Wat sien u wanneer u om u rondkyk? In Psalm 73 beskryf die psalmdigter dinge wat hom geweldig ontstel het. Hy sien dat baie mense om hom skynbaar wegkom met baie dinge wat nie reg is nie. Die psalmdigter was ontmoedig en het hulle selfs effens beny.

Wat van u? Wat sien u wanneer u om u rondkyk? Hoe bly u gelowig en hou aan om te doen wat reg is, wanneer dit wat u om u sien ontmoedigend en oorweldigend mag voorkom?

Baie van die profete van ouds het in baie moeilike tye geleef. Jesaja het die noordelike koninkryk van Israel in Assiriese ballingskap sien gaan en later ook gesien hoe die Assiriërs sy eie volk, Juda, binneval. Jeremia het gesien hoe Juda agtereenvolgende invalle deur Babilonië moes verduur en uiteindelik geheel en al in ballingskap weggevoer is. Esegiël, die priester, het self ook in ballingskap gegaan en het ’n dekade later verneem dat die pragtige tempel in Jerusalem geheel en al vernietig is. In die lewens van hierdie dienaars van God was daar bitter min wat gedui het op ’n blink en belowende toekoms vir Sy mense. Tog, wanneer u die boeke lees wat hierdie manne geskryf het, is dit duidelik dat hulle dinge gesien het wat hul tydgenote nie kon sien nie. Hulle het gebeure gesien en beskryf wat ander mense as onmoontlik sou beskou.

Sien u wanhoop of hoop? Tot en met haar ontmoeting met Jesus het ’n jong vrou wat as ’n “sondares” gemerk was, geen hoop gehad dat die beloftes van die Koninkryk van God op haar van toepassing sou wees nie. Toe gebeur daar iets wat haar lewe verander het. Wat kon sy skielik sien?

Wat u sien, maak die wêreld se verskil. Dit kan wanhoop of geloof tot gevolg hê. Dit kan tot moedeloosheid of hoopvolheid lei. Wanneer u om u heen en na die toekoms kyk, wat sien u?

Wanneer ons om ons kyk

Het u al ooit gevoel dat baie mense in ons samelewing skynbaar met dinge “wegkom” waarmee hulle nie behoort weg te kom nie? In Psalm 73:2-3 bely die psalmdigter: “Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly. Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien”. Hy merk verder op: “In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie” (vers 5). Dit blyk onregverdig te wees. Let verder op sy denke: “Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom! Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre” (verse 12-14).

As dit is hoe die lewe werk, lyk dit baie onregverdig. As dit al is wat u kon sien, blyk dit nie die moeite werd te wees om te probeer nie, maar die psalmdigter skryf verder: “Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë, totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het” (verse 16-17). Terwyl hy in God se tempel gemediteer het, het die psalmdigter begin agterkom hoe kortsigtig hy was – ’n besef wat sy hele perspektief verander het.

Indien u kortsigtig is, sal u ’n baie verwronge uitkyk op sake hê. Dit is noodsaaklik om ’n langtermyn visie te hê. Wanneer die hede al is wat ons kan sien, gaan ons tot ’n paar baie verkeerde gevolgtrekkings kom.

Esau is ’n sprekende voorbeeld. Met sy terugkeer na ’n jagtog het hy op sy broer Jakob afgekom waar hy besig was om ’n groot pot lensiebredie voor te berei. Baie moeg en honger het hy sy broer vir iets te ete gevra. Jakob, altyd op soek na ’n geleentheid om voordeel vir eie gewin te probeer trek, het Esau bredie aangebied in ruil vir sy eersgeboortereg. Esau het, verstommend genoeg, ingestem. “En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag” (Genesis 25:34). Esau was uiters kortsigtig. Paulus maak die stelling dat Esau ’n goddelose mens was – iemand wat duidelik geen respek gehad het vir wat heilig is nie (Hebreërs 12:16). Al wat Esau kon sien was die behoefte en gemak van die oomblik; hy was bereid om sy toekoms weg te gooi vir tydelike bevrediging!

Hoe is dit moontlik om verby die hede te kyk? Een van die belangrikste maniere is om God se Woord te gebruik om die weg wat ons moet volg te verlig. God se Woord is immers bedoel om ’n lamp vir ons voete en ’n lig vir die pad te wees (Psalm 119:105). Dit kan ons help om verby ons huidige omstandighede te kyk en te verstaan waarheen die pad waarop ons is, werklik lei. Spreuke 2 maan ons om wysheid hoog op prys te stel. Ware wysheid en insig kan net van God kom en Hy sal ons “elke goeie pad” toon (vers 9). Ware wysheid is op God se Wet gebaseer. Dit sal ons help om die bose planne en onsedelike voorstelle van wêreldse mense om ons te vermy. Mense wat verval in onetiese, onwettige en onsedelike gedrag is baie kortsigtig. As ons net ons huidige omstandighede raaksien kan ons verstrik raak in baie afbrekende gewoontes en situasies. God se Woord gee ons visie en perspektief op die lewe. Dit stel ons in staat om te sien waarheen ons besluite uiteindelik sal lei.

Kyk na die toekoms

Almal van ons wil weet wat die toekoms inhou. As ons egter ons toekomsverwagtings baseer op vooruitskattings van huidige neigings, kan die toekoms uiters somber voorkom. Vandag, net soos nog altyd die geval was, hou baie van die dinge wat om ons aangaan nie veel hoop vir die toekoms in nie. Tog het God gereeld die wanhopigste oomblikke in antieke Israel se geskiedenis gekies om sy profete ’n blik op die toekoms te gee.

In die jaar van koning Ussía van Juda se dood het ’n jong man met die naam Jesaja ’n merkwaardige visioen aanskou. Hy het die glorie van die God van Israel die Tempel sien vul en het die opdrag gekry om God se boodskap te verkondig (Jesaja 6). In die daaropvolgende jare het Juda se geopolitiese situasie sleg gelyk. Assiriese mag het toegeneem en Juda was deur Sirië en Israel vanuit die noorde bedreig. Juda se morele en geestelike posisie was net so ontmoedigend omdat geestelike dienste by die tempel in Jerusalem meestal net blote formaliteit was (Jesaja 1:11-15). Daar was korrupsie regdeur die samelewing. Met verwysing na Jerusalem, die hoofstad van Dawid se koninklike lyn en die ligging van Salomo se tempel, skryf Jesaja: “Ag, hoe het die getroue vesting ’n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag – en nou moordenaars!” (Jesaja 1:21). Alles in ag genome was dit maar ’n redelike somber prentjie.

Dit was egter met daardie agtergrond dat Jesaja die toekoms gesien en daaroor geskryf het! Let op Jesaja 2:1-3: “Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem”. Wat Jesaja sien voorlê het, was heeltemal anders as waarop sy onmiddellike omstandighede gedui het. Hy het die toekoms deur die lens van geloof gesien!

Jeremia se profetiese loopbaan het meer as ’n eeu na dié van Jesaja begin. Jeremia het sy volk gewaarsku teen ’n dreigende Babiloniese ballingskap in weerwil van ander geestelike leiers se versekering dat God nooit so iets sou toelaat nie. In Jeremia 14:13-14 lees ons: “Toe sê ek: Ag, Here HERE, kyk, die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hê nie; maar Ek sal julle ’n duursame vrede gee in hierdie plek. En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ’n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart”. Hierdie vals profete was bitter kwaad vir Jeremia as gevolg van sy boodskap en wou hom selfs laat doodmaak (Jeremia 26:11)! Jeremia het hom egter nie laat intimideer nie en het aangehou om die waarskuwing wat God aan hom openbaar het, oor te dra. Hy het aan sy mense verduidelik dat die enigste manier om God se naderende gramskap vry te spring, was om hul weë te wysig en hul Skepper te begin gehoorsaam (vers 13).

Jeremia het ’n dreigende oordeel oor sy volk gesien terwyl ander om hom ontken het dat oordeel op pad was. Hy het egter ook verby die oordeel na die goeie nuus van vergifnis en herstel gekyk. In Jeremia 31:31 beskryf hy ’n tyd ná die verskriklike tyd van Jakob se benoudheid. “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit”. Selfs terwyl die wêreld om hom gevaarliker geword en die mense al hoe minder ontvanklik geraak het, het Jeremia met geloof die toekomsgeleentheid gesien wat sy volk sou hê – om weereens ’n verhouding met God te hê en Sy seëninge te ontvang.

Let ook op die voorbeeld wat Esegiël gestel het as ’n jong priester wat in Babiloniese ballingskap gegaan het ten tye van koning Jójagin se wegvoering. Esegiël se profetiese boodskap was eintlik oorwegend vir die huis van Israel bedoel wat meer as ’n eeu voor sy skrywe deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is. Ten spyte daarvan het Esegiël sy boodskap opgeteken en het dit vir ons behoue gebly. Ons kan weet wat die toekoms inhou vir die eindtydse afstammelinge van Israel, mits ons bereid is om te ondersoek en te glo wat Esegiël gesien het.

Esegiël het Jerusalem se toekoms gesien en beskryf hoe hy in ’n visioen weggevoer is na die Tempel (sien Esegiël 8-11), waar hy gesien het hoe die God van Israel se glorie dit verlaat. Hy het God se glorie – wat die Huis gevul het toe dit aan God opgedra was in die dae van koning Salomo – sien opstyg van die drumpel van die Tempel af en verskuif na die Olyfberg Oos van Jerusalem (Esegiël 10:18-19; 11:22-23). Dit het die weg gebaan vir Nebukadnésar se vernietiging van die stad en die Tempel. Esegiël het egter meer as net die verwydering, vernietiging en toorn gesien! Esegiël 43 was ’n blik op die verre toekoms wanneer die God van Israel sou terugkeer en ’n herboude Tempel sou binnegaan vanuit die ooste (die rigting van die Olyfberg). Die glorie van God sou hierdie toekomstige Huis vul en dit sou die setel van Sy troon wees wanneer Hy vir ewig tussen die kinders van Israel sou wandel (verse 3-7). Ten tye van vernietiging, ballingskap en wanhoop het Esegiël hernuwing en hoop gesien.

Hierdie profete, soos baie ander, het verby hul hede gekyk en opgeteken wat hulle gesien het. Hulle het oordeel gesien en verkondig terwyl ander “vredesliedere” gesing en politieke bondgenootskappe gevorm het om hulself te beskerm. Hierdie profete het verby die oordeel gekyk en die goeie nuus van God se versoening met Sy volk gesien. Sien u wat die profete gesien het? Het u die geloof om verby die gebeure van hierdie wêreld te kyk, om die naderende oordeel en die werklike goeie nuus te sien wat op ons wag na afloop van daardie oordeel?

Hernude hoop

Jesus Christus was ’n baie gewilde gas vir ete. Selfs baie van Sy kritici was gefassineer deur hierdie leraar uit Galiléa en het geleenthede gesoek om Hom te sien en na Hom te luister. Lukas 7:36-50 beskryf een só ’n geleentheid. Simon, die Fariseër, en van sy vriende wou Jesus Christus toets. Diegene wat Simon se ete bygewoon het, het Jesus ongetwyfeld gesien en Sy boodskap by verskeie geleenthede gehoor. Hulle was almal vertroud met Sy wonderwerke en het waarskynlik persoonlike kennis gedra van iemand wat Hy genees het. Wat meer is, hulle het almal Sy boodskap oor die Koninkryk van God gehoor en hoe dit werklik moontlik was om daardie Koninkryk te beërwe.

Hoewel Simon na die geleentheid gesoek het om Jesus te sien en na Hom te luister en ongetwyfeld vrae te vra oor sekere aangeleenthede, was hy nie ’n dissipel nie. Ten spyte daarvan dat Jesus sy gas was, het Simon as’t ware sy afstand gehou en was afsydig. Hy het byvoorbeeld nie voorsiening gemaak vir water sodat Jesus Sy voete met Sy aankoms kon was nie en het ook nie gegeurde olie vir Sy hoof voorsien nie. Hy het selfs die gebruiklike verwelkomingskus nagelaat. Simon was bereid om Jesus vir aandete te nooi, maar wou nie hê dat sy vriende die indruk moes kry dat hy ’n bewonderaar, wat nog te sê ’n dissipel, van hierdie Rabbi uit Galiléa was nie!

Kort nadat die gaste hul plekke ingeneem het vir ete was Simon en sy vriende in die verleentheid gebring en kwaad gemaak deur ’n onderbreking wat hulle almal onkant betrap het. ’n Vrou wat in die gemeenskap as “’n sondares” bekend was, het te hore gekom waar Jesus die aand sou eet en het ongemerk die vertrek binnegegaan. Voordat enigiemand haar kon keer, het sy by Jesus se voete gekniel. In trane het sy begin om ’n duur houer geurige olie oor Jesus se voete te giet. Terwyl Simon en sy gaste verstom en geskok toegekyk het, het die snikkende vrou Jesus se kaal voete gesoen en hulle met haar hare afgevee.

“Wel, wys jou nou net,” het Simon gedink. “As hierdie man werklik ’n profeet was, sou hy sekerlik geweet het dat hierdie vrou ’n sondaar was en sou beslis nie toegelaat het dat sy aan hom raak nie”. Jesus het natuurlik geweet wat Simon en sy vriende gedink het. Terwyl die vrou besig was om Jesus se voete af te vee en te soen het Hy na Simon gekyk en gesê dat Hy hom ’n vraag wil vra. Hy het vir Simon ’n storie vertel van twee mans wat elkeen skuld gehad het wat hulle nie kon betaal nie. Die een het ’n groot som geld geskuld terwyl die ander een se skuld betreklik min was. Hul krediteur het beide se skuld afgeskryf. “Wie van hulle” het Jesus gevra “sal hom die meeste liefhê?” Simon het geantwoord dat hy veronderstel die een wat die skuldeiser die meeste geskuld het die dankbaarste sou wees.

Jesus het saamgestem dat Simon se antwoord reg was en toe na die vrou by Sy voete gewys. Hy het haar opregte liefde, oorweldigende dankbaarheid en aanbidding teenoor Hom in teenstelling geplaas met Simon se gesindheid van koue afsydigheid. Jesus het Simon en sy vriende verder geskok deur haar te vertel dat haar sondes vergewe is en dat haar geloof haar gered het.

Wat het hierdie arme vrou gesien wat Simon en sy vriende nie kon sien nie? Hulle het almal vir Jesus gesien en gehoor, maar hul reaksies was aansienlik anders.

Jesus se boodskap van die Koninkryk van God het hoop in hierdie vrou laat opvlam en daarmee saam ’n gevoel van diepsinnige dankbaarheid en liefde. Omdat sy in die Joodse gemeenskap grootgeword het, was sy ongetwyfeld vertroud met die belofte in die Skrif dat God eendag ’n Koninkryk tot stand sou bring wat alle ander koninkryke sou oortref. Tog – totdat sy Jesus gehoor het – het sy geen hoop gehad dat sy self daar sou wees nie. Sy het aangeneem dat so ’n Koninkryk moontlik vir Simon en sy vriende sou wees, maar beslis nie “mislukkings” soos sy sou insluit nie. Sy het haar kans reeds lank gelede “verbeur” en het geen hoop gehad op ’n erfdeel in enige Koninkryk wat God daar sou stel nie.

Toe hoor sy vir Jesus van Nasaret en vir die eerste keer kon sy haarself as’t ware sien in daardie Koninkryk! Haar hoop het weer opgevlam en haar dankbaarheid was diep en opreg. Sy het haar diepliggende behoefte aan Jesus se boodskap en wat Hy bied, gesien en sy het geglo wat Hy gesê het. Hierdie nuwe hoop het haar oorweldig en dit het haar lewe verander.

Simon daarenteen het dieselfde boodskap gehoor, maar het glad nie dieselfde reaksie gehad nie. Hy en sy vriende het illusies van geestelike selfstandigheid gehad. Volgens hulle, was hulle nie soveel “verskuldig” nie en het daarom nie baie van Christus nodig gehad nie. Hulle is nie oorweldig deur ’n gevoel van diepe liefde, aanbidding en dankbaarheid toe hulle Jesus gesien het nie. Daardie vrou was egter oorweldig!

Wanneer u na die wêreld om u kyk, sien u die langtermyn perspektief wat die psalmdigter gesien het? Wanneer u na die toekoms kyk, sien u wat die Profete gesien het? Wanneer u na Jesus Christus van Nasaret kyk, sien u wat daardie vrou gesien het? Diegene wat die lamp van God se Woord gebruik om dit wat hulle sien, te verlig en dit te bestudeer deur die lens van geloof, is in staat om te sien wat al God se ware dienaars deur die eeue heen gesien het.