In ’n wêreld van toenemende ekonomiese probleme en onsekerheid oor die toekoms, is daar eenvoudige en praktiese stappe wat u kan neem om ware sukses in die lewe te behaal. Dit is noodsaaklik dat u hierdie belangrike beginsels ken en toepas!

Miljoene mense het hulle werk verloor as gevolg van die Coronavirus-pandemie. Sommige van hulle het pas met hulle loopbane begin toe die pandemie ons getref het; ander mense was gevestig in vooruitstrewende beroepe wat gelyk het asof dit ’n grondslag vir ’n leeftyd van sukses is. Daarna is hulle verwagtings egter deur ’n ongekende ekonomiese en sosiale krisis verydel.

Hoe het mense gereageer? Sommiges het hulle tot dobbelary gewend. Aanlyn-speletjies wat reeds ’n groot bedryf was, het in gewildheid toegeneem terwyl mense vir weke en maande in “inperking” deurgebring het en nie veel buite hulle huise kon doen nie. In die Verenigde Koninkryk het een verslag bevind dat virtuele sportweddenskappe in 2020 met 88% toegeneem het in vergelyking met dieselfde maand in 2019 (“The pandemic has triggered a British online gaming crisis,” Wired.co.uk, 4 Desember 2020).

Het al hierdie dobbelary sukses meegebring? Nee! ’n Paar mense het geld gewen, maar baie meer van hulle het verloor en baie mense het die slagoffers van dobbelverslawing geword. Die Nasionale Raad vir Probleemdobbelary het gewaarsku dat “mense wat aan dobbel verslaaf is erger deur die pandemie geraak kan word” (“Online Gambling, Gaming Addiction Has Increased During COVID-19”, Healthline.com, 18 November 2020).

Rykdom is ’n baie algemene maatstaf vir sukses en dit was vir baie mense moeilik om dit tydens die pandemie te bereik. Hoe definieer u egter sukses en hoe hanteer u mislukking? In hierdie artikel sal ons kortliks kyk na een beproefde stel beginsels om ware sukses te behaal – beginsels wat my persoonlik gehelp het, asook baie ander mense wat ek ken.

Wat is sukses?

Die meeste mense het al van die uitvinder Thomas Alva Edison gehoor. Met meer as 1,000 Amerikaanse patente onder sy naam, word groot vooruitgang aan hom toegeskryf met betrekking tot tegnologieë wat wissel van elektriese beligting tot batterye, klankopname en rolprente. Natuurlik het nie elke eksperiment van Edison die resultate opgelewer wat hy verwag het nie. Hoe het hy egter sy pogings beskou? Hy het eenkeer aan ’n moedelose kollega gesê dat selfs na letterlik ’n duisend mislukte eksperimente op een projek, “laat ek myself nooit toe om moedeloos te raak nie ... ons het met sekerheid geleer dat dit nie op daardie manier gedoen kan word nie en dat ons ’n ander manier moes probeer. Ons leer soms baie uit ons mislukkings indien ons die beste poging aangewend het waartoe ons in staat was” (“Why Do So Many Men Never Amount to Anything?,” American Magazine, v. 91, 1921, bl. 89).

Voordat God hom tot die bediening geroep het, was ons voorganger in die werk van die Wêreld van Môre, mnr. Herbert Armstrong, ’n tyd lank ’n suksesvolle sakeman – maar soos miljoene ander mense het sy sakeloopbaan in duie gestort met die ineenstorting van die aandelemark in 1929 en die Groot Depressie van die dertigerjare. Vir ’n tyd lank het dit gelyk asof hy in sy pogings waarna hy gestreef het, misluk het, maar God sou steeds kies om hom kragtig te gebruik. Later in sy lewe terwyl hy oor die jare se uiteenlopende ervarings nagedink het, het hy ’n boekie saamgestel wat hy “The Seven Laws of Success” genoem het. Duisende mense – dalk miljoene mense – het hierdie wette in hulle eie lewens toegepas en sukses behaal wat hulle nooit voorheen gedink het moontlik was nie. In hierdie artikel sal ons kortliks hierdie sewe belangrike beginsels ondersoek wat u kan gebruik om u lewe te verander!

