Verlede November is daar geskiedenis gemaak toe kiesers Barak Obama as die 44ste President van die Verenigde State gekies het. Nadat hy sy veldtog in 2007 begin het, was hy as die algehele buiteperd beskou en min mense het hom as ’n ernstige bedreiging bejeën vir Senator Hillary Clinton en ander kandidate wat graag Demokratiese nominasies wou verkry. Nogtans het die jong senator van Illinois verwagtinge verkeerd bewys regdeur die verkiesingsveldtog en miljoene kiesers besiel met sy wekroep vir hoop en verandering.

Nou dat Amerika ’n president met ’n swart vader en blanke moeder gekies het, sê sommige mense dat grense verbreek en rassisme in Amerika grootliks tot ’n einde gekom het. Hulle sê Obama se oorwinning bewys dat die lankbestaande Amerikaanse sosiale vooroordeel teen swart mense grootliks iets van die verlede is en dat die sigbare toename in minderhede se politieke en ekonomiese mag konkrete bewys is dat ou bekommernisse oor rassisme nou grootliks bygelê kan word.

Is die politieke en ekonomiese maatstawwe die ware standaard waarvolgens ons behoort te oordeel? Na alles het baie aktiviste in die vroeëre jare van Amerika se burgerregte beweging, rassisme hoofsaaklik as ’n morele en geestelike probleem beskou, waaruit politieke en ekonomiese gevolge voortgevloei het, eerder as omgekeerd.

Is rassisme in sy wese ’n morele en geestelike probleem? Wat sê die Bybel? 
God se standaard van reg en verkeerd – Sy woord en Sy goddelike wet – is grootliks deur die moderne samelewing verwerp. Dit is vervang deur ’n wêreldse waardesisteem wat van jaar tot jaar mag verander, afhangende van die morele mode van die dag. Baie mense redeneer dat hulle hul waardes moet kies om aan te pas by hul veranderende omstandighede. Die Bybel gee egter tydlose wette en beginsels wat God openbaar as beide reg en goed. As gevolg hiervan behoort ons graag te wil verstaan hoe die Bybel die menslike omstandighede verduidelik.

Sommige het deur die eeue heen probeer om die Bybel te gebruik om die onderdrukking van rasse te regverdig. Deur dit te doen, kon hulle nie meer verkeerd wees nie. Ver daarvandaan om rassehaat te regverdig, is die regverdige beginsels van die Skrif die grondslag waarop baie moderne idees van gelykheid gebou is. Omdat baie mense egter misverstaan wat die Bybel werklik leer oor rassehaat en gelykheid, is dit die moeite werd om dit van naderby te beskou.

Gedurende die tye toe die Ou en die Nuwe Testamente geskrywe is, het die nasies nie oor die algemeen enigiets soos die moderne Westerse konsep van gelykheid gehad nie. Elke kultuur het wesentlik hulself as verhewe bo die ander beskou. Selfs die antieke Grieke, wat bekend daarvoor is dat hulle die baanbrekers was van die konsep van ’n demokratiese regeringstelsel, het die mensdom beskou as om verdeel te wees in twee algemene klasse – Grieke en barbare. Nasies het nie aan moraliteit gedink toe hul uitgetrek het om mekaar te verower nie. Eienaarskap kon verkry word deur “reg van verowering”. Wanneer een nasie die ander verower het en buit geneem is, was slawe dikwels deel van daardie buit. Dit het slawerny ’n alledaagse feit van die lewe gemaak in die meeste antieke kulture – nogtans was dit nie rasgebaseerde losgoed-slawerny soos bekend aan diegene wat die Amerikaanse geskiedenis bestudeer het nie. In die Romeinse Ryk was dit algemeen om slawe van verskillende rasse te vind, van Brittanje sowel as van Afrika.

Die idee dat elke individu ’n fundamentele gelykheid het met elke ander individu, sou heeltemal ondenkbaar gewees het vir die meeste kulture van die antieke wêreld. Vir die meeste, maar nie vir almal nie. Een groep was heeltemal anders.

Die oorsprong van ’n idee

God het aan antieke Israel ’n stel opdragte gegee wat hulle uitgesonder het van die omliggende nasies. Hoe het God egter die nuwe nasie van Israel beveel om op te tree teenoor nie-Israeliete? “Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef” (Eksodus 12:49). Hy het ook gesê: “Want die Here julle God is die God van die gode en die Here van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie; wat reg verskaf aan die wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere gee. Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland” (Deuteronomium 10:17-19).

In ’n tyd toe daar felle botsings was tussen vegtende stamme en nasies, sou hierdie opdrag nie net na meer maatskaplik-gevorderd gelyk het nie – dit sou revolusionêr gelyk het. Waarom het God egter daardie opdrag aan die Israeliete gegee en nie aan die nasies in die omgewing nie? Hy het sekerlik nie Sy verbond met die Israeliete gesluit omdat Hy gedink het dat hulle as ras verhewe was bo ander mense nie. Hy het dit gedoen as gevolg van ’n belofte wat Hy lank gelede afgelê het. Terwyl die Israeliete slawe in Egipte was, “... [het] God ... hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob ... En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as ’n besitting gee, Ek, die Here” (Eksodus 2:24; 6:7).

Ver daarvandaan om die Israeliete as inherent meerderwaardig te beskou, het God hulle dikwels uitermate moeilik gevind. “Weet dan dat die Here jou God nie ter wille van jou geregtigheid jou hierdie goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is ’n hardnekkige volk” (Deuteronomium 9:6). God het antieke Israel geseën met ’n geweldige geleentheid, maar dit was nie omdat Hy hulle beter as alle ander geskape het nie. Nee, Hy was eerder getrou aan ’n antieke belofte.

’n Radikale benadering?

Ten tye van die Apostels, het Jode tussen nie-Jode gewoon regdeur die Romeinse Ryk. Het Christus of die Apostels in hierdie milieu enige enkele groep aangeraai om meerderwaardig teenoor ’n ander te voel? Nee! In teendeel het die apostel Paulus duidelik geleer dat alle rasse en volke gelykheid voor Christus gedeel het, “... waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal” (Kolossense 3:11). “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie” (Romeine 2:11). Deur Jesus Christus openbaar God: “... dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie” (Efesiërs 3:6). Die apostel Petrus leer ons: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Handelinge 10:34-35).

God verander nie, dus, toe Hy die Apostels geïnspireer het om daardie woorde te skryf, het hulle nie iets nuuts uitgedink nie. Nogtans het hierdie leerstelling van menslike gelykheid ’n diepgaande invloed gehad op die denkwyse van die eerste eeuse Kerk. Die gelykheid wat Jesus verkondig het, was inderdaad ’n radikale idee in die antieke wêreld. Christene verstaan sekerlik dat daar fisiese verskille is tussen mense en dat ons almal verskillende sterkpunte het wat deur God gegee is om ons te help voorberei vir ons toekoms as ewige lede van Sy familie. Ons moet egter nooit daardie verskille misbruik om enige menslike wese te onderdruk nie, of as ’n flou verskoning om ander hul waarde en menslike waardigheid te ontneem nie. God se plan sluit elke menslike wese in en dit maak nie saak wat ons fisiese omstandighede in die lewe mag wees nie, ons Skepper is gereed om tot ons hulp te kom. Soos die apostel Paulus skryf: “Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Romeine 10:12-13).

