VRAAG: Die eerste keer nadat ek begin het om die Ware God van die Bybel uit die Tomorrow's World-televisie-uitsendings, Wêreld van Môre-tydskrifte en boekies te leer ken, het ek gedink dat my familie, vriende en kollegas net so opgewonde sou wees oor die Waarheid soos ek – daarom was ek baie verbaas oor hoe negatief hulle reaksies was. Het ek iets verkeerd gedoen deur met hulle te deel wat ek geleer het?


ANTWOORD: U het miskien die fout gemaak wat mense dikwels maak sodra hulle die eerste keer die pragtige en opwindende Waarheid oor God se verlossingsplan vir die mensdom begryp. Wanneer u weet hoe wonderlik hierdie lewensveranderende kennis is, is dit natuurlik en reg om te wil hê dat ander mense in u vreugde sal deel – Christene behoort verseker nie hulle geloof “onder ’n maatemmer” weg te steek nie (Matthéüs 5:15). Die fundamentele manier vir Christene om hulle geloof met andere te deel, is egter om ’n voorbeeld van Christus deur hulle gedrag te stel (1 Petrus 2:21). Ja, ons moet gereed wees om “rekenskap te gee” aan enigiemand wat vra wat die rede is vir die hoop wat in ons is (1 Petrus 3:15), maar selfs al vra mense ons nie uit oor die waarheid van God nie, sién hulle steeds hoe ons optree. Oor die algemeen, wanneer mense u persoonlike voorbeeld as ’n Christen sien en hulle die uitwerking wat ware Christenskap op u lewe het – sal hulle meer geneig wees om u te vra wat u glo.

Dit maak nie saak hoe opgewonde u terég is oor wat God u leer nie, die krag van u wóórde kan niemand in God se Kerk inbring nie. Die Skrif maak dit duidelik dat dit ’n roeping van die Vader is – nie die opgewondenheid van ’n vriend of familielid nie – wat iemand in staat stel om te verstaan wat God geopenbaar het. Onthou dat, volgens Jesus Christus Self: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe” (Johannes 6:44-45).

Slegs God besluit wie Hy sal roep en ons weet uit Sy Woord dat Hy slegs ’n relatief klein handjievol “eerstelinge” in hierdie huidige tydperk roep – diegene wat aan die eerste opstanding sal deel hê by die Wederkoms van Jesus Christus (Openbaring 20:4-6). Let op: “En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle” (Judas 14). Alhoewel meer as twee miljard mense wat vandag leef bely dat hulle Christene is, is die werklike aantal ware Christene wat deur God geroep is, veel minder as dit.

Ons weet egter dat God uiteindelik elkeen wat ooit geleef het, die geleentheid sal gee om die Bybel te verstaan en die ewige lewe te ontvang. God beloof dat: “... die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Hábakuk 2:14) en “hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:34).

Vir die meeste mense wat vandag die verkondiging van die Ware Evangelie hoor, is dit bloot ’n waarskuwende “getuienis” van wat gaan kom (Matthéüs 24:14). Vir die groot aantal mense wat die Waarheid hoor, roep God in hierdie huidige tydperk slegs ’n “klein kuddetjie” (Lukas 12:32). Die meeste mense bly verblind (2 Korinthiërs 4:3-4) en dit is deel van God se plan, want Hy weet dat hierdie mense nog nie gereed vir hulle roeping is nie. Inderdaad, om te probeer om die lig van die Waarheid in die verstand te laat skyn van iemand wat verblind is, sal dikwels net vervolging meebring vir diegene wat die lantern vashou. “Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie” (1 Johannes 3:13).

Terwyl u dit alles weet, laat u Christelike dade vir u spreek. Indien iemand u uitvra oor u geloof, vertel gerus wat dit is wat u gehelp het om te leer en te groei, maar moenie dink dat u God se Waarheid op enigiemand rondom u kan afdwing nie. Bid dat God met diegene sal werk vir wie u liefhet, maar vertrou dat Hy en Hy alleen weet wanneer dit die tyd vir hulle roeping sal wees.