Lesers wat al lank die Wêreld van Môre lees, het gewoond geraak aan hierdie “Persoonlike briewe” van die Hoofredakteur, dr. Roderick C. Meredith. Ongelukkig was dr. Meredith, wat byna 87 jaar oud was, met ’n gevorderde stadium van kanker gediagnoseer. Hy is op 18 Mei 2017 oorlede. Ek het dr. Meredith geken sedert ek in 1965 sy eerstejaar Bybelklas by Ambassador College bygewoon het. Hy het my aangewys as opvolger van sy amp.

Verandering is nooit maklik nie, maar dit is ’n belangrike deel van die lewe. Een ding waarvan u seker kan wees, is dat alhoewel ons persoonlikhede mag verskil sal dieselfde basiese waarhede bly, soos dit aan u bekend is in die Wêreld van Môre-tydskrif. Almal van ons hier by die Wêreld van Môre is diep toegewyd aan dit waarna ons dikwels verwys as die Waarheid. Ons erken dat die ware Evangelie van Jesus Christus al so vroeg as in die eerste eeu verdraai is – nie lank na die begin van Christelikheid nie. Soos Judas aan ons vertel: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas :3).

Soos dr. Meredith se verhandeling oor die Protestantse Hervorming dit duidelik maak, is die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”, nie die geloof van die Protestantse Hervormers nie. U sal sy tweede aflewering van hierdie verhandeling elders in hierdie uitgawe vind. Indien u ’n nuwe intekenaar van hierdie tydskrif is, kan u sy eerste aflewering in die vorige uitgawe vind. Dit is op ons webwerf beskikbaar by wvm.co.za of u kan dit aanvra vanaf een van ons adresse op bladsy 2.

Verslae uit die Midde-Ooste, Noord-Afrika en ander verspreide plekke in die wêreld vertel van onthoofdings van en moorde op belydende Christene. Dit verg baie moed in sommige plekke om die Naam van Christus te bely! ’n Mens kan slegs dié individue bewonder wat alles op die spel plaas wanneer sulke vreeslike gevolge in die gesig gestaar word en mens moet wonder: “Het ek daardie soort moed?” Dit is maklik om te dink dat ons het, maar daar is ’n toets wat u nou kan neem wat daardie vraag sal beantwoord.

Sal u “die Weg” aanhang?

Lukas is die erkende skrywer van die boek Handelinge. Hy beskryf Christenskap verskeie kere as die Weg (bv. Handelinge 18:25, 26; 19:9, 23; et al.). Met ander woorde, Christenskap is ’n lewenswyse! Selfs die vertalers skryf vyf van hierdie sewe keer die woord Weg met hoofletters deur erkenning te gee aan die belangrikheid van hierdie woord soos dit in hierdie konteks gebruik word. Ja, Christenskap is ’n lewenswyse! Om daardie lewenswyse uit te leef, vereis moed! Dit vereis nie net moed waar mense onthoof word omdat hulle die Naam van Christus bely nie, maar ook in veilige areas soos u woonkamer waar u dalk hierdie artikel lees. Waarom?

 Soos wat dit in dr. Meredith se artikel oor die Protestantse Hervorming uitgelig is, is Christelikheid soos ons dit vandag ken, nie die Christenskap van Jesus Christus en die Apostels van die eerste eeu nie – ’n feit wat nie deur kundige geleerdes betwis word nie! Jesus en Sy Apostels het op ’n ander dag aanbid en ander Heilige Dae onderhou. Hulle het ’n ander Evangelie verkondig wat ’n heel ander beloning vir die gereddes voorgehou het en vir die goddelose ’n heel ander straf. Terwyl hulle God se vergifnis van sonde deur geloof in die bloed van Christus verkondig, het hulle nie versuim om die definisie van sonde asook die oortreding van God se Wet te onderrig nie (1 Johannes 3:4). Om met die Wet van God weg te doen, is om met sonde en die noodsaaklikheid van vergifnis weg te doen (Romeine 7:7)! Dit maak nie saak waar hulle woon nie, teëstanders sou allerhande gerugte valslik versprei (Matthéüs 5:11; Johannes 15:18-21). Die eerste eeu se Christene het baie meer voorgeskrewe vereistes en toewyding aan Christus verkondig as wat gewoonlik verstaan word.

Dit is dus geen wonder dat Jesus ons in Lukas 14:26 ernstig waarsku nie: “As iemand na My toe kom en hy haat [minder liefhê] nie sy vader en moeder, vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” Dit is inderdaad sterk woorde! Lees en mediteer oor wat dit vir u beteken!

Jesus het nie gekom om vrede in hierdie tyd te bring, soos wat so baie mense glo nie. “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie” (Matthéüs 10:34-37).

Kennis teenoor lewenswyse

Om die waarheid te verstaan en om dit uit te leef, is nie dieselfde nie. Johannes staan bekend as die “Apostel van liefde”, nogtans vertel hy ons die waarheid is ’n lewenswyse wat uitgeleef moet word: “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie” (1 Johannes 1:6). Hy gaan in die volgende hoofstuk voort en maak dit baie duidelik wat dit is wat ons moet beoefen: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:3-4).

Die New Bible Commentary Revised lewer die volgende kommentaar op hierdie verse (vryelik vertaal):

3 Vervolgens kom ’n toets waardeur mense, ten spyte van hulle mislukkings, kan weet of hulle verhouding met God reg is en in gemeenskap met Hom leef. Die toets is of hulle Sy gebooie nakom. Dit is onmoontlik vir mense wat God regtig ken om in hulle daaglikse lewe deur hierdie kennis onaangeraak te wees ... Vir Johannes is die kennis van God nie ’n mistieke visie of intellektuele insig nie. Dit word bewys deurdat ons Sy gebooie bewaar. Gehoorsaamheid is nie ’n skouspelagtige deug nie, maar dit is die basis van alle ware Christelike toewyding. 4 Johannes sê reguit dat die man wat beweer dat hy hierdie kennis het, maar nie Sy gebooie gehoorsaam nie, ’n leuenaar is. Hy beklemtoon dit met die toevoeging “en in hom is die waarheid nie.”

Moed moet beoefen word. Baie mense vrees vir wat hulle vriende, bure en familie sal dink en doen indien hulle na vore kom en inderdaad die Weg van ware Christenskap uitleef. Hulle sal liewer voortgaan om gemaklik volgens die leerstellings en tradisies te leef soos wat aan hulle oorgelewer is [deur voorgeslagte]. Vir hulle is dit moed wat nodig is om Christus in ’n verre Moslem-nasie te bely. Dit is nie iets wat nodig is wanneer mens eintlik in ’n meer veronderstelde verligte gebied leef nie. Op die ou end kom dit hierop neer: Gaan u die waarheid van die Skrif erken en aanvaar? Gaan u aan God gehoorsaam wees of gaan u voort om mensgemaakte tradisies te volg waarvan die oorsprong uit die heidendom en Griekse filosofie kom?

Om ’n besluit uit te stel is ’n besluit

In werklikheid het ons almal hierdie keuse om te maak. Onthou, om nié ’n besluit te neem nie, is insigself ook ’n besluit! Indien u onder die paar moedige mense is wat belangstel om meer te leer oor ander mense wat reeds gekies het om terug te keer na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”, moet u asseblief nie huiwer om ons by u naaste streekkantoor te kontak nie. Die adres verskyn op bladsy 2. U kan dit ook aanlyn doen. Ons verteenwoordigers sal meer as gewillig wees om u by u huis te besoek of op enige ander gerieflike plek van u keuse te ontmoet. Ons sal slegs met u kontak maak indien u dit versoek en ons sal u nie verontrief met ongevraagde opvolgbesoeke nie. Ons sal u egter graag wil ontmoet!