Die boek Openbaring is vir die meeste mense die geheimsinnigste boek in die Bybel. Terwyl baie idees en uitleggings voorgehou is as verduidelikings van Openbaring, verstaan min lesers werklik die agtergrond waarteen hierdie belangrike boek geskryf is. Sodanige begrip is deurslaggewend indien ons wil begryp watter rol God beoog het hierdie laaste boek van die Bybel in die lewe van Sy Kerk moes speel.

Toe die eerste eeu na Christus tot ’n einde gekom het, was dit ’n ontstellende en moedelose tyd vir God se mense. Jare tevore, na die kruisiging, opstanding en Hemelvaart van Jesus Christus het die Kerk van God op ’n baie dramatiese wyse op Pinksterdag van 31 n.C. tot stand gekom. Drieduisend mense is op daardie dag gedoop en in die daaropvolgende maande het die getal dissipels grootliks vermeerder. God se bonatuurlike ingryping was gereeld sigbaar.

Na ongeveer twee jaar het vervolging in die Jerusalem omgewing begin. Baie van die dissipels het uit die gebied gevlug, maar die vroeë Christelike beweging het steeds in omvang en krag toegeneem. Die geskiedenis van die Christelike Kerk oor die eerste 25 jaar is ’n verhaal van groei en opwinding. Daar was wel vervolging, maar dit was meestal plaaslik en sporadies in omvang en duurte. Nuwe gemeentes is regdeur Klein-Asië, Griekeland en selfs in Rome gestig. Daarby het verskeie van die oorspronklike twaalf Apostels die evangelie aan oorblyfsels van die Huis van Israel verkondig. Hulle het gereis na die Parthiese Ryk oorkant die Eufraat, asook na die Britse Eilande. Verder het die Kerk van so aard in die Jerusalem omgewing uitgebrei, dat Jakobus tydens Paulus se besoek daar in die laat lente van 56 n.C. sy aandag daarop gevestig dat duisende Jode in die omgewing die Christelike boodskap glo (Handelinge 21:18-20).

Daarna het dinge begin verander. Gedurende daardie Pinkstertyd van 56 n.C. word Paulus gearresteer en bring hy die grootste deel van die volgende vyf jaar in die tronk deur – waarvan die laaste twee in Rome. Vandat Paulus nie meer vry was om deur die Griekssprekende wêreld te reis nie, het ernstige probleme na vore gekom in baie van die Griekse kerke. Paulus het dit self voorspel in sy rede aan die Efesiese ouderlinge terwyl hy onderweg was Jerusalem toe in die lente van 56 n.C. (Handelinge 20:29-30).

Leraars wat dwaalleer verkondig het, wou die Christelike Kerk omverwerp en beheer daaroor verkry om hul eie doelstellings te heilig. Deur hul eie ‘verdraaiing’ van die Christelike boodskap in te bring, aangevuur deur ’n begeerte vir rykdom en mag, het hulle na ’n persoonlike gevolg gestreef. Dit is waarom beide Judas en Petrus sodanige leraars met Bileam van ouds vergelyk het.

Hierdie situasie was so omvangryk teen die tyd van Paulus se vrylating uit Romeinse gevangenskap, dat Jakobus se broer, Judas, Christene vermaan “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Dit was nodig omdat sommige mense doelbewus die bedoeling van “genade” verdraai het om voor te gee dat gehoorsaamheid aan God se wette nie meer nodig was nie. Waar daar net ’n paar jaar tevore eenheid in leerstelling en evangelistiese ywer was, was daar nou toenemend stryd, verwarring en ontmoediging.

Die toestand het voortdurend versleg. In en om Judéa was daar revolusie in die lug. Joodse Selote voer ’n aksie vir die omverwerping van Romeinse oorheersing en die instelling van ’n onafhanklike Joodse staat. Joodse Christene was aan toenemende druk onderwerp om hulle te vereenselwig met hierdie “patriotiese” beweging. Binne maande na Paulus se vrylating is Jakobus (Jesus se broer wat leier van die Jerusalem Kerk was) in Jerusalem deur Herodus om die lewe gebring (Handelinge 12:1-2). Oor die volgende vyf jaar, aan die einde van keiser Nero se heerskappy, het die vervolging van Christene deur die Romeine toegeneem. Honderde Christene is gedood, hoofsaaklik in Rome maar ook in party van die provinsies. Met sy toenemende ongewildheid na die groot vuur wat ’n groot deel van Rome vernietig het, probeer Nero om die aandag van homself weg te lei deur die blaam vir die Ryk se probleme op hierdie nuwe “sekte” te plaas. Voor die einde van sy heerskappy – toe Nero self uit Rome moes vlug gedurende die lente van 68 n.C. – het die Romeinse Ryk eers vir Paulus en daarna vir Petrus tereggestel.

Kort na die Pinkster van 69 n.C. het die Jerusalem Kerk voor die aankomende Romeinse leër gevlug. Teen 70 n.C. was beide die Tempel en Jerusalem self in puin, totaal vernietig deur generaal Titus en sy troepe. Feitlik die hele oorspronklike leierskap van die Kerk was teen hierdie tyd dood. Trouens, Johannes was die enigste oorspronklike Apostel wat nog geleef het. Na 70 n.C. het hy Efese, wat in Klein-Asië (moderne Turkye) naby die kus van die Middellandse see geleë was, sy hoofbasis vir bedrywighede gemaak.

In die dekades wat volg het die lidmate ’n toenemende gewoel en leerstellingstryd binne die Kerk gesien. In die vroeë 90’s n.C. slaag die ondermynende element daarin om beheer oor te neem van hele gemeentes. Hulle het baie ware Christene wat getrou aan Johannes en die oorspronklike leringe van die Apostels gebly het, uit die kerk gesit (3 Johannes 9-10). Hoe verwarrend moes dit nie gewees het vir diegene wat gewag het op die wederkoms van Jesus Christus en die daarstelling van Sy Koninkryk nie! Jerusalem was omring deur leërs en is toe vernietig, net soos Jesus kort voor Sy kruisiging voorspel het (Lukas 21:6, 20-22). Heelwat meer as 20 jaar het egter verbygegaan en Christus was nog nie terug nie. Om sake te vererger het die Romeinse regering onder keiser Domitianus die vervolging van Christene verskerp. Hy het probeer om eenvormigheid met die staatkultus van keiseraanbidding af te dwing, veral in die gebied van Klein-Asië waar baie ware Christene geleef het.

Daarna, in 96 n.C. is die bejaarde Johannes deur die Romeinse regering gearresteer en verban na die eiland van Patmos, langs die kus van Klein-Asië. Patmos was ’n plek waarheen politieke gevangenes verban is waarvan min ooit teruggekeer het. Vir iemand met Johannes se gevorderde ouderdom moes die verbanning na ’n tronkeiland na ’n gewisse doodstraf gelyk het. Dit is hier waar Johannes die visioene gegee is wat die laaste boek van die Bybel uitmaak.

Petrus dui Johannes se toekomstige rol aan

Petrus het sowat dertig jaar tevore, in die laaste maande van sy lewe, sy laaste brief aan die Kerk geskryf. Onder God se inspirasie poog hy om die lidmate op die toekoms voor te berei. Hy doen dit op twee maniere. Eerstens plaas hy ’n permanente gesaghebbende leerstelling vir die Kerk op rekord. Dit was die eerste geloofsreël van die Nuwe Testament. Ons sien hoe daarna verwys word in 2 Petrus 1:15: “Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal onthou” (NV). Hy het dit gedoen deur ’n gesaghebbende geskrewe verslag na te laat.

Tweedens het hy die lidmate na Johannes verwys. Daar is gesê dat Johannes, tesame met Petrus en Jakobus, die broer van Johannes, “die profetiese woord wat baie vas is” (2 Petrus 1:16-19) besit, omdat hy saam met Jesus op die Berg van Verheerliking was (“aanskouers van sy majesteit” vers 16) en die stem uit die wolk gehoor het (verg. Mattheus 17:1-9). Teen die tyd dat Petrus hierdie gedeelte geskryf het, het Jakobus reeds jare tevore ’n marteldood gesterf (Handelinge 12:1-2), dus kon Petrus se “ons” slegs na homself en Johannes verwys het.

Dit was God se doel om Johannes te gebruik om die Nuwe Testament te voltooi en Petrus getuig hiervan in sy laaste brief. Johannes het aan hierdie opdrag voldoen deur ’n vierde evangelie en drie briewe te skryf – almal waarskynlik voltooi voor sy verbanning na Patmos – en dan laastens die boek Openbaring. Johannes was verantwoordelik daarvoor om die Nuwe Testament in sy finale vorm saam te stel.

In sy evangelie het Johannes hoofsaaklik die klem gelê op Jesus se leringe in verband met die feestye gedurende Sy bediening. Johannes het nie begin met die menslike geboorte van die Jesuskind nie – of selfs met die begin van Sy aardse bediening nie – maar het eerder klem gelê op Sy voortbestaan saam met die Vader “in die begin”. Die wêreld waarin Johannes geskryf het was baie anders as dié waarin die eerste drie evangelieskrywers hul werk voor 70 n.C. voltooi het. Johannes skryf teen ’n agtergrond van dwaalleringe wat reeds bestaan het teen die einde van die eerste eeu. Net so handel sy drie briewe oor sake waarmee die Kerk daardie tyd te doen gehad het. Hy was byvoorbeeld genoodsaak om klem te lê op die belangrikheid van gehoorsaamheid aan die wet en dat sodanige gehoorsaamheid nie geskei kon word van die ware liefde van God nie.

Die laaste boodskap

Op sy oudag, as banneling op Patmos, beskryf Johannes in Openbaring 1:9-20 die mees merkwaardige ondervinding van sy lang lewe. In ’n visioen sien hy homself verplaas tot in die toekoms, die tyd van God se naderende ingryping en oordeel, wat in talle Ou-Testamentiese Skrifte genoem word “die Dag van die Here”. Johannes het ’n groot stem agter hom gehoor, en toe hy omdraai sien hy sewe goue kandelare. Tussen die kandelare sien Johannes Een staan wie se aangesig was soos die son wat skyn in sy volle krag. Totaal oorweldig deur wat hy sien, val hy soos ’n dooie neer. Die Een wat hy daar sien staan het was dieselfde Een met wie hy as ’n jong man gewandel en gepraat het; die Een langs wie hy gesit en teen wie se skouer hy geleun het gedurende hul laaste Pasgamaal saam. Johannes het Hom laas gesien toe hy meer as 65 jaar vantevore saam met ander dissipels op die Olyfberg gestaan en Hom in die wolke sien verdwyn het. Terwyl Johannes daar lê het daardie Een Sy regterhand op hom gelê en vir hom gesê: “Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid”. Johannes is toe aangesê om neer te skryf wat Jesus Christus se laaste boodskap sou wees aan die Kerk wat Hy gebou het.

Jare tevore, toe Jesus die aarde bewandel het as ’n menslike wese, het Hy die goeie nuus verkondig van die komende Koninkryk. Hy het twaalf jong manne spesiaal opgelei en onderrig. Hulle was getuies van alles wat Hy gesê en gedoen het en Hy het hulle uitgestuur om ander te leer. Toe, meer as ses dekades nadat Hy opgevaar het terug na die Vader, verskyn Jesus Christus aan Sy enigste dissipel wat nog geleef het en gee aan hom Sy laaste boodskap om neer te skryf en om aan die Kerk oorgedra te word.

Te midde van woelinge en ’n wêreld wat nie vir hulle sin gemaak het nie, moes God se mense weet dat Hy alles onder beheer het. Hy het ’n plan en ’n doel wat uitgevoer sal word. Duisende van God se mense het reeds in die geloof gesterf in die dekades sedert die Pinkster van 31 n.C. Die Kerk het nie nodig om bekommerd te wees nie aangesien die Een wat aan Johannes verskyn het die sleutels het om beide die dood en die graf te ontsluit (Openbaring 1:18). In Sy boodskap aan Johannes het Jesus die toekoms onthul en aan God se dienaars die dinge gewys wat gaan plaasvind.

Wanneer die druk van die wêreld klaarblyklik oorweldigend is, is dit maklik om die onsigbare God buite rekening te laat en eerder te fokus op dit wat ons kan sien. Onthou: God het nie gewerk volgens die tydrooster wat die Kerk van die eerste eeu verwag het nie, nog minder werk Hy volgens die tydrooster wat baie van vandag se Christene jare gelede “vir Hom daargestel het”! Gebeure het langer geduur en erger geword as wat meeste lede van die vroeë Kerk hulle kon indink. Wat hulle deur hul fisiese sintuie kon waarneem was ’n wêreld waarin die mag van die Romeinse Ryk ’n hoogtepunt bereik het. Daarbenewens sien hulle ’n Kerk in verwarring en wat deur dwaalleringe verskeur is, slegs dekades nadat Jesus Christus opgevaar het hemel toe en die versekering gegee het dat Hy sou terugkeer. Wat het dit alles beteken en waarop het dit afgestuur?

Dit was in hierdie verband, soos Johannes begin om die boek Openbaring neer te skryf, waarin die Almagtige begin het om “oop” te maak wat voorheen “toe” was. Die boek Daniël (die laaste profetiese boek van die Ou Testament in die geïnspireerde volgorde soos deur die Jode bewaar) sluit af met die stelling dat die volle betekenis daarvan verseël is tot “die tyd van die einde”. Daniël het vergeefs probeer om deur die sluier wat die toekoms onduidelik maak te kyk in ’n poging om die volle implikasie van die boodskap wat hy ontvang het, te verstaan. Hy kon nie daarin slaag nie omdat dit nie die regte tyd was vir die boodskap om openbaar gemaak te word nie (Daniël 12:8-9).

