Die Tweede Wêreldoorlog het meer as 60 jaar gelede geëindig, maar die Derde Wêreldoorlog mag gouer kom as wat baie mense verwag. U Bybel voorspel egter goeie nuus ná die moeilikhede wat voorlê!

Ons leef in gevaarlike tye. Daar is probleme in die toekoms. Daar is egter goeie nuus na afloop van die moeilike tye!


Ons planeet het in die vorige eeu twee verwoestende wêreldoorloë beleef waarin miljoene mense gesterf het, soldate sowel as burgerlikes. Ramings dui daarop dat in die Tweede Wêreldoorlog alleen meer as 40 miljoen burgerlikes omgekom het, tesame met meer as 20 miljoen soldate.

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het streeksoorloë verdere miljoene lewens geëis. Van die “slagvelde” van Kampuchea tot die bebloede woestyne van die Soedan, is lewens verloor namate mense probeer het om beheer te verkry oor nasies.

Sal daar ’n Derde Wêreldoorlog wees? Indien wel, wat sal dit doen aan ons planeet? Fisikus en Nobelpryswenner Albert Einstein het dit uitstekend gestel: “Ek weet nie met watter wapens die Derde Wêreldoorlog geveg sal word nie, maar die Vierde Wêreldoorlog sal met stokke en klippe geveg word”.

Hoe ernstig is die bedreiging van wêreldoorlog en wêreldwye vernietiging? Baie sekulêre kenners glo die bedreiging is werklik, en dit is aan die toeneem. Op 10 Januarie 2012, het The Bulletin of Atomic Scientists ’n aankondiging uitgereik aangaande sy simboliese oordeelsdag-horlosie: “Dit is vyf minute voor middernag. Twee jaar gelede het dit gelyk of die wêreldleiers die ware globale bedreigings wat ons in die gesig staar, mag aanspreek. In baie gevalle is dié tendens nie voortgesit of omgekeer nie. Om daardie rede het The Bulletin of the Atomic Scientists die minuutwyser van die horlosie een minuut nader aan middernag geskuif, terug na waar dit was in 2007”.

U Bybel onthul dat nog ’n wêreldoorlog voorlê. Dit waarborg ook dat – ná hierdie oorlog van ongekende afmetings – daar ’n nuwe beskawing sal wees wat vrede en harmonie na al die wêreld se nasies sal bring. Ja, kommerwekkende tye lê voor, maar daar is hoop vir die toekoms van planeet Aarde.

Die meeste mense sal sê dat hulle wêreldvrede begeer. Die geskiedenis het nogtans getoon dat die mens nie die weg na vrede ken nie. Nasies gaan voort om moderne tegnologie aan te wend om meer wapens van massavernietiging uit te vind. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was die Verenigde State die planeet se onbetwiste supermoondheid. Die atoomtydperk het in 1945 begin, op 6 Augustus, toe Amerika die eerste atoombom ooit op die stad Hirosjima in Japan laat val het. Die geprofeteerde eindtydse era van massavernietiging het toe begin. Eindelik het die Sowjet-Unie sy eie atoombom laat ontplof; en nou is ten minste nege lande, sover bekend, in besit van kernwapens.

Kan die mensdom die wêreld se konflikte, oorloë en probleme oplos? U Bybel gee die antwoord. Die apostel Paulus haal die profeet Jesaja aan: “... en die weg van vrede ken hulle nie” (Romeine 3:17). Hoekom nie? “Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (vers 18).

Geen nasie het konsekwent eerbied en liefde vir die Skepper van alle nasies getoon nie. Sonder God, het hulle nie die weg na vrede geleer nie! Die Skepper van al die volke openbaar in sy Woord, die Bybel, die ware weg na vrede: “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter” (Psalm 127:1).

