Is eerlikheid die beste gedragskode?

Vandag is die waarheid moeilik te vinde wanneer opponerende politieke partye oor en weer skerp aantygings teen mekaar uiter soos “Leuens! Alles leuens!” Met elke nuwe opruiende aantyging en teenaanklag kondig die gewilde nuusmedia aan: “Nuuswaardig!” Gerespekteerde staatsagentskappe ontslaan senior amptenare omdat hulle hul reputasies skend en hulle geloofwaardigheid skade berokken.

Plaaslik was daar in state en munisipaliteite talle verkose amptenare wat skuldig bevind is aan etiese oortredings. Meineed – leuens onder eed – is ’n ernstige misdaad wat baie amptenare in vertrouensposisies tot ’n val gebring het. In die akademie pleeg studente, onderwysers en administrateurs bedrog. Hulle hanteer uitgawes op ’n bedrieglike wyse en hou hulle besig met werwingsbedrog ad nauseam  [tot walgens toe].

Eerlikheid is nie net die “beste gedragskode” nie – dit is die enigste wat op die lang duur werk! Leuens, halwe waarhede, insinuasies en skinderpraatjies ruïneer individue, gesinne, besighede en selfs lande as geheel. Met ontsteltenis sien ons dit regoor die wêreld gebeur. Waarom?

Dit is duidelik dat die gebrek aan basiese morele onderrig – tuis en op alle vlakke van opvoeding – ’n oes van immorele dorings en distels oplewer en nie die gesonde vrug van eerlikheid en integriteit nie.

Daar is egter ’n ander bron van dikwels onherkenbare valsheid. U mag verbaas wees oor die gebrek aan eerlikheid en integriteit wat in die hoofstroom Christelike geloof verweef is. Die meeste groot denominasies en wêreldwye belydende Christelike organisasies verkondig dat Jesus Christus die Tien Gebooie wat God op Sinai gegee het, vervang of afgeskaf het en dat Christene doodeenvoudig onder geen verpligting staan om dit te gehoorsaam nie. Baie van hierdie mense erken dat daardie gebooie gesonde morele “beginsels” is, maar nie ’n vaste en definitiewe basis vir Christelike gedrag nie.

Voorbeelde van hierdie afwyking van Bybelse onderrig is volop. Die vierde Gebod sê: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig” (Exodus 20:8). Volens die Skrif behoort die Sabbat onderhou te word vanaf Vrydag sononder tot Saterdag sononder. Tog beskou die grootste deel van die hoofstroom-Christendom Sondag as die dag van aanbidding. Net so, hoewel die tweede Gebod die gebruik van afgode verbied om God te verteenwoordig, ignoreer baie kerke regoor die wêreld dit en vertoon hulle prente, beelde, ikone of aandenkings as deel van hulle aanbidding.

Die tradisies van mense

Terwyl die ou Israeliete hulleself voorberei het om die Beloofde Land binne te gaan, het God hulle gewaarsku: “[N]eem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie ... Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronómium 12:30-32). Deur die eeue heen het heidense tradisies soos dié van Kersfees, Paasfees, Halloween en Valentynsdag geleidelik in die praktyke van die meeste hoofstroom Christene en hulle kerke ingesypel. Hierdie kerke het selfs geleidelik die Heilige Dae laat vaar wat God in Levítikus 23 werklik beveel het om te onderhou.

Die apostel Johannes het dit baie duidelik gemaak: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:3-4). Hierdie uitspraak stem goed ooreen met Jesus Christus se opdrag in Johannes 14:15: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” Aan die dissipels het Hy gesê: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Johannes 15:10).

Op openbare pleine en in kerkgeboue ontbreek die waarheid dikwels. Party-ideologie het ware besorgdheid vir die wat deur hulle regeer word vervang. Mensgemaakte godsdienstige tradisies het Bybelse waarhede vervang.

’n Mens kan nie die politieke disfunksie of die ingeburgerde godsdienstige instellings hervorm nie, maar u kan doen soos Filippense 2:12 sê: “... werk julle eie heil uit met vrees en bewing”. Hoe pak mens hierdie diepgaande lewensverandering aan? Deur die waarhede aan te neem wat ander mense verwerp.

Deur gehoorsaamheid aan God se Waarheid ’n prioriteit te maak, kan u bevry word van die leuens en misleiding wat hierdie tydperk oorheers, want “julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32).