Elke generasie het tye van uiterste spanning beleef. My ouers het die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog beleef. Hulle ouers het die Eerste Wêreldoorlog en die Spaanse griep beleef. Meer as 58,000 lede van my Amerikaanse generasie het in Viëtnam gesterf. Dit sluit nie sterfgevalle van Amerika se bondgenote in nie, ook nie ’n miljoen vyandelike vegters en nog twee miljoen arme siele wat in die spervuur beland het nie. Meer as 50,000 Amerikaanse soldate het met ernstige beserings vanaf Irak en Afghanistan teruggekeer, alhoewel die getal gesneuweldes baie kleiner was, gedeeltelik as gevolg van die ongelooflike vooruitgang op die gebied van noodbehandeling op die slagveld. In vergelyking met baie vorige geslagte, was die lewe na die Tweede Wêreldoorlog nogtans vir die meeste van ons in die ontwikkelde wêreld redelik goed.

Min geslagte het deur die lewe gegaan sonder om ernstige uitdagings in die gesig te staar. Natúúrlik kom die dood ook in vreedsame tye voor en veroorsaak lyding vir die sterwendes en hartseer vir hulle vriende en geliefdes. Niemand van ons kan vrae oor die lewe en die dood vermy nie en óf daar lewe na die dood is nie. Een of ander tyd word dit die heel belangrikste vraag. Indien u dit nog nie het nie, vra dan vir ons gratis boekie What Happens When You Die? Hierdie boekie sal binnekort in Afrikaans beskikbaar wees. U kan dit aanlyn lees by TomorrowsWorld.org of ’n gedrukte eksemplaar aanvra by die streekkantoor die naaste aan u, wat op bladsy 2 van hierdie tydskrif verskyn.

’n Vlugtige beskouing van hierdie uitgawe

Hierdie uitgawe van die Wêreld van Môre fokus om begryplike redes op die koronavirus wat ons wêreld bedreig. Vroeg in 2020, voordat die bekommernis oor COVID-19 ten volle ontvou het, het ek ’n reis onderneem wat reeds lank voor die krisis beplan was. So het ek ongemaklik naby die episentrum van die dreigende pandemie beland. By een geleentheid het ek en drie gaste in ’n byna leë restaurant gesit. Iemand naby ons tafel het hewig begin hoes en ons was beslis onrustig, veral toe ons verneem dat die persoon in die kombuis werk! In my artikel in hierdie uitgawe, “Om te reis te midde van ’n magdom maskers”, vertel ek van my persoonlike waarnemings toe ek deur die Filippyne, Thailand en Suid-Afrika op reis was, net toe die koronavirus buite China begin versprei het. Ek verduidelik ook waarom COVID-19 heeltemal voorkombaar was.

J. Davy Crockett III (ja, hy is ’n afstammeling van die beroemde baanbreker wat “self ’n beer doodgemaak het toe hy net drie jaar oud was” en in die Alamo gesterf het), deel elders in hierdie uitgawe met ons ’n kort kommentaar waarin hy verduidelik dat wat ons eet bygedra het tot hierdie huidige krisis.

In sy artikel wys die redaksionele direkteur en jarelange aanbieder van die Tomorrow’s World beeldsending, Richard F. Ames, hoedat ons moed versterk kan word deur op God se beloftes te steun. Waarom weier ons dikwels om ons tot God en sy geopenbaarde Woord te wend, totdat daar geen ander hoop meer is nie? Soos een vader oor sy seun gesê het: “Hy sal altyd die regte ding doen ... nadat hy alles anders probeer het”. Is daar ’n beter tyd as nou om verder as menslike oplossings te kyk en die vele bemoedigende beloftes te ontdek wat deur u Skepper aan u gegee is? (Ek wil daarop wys dat Richard Ames ook die skrywer van die uitstekende boekie is waarna ek vroeër verwys het, naamlik What Happens When You Die?)

Ons sluit in hierdie uitgawe ’n uittreksel in uit die boekie wat binnekort sal verskyn oor Bybelse gesondheidsbeginsels deur dr. Douglas Winnail. Daarin word ondersoek hoe aansteeklike siektes die wêreld verwoes, veral in tweede- en derdewêreld lande. Natuurlik, soos ons kan sien, bly hierdie siektes dikwels nie waar dit begin nie!

Ons kom dikwels nie agter hoe diep kinders geraak word wanneer dit lyk asof die wêreld rondom hulle inmekaar tuimel nie. Ek onthou nog watter effek die Asiatiese griep van 1957-58 op my elf-jarige verstand en emosies gehad het. Mark Sandor, ’n vader van vier kinders, verduidelik hoe ons ons kinders kan help om belangrike lesse in krisistye te leer. Kinders heg waarde aan die bekende en tye soos hierdie laat vrae ontstaan: Waarom word skool gekanselleer? Wat is besig om te gebeur? Is ons veilig? Ons kindertjies het antwoorde nodig. Mark se artikel elders in hierdie uitgawe is ’n móét lees vir almal met jong kinders of kleinkinders.