Vandag gaan nasies regoor die wêreld voort om God te verontagsaam en te verwerp. Namate die wêreld worstel met die wêreldwye finansiële krisis, namate ons profetiese gebeure sien wat aanleiding gee tot die Derde Wêreldoorlog en daarná, behoort ons die weg na individuele vrede te ken, asook die belofte van wêreldvrede – soos belowe in u Bybel! Onthou dat die Messias, Jesus Christus, die Evangelie van die toekomstige Koninkryk van God verkondig het. “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Die woord “gospel” kom van ’n ou Engelse uitdrukking wat “goeie nuus” aandui. Christus se goeie nuus is dat die mensdom se weg van selfsug, sonde en vernietiging, vervang sal word deur God se weg van vrede en voorspoed. Jesus leer ons om te bid: “Laat u koninkryk kom” (Mattheüs 6:10). God se Koninkryk sal binnekort na hierdie aarde kom, waarin Jesus Christus Self – die Prins van Vrede – oor die planeet Aarde sal heers en die hele mensdom die pad na vrede en welvaart sal leer. U Bybel beskryf die heerlikheid van die komende millennium, ’n duisend jaar van vrede op aarde. Die Messias, Jesus Christus, sal terugkeer na Jerusalem, wat die hoofstad van die planeet Aarde sal word. “So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg. So sê die Here van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit – elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel” (Sagaria 8:3-5). Ja, die bejaardes sal nie langer die slagoffers van mishandeling wees nie en die jongmense sal in veiligheid woon.

Plase sal floreer en met volhoubare landbou sal dit oorvloedige oeste oplewer. Lees hierdie inspirerende profesie: “Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God” (Amos 9:13-15).

Ja, ons besoedelde planeet sal hernu word – maar nie deur selfs die beste pogings van die mensdom nie. Watter lesse het die mens geleer gedurende die laaste 6,000 jaar van oorlog, konflik, lyding en dood? Het ons die weg na vrede geleer? Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die Amerikaanse President Woodrow Wilson ’n Volkerebond voorgestel wat sou saamwerk vir vrede. Na die Tweede Wêreldoorlog, in 1945, is die Verenigde Nasies gevorm met dieselfde doel. Die Volkerebond het egter misluk, nog minder het die 192 lid-lande van die VN die weg na blywende vrede in die wêreld gevind. Inteendeel, toe historici Will en Ariel Durant ons rekord van oorlog en vrede nagevors het, het hulle tot die volgende slotsom gekom: “In die laaste 3,421 jaar van opgetekende geskiedenis het slegs 268 jaar geen oorlog beleef nie” (The Lessons of History, bl. 81).

Toe The Bulletin of the Atomoc Scientists sy waarskuwing verlede Januarie uitgereik het, het die verklaring ’n ontnugterende aanmaning ingesluit: “Die wêreld het steeds ongeveer 19,500 kernwapens, genoeg slaankrag om die aarde se inwoners verskeie kere oor te vernietig”. Sal die mensdom die selfbeheersing hê om te kies om hierdie wapens nie te gebruik nie? Jesus Christus het voorspel dat Sy wederkoms noodsaaklik sou wees om die mensdom van hulself te red. Hy waarsku aangaande die eindtyd: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:22).

Hoe sal ons weet ons is in “daardie dae”? Jesus het ’n belangrike teken gegee: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). U het daardie Evangelie gelees in hierdie tydskrif. Dit is die goeie nuus van die toekomstige Koninkryk van God op hierdie aarde.

Dink ’n bietjie aan ’n ander belangrike teken wat Jesus gegee het wat Sy naderende wederkoms na die planeet Aarde sal aandui: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet dié wat in Judea is, na die berge vlug” (Mattheüs 24:15-16). Ons behoort bedag te wees op die tekens van die tye. Die eindtydse gruwel van verwoesting sal uitgevoer word onder die gesag van die Antichris. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

Die “Olyfbergprofesie” van Mattheüs 24 – so genoem omdat Jesus dit op die Olyfberg uitgespreek het – onthul drie bykomende belangrike tekens, wat sal plaasvind oor ’n drie-en-’n-half jaar tydperk voor Christus se wederkoms. Hierdie tekens kan verstaan word in die konteks van die boek van Openbaring, wat hulle ook beskryf. In volgorde is hulle, die Groot Verdrukking, die Hemelse tekens en die Dag van die Here. Terwyl hierdie tekens ontvou, sal Jerusalem vir 42 maande vertrap word deur die heidene (Openbaring 11:2). Die twee getuies sal vir 1,260 dae profeteer (Openbaring 11:3). Die “Filadelfiese” oorblyfsel van God se Kerk sal na ’n plek van veiligheid in die woestyn geneem word (Openbaring 12:14). Reg deur hierdie 42 maande, sal die Diermoondheid voortgaan om sy outoriteit uit te oefen oor die nasies van die aarde (Openbaring 13:4-5).

Na aan die einde van hierdie geprofeteerde tydperk, sal die laaste van die sewe basuine in die hemel weerklink. Onthou dat die jaarlange Dag van die Here sal bestaan ​​uit sewe “basuin”-plae waartydens God Sy oordeel oor die nasies sal vel. Die laaste drie basuine sal belangrike fases van “die Derde Wêreldoorlog” inlui, namate die wêreld se leërs saamtrek onder beheer van die Dier, in direkte teenstand teen die ware God. Die sesde basuin sal ’n massiewe militêre aanval aankondig wanneer Oosterse magte sal opmars na die Midde-Ooste: “En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (Openbaring 9:16-18).

Dit is ’n beskrywing van “wapens van massavernietiging” wat een-derde van die mensdom sal vernietig. So aaklig en tragies as wat die miljoene sterftes tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorloë was, sal hierdie gebeure byna onbeduidend wees in vergelyking met die komende verwoesting van die Derde Wêreldoorlog. Daar sal egter hoop wees in die voorsienbare toekoms. Neem kennis van die aankondiging van die sewende basuin. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Ware Christene se gebede vir God se koninkryk om te kom, sal beantwoord word! Die terugkerende Koning, Jesus Christus, sal die finale oordeel vel oor planeet Aarde se oorlogvoerende nasies. Die sewende basuin van Openbaring bestaan uit die sewe laaste plae. Die apostel Johannes stel hierdie plae só bekend: “En ek het ’n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik: sewe engele met die sewe laaste plae, want daarmee is die grimmigheid van God voleindig” (Openbaring 15:1). Onthou dat die Dag van die Here die tydperk is van die Lam se oordeel en toorn oor die nasies. In Openbaring 6:17 word dit “die groot dag van sy toorn” genoem.

Ongelooflik, maar die wêreld se militêre magte sal saamstaan om teen die terugkerende Christus te veg. Die weermagte sal bymekaarkom by Har Megiddo (Hebreeus vir “Megiddo-berg”), ook bekend as “Armagéddon” (Openbaring 16:16). “Die konings van die aarde en die hele wêreld” (vers 14) sal dan opmars na Jerusalem. Hulle sal egter nie opgewasse wees teen die Koning van die konings en Sy leër nie. “En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:14-16).

Hierdie gewelddadige stryd tussen goed en kwaad sal eindig met Christus se wonderbaarlike oorwinning. Hy sal die valse profeet en die Dier gooi in ’n poel van vuur wat met swawel brand (Openbaring 19:20). God sal ’n engel stuur om Satan, die duiwel, te bind en hom in die afgrond te gooi vir ’n duisend jaar lank (Openbaring 20:1-3). Wanneer dit gebeur het, sal die terugkerende Jesus Christus seëvierend ’n einde gemaak het aan die Derde Wêreldoorlog.

Ná die Derde Wêreldoorlog sal die planeet Aarde ’n tydperk binnegaan wat bekend staan as die “millennium” – ’n duisend-jarige tydperk waartydens vandag se ware Christene saam met Jesus Christus sal regeer. Dit is hoe die Skrif daardie wonderlike tyd beskryf: “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:4-6).

Ja, ten spyte van die groot onrus wat vir ons voorlê, volg goeie nuus daarna. God verklaar: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:9). Die Koninkryk van God sal die mislukte regerings van die afgelope 6,000 jaar vervang. U kan ook ’n deel hê in daardie glorieryke toekoms! Kyk hoe beskryf die Skrif die lotsbestemming van getroue Christene: “[U] het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Getroue Christene wat met Christus se wederkoms opgewek sal word, sal geestelike wesens wees – verheerlikte en onsterflike konings en priesters – wat die Koning van die konings sal bystaan om die nasies die weg na vrede te leer.

Dit is ’n ongelooflike toekoms wat God aan vandag se getroue Christene belowe! Die toekoms ná die Derde Wêreldoorlog sal glorieryk en opwindend wees! God openbaar daardie wonderlike tyd in baie profesieë wat die millennium uitbeeld. Neem die volgende in ag: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel” (Jesaja 35:1-2). Verder: “... want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies” (verse 6-7).

God sal nie slegs die land vernuwe en herstel nie, maar Hy sal ook brose mense van al hulle siektes genees. “Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas. Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos. Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel” (verse 3-6).

Daar is hoop vir die toekoms – en in besonder vir u toekoms! Jesaja beskryf die lewe gedurende die komende Millennium: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:6-9).

Vandag se Christene is geroepe om ’n deel te wees van daardie wonderlike tyd ná die Derde Wêreldoorlog. Bly u naby u Verlosser, en berei u uself voor terwyl u waak en bid vir Sy wederkoms?