Alhoewel die Skrif duidelik God se siening openbaar dat alle menslike wesens dieselfde geestelike gelykheid deel en dit oortref enige van die mensdom se kunsmatige grense, het hierdie idee vir eeue sluimerend gelê in die Europese samelewing. Dwarsdeur die “Donker Eeue” het slegs ’n paar mense toegang tot die Bybel gehad en tensy ’n persoon deel was van die geleerde paar mense wat Latyn kon lees, kon die persoon slegs hoor wat priesters en leiers wou hê die persoon uit die Bybel moes hoor. Brawe individue wie die Bybel in ander tale vertaal het, was op die brandstapel verbrand of is op ander maniere doodgemartel. Korrupte godsdienstige en politieke strukture het saamgewerk om Bybelse waarhede wat hul mag kon bedreig, te onderdruk, dus het die Bybelse boodskap van gelykheid grootliks verborge gebly.

Nadat die drukpers en die Hervorming Bybelvertalings uiteindelik algemeen beskikbaar gemaak het, het Bybelse leerstellings oor gelykheid die grondslag voorsien – ’n onweerlegbaarheid – waarop die diep gelowige stigters van die Westerse demokrasieë sou bou. Toe politieke gelykheid in die Westerse beskawing begin blom het dit gegroei uit antieke Bybelse wortels. Nogtans was daardie groei dikwels moeilik en gewelddadig en het gelei tot ontsaglike politieke en maatskaplike ontwrigting. Die Puriteinse leier, Oliver Cromwell van Engeland, het in die 17de eeu ’n leër op die been gebring, Koning Charles die Eerste verslaan en hom onthoof – ’n daad wat hom die titel “die Vader van Engelse Demokrasie” besorg het.

Wat gebeur wanneer nasies politieke gelykheid sonder God nastreef? Die leiers van die Franse Revolusie het hul “demokratiese” hervormings verbind aan ’n gewelddadige verwerping van godsdiens. Tienduisende Franse burgers is in die laaste dekade van die 18de eeu wreed vermoor. Hierdie betreklik kort tydperk van politieke proefneming het die Franse volk so erg vervreem dat hulle gou weer na ’n monargie teruggekeer het.

Amerika se godsdienstige erfenis

In teenstelling met die Franse, het die Amerikaanse Stigtervaders na hul godsdienstige erfenis gekyk as die grondslag van en regverdiging vir hul politieke filosofie. Hulle skryf: “Ons beskou hierdie waarhede as vanselfsprekend, dat alle mense gelyk geskape is, dat hulle deur hul Skepper toebedeel is met sekere onvervreembare regte ...” Hul idee was dat aangesien God sekere regte verleen het, geen mens daardie regte regtens kon ontken nie. Nogtans het hulle ’n Konstitusie goedgekeur wat aan die state politieke verteenwoordiging verleen het wat gebaseer was op die versinsel dat ’n swart Amerikaner slegs 3/5 van ’n wit Amerikaner werd was, en hulle het ’n wrede en brutale ras-gebaseerde stelsel van losgoed-slawerny onderskryf – wat nie deur enige Bybelse statuut of voorbeeld ondersteun word nie – en wat uiteindelik ’n burgeroorlog genoop het om dit te beëindig.

Abraham Lincoln het gesê: “Net soos ek nie ’n slaaf wil wees nie, net so wil ek ook nie ’n meester wees nie”. Klink dit bekend? Die etiek waaruit Lincoln sy aankondiging afgelei het, kom uit die Bybel: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete” (Mattheüs 7:12). Lincoln se politieke standpunte was gevorm en gelei deur sy begrip van ou antieke Judees-Christelike etiek.

Die Burgeroorlog het ’n einde gemaak aan die slawe-stelsel in Amerika, maar onderdrukking, ongelyke behandeling en gebrek aan geleenthede het bly voortbestaan deur die afdwingbaarheid van segregasie en die “Jim Crow”-wette. Wat was die dryfveer agter die burger-regte aktivisme in die 1950s en 1960s, wat vir eens en altyd aangedring het op ’n einde aan onregverdigheid en ongelykheid in die Verenigde State? Allereers was dit die oortuigingskrag van morele uitbarsting wat gebore is uit die nasie se Afrika-Amerikaanse kerke, waar leiers soos Dr. Martin Luther King, Jr. rassisme as moreel verkeerd uitgekryt het – en die Bybel gebruik het as die bron van hul morele beslissing!

Hoe ironies en hartseer is dit nie dat in vandag se wêreld, die antieke Bybelse morele gesag wat die burgerlike regte beweging teweeggebring het, nou om elke draai bevraagteken word nie. Vertoon van die Tien Gebooie in openbare skole en geboue is nou onwettig. Soos die Westerse beskawing hulself lossny van die morele anker, waarheen sal dit dryf? Ons het geweldige groot agteruitgang in gesinslewe en seksuele sedes gesien, wat groot skade aan die wese van ons nasies aanrig. Maatskaplike permissiwiteit in Amerika het mense van alle rasse geraak deur die wydverspreide dwelmmisbruik en misdaad wat dit voortgebring het, en enkelouerskap is een van die grootste oorsake van armoede.

Nadat iemand die godsdienstige beginsels waarop ’n morele kultuur rus verwerp het, waarop kan hulle dan beslissings van reg en verkeerd baseer? Meer en meer het wêreldse slimkoppe besluit dat mag – wie dit het en wie dit verkry – die enigste geldige basis is vir morele besluite. Mag is die beginsel, volgens hierdie manier van denke. Namate hierdie idee populêre aanvaarding verwerf, kan veranderings in Westerse persepsies van politieke gelykheid ver agterweë bly? Indien die gemeenskap sy morele stut verskuif van die vaste fondament van Judees-Christelike sedelikheid na die dryfsand van menslike redenerings, sal ’n ander fondasie nie ’n ander struktuur skep nie?

Rassisme vergiftig die rassis

Gedurende die laaste paar dekades in die sekulêre samelewing, het ’n moraliteit ontwikkel waarin God se definisie van wat reg en verkeerd is, verwerp is. Mense redeneer dat so lank ’n daad nie ’n ander benadeel nie, dan, “indien dit goed voel, doen dit”. Of so lank as mens se sonde nie onwettig is nie, waarom dit nie doen nie? God sê egter wanneer ons sondig, ons onsself asook ander benadeel. Net omdat ons nie die nadeel op daardie tydstip kan sien of voel nie, beteken nie dat die skade nie gedaan is nie. Soos apostel Paulus aan die kerk in Korinthe gesê het: “Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ’n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam” (1 Korinthiërs 6:18). Die apostel Johannes skryf: “Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar” (1 Johannes 3:15). Dit beteken dat indien u iemand haat, dan het u die gebod verbreek wat sê: “Jy mag nie doodslaan nie”. Rassehaat is sonde.

Rassisme vergiftig die rassis, omdat sonde die sondaar vergiftig. Dit is geldig vir alle rasse, want God is nie ’n aannemer van die persoon nie. Haat is moord wat in ’n mens se hart gepleeg word en rassisme is ’n vorm van haat wat nie slegs die slagoffer benadeel nie, maar die oortreder ook. Van die skade wat berokken word, is die isolasie wat dit meebring – van God en van ander mense. Indien u ongemaklik voel wanneer u met mense van ’n ander ras te doen het, of indien u meerderwaardig voel teenoor mense van ’n ander ras, sal u nie in staat wees om positiewe of opbouende interaksie te hê nie en u sal meer en meer terugtrek in u eie beperkte assosiasie. Soos u dit doen, sal u uself ook isoleer van God se lewenswyse wat liefdevolle, uitgaande besorgdheid teenoor almal rondom u gebied. Die Bybel verduidelik dat die mensdom ellende en rampe oor homself bring deur verwerping van God se lewenswyse en die gebooie wat Hy gegee het, “... [so]dat dit met jou goed kan gaan” (Deuteronomium 10:13). Wanneer ons Hom uittart, benadeel ons onsself fisies en geestelik.

Wat geld as rassisme?

