Vraag: Wat het Jesus bedoel toe Hy gepraat het van ’n “regte oog” en ’n “verkeerde oog” in Mattheüs 6:22-23 en Lukas 11:34-36? Om te glo in ’n “verkeerde oog” of ’n kyk wat slegte geluk bring, is sekerlik net ’n bygeloof wat in stryd is met die Christelike vermyding van toordery en heidense invloede, of hoe?

Antwoord: Hierdie terme was in die Bybel gebruik as figuurlike beskrywings van positiewe en negatiewe gesindhede en hou geen verband met bygelowigheid nie.

Die Hebreeuse Ou Testament verwys na iemand wat ’n “regte oog” of ’n “verkeerde oog” het. Vier keer word gepraat van iemand wat ’n verkeerde oog het – in Spreuke 30:17; Deuteronomium 15:9 en in Deuteronomium 28:54, 56. Een keer – in Spreuke 22:9 in die Engelse NKJ vertaling – praat dit van iemand met ’n “regte oog”. Diegene met ’n “verkeerde oog” word uitgebeeld as sou hulle suinig of gierig wees – gefokus op materialistiese gewin vir hulself, eerder as om hul gaste te dien, om die armes te help of selfs om hul gesinslede te help in tye van dringende nood. Diegene met ’n “regte oog” word daarenteen uitgebeeld as vrygewig te wees teenoor die armes.

Hierdie konsepte is oorgedra na die Griekse Nuwe Testament, wat meestal geskryf is deur Jode wie se moedertaal Aramees was en wie vertroud was met Bybelse Hebreeuse idiome. Een van die dinge wat Jesus gesê het, wat van binne die mens kom en die mens onrein maak (Markus 7:20-23), is “afguns” (vers 22). Die Engelse NKJV vertaal hierdie frase as “an evil eye” en ander Engelse vertalings gee dit aan as jaloesie, suinigheid of afguns, maar drie van die vier Afrikaanse Vertalings gee dit aan as “afguns” terwyl die NLV dit aangee as “jaloesie”. Terloops, die Griekse teks van Mark 7:22 volg die Griekse Septuagint se letterlike vertaling van Deuteronomium 15:9, eerder as syfiguurlike vertalings van Spreuke 23:6 en 28:22.

In een van Jesus se gelykenisse (Mattheüs 20:1-16), berispe die eienaar van die wingerd diegene wat kla oor hoe hy sy werknemers betaal, deur te sê: “Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?” (Vers 15). (Die Nuwe Vertaling stel hierdie laaste sin as volg: “Of is jy afgunstig omdat ek goed is?”).

In Mattheüs 6:22-23 en Lukas 11:34-36, neem Jesus egter die begrip van ’n “regte oog” en ’n “verkeerde oog” ’n stap verder as wat Moses en Salomo gedoen het. Die hele konteks van Mattheüs 6:22-23 het te doen met die mens se benadering tot geld en materialistiese dinge (verse 19-34). Kyk nou na Jesus se vermaning: “... maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel” (vers 20), in daardie lig. Ons haal dikwels hierdie vers aan in die konteks van die gee van tiendes en offergawes aan God – wat Jesus beslis voorstaan (Mattheüs 23:23). Waar Jesus egter oral gepraat het van “skatte in die hemel”, het Hy dit altyd gedoen in die konteks van die gee van aalmoese aan die armes (Mattheüs 19:21; Markus 10:21; Lukas 12:33-34). Die punt is, as ons vrygewig is teenoor God en ons medemense, dan sal ons geestelike oë “reg” wees (dit is, “gesond” in Grieks). indien ons ingestel is op ons eie selfsugtige, materialistiese strewes, sal ons geestelike oë “verkeerd” (“sleg” of “boos”) wees.

Onthou, Jesus se dissipels het alreeds God se Werk onder die Ou Verbond ondersteun deur hulle tiendes en offergawes (Deuteronomium 12:6, 17; 14:28). Daardie soort van ondersteuning is oorgedra na die Werk van die Kerk onder die Nuwe Verbond. Nogtans skryf Paulus later: “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf” (1 Timotheüs 6:17-19). Die Nuwe Vertaling het “sodat hulle die ware lewe sal verkry” wat die betekenis van die Griekse idee effens beter oordra.

Niks word in hierdie gedeelte oor tiendes en offergawes gesê nie; hulle geldigheid word doodeenvoudig aanvaar. Onder beide die Ou en die Nuwe Verbond, word ons beveel om tiendes te betaal en mildelik offerandes aan God te gee. Dit kom finansieel eerste! ’n Mens word egter ook beveel om vrygewig te wees teenoor jou medemens. Hierdie soort vrygewigheid gee ’n mens ’n “regte oog” of ’n “gesonde oog”. Hierdie soort vrygewigheid geld natuurlik in beginsel ook wat ’n mens aan God gee (Maleagi 1:6-14; Spreuke 3:9-10) en aan mens se familie (1 Timótheüs 5:8). Nadat mens voldoen het aan hierdie prioriteite, dan help mens die res van die mensdom, veral “die huisgenote van die geloof” of mede-Christene (vgl. Galasiërs 6:7-10).