Hoe kan u u fokus behou met die geroesemoes van bedrywighede rondom u?


Die geluid van die sonbesies was oorverdowend terwyl ek op ’n somer Sabbatoggend padlangs gestap het, die wind geniet het en my gedagtes bymekaar kon maak na ’n besige week vol wedervaringe. Daar was so baie om oor na te dink en om sin te maak vanuit ’n Bybelse oogpunt. Daardie sonbesies het so luidrugtig gesing dat dit moeilik was om te konsentreer!

Terwyl ek egter so aangestap het, het dit tot my deurgedring dat die geluide van die somer ’n bevestiging is van ’n belofte wat God lank gelede gemaak het, ’n belofte wat ons kan help om koers te hou, selfs wanneer dit lyk of omstandighede verkeerd loop op maniere wat ons laat twyfel en ons verwar.

God het geweet dat ons dit nodig sou hê om van tyd tot tyd te bepaal waarheen ons op pad is. Kort na die Sondvloed, die grootste ramp wat die wêreld nog ooit gesien het, het Hy ’n belofte gemaak: “Solank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie” (Genesis 8:22 NV).

God verseker ons dat daar ’n nuwe seisoen sal kom. Hoewel probleme mag kom en struikelblokke mag voorkom, Sy Plan word altyd deurgevoer. Die Psalmdigter het dit verstaan toe hy geskryf het: “Die raad van die Here bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag” (Psalm 33:11).

Op ’n soortgelyke trant herhaal die profeet Jesaja hierdie kragtige woorde wat deur God gegee is: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).

Ja, God het ’n Plan en Hy werk daaraan om dit ten beste in ons lewens te laat geskied. Ons lees ook hiervan in die Nuwe Testament. Paulus skryf hierdie woorde wat baie gerusstellend kan wees in tye van nood: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Romeine 8:28 NV).

Wanneer ons aandag dus afgelei word deur die wêreld rondom ons, of wanneer ons geliefdes sien ly, of wanneer ons persoonlike struikelblokke teëkom wat ons mag ontstel, behoort ons die baie duidelike stellings in God se Woord te onthou en vertroue te hê dat, so lank as wat ons ons deel doen, ons omstandighede sal uitdraai soos God wil hê, selfs al kan ons nou onsself nie indink hoe dit moontlik kan wees nie.

Paulus het betekenisvol so geskryf: “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomstige dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Romeine 8:38-39).

Met hierdie wonderlike beloftes in gedagte kan ons voorbereid wees op die onverwagte, die ondenkbare, die omwentelinge en ontwrigting wat ons sou verkies om nooit te ervaar nie, maar wat nogtans kan gebeur wanneer ons dit die minste verwag. Deur dit alles sal God die krag, leiding en antwoorde wat ons nodig het voorsien. Ons kan in die voetspore van Paulus volg wat ons gerus stel: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13).

Wanneer u die geluide van die somer hoor – of van herfs, winter of lente – wees dan bemoedig en onthou die beloftes van ons liefdevolle God. Met Sy hulp en leiding kan en sal ons dit maak deur die moeilike tye wat verseker nog voor ons lê. Neem dus ’n wandeling. Mediteer oor die dinge van God (Fillipense 4:8). Weet dat ’n tyd spoedig sal aanbreek wanneer die hele wêreld onder Sy ferm en welwillende, liefdevolle heerskappy sal wees. Om meer van daardie tyd te leer, lees gerus ons gratis boekie, Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees? Vra ’n kopie vanaf die streekskantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif), of bestel dit aanlyn by wvm.co.za.