Ware vrede in die Midde-Ooste bly so ontwykend soos ooit. Sal daar ooit ware vrede in die Midde-Ooste tot stand kom – asook in die res van die wêreld?


Nadat Saddam Hussein van Irak suksesvol uit die kussings gelig is, het die Verenigde State “’n omvattende padkaart na vrede” vir die Midde-Ooste daargestel. Met die hulp van Amerika en Engeland het die leiers van Irak se teenstanders vergader, nie vêr van die stamvader Abraham se geboorteplek nie, om die raamwerk vir ’n stabiele en demokratiese nasie te skep.

Dit was gou duidelik dat dit makliker is om ’n oorlog te wen as om “vrede te bewerkstellig”. Wat is die kanse om uiteindelik ’n langtermyn vrede en stabiliteit na hierdie land uit vervloë dae te bring? Onlangse geskiedenis en Bybelprofesieë is bewyse dat die mensdom se beste planne gedoem is tot mislukking.

Die VSA besef dat vrede in Irak nie gehandhaaf kan word sonder vrede in die Midde-Ooste nie en daarom het hulle vinnig druk op Israel uitgeoefen om ’n veelomvattende skikking met die Palestyne te aanvaar. Die Verenigde State se plan wat ondersteun is deur Rusland, die Europese Unie en die Verenigde Volkere, was daarop ingestel as ’n metode om die spanning in die Midde-Ooste te verlig, toekomstige dreigemente van terrorisme te verminder, ’n onbelemmerde vloei van ru-olie na Westerse lande te verseker en om dus ontwrigting van die wêreld-ekonomie te verhinder.

Sal hierdie plan slaag waar ander misluk het? Sal die Bush Administrasie die sleutel tot sukses vind wat sy voorgangers ontwyk het? Is daar inderdaad so iets soos ’n “padkaart" na ware vrede?

Vroeëre Pogings Tot Vrede

Daar was geen gebrek aan vredesplanne gedurende die geweldsjare van die 20ste eeu nie! President Woodrow Wilson van die VSA het die “Groot Oorlog” van 1914-1918 aan die Amerikaners voorgehou as die “oorlog om alle oorloë te beëindig” en dat dit die wêreld “veilig sou maak vir demokrasie”.

Die hele bestaan van Irak is die resultaat van ’n vroeëre “padkaart na vrede”. Toe die Ottomaanse Keiserryk aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog, die Groot Oorlog, ineengestort het, het die Britse regering pogings aangewend om die grense van die Midde-Ooste te verander. Lande soos Irak, Jordanië, Saoedi-Arabië en Israel het almal hul ontstaan gehad gedurende daardie Midde-Oosterse skikking. Landkaarte wat net na die Groot Oorlog deur Britse en Franse diplomate opgetrek en goedgekeur is deur die Volkebond, bestaan vandag nog as die grense van die meeste van die Midde-Oosterse lande. Maar eie aan die eertydse oplossings is saadjies gesaai vir die hedendaagse probleme.

Die Balfour Deklarasie is laat in 1917 uitgereik, kort voor die Britte Jerusalem van die Turke verower het. Dit het Engeland se besluit aangekondig om die stigting van ’n Joodse tuisland te begunstig. Die Palestynse Mandaat, ’n voortvloeisel van die Balfour Deklarasie wat deur die Volkebond goedgekeur is, het toegelaat dat die drupsgewyse instroming van Jode na Palestina – wat reeds in die 1880’s met die Sionistiese beweging begin het – aansienlik kan toeneem.

Na die Geallieerdes se oorwinning, keur Brittanje die samesmelting van die Hejaz en Nejd gebiede in die Arabiese Skiereiland goed onder leiding van die heer Saud. Om die vrede te bewaar en as troos vir Suad se mededingers – die ontwortelde Hasjemitiese dinastie – vergoed Brittanje hulle deur aan hulle die nuut gestigte state van Transjordanië en Irak toe te staan. Die Franse het die Volkebond se mandaat ontvang om Sirië en Libanon te beheer. Alles was deel van die plan om ’n stabiele Midde-Ooste onder “goedgunstige” Westerse invloed te stig.

