as die hemelse tekens: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Op. 6:12-14).

God verseël dan Sy dienaars om hulle te beskerm deur die Dag van die Here (Openbaring 7), hierdie jaar van oordeel oor die nasies. Volgende open Christus die sewende seël van Openbaring, wat bestaan uit sewe “trompetplae”. Die eerste vier sluit groot ekologiese omwenteling en vernietiging in waarvan ons in hoofstuk 8 lees. Die apostel Johannes beskryf dan in eerste-eeuse taal die moderne oorlogvoering wat hy in sy visioen sien: “En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense. En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus. En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog. En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen. En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion” (Op. 9:7-11).

Johannes beskryf die vroeë stadia van die Derde Wêreldoorlog. Apóllion en Abáddon beteken “vernietiger”. Die mag agter hierdie militêre mag is ’n geesteswese, elders beskryf as die slang, Satan die Duiwel, die groot vernietiger.

Die sesde engel blaas ’n trompet wat ’n teenaanval deur ’n massiewe Oosterse leër inlei. Ons het alreeds gesien dat die bleek perderuiter, die vierde van Openbaring, ’n kwart van menselewens sal vernietig. Nou vind ons selfs méér dood op ’n globale skaal: “En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. [Hierdie is beskrywings soortgelyk aan kernontploffings]. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (Op. 9:16-18).

Een derde van die mensdom word vernietig! Na die vorige verlies van ongeveer 1,5 biljoen mense, sien ons nou minstens nog 1,5 biljoen sterf! Die apostel Johannes gaan voort met sy beskrywing: “Want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan. En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie” (Op. 9:19-21).

God sal die verdoemde mensdom red

God sal tussenbeide tree om die mensdom van totale uitwissing te red. Die sewende trompet sal weerklink en ’n nuwe wêreldregering aankondig - ’n nuwe wêreldorde onder die Koning van konings, Jesus Christus: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15).

Hierdie is die goeie nuus, die evangelie wat hierdie armsalige wêreld so desperaat nodig het. Verbasend genoeg sal die nasies egter steeds teen die Oorwinnende Koning van die Hemele se leërmagte wil veg! In die sestiende hoofstuk van Openbaring, gooi die sesde engel simbolies sy skaal uit vir die laaste fase van die Derde Wêreldoorlog (Op. 16:12-14).

Satan se demone - gevalle engele - vergader daardie leërmagte wat op die punt was om mekaar en alle lewe op aarde uit te wis. Hierdie opposisiemagte staan nou saam om teen Christus te veg met Sy wederkoms. Hulle vergader by Megiddo maar beweeg suidwaarts na Jerusalem om daar teen Christus te veg. Lees in Joël 3:1-2: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou ...”

Die Vallei van Jehosafat lê tussen die Olyfberg en die stad Jerusalem. Dit is ook bekend as die Kidronvallei wat ’n ent suidwaarts uitstrek. Ja, die stryd van die Groot Dag van die Almagtige God sal by Jerusalem plaasvind. Jehosafat beteken “Oordeel van die Ewige God”. God sal die nasies in hierdie hoogtepuntstryd oordeel.

Die Europese supermag wat in Openbaring “die Dier” genoem word, sal ook op dié tyd geoordeel en gestraf word. Die aarde se leërmagte sal met Sy koms teen Christus probeer veg: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).

Die goeie nuus is dat die wêreld nie totaal vernietig sal word in ’n kernslagting nie. God sal die nasies oordeel, insluitend ons Westerse nasies wat geveinsd geraak het - wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. (2 Tim. 3:5). Ons moet individueel geestelik wakker en gereed wees. Soos Jesus sê : “Kyk, Ek kom soos ’n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie” (Op. 16:15).

Ons moet almal uitsien na Christus se terugkeer na hierdie aarde. Dit is nou die tyd om geestelik voor te berei - om ons te bekeer en ons lewens te verander! Soek God in gebed. Lees die Bybel en sien uit na ’n wêreld onder die Vredevors, Jesus Christus, wanneer alle nasies sal leer om volgens die Bybel te leef , volgens die wet van God, die regering van God en die liefde van God.