Hierdie wêreld ervaar van een dag na die volgende, dieper verdeeldheid. Met elke twiet, hoofopskrif en regsgeding blyk dit dat vyandigheid tussen individue toeneem. Indien ons sien hoe politici, beroemdes en aktiviste al hoe meer name op hulle lyste van vyande byvoeg, kan dit ons dalk herinner aan sekere Bybelse leerstellings en lesse.

Een so ’n les kom direk van Jesus Christus af en Christene behoort daarna te streef om dit in elke aspek van die lewe toe te pas: Dít is om ons vyande lief te hê. Christene kan die wêreld verbeter en op hierdie manier die karakter van God die Vader en Jesus Christus weerspieël wanneer hulle daarna streef om volgens hierdie leerstelling te leef.

Die Bybel herhaal hierdie treffende beginsel verskeie kere. Een verhaal wat in Jesus se eie woorde opgeteken is, is Matthéüs 5:43-48:

Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.... Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

Indien dit toegepas word, sal hierdie paar sinne die wêreld verander. Die onlangse presidentsverkiesing in Amerika, met soveel haat, negatiwiteit en gepaardgaande verdeeldheid, het die feit beklemtoon dat daar baie vyande in hierdie wêreld is – selfs binne landsgrense. Ongelukkig vind politieke partye, godsdienste, etniese groepe en hele lande dikwels dat hulle mekaar teenstaan met betrekking tot hulle denkwyse, oortuigings en ook hulle gedrag.

Om ware liefde te hê

In vers 43 herinner Jesus Sy gehoor aan die algemene manier van hoe die mensdom ander mense behandel – om “jou naaste lief te hê en jou vyand te haat”. Dit is die manier waarop die meeste vyande mekaar behandel, soos dit uit baie van die nuus blyk. Jesus sê daar is ’n ander manier – ’n beter manier.

Sy manier.

God die Vader en Jesus Christus se manier is om elke mens lief te hê. Die ware liefde van God is veel groter as ’n emosie – dit is ’n verbintenis om na die welstand van ander mense om te sien, ongeag hulle kleur, politieke party, godsdiens, agtergrond of tot watter mate hulle met ons verskil.

Jesus sê om ons vyande lief te hê, beteken om hulle te seën, om, waar moontlik, aan hulle goed te doen en om vir hulle te bid. Basies beteken dit om in gedagte te hou dat selfs ons grootste vyande na God se beeld geskape is (Génesis 1:26). God voorsien hulle van die nodige sonskyn en reën, net soos Hy dit vir ons doen (Matthéüs 5:45). God wil hê dat elke mens gered word volgens Sy wil en tyd (1 Timótheüs 2:4; 2 Petrus 3:9).

Streef daarna om soos God te wees

Hierdie is een van die moeilikste aspekte van God se karakter om te volg. Nadat Hy die beginsel van liefde vir ’n mens se vyande verduidelik het, sê Jesus in Matthéüs 5:48, “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Hierdie eienskap om ander, selfs vyande, lief te hê, word gelykgestel aan volmaaktheid soos God s’n. Dit is duidelik dat dit ’n hoë standaard is – een van die hoogste wat ons as volgelinge van Christus kan bereik. Die moeilikheidsgraad maak nie regtig saak nie. Jesus sê dat die weg na die ewige lewe moeilik sal wees maar het ons aangesê om dit in elk geval na te streef (Matthéüs 7:13-14).

Die onlangse verkiesing, asook baie ander wêreldkwessies het die intense verdeeldheid tussen baie mense, na vore gebring. Ons leef in die eindtyd en Jesus sê dat wetteloosheid – sonde – sal toeneem, wat die liefde van baie mense sal laat verkoel (Matthéüs 24:12). Paulus het gesê dat mense teen die eindtyd liefdeloos en brutaal sou wees (2 Timótheüs 3:3). Hierdie profesieë word in ons daaglikse hoofopskrifte vervul. Dit is die gevolge van Satan se manier.

Jesus het ons egter ’n baie beter manier, wat Paulus “’n uitnemender weg” noem (1 Korinthiërs 12:31) geleer en wat gebaseer is op God se goedertierenheid. God het Christene nie geroep om die regerings van hierdie wêreld te verander deur middel van politiek, stemmery of protes nie. In plaas daarvan wil Hy hê dat ons in Sy Seun se voetspore volg deur die regte voorbeeld te stel. Om dit te kan doen, moet ons God se Wet van liefde gehoorsaam en daarna streef om volgens sommige van Jesus se kragtigste woorde te leef: Wees lief vir julle vyande, seën hulle, doen goed aan hulle en bid vir hulle.