Die koning wat “alles gehad het”?

In die Bybel word melding gemaak van een magtige man wat die uiterstes van oordaad ondersoek het in sy begeerte om sukses te vind. Israel se antieke koning Salomo het daarna gestreef om die lewe “ten volle” te ervaar.

Salomo was ’n ingenieur wat besproeiingstelsels ontwerp het en ’n musikant wie koorgroepe en simfonie-orkeste saamgestel het. Hy het as koning groot skatte van silwer en goud besit. Hy het geskryf: “Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook ’n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het. Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en ’n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte. En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly” (Prediker 2:7-9).

Hy het selfs 700 vrouens en 300 byvroue gehad. Het hulle hom egter sukses en blywende geluk besorg? Nee! Sy vrouens het hom uiteindelik oorgehaal om valse gode te aanbid, wat ’n verskriklike straf tot gevolg gehad het.

Deur dit alles heen het Salomo sy wysheid behou om na te dink oor wat hy met sy feesvierings bereik het. Wat het hy gevind? “En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid. Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het – en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie” (Prediker 2:10-11).

Wat van u? Kan u uit Salomo se voorbeeld leer en sy foute vermy? Is u op soek na die regte soort sukses – op die regte plekke en op die regte maniere? Sommige van die sewe wette hieronder is beginsels van gesonde verstand, maar dit lyk asof baie mense nie gesonde verstand het nie! Moontlik pas u alreeds vier of vyf van hierdie beginsels toe, maar u mag dalk verbaas wees om te ontdek watter groot voordele u kan geniet indien u dit alles toepas. Laat ons dus elkeen van die sewe wette kortliks bespreek.

Die eerste wet: Stel die regte doelwit

Doelgerigte mense stel lang- en korttermyndoelwitte en hulle verbind hulle daartoe om alles te doen wat hulle redelikerwys kan doen om die doelwitte te bereik en stel enigiets ter syde wat hulle aandag dalk mag aflei of vlugtige plesier wat met hulle pogings kan bots.

Israel se antieke koning Salomo het baie doelwitte bereik, waarvan sommige hom tydelike bevrediging gegee het. Soos ons egter hierbo gesien het, het hy besef dat daardie doelwitte nie blywende waarde en sukses tot gevolg gehad het nie. Hy het sy strewes “nietigheid” genoem – ’n “gejaag na wind” sonder blywende waarde. Wat sal aan u blywende geluk en ware sukses gee? In hierdie tydskrif deel ons die ware en kosbare waardes wat in u Bybel geopenbaar word. Wat is dus die grootste doelwit in die lewe? Wat is u persoonlike doelwit in die lewe?

In Matthéüs 6 sê Jesus vir ons dat ons ons nie hoef te bekommer oor kos en klere nie. Hy herinner ons daaraan dat as God voedsel vir die voëls van die lug voorsien, hoeveel te meer sal Hy kos vir Sy kinders gee. Jesus sê dat al die noodsaaklikhede waaroor ons ons bekommer, ondergeskik aan die belangrikste doel van alles is. Jesus sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Ja, om die regte doelwit te stel, lewer vir ons ware sukses indien ons al sewe van die wette van sukses nakom. Geagte Leser, ons korttermyn doelstellings behoort ons boonop te help om ons uiteindelike doel te bereik – die Koninkryk van God!

Die tweede wet: Berei uself voor

Watter kennis het u nodig om u doel te bereik? Watter voorbereidings moet u tref? Indien u ’n beroep as vakman kies, sal dit waarskynlik nodig wees om as ’n vakleerling te werk voordat u ’n ambagsman kan word. Baie beroepe benodig ten minste ’n kollege-opleiding of dalk ’n gevorderde graad. Meer as ooit tevore is dit nodig dat ons ons kennis vermeerder om net by ons doelwitte te kan hou.

U behoort nooit op te hou leer nie, maar u moet ook seker maak dat dit wat u leer, waar is. In die boek Spreuke lees ons dat ware kennis begin met ’n eerbied en ontsag vir God as die Bron van wysheid en kennis. “Die vrees van die HERE is die beginsel van kennis; sotte verag wysheid en tug” (Spreuke 1:7). Weer: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand” (Spreuke 9:10).