Die virus self is nie die enigste faktor nie. Ons ly ook as gevolg van een van die newe-effekte daarvan: Die finansiële verwoesting wat dit in ons wêreld aanrig. Dit is die onderwerp van Dexter Wakefield se artikel elders in hierdie uitgawe. Dit mag dalk wees dat die grootste nalatenskap van COVID-19 die uitwerking sal wees op die wêreld se ekonomieë en hoe daardie skade sal lei tot ’n groter negatiewe invloed op sosiale gedrag en politieke veranderings sal veroorsaak. Daar kan verwag word dat toekomstige plae – wat in profesieë voorspel word – nog erger gevolge sal hê soos wat Wyatt Ciesielka elders in hierdie uitgawe beskryf.

John Meakin ondersoek elders in hierdie uitgawe die vele uitdagings wat Brittanje en Europa in die gesig staar noudat Brexit ’n werklikheid is. Terloops, hierdie werklikheid is reeds dekades gelede op grond van Bybelse profesieë voorspel deur die Wêreld van Môre, selfs terwyl baie “kundiges” skepties was oor die moontlikheid dat Brittanje die Europese Unie ooit sou verlaat. Brittanje en die Europese Unie-nasies het alreeds geworstel om die ingewikkelde ooreenkoms van hulle politieke egskeiding te hanteer, maar wat sal die eindresultaat van hierdie kragtige nuwe uitdagings wees? Maak seker dat u elke rubriek, “Dit is Londen wat roep”, lees, in elke uitgawe van ons tydskrif om op hoogte te bly met belangrike gebeure in daardie wêrelddeel. Soos wat die COVID-19-pandemie ons daaraan herinner, is wat in een deel van die wêreld, soos byvoorbeeld in Europa gebeur, van groot belang vir mense regoor die hele wêreld.

Hoe het mense op die krisis reageer? ’n Eienaardige element wat in die geskiedenis met betrekking tot hierdie tyd opgeteken sal word, is hoe die pandemiese verspreiding van ’n siekte wat die longe aantas, op een of ander manier gelei het tot die groot tekort aan toiletpapier in 2020. Om logies te dink en geestelike raad te kry met betrekking tot die ingesteldheid om te versamel, wat veroorsaak het dat winkelrakke leeg gekoop is, behoort u Michael Heykoop se artikel “O Kanada” te lees wat elders in hierdie uitgawe verskyn.

’n Waarskuwing en wekroep

Toenemende reise ten tye van die Chinese nuwe jaar het daartoe bygedra dat COVID-19 van Wuhan na ander dele van China en die wêreld versprei het. Terselfdertyd het Europa geworstel met die onsekerheid rondom die ekonomiese en sosiale impak van Brexit. Australië het gebuk gegaan onder die las van die verwoestende siklus van droogte, brande en oorstromings van 2019, wat die dood van ’n ongelooflike een miljard wilde diere en 600,000 beeste tot gevolg gehad het. ’n Vloedgolf van ekonomiese vlugtelinge wat op soek is na ’n beter lewe in Europa en Turkye keer nie die stroom nie. Wat kan ons te wagte wees wanneer COVID-19 die ekonomieë van Mexiko en die nasies ten suide in Sentraal- en Suid-Amerika verwoes? Waarheen kan hierdie lydende hordes mense gaan? Wanneer hierdie desperate mense siektes na die lande saambring waarheen hulle vlug, hoe sal hulle ontvang word?

Wêreldgebeure kom dikwels gelyktydig voor om probleme in tye van spanning te vererger. Daardie tye van spanning lewer sterk leiers op maar nie altyd goeie leiers nie, soos byvoorbeeld: Vladimir Putin, Recep Erdogan, Xi Jinping, Donald Trump, Benjamin Netanyahu en ander mense soos hulle.

Elke generasie het probleme ondervind, maar tegnologiese vooruitgang, die spoed waarteen reise plaasvind asook die bevolkingsontploffing, het die grootte en omvang van die probleme van vandag vergroot. Dit is in die Bybel opgeteken dat nog moeiliker tye voorlê, erger as wat ons ons ooit kan voorstel. COVID-19 behoort ’n wekroep te wees oor wat voorlê – ’n relatief kleinskaalse waarskuwing aan ’n oorgeruste wêreld van wat gaan kom, tensy ons ons weë verander, wegdraai van ons onsedelike gedrag en ophou om ons Skepper te verwerp. Dit is nie toevallig dat ons wêreld omgekeer word op presies dieselfde tyd dat ons ons sedelike beginsels vaarwel toeroep!

Mediese deurbrake, ekonomiese aansporingsprogramme en sosiale distansiëring kan tydelike verligting vir ons bekommerde wêreld bring, maar dit behandel slegs die gevolge van ons probleme en nie die oorsake nie. Probleme sal voortduur totdat ons ons tot die enigste Een wend wat ware oplossings kan gee. In Bybelse taal is dit tyd dat ons ons individueel en gesamentlik verootmoedig en ons van ons sondes bekeer. Enige ander oplossing is slegs soos ’n pleister wat op ’n afgesnyde slagaar geplak word.