Behoort daar verskillende standaarde te wees wanneer blanke en nie-blanke rassisme gemeet word? In klaskamers oor Amerika heen word studente dikwels geleer dat rassisme “vooroordeel plus mag” is – tensy iemand die mag het om sy vooroordeel af te dwing, kan daar nie gesê word dat die persoon rassisme bedryf nie. Ironies genoeg, kan hierdie algemene idee rassistiese dubbele standaarde verewig waardeur, indien ’n hele ras of volk as magteloos bestempel word, hul morele en geestelike werking gedevalueer kan word.

Definisies van rassisme wat opgestel word om besondere groepe vry te spreek, kan in werklikheid misbruik word om rassisme te verskoon of te bevorder. Hierdie probleem raak alle rasse. Die mees sosiaal aanvaarbare vorm van rassisme onder blankes is seker deesdae die rassistiese chauvinisme dat hulle meer verantwoordelik is as “gekleurdes”. Dit kan gevind word in sommige blankes se lae verwagtings van nie-blankes se moraliteit, of as ’n morele relatiwiteit wat gedrag in nie-blankes verskoon wat veroordeel sou word in iemand van Europese afkoms. Eienaardig, beide die voorstanders en die slagoffers van rassistiese chauvinisme hang dikwels hierdie standpunte aan.

Wanneer ons egter na rassisme uitsluitlik deur die bril van mag en politiek kyk, sluit ons God uit ons ontleding uit. Die sekulêre wêreld huldig sy standpunt oor rassisme, maar die Bybel het ’n ander een. Wanneer ons na rassisme deur die bril van die geloof kyk en God in ons kennis insluit, sien ons iets anders. God sê dat hy nie die aannemer van persone is nie. Dit beteken dat wat sonde vir die rykes is, ook sonde vir die armes is, en wat sonde vir een ras is, is ook sonde vir die mense van alle rasse. Volgens God se standaarde, is die sonde van rassisme ’n gelyke geleentheid uitbuiter en die skade daarvan word nie slegs bereken volgens wat met die slagoffer gebeur nie. Dit is net so giftig vir diegene wat dit bedryf.

Hoe word ons geoordeel?

“Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Wat sien God wanneer Hy in ons harte kyk? Die apostel Paulus sê: “Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie” (1 Korinthiërs 11:31). Dit is God wat ons oordeel, maar wat is Sy standaard? Gelukkig het ons ’n bietjie sê in die saak. Gedeeltelik berus Sy oordeel oor ons op hoe ons ander mense oordeel.

Jesus stel die beginsel: “Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” (Mattheüs 7:2-3).

Verskillende rasse, volke en individue het nie almal deur die tye heen tot dieselfde mate gely nie. Ons behoort altyd bedag te wees op hoe ander mense voel – veral omdat verskeie rasse en etniese groepe geweldig gely het as gevolg van rassisme en die gevolge daarvan. Ons behoort nie te huiwer om ons stem te verhef teen die sonde van rassisme nie. God waarsku ons egter dat ons versigtig moet wees. God het die beginsel neergelê – dat ons geoordeel word volgens die standaard waarmee ons oordeel. Paulus skryf weer: “Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ’n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen. En meen jy, o mens wat hulle oordeel wat sulke dinge doen, en dit self doen, dat jy die oordeel van God sal ontvlug?” (Romeine 2:1-3).

Is rassisme in Amerika ’n ding van die verlede? Wat u ook al antwoord – dit maak nie saak watter vordering nasionaal gemaak mag wees nie – ons behoort te onthou dat God ook na elke hart kyk. Kan enigeen van ons eerlik sê dat ons waarlik alle ander mense behandel soos God wil hê dat ons hulle moet behandel? Deur Sy standaarde in gedagte te hou, het ons nog ’n lang pad om te loop, op nasionale vlak en as individue. Met Sy hulp en deur Sy woord te gehoorsaam, kan ons – en moet ons – aanhou groei na volmaaktheid (Hebreërs 6:1).