Natuurlik het dinge nie volgens plan uitgewerk nie! In plaas daarvan om die wêreld veilig te maak vir demokrasie, is daar in die nasleep tot die Groot Oorlog onderdrukkende totalitêre regeringstate gebore in Rusland, Italië en Duitsland. Net meer as twee dekades na die “oorlog om alle oorloë te beëindig”, het dit bekend geword as “Die Eerste Wêreldoorlog” toe die Geallieerde magte weer in ’n wêreldoorlog teen hierdie totalitêre regeringstate betrokke geraak het – ’n oorlog wat die grusaamheid van die “oorlog om alle oorloë te beëindig” nietig sou laat lyk.

In 1945, teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog, is ’n nuwe padkaart tot vrede bekendgestel. Die Yalta Konferensie het die wêreld opgedeel en onder die invloed van die Sowjet Unie, die VSA en Brittanje geplaas. President Franklin D. Roosevelt van die VSA het geglo dat so ’n ooreenkoms die Sowjet Unie sou oortuig van die welwillendheid van die Westerse nasies en dat dit ’n stabiele en vreedsame na-oorlogse wêreld sou bevorder. Die Verenigende Nasies is in 1945 gestig om die Volkebond te vervang om sodoende te poog dat die wêreld uiteindelik vrede sou smaak.

Natuurlik ken ons die res van die storie. Vir dekades daarna het die wêreld tydens die Koue Oorlog geleef in die skadu van die atoombom en ’n absolute “wedersydse vernietigingsbeleid” tussen die VSA en die Sowjet Unie. Met die dreigende spanning van die Koue Oorlog, is kleiner vurige oorloë gevoer in plekke soos Korea, Viëtnam en Afganistan. Koloniale oorloë in die naam van ‘vryheid’ het byna elke Afrikaland onder die omkoopbare leierskap van tiranniese inboorlinge geplaas. Die VSA en die Sowjet Unie het hulle geallieerdes met wapens voorsien en hulle volmag gegee en toegelaat om hulle probleme in ’n oorlogsituasie op te los.

Uiteindelik, in die herfs van 1989, het die hele na-oorlogse orde van die Tweede Wêreldoorlog binne slegs ’n paar weke tot niet gegaan. Kommunistiese regeringstelsels dwarsoor Oos-Europa het soos domino’s getuimel. Die Berlynse Muur tussen die kommunistiese en Westerse lande – eens die mees gehate simbool van die “ystergordyn” – is vinnig deur jubelende skares afgebreek. Binne enkele jare het die Sowjet Unie nie meer bestaan nie en is die Kommunistiese vlag voor die Kremlin met die ou Russiese vlag vervang. Sommige kommentare het hierdie merkwaardige gebeure beskryf as die “einde van die geskiedenis”. Die mensdom se eeu-oue stryd en mededinging was veronderstel om tot ’n einde te kom. Uiteindelik sou daar vrede, voorspoed en vryheid vir almal wees.

Ongelukkig sien ons nou dat sulke veronderstellings naïef was. Hulle het ’n gebrek aan kennis van die menslike natuur gehad, en beslis ’n gebrek aan kennis van Bybelprofesieë.

Die Weg na Vrede Ken Hulle Nie

Die twintigste eeu was sonder twyfel die bloedigste in die mensdom se geskiedenis maar dit kan nie toegeskryf word aan ’n gebrek aan vredesplanne nie! Die mensdom het bloot bewys dat dit nie die weg na vrede is nie. ’n Padkaart is alleenlik van nut indien die opsteller daarvan duidelik weet hoe om sy eindpunt te bereik! Dit word erken dat die Bush Administrasie se padkaart na vrede nie veel van ’n kans staan nie. Die tydskrif, U.S. News & World Report van 12 Mei 2003, bl. 15, sê dat dit nie baie verskil van voorstelle deur vorige Administrasies nie en dat daar sprake is dat die pad na vrede uitgerek en besaai sal wees met omweë, slaggate en doodloopstrate. Tog voel dit of ons almal al voorheen hierdie pad geloop het” (ibid., bl. 18).

Vandag se kenners – en God se Woord – stem ooreen dat huidige pogings deur die VSA om vrede in die Midde-Ooste te bewerkstellig gedoem is tot mislukking. Die profeet Sagaria het meer as 2,500 jaar gelede oor die gebeurtenisse in die Midde-Ooste geskryf – hy sê dat die Almagtige Jerusalem “tot ’n baie swaar klip [gemaak sal word] vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak” (Sagaria 12:3).