Is u besig om in wysheid toe te neem? Groei u in die genade en kennis van Jesus Christus (2 Petrus 3:18)? Ons Verlosser is die sleutel tot ware Christelike sukses! Om u doel te bereik, is dit nodig dat u uself opvoed en voorberei om daardie doel te bereik, ongeag of dit fisies of geestelik is. U het God se wysheid en kennis nodig!

Die derde wet: Handhaaf goeie gesondheid

Hoe gesond is u? Het u energie en krag om hard te werk om iets te bereik? Ons moderne omgewing kan sélf skadelik wees vir ons gesondheid. Ons verwag in elk geval besoedeling in ons lug, water en voedsel. Dit is dikwels moeilik om voedsel van hoë gehalte en suiwer drinkwater te vind – ons moderne dieet is beslis nie wat God vir mense bedoel het nie. Nietemin kan en behoort ons almal te probeer om gesonde eetgewoontes te handhaaf.

Benewens ’n goeie dieet, is oefening belangrik. Die Bybel beklemtoon die geestelike dimensie in ons lewens, maar noem ook dat liggaamlike oefening lonend is (vgl. 1 Timótheüs 4:8) en sê dat ons die verantwoordelikheid het om God met ons liggame te eer (vgl. 1 Korinthiërs 6:20).

Ander gesondheidswette behels die handhawing van ’n positiewe en rustige gemoed en om ongelukke te vermy. U sal u doelwitte meer effektief en meer doeltreffend kan bereik indien u fisies fiks is. U kan ons insiggewende boekie Bybelse Beginsels van Gesondheid lees vir meer inligting oor hoe u goeie gesondheid kan ontwikkel wat God vir u wil hê. U kan dit aanlyn lees by wvm.co.za of u eie gratis gedrukte eksemplaar bestel by u naaste streekkantoor soos aangedui in hierdie tydskrif.

Die vierde wet: Plaas druk op uself

Mnr. Armstrong het dit die “allerbelangrikste” wet genoem. Dit is nodig om druk op onsself te plaas om aan die gang te kom. Die boek Spreuke gee ’n kragtige illustrasie aan ons:

“Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd. Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap? Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou om uit te rus! So kom dan jou armoede soos ’n rondloper en jou gebrek soos ’n gewapende man” (Spreuke 6:6-11).

Behoorlike rus is noodsaaklik vir gesondheid, maar God waarsku teen luiheid! In hierdie geval hou die mier aan om ’n klein korreltjie kos of sand op ’n slag te beweeg en bereik baie oor ’n lang tydperk. Ons het almal energie en ’n doel nodig. Dit is nodig om onsself te dissiplineer om effektief te werk.

Die vyfde wet: Pas vindingrykheid toe

Dink hieraan as die “nood”-wet. Miskien lyk die pad na u beplande loopbaan of doelwit duidelik en gelyk. Die lewe bring egter dikwels onverwagte struikelblokke mee. U kan dalk skielik finansiële- of gesondheidsprobleme ondervind. Wat sal u doen?

Ondersoek altyd u opsies. Watter bronne is beskikbaar? Watter metodes of individue kan van hulp wees? Die eerste stap in enige ernstige noodgeval is natuurlik om God se hulp te vra.

Toe Jesus op die water na Sy dissipels geloop het, wou die apostel Petrus dieselfde doen. Jesus het dus vir Petrus gesê: “Kom!” Nadat Petrus uit die skuit geklim het, het hy op die water geloop om na Jesus te gaan. Hy het egter bang geword toe hy die sterk wind sien en hy het toe begin sink. Hy het uitgeroep en gesê: “Here, red my!” (Matthéüs 14:29-30).

Ons kyk dikwels na dit wat voor die hand liggend is wanneer ons in die moeilikheid is. In hierdie geval het Petrus vinnig om hulp geroep. Wat het Jesus gedoen? “En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” (Matthéüs 14:31).

Vra God om u uit u penarie te help. Maak egter seker dat u ú deel doen en benut al die beskikbare hulpbronne. Moenie net opgee nie. Vra vir wyse raad. “Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand” (Spreuke 15:22).