Teen die einde van die eerste eeu het die tyd uiteindelik aangebreek om die toekoms te onthul. U sien, die boek Openbaring handel oor onthulling. Die Afrikaanse woord “openbaring” is ’n vertaling van die Grieks apocalypsis, wat ook in Afrikaans aangegee word as “apokalips”. Dit beteken letterlik ’n “onthulling” of ’n “ontsluiering”. Terwyl die toekoms verborge en geheimsinnig is vir die mens, is dit helder vir God. Die mens probeer vergeefs om deur die mistigheid van die tyd te kyk om agter te kom wat die toekoms mag oplewer. Terwyl die mens slegs kan raai, is die groot God wat vir ewig bestaan in staat om te verklaar hoe die einde gaan wees – reg van die heel begin af.

Jesus Christus word aangedui as die enigste Een wat waardig is om die besonderhede van God se groot plan vir die toekoms te onthul, aangesien Hy alleen waardig is om die seëls te breek en die boek oop te maak wat God se openbaring bevat (Openbaring 5:4-5). Christus het in ’n visioen aan Johannes verskyn en hom aangesê om drie “strekkings” van openbaring neer te skryf wat saam die boek wat sou volg uitmaak. Hierdie drie strekkings is “die woord van God”, “die getuienis van Jesus” asook die dinge wat Johannes “gesien” het. Vir die heel eerste keer word die profesieë (die woord van God) van die Ou Testament saamgeweef met Jesus se stellings in die Nuwe Testament (die getuienis van Jesus). Verse van die Ou Testament word meer as ’n 100 keer in Openbaring óf direk aangehaal óf omskryf. Openbaring bevat ook direkte stellings deur Jesus Christus en daar word ook verwys na stellings wat Hy gemaak het gedurende Sy aardse bediening. Daar word ook verwys na stellings wat Christus in die Nuwe Testament geïnspireer het wat deur Paulus of andere in verskeie van die sendbriewe neergeskryf is.

Hierdie verwysings na die Ou- en Nuwe Testament word saamgeweef met visioene van toekomsgebeure. Die boek Openbaring is bedoel om die res van die Bybel in perspektief te stel en om die raamwerk te toon waarin al die profesieë van die Skrif tot vervulling sal kom.

Die verhaal van God se Kerk deur die eeue is vooraf neergeskryf in die profetiese boodskap aan die sewe kerke. Dit was belangrik dat Christene daaraan herinner word dat welke probleme hulle ook al teëkom, dit geen verrassing vir God is nie maar vooraf voorsien is– en “deel van die verhaal” is.

Johannes het verder opgeteken dat die Romeinse Ryk (wat aan die toppunt van sy mag was tydens sy skrywe), ’n dodelike wond gaan ontvang, maar hierdie wond sal genees en die Ryk sal nog vir eeue (1,260 profetiese “dae”) verder voortbestaan. Terwyl hy ’n toekomstige martelaarskap van heiliges aanteken, wys hy ook dat die Almagtige uiteindelik Sy oordeel sal uitgiet oor diegene wat Sy mense vervolg het. In Openbaring beskryf Johannes ook die heerlike eindbestemming van diegene wat voortgaan om God in die geloof te dien, ten spyte van teenspoed. Hy beskryf ook die vernietiging van dié wat verstok is en God se aanbod van verlossing verwerp. Johannes sluit hierdie laaste boek van die Nuwe Testament af met ’n blik op die nuwe aarde – die uiteindelike woonplek van God en Sy familie.

Openbaring is ’n doeltreffende kontrapunt vir Genesis, deurdat dit die antwoorde verskaf op die probleme wat Genesis beskryf. Genesis begin met die skepping van die oorspronklike hemele en aarde; Openbaring sluit af met ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. In Genesis sien ons hoe die slang ons eerste ouers mislei; in Openbaring word die slang finaal vir altyd uit die weg geruim. In Genesis word pyn, hartseer en die dood voorgestel as die gevolg van die mens se sonde; Openbaring beskryf hulle verbanning uit die nuwe hemele en die nuwe aarde as gevolg van Christus se verlossing. Genesis beskryf die mensdom as afgesny van die boom van lewe en uitgedryf uit God se teenwoordigheid; Openbaring wys dat God uiteindelik saam met die vrygekooptes sal woon, wat onbelemmerde toegang tot die boom van lewe sal hê. Genesis beskryf die oorsprong van dit wat ons om ons sien; Openbaring wys hul uiteindelike oplossing.

Hierdie laaste boek in u Nuwe Testament is ’n onthulling van die toekoms – u toekoms! Dit is ’n boek wat geskryf is as Christus se laaste boodskap aan die Kerk, om te wys dat ongeag hoe sonder vooruitsig dinge mag voorkom, daar geen nodigheid is om angsbevange en wanhopig te wees nie. God het ’n plan en doel en die uitvoering van daardie plan – volgens God se tydrooster – is absoluut seker.