Die ineenstorting van die Europese kommunisme het nie die einde van die mensdom se magsvertoon en gevolglike oorloë beteken nie. Inteendeel, die verhoog was reg vir nog ’n ander mededinger. Die onlangse oorlog in Irak bewys dat die VSA sy eie staatsbeleid en doelstellings najaag, sonder inagneming van “die wêreld se opinie”. Britse en Amerikaanse troepe het Saddam se regering in ’n rekordtyd oorrompel, ten spyte daarvan dat Frankryk, Rusland en Duitsland daarteen gekant was. Hierdie nasies is nou beswaard oor hulle oënskynlike magteloosheid en is angstig om iets daaraan te doen – ten koste van Amerika.

Maak geen fout nie; ons het nog nie die “einde van die geskiedenis bereik nie”. Daar gaan nog groot mededingers op die wêreldtoneel verskyn. Hierdie mededingers is voorbestem om vroeg in die een-en-twintigste eeu hulle merk te maak en om eens en vir altyd te bewys dat die mensdom nie die weg na vrede ken nie. Die Bybelse profeet, Jesaja, skryf eeue gelede: “Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie” (Jesaja 59:8). Met Amerika tans skynbaar op die toppunt van sy mag, is dit byna onmoontlik om te besef dat die mag van die Anglo-Amerikaanse bondgenootskap in die onmiddellike toekoms tot ’n val sal kom.

Selfs vandag reeds word planne op die Europese vasteland beraam as ’n teenvoeter vir die Anglo-Saksiese magte. Die Stratfor Report beskryf onlangs die begin van ’n vername verandering in die strategiese bondgenootskappe: “Dit skyn of Rusland en Europa hulle kragte saamsnoer om die Verenigde State se toenemende globale teenwoordigheid aan bande te lê deur die skep van ’n “Groter Europa” wat bestaan uit die Europese Unie en die Gemenebes van Onafhanklike State [die vorige Sowjet Unie] … En deur Rusland as die mees belangrikste bondgenoot te hê, sal Europa die post-Sowjet state aanmoedig om te verenig en by die groep aan te sluit – in ’n poging om die wêreld se nuwe magsbasis te skep” (10 Mei 2003, ons beklemtoning).

Hierdie nuwe anti-Amerikaanse Europese bondgenootskap sal ook mededingers in die Arabiese lande vind. Die feit is dat die Arabiere net tydelik afgeskrik is deur die onlangse magsvertoon van die Amerikaners. In plaas van ’n stabiele, demokratiese regering wat die mag in die Arabiese deel van die wêreld handhaaf, is die bevolking meer vatbaar vir anti-Westerse praatjies en ’n boodskap uit militante Islam. ’n Charismatiese persoon, wat in die Bybel geskets word as die “koning van die Suide” sal sy verskyning maak in die Arabiese wêreld. Hy sal ’n militante lewensbeskouing en boosaardige anti-Westerse uitkyk hê. Sy pogings om hierdie eerskomende “Groter Europa” te probeer uitdaag sal ’n toekomstige Europese ingryping in die Midde-Ooste tot gevolg hê (Daniël 11:40-43).

Die Weg na Ware Vrede

In Sy beroemde Olyfberg Profesie (sien Mattheus 24; Markus 13; Lukas 21), verduidelik Jesus Christus dat voor Sy Wederkoms as Koning van konings, daar ’n toename in oorloë en gerugte van oorloë sal wees. Dit sal die hewigste tyd van verdrukking in wêreldgeskiedenis wees (Mattheus 24:21). Jeremia beskryf dit as “’n tyd van benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7). Die hedendaagse afstammelinge van Jakob bestaan nie net uit Jode nie, maar sluit ook die Anglo-Saksiese-Keltiese volkere in. Onthou dat Jakob, wie se naam later na Israel verander is, 12 seuns gehad het. Juda – die stamvader van die Jode – was net één van daardie seuns. (Indien u nog nie kennis dra van hierdie uiters belangrike sleutel tot profesie nie, bestel gerus ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?)