Die sesde wet: Volhard in u doel

Behou altyd u deursettingsvermoë – “klou daaraan vas”, soos mnr. Armstrong dit beskryf het. Tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe die toekoms vir Brittanje somber gelyk het, het premier Winston Churchill op 29 Oktober 1941 by die Harrow-skool gepraat. Hy het sy gehoor geïnspireer om te volhard en gesê: “Dit is sekerlik die les uit hierdie periode van tien maande: Gee nooit moed op nie, gee nooit moed op nie, nooit, nooit, nooit, nooit – in niks, groot of klein, belangrik of nietig – gee nooit op nie behalwe ter wille van oortuigings van eer en goeie verstand. Moet nooit voor die oënskynlik oorweldigende mag van die vyand swig nie. Ons het ’n jaar gelede heeltemal alleen gestaan en vir baie lande het dit gelyk asof dit verby was met ons”. Die geskiedenis toon aan dat die volgehoue volharding van die Britte en hulle bondgenote uiteindelik tot groot oorwinning gelei het.

Diegene wie op God se roeping reageer, is in ’n geestelike wedloop terwyl ons volhard op die pad na ons finale doel. “DAAROM dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het” (Hebreërs 12:1-2).

Pas die sesde wet van sukses toe. Hardloop die wedloop met uithouvermoë of “volharding” soos die 1933 Afrikaanse Vertaling dit noem. Gee nooit moed op nie! Hardloop die wedloop van die lewe met deursettingsvermoë. Soos Jesus Christus ons beloof het, “... wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Matthéüs 24:13).

Die sewende wet: Soek voortdurend God se leiding

U mag dalk vra: “Hoe kan ek God se voortdurende leiding hê?” Die eenvoudige antwoord is dat dit nodig is om tot Hom te bid – deur Hom te erken! Let op hierdie wonderlike belofte: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5-6).

God beloof dat Hy aan ons paaie sal aanwys en ons deur die lewe sal lei om ons menslike potensiaal en uiteindelike bestemming te bereik. Ons moet egter daagliks bid en ons moet volgens Sy onskatbare beloftes optree. “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7). Soos wat u begin bid en namate u u hele lewenswyse begin verander na God se Weg na ware sukses, sal Hy u vergewe deur die Verlosser van die wêreld, Jesus Christus. God het beloof dat Hy Hom oor u sal ontferm en u sal vergewe indien u u bekeer en Hom soek.

Wanneer u by ’n kruispad kom, wanneer u voor besluite te staan kom, bid en vra dat God se wil in u lewe sal geskied. Hy het beloof om u te lei en met u te wees. Soos Jesus aan ons beloof het: “Ek sal jou nooit begewe en jou nie verlaat nie” (Hebreërs 13:5).

Ware geluk kan aan u behoort!

Namate u hierdie sewe beginsels van sukses toepas en as gevolg daarvan ware sukses ervaar, sal u God se seëninge geniet. God wil hê dat ons gelukkige, oorvloedige lewens sal lei, maar heeltemal te veel mense maak die fout om geluk as ’n doel op sigself te soek en raak gefrustreerd. Ware geluk is ’n neweproduk van iets anders. Wanneer ons lewens betekenis het – ’n doel – vind ons geluk wanneer ons daardie doel nastreef. U hoef nie ryk te wees soos koning Salomo om egte waardes en ’n ware doel in u lewe te hê nie. Soos die skrywer Dennis Prager geskryf het: “’n Verlies van waardes en betekenis is die twee grootste bronne van ongelukkigheid ... arm mense wat ’n doel het, kan gelukkig wees, maar welgestelde mense wat nié ’n doel het nie, kan nie gelukkig wees nie” (“Without Meaning You Can’t Be Happy,NationalReview.com, 28 Januarie 2020). Watter gróter doel kan daar wees as om die Koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek (Matthéüs 6:33)? Geen sukses kan groter as dit wees nie!

Geagte leser, ek moedig u aan om al sewe hierdie beginsels van sukses toe te pas. Indien u dit doen, sal u die ware, oorvloedige lewe vind wat Jesus beloof het: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Dit is die lewe wat God u sal gee indien u u daartoe verbind om eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek.