Antwoord: ’n Paar belydende Christelike groepe het ’n verkeerde idee met betrekking tot ’n verwarrende stelling wat die apostel Paulus klaarblyklik maak. Hy het aan die Korinthiese gemeentelede geskryf: “Anders, wat sal hulle doen wat vir die dooies gedoop word, as die dooies glad nie opstaan nie? Waarom word hulle dan vir die dooies gedoop?” (1 Korinthiërs 15:29).
Hierdie vers illustreer die probleem van vertaling goed en die belangrikheid daarvan om die konteks van wat geskryf is te verstaan. Wat het Paulus in hierdie hoofstuk van 1 Korinthiërs bespreek? Kom ons bekyk dit van naderby:
“As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? ... Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Korinthiërs 15:12-20).
Dit mag dalk deesdae vir ons vreemd voorkom, maar in Jesus se tyd was daar godsdienstige mense, soos die Sadduseërs, wat nie in ’n opstanding uit die dood geglo het nie. Die heel eerste Christene was Jode, waarvan sommige van hulle Sadduseërs was. In die verse hierbo verduidelik Paulus dat die opstanding uit die dood die hoop van ware Christene is.
Voordat ons na die taal van die vertaling kyk, laat ons onthou waaroor die doop werklik gaan. Opregte bekering word vereis voordat iemand gereed is om in ooreenstemming met kerkstandaarde gedoop te kan word (Matthéüs 3:8; Lukas 3:8; Handelinge 2:38). ’n Voorwaarde van doop is dat bekering duidelik behoort te wees – ’n verandering in ons lewenswyse. Ons word onderrig dat geloof ook vereis word (Hebreërs 11:6). Nie een van hierdie voorwaardes kan deur ’n dooie nagekom word nie – inderdaad, God sê aan ons deur Salomo “die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5).
Baie van die verwarring word veroorsaak deur die vertalers se gebruik van die woord vir. Die Griekse woord huper word meer as 160 keer dwarsdeur die Nuwe Testament gebruik en hier word dit bloot as “vir” gebruik. Ons sien egter hoe huper elders gebruik word en dan word dit duidelik dat die woord dikwels die betekenis het van “vir die hoop van” of met ’n betekenis van “bo” of “meer as” of “oortref” (vergelyk Filippense 2:13). 1 Korinthiërs 15:29 gee dit so weer: “Anders, wat sal hulle doen wat hulle vir die dode laat doop, as die dode geheel en al nie opgewek word nie? Waarom laat hulle hul nog vir die dode doop?”
Ons sien duidelik hier dat Paulus dit beklemtoon dat die hoop van die hele mensdom die opstanding is. Sonder daardie hoop is dit betekenisloos om onder God se eerste vrugte te wees en ons doop is dan doelloos. Die werk van God is geheel en al gefokus op die hoop van die opstanding – ’n beter toekoms wat nie net kom vir diegene wat in hierdie tyd geroep is nie, maar moontlik is vir almal wat nog ooit geleef het.
Om daardie hoop te verwesenlik, moet elke Christen individueel voor God staan. Nie een van ons kan instaan om vir ’n ander mens se doop te kwalifiseer nie. Die hoop op vergifnis en opstanding se aanvaarding is ’n individuele saak en kan nie vir ons gedoen word deur ander mense nie (vergelyk Eségiël 18:20). Daardie hoop sal vir die meeste mense kom by die Wit Troon Oordeel, beskryf in Openbaring 20 as ’n tyd ná die duisend-jarige heerskappy van Jesus Christus. Tydens hierdie Oordeel sal die miljarde mense wat al geleef en gesterf het, sonder om Christus se boodskap werklik te verstaan, uit die dood opgewek word. Baie van hulle het nooit eers Christus se naam gehoor nie. Hulle verstand sal geopen word en hulle sal vir die eerste keer God se waarheid geleer word.
Na opregte bekering sal hulle ook gedoop word en ’n verbond met God aangaan – nie vir iemand anders nie, maar vir hulleself. Dit is God se wonderlike plan vir die oorgrote meerderheid van die mensdom. Indien u graag meer te wete wil kom in verband met hierdie wonderlike toekoms, kan u ’n gratis eksemplaar van Wat gebeur wanneer u sterf? versoek of lees dit aanlyn by wvm.co.za.