Die inval in Irak het skokgolwe veroorsaak wat die geallieerde Westerse demokrasieë beide geskok en verbrokkel het. Binne ’n kwessie van weke het bondgenote van die Verenigde State en Brittanje hulle teenstanders geword, namate gemoedelikheid gekwyn en vyandigheid tot uitbarsting gekom het. Feitlik oornag het ’n diep kloof die Atlantiese bondgenootskap in twee geskeur wat Amerika, die Britse afstammelinge en ’n paar ander lande aan die een kant en ’n groot gedeelte van “Ou Europa” aan die ander kant gelaat het. Dit was ’n verdeling wat byna niemand verwag het, wou hê of nodig gehad het nie. Dit het kwade gevoelens en ’n diepe gevoel van verraad laat opwel. Terwyl ontleders bedink waarom dit gebeur het en wat voorlê, verduidelik die Bybel wat hierdie verrassende ontwikkelings aandryf. Jare gelede het God voorspel dat dit sou gebeur. Ons is besig om te sien hoe profesie tot vervulling kom!
Die openingstoneel in hierdie drama was toe België, Frankryk en Duitsland begin het om die Amerikaansgeleide inval in Irak teen te staan en daarna NAVO se militêre bystand aan Turkye te verhinder. Dit is opgevolg deur ferm opposisie in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad teen enige resolusie wat die gebruik van militêre mag om Irak te ontwapen sou magtig. Rusland en China het gou hul stemme gevoeg by die groeiende koor teen die Amerikaansgeleide poging. Die opponerende standpunte het verhard toe die inval begin sonder die VN se ondersteuning en ten spyte van vasberade Europese teenstand. Die meesterskuif het gekom toe België, Frankryk en Duitsland ’n spitsberaad in Brussels aankondig om nouer bande tussen hul gewapende magte te smee as teenwig vir die VSA en Brittanje op die wêreldtoneel. Brittanje was nie na die spitsberaad genooi nie.
Die VSA en verskeie van sy bondgenote het duisende lewens opgeoffer om Frankryk en België te bevry gedurende die Tweede Wêreldoorlog, aansienlike oorlogstydse ekonomiese militêre hulp verleen aan die Sowjet-Unie en na die oorlog ontelbare miljoene dollars geskenk om Duitsland te help herbou. Hierdie vrygewige nasies vind dit nou ongelooflik dat die Europeërs hul weldoeners openlik teenstaan en ondermyn in hulle poging om ’n bewind te verwyder wat selfs die Verenigde Nasies erken gevaarlik en onderdrukkend is. Woedende Amerikaanse leiers voel verraai deur hulle bondgenote wat skynbaar vergeet het van die hulp wat hulle ontvang het. Om nog verder sout in die wonde te vryf praat België, Frankryk en Duitsland openlik oor ’n kern van Europese nasies wat voortgaan om ’n militêre mag daar te stel wat met die VS en Brittanje sal meeding – nasies wat Europa gedurende die Koue Oorlog beskerm het.
Die profesieë
Hierdie skielike en dramatiese veranderings in die Westerse Bondgenootskap het baie ervare waarnemers verras en verbaas, tog het die Bybel voorspel dat hierdie scenario hom sou afspeel. Die sleutel om eindtydse profesieë te verstaan is om te weet wie vandag die moderne Israelitiese nasies is – die afstammelinge van die Bybelse aartsvader, Jakob. Die Israelitiese nasies sluit nie net die nasie van Israel in nie, maar ook die VSA, die ander nasies van Britse afkoms en verskeie nasies in noordwes Europa – baie van die einste nasies wat Europa in die verlede ontset het en deel gevorm het van die Amerikaansgeleide bondgenootskap teen Saddam Hussein in Irak.
Lank gelede het die profeet Jeremia ’n toekomstige tyd van verskriklike beproewings beskryf, “’n tyd van benoudheid vir Jakob”, wanneer “al jou minnaars ... jou [sal] vergeet” (Jeremia 30:7, 14) en jou “minnaars versmaad jou, hulle soek jou lewe” (Jeremia 4:30). Elders praat Jeremia van hierdie komende tyd van nasionale beproewing, “al haar vriende het troueloos teen haar gehandel, haar vyande geword” (Klaagliedere 1:2). Die nageslag van Jakob sal uitroep: “Ek het geroep na my liefhebbers – hulle het my in die steek gelaat” (vers 19). Eségiël beklemtoon dieselfde tema: “Jy het jou geskenke aan al jou minnaars gegee ... Ek sal al jou minnaars ... van alle kante teen jou versamel” (Esegiël 16:33, 37). Hosea beeld Israel uit as ’n vrou wat “... my minnaars agternaloop” en wat “ onwettige bondgenootskappe gewerf [het] ... onder die volke” (Hosea 2:4, 8: 9-10) – ’n gepaste beskrywing van die VSA se pogings om steun onder die nasies te “koop” deur buitelandse hulp aan te bied. God spreek die nasies van Israel aan en sê: “Ek [het] haar oorgegee in die hand van haar minnaars ... Ek verwek jou minnaars, van wie jou siel vervreemd geraak het, teen jou, en Ek sal hulle van alle kante teen jou aanbring” (Esegiël 23:9, 22). Al hierdie verskriklike voorspellings fokus op dinge wat gaan gebeur “aan die einde van die dae” (Jeremia 30:24) – in die tyd net voor Jesus Christus terugkeer na die aarde toe.
In die lig van hierdie profesieë is dit ontnugterend om te verneem van die VSA en Brittanje se skielike gevoel dat hulle deur hul bondgenote verraai is, van die Europeërs se plan om politiese, ekonomiese en militêre mededingers van Amerika en Brittanje te word en vir ’n Franse koerant om te skryf dat Frankryk “tweehonderd jaar gelede Amerika se grootste bondgenoot was ... maar vandag is Frankryk feitlik die Verenigde State se vyand”. Waarom gebeur dit? Wat is die dryfkrag agter hierdie gebeure? Hoekom het die VSA en Brittanje se bondgenote skielik verander in hul teenstanders?
Die rede
Insigryke wêreldse ontleders erken dat die Irakse krisis slegs die vonk was wat lankbestaande griewe laat vlam vat het onder Europese leiers, wat vererg was oor hul afhanklikheid van Amerikaanse mag. Franse leiers het geen geheim daarvan gemaak dat hulle glo dat Frankryk ’n leidende rol in Europa moet speel en nie oorskadu moet word deur Brittanje of die Verenigde State nie. Duitse leiers het by verskeie geleenthede probeer om Duitsland se wil op Europa af te dwing. Baie mense in die VSA neem hul godsdiensgegronde gevoel as vanselfsprekend aan dat hulle ’n “morele sending het om die wêreld te verander”, maar dit gaan egter nie goed af by die wêreldgesinde Europeërs nie, wat voel dat hulle so ’n bekrompe en naïewe beskouing van die wêreld “ontgroei” het. Vanuit hierdie perspektief kan ons verstaan hoe Irak hierdie smeulende gevoelens tot ’n punt gedryf en die Europese leiers die geleentheid gegee het om die VSA en Brittanje uit te daag – nasies wat in hulle pad staan om ’n groter rol op die wêreldtoneel te speel.
Bybelprofesieë dui egter aan dat daar meer in die storie steek! Jeremia openbaar dat hierdie dinge gebeur omdat God ’n doel het (Jeremia 4:28). Die profeet waarsku dat, omdat die nasies van Israel “die HERE hulle God vergeet het” en teen Hom wederstrewig was, sal hulle die gevolge van hul dade maai (Jeremia 3:21; 4:17-18). God verduidelik deur Jeremia: “Ek het jou geslaan soos ’n vyand slaan ... Omdat jou ongeregtigheid groot is, geweldig jou sondes, het Ek jou hierdie dinge aangedoen” (Jeremia 30:14-15). Jeremia ween vir sy nasie “die HERE het haar droefheid aangedoen vanweë die menigte van haar oortredinge” (Klaagliedere 1:5). Eségiël dui aan dat God die moderne Israelitiese nasies sal straf omdat hulle op menslike bondgenote vertrou in plek daarvan om op God te vertrou (Esegiël 23:5, 12).
Die lys van Israel se sondes strek van leuens, moord, diefstal en owerspel tot afgodediens en die ontheiliging van God se Sabbatte (sien Jeremia 2; Esegiël 20; Hosea 4). God waarsku die nasies van Israel herhaaldelik “omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet” (Hosea 4:6).
Die verrassende ontwikkelings wat ons vandag sien – lankbestaande bondgenote van die Verenigde State en Brittanje wat skielik teen hul eertydse beskermers en weldoeners draai – was lank gelede voorspel as God se straf vir Sy mense wat hul rug op Hom keer. Ons moet uit hierdie gebeure leer en begin om God te gehoorsaam, met die wete dat daar nog meer is wat voorlê, namate die profesieë tot vervulling kom!