In die vroeë sesde eeu v.C. (toe die Jode vir die eerste keer uit Babiloniese gevangenskap teruggekeer het om Jerusalem te herbou), werp die profeet Sagaria ’n blik op die eeue die toekoms in en wel na ons tyd en die jare wat onmiddellik vir ons voorlê. Hy beskryf die gevolge van die onrus in die Midde-Ooste en maak bekend dat ’n groot weermag wat uit vele lande bestaan in die eindtyd teen Jerusalem sal opstaan en die stad in besit neem. Die inval en onderdrukking van Jerusalem is geensins die einde van die storie nie. Inteendeel sê Sagaria: “En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd ... en in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg” (Sagaria 14:3-4).

Jesus Christus het byna 2,000 jaar gelede die goeie nuus van die Koninkryk van God gebring. Hy het die enigste weg na ware vrede bekend gemaak. Baie min mense het die weg aanvaar. Daar is baie mense wat Jesus se naam gebruik en Sy Messiasskap erken – maar hulle ignoreer Sy boodskap! Tog, wanneer Christus terugkeer, sal Hy in mag en glorie ’n letterlike koninkryk stig – ’n ware regering wat vrede bring!

In die boek van Openbaring sien die apostel Johannes in ’n visie die totstandkoming van daardie toekomstige Koninkryk. Johannes plaas ook op rekord dat Jesus Christus, net na Sy terugkeer, Satan die Duiwel sal weerhou om nie langer die nasies te mislei nie (Openbaring 20:1-3). Daarna het Johannes trone in ’n visie gesien – wat posisies van leierskap aandui – beset deur die nuut verrese Heiliges wat onsterflik is (1 Korintiërs 15:50-53). Jesus Christus sê dan ook aan Johannes: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Openbaring 2:26). Gedurende Sy aardse getuienis het Christus al 12 die Apostels meegedeel wat hulle spesifieke beloning in Sy komende Koninkryk sou wees: “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Mattheus 19:28).

Jesus Christus gaan met Sy Wederkoms ’n letterlike regering op die aarde tot stand bring. Sy dissipels het egter verwag dat Hy Sy koninkryk onmiddellik tot stand sou bring, maar toe vertel Hy voor sy kruisiging ’n gelykenis aan hulle. In daardie gelykenis vergelyk Hy Homself met ’n jong man van adellike afkoms wat na ’n vêr land reis om as koning aangestel te word en toe terugkeer om te regeer (Lukas 19:11-12).

Hoe sal Jesus Christus se regering daar uitsien, en hoe sal dit vrede op aarde teweeg bring as elke vorige wêreldse poging misluk het? Dit sal ’n wêreldwye regering wees (Sagaria 14:9). Dit sal ’n regering wees gebaseer op God se regverdige wette wat behoorlik vanuit die nuwe wêreld se hoofstad, Jerusalem geadministreer sal word (Jesaja 2:3). Daar sal wêreldwye ontwapening wees. Die mensdom se energie en natuurlike hulpbronne sal produktief aangewend word in plaas van die vervaardiging van wapentuig (vers 4). Dit sal ’n tyd wees wanneer ’n Koning (Jesus Christus) en prinse (die pas herrese heiliges) in regverdigheid en geregtigheid sal regeer (Jesaja 32:1).

Hoe sal vrede teweeggebring word? Die profeet Jesaja verklaar: “En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid” (Jesaja 32:17). God se wette omskryf die weg na ware regverdigheid (Psalm 119:172). Daar kan beslis nooit vrede op aarde wees voordat die mensdom die enigste pad na vrede volg nie! Daardie weg – die weg van liefde en ware besorgdheid wat deur gehoorsaamheid aan God se wette voortvloei – lei tot vrede met God en vrede met ons medemens.

Die Midde-Ooste sal vrede ervaar – en ook die hele wêreld – en dit sal nog gedurende die leeftyd van baie van u wees wat hierdie artikel lees. Die toekomstige tyd van vrede word deur die Huttefees uitgebeeld, een van sewe jaarlikse feeste wat God aan die Israeliete in Levitikus 23 gegee het. Die viering van die Huttefees versinnebeeld die vooruitsig van die duisendjarige ryk van Christus en die heiliges op aarde. Dit sal ’n tyd van rus vir die hele wêreld wees (Jesaja 14:7) en ’n tyd wanneer almal “sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom” en niemand sal hom bevrees maak nie (Miga 4:4). Mag God gee dat daardie dag spoedig aanbreek!