Vraag: In die boek van Job lees ons: “Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak” (Job 32:8). Later in die hoofstuk, sê Job: “... die gees in my binneste dring my” (vers 18). Verwys hierdie Ou-Testamentiese gedeeltes na God se Heilige Gees, of na ’n “onsterflike siel” binne-in menslike wesens?

Antwoord: Die antwoord is – nie een van die twee nie! Desnieteenstaande is daar ’n “gees” in alle mense. Ons lees in die Skrif: “Die Here spreek, wat die hemele uitsprei en die aarde grondves en die gees van die mens in sy binneste formeer” (Sagaria 12:1). Die meeste belydende Christene glo dat hierdie gees ’n “onsterflike siel” is wat in ons woon en ons verlaat as ons sterf. Hierdie idee kom egter nie uit die Bybel nie, maar van die ou Egiptenare. Ons het dit via die Grieke ontvang wat dié konsep heel eerste gewild gemaak het deur die geskrifte van Plato.

Jesus, daarenteen, het verduidelik dat ’n “siel” (Grieks soma, en Hebreeus nephesh, verwys na fisiese lewe en nie na ’n geestelike essensie nie) vernietig kan word (Mattheüs 10:28)! Esegiël het gesê: “... die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4, 20). So sien ons dus dat die “siel” nie onvernietigbaar is nie. “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Die dooies het geen bewustheid nie. Dit beteken dat aangesien geen een, behalwe Jesus Christus, nog uit die dood tot onsterflikheid opgewek is nie, daar tans geen sondaars in die hel brand nie, ook is daar geen ontliggaamde geeste wat in die hemel sweef, in afwagting om met hul liggame herenig te word nie.

Net so terloops, wat presies is “Hel”? In u Engelstalige Bybel is twee van die woorde wat vertaal is as “hel”, die Griekse woord hades en die Hebreeuse woord sheol – beide van hulle beteken eenvoudig “graf” of “gat”. Behalwe slegs Jesus Christus, wag almal wat gesterf het op die opstanding, soos wat die Skrif dikwels “slaap” noem – ’n metafoor vir onbewustheid. Hulle is in hades of sheol – in die “hel” – maar dit beteken nie ’n bewuste toestand van lyding nie; dit is bloot ’n beskrywing van hul lewelose staat in die graf terwyl hulle wag vir die opstanding.

Tydens sy skepping het Adam ’n “lewende siel” geword (Genesis 2:7). ’n Mens het nie ’n siel nie. ’n Mens is ’n “siel”. Wat is dan hierdie “gees” wat in elke mens is – en wat is die doel daarvan?

Die patriarg Job sê: “Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak” (Job 32:8). Toe God Adam en Eva geskape het, het Hy aan hulle die asem van die lewe gegee, en ook ’n nie-fisiese element in hul brein geplaas. Hierdie geestelike wese, gekombineer met die fisiese brein, maak die menslike intellek moontlik – die mens se vermoë om te dink, te redeneer, te beplan en te skep. God het nie hierdie vermoëns aan diere gegee nie, hulle is heeltemal afhanklik van instink. Diere het wat in Hebreeus ruach genoem word – die asem van die lewe, wat aan hul andersins lewelose liggame lewe gee – maar hulle het nie die spesiale lewegewende krag wat God net aan die mens gegee het nie.

Eweneens, net soos geen dier die dinge van die mens kan weet nie, kan geen mens na behore die geestelik geopenbaarde dinge van God verstaan nie, tensy hulle ’n spesiale geestelike element ontvang het. Die Bybel openbaar dat die mens geskape is om ’n ander geestelike element nodig te hê – die Heilige Gees van God – wat met die menslike gees saamwerk in die verstand. “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God” (1 Korinthiërs 2:11).

Anders as die gees van die mens, wat onderworpe kan wees aan die vleeslike en misleidende “uitsendings” van Satan die duiwel, die owerste van die mag van die lug (Efesiërs 2:2), laat die Heilige Gees sterflike mense toe om toegang te hê tot die ware aard van God. Deur God se plan van verlossing, kan mense die Heilige Gees van God ontvang (Handelinge 2:38; Johannes 7:38-39), wat by die menslike gees gevoeg word. Ons word geestelik “verwek” deur God wanneer ons die Heilige Gees ontvang. Die menslike gees in die mens en die Heilige Gees van God verenig om ’n geestelik-verwekte kind van God (1 Petrus 1:3; Romeine 8:14-17), te maak, net soos die manlike spermsel en die vroulike ovum saamsmelt om ’n verwekte (maar nog nie gereed om gebore te word nie) mens te vorm. Ons groei dan geestelik reg deur ons lewe, totdat ons weer gebore word in die opstanding en aansluit by die Godgesin as goddelike wesens wat geheel en al uit gees bestaan.