In ’n tyd van wydverspreide vrees soek mense na vrede, gesondheid en veiligheid. Soek hulle egter op die regte plek en soek hulle die finale Bron van ware welvaart?

Vroeg in 2020, toe mense regoor die Verenigde State vir die eerste keer aangesê is om “sosiale distansiëring” te beoefen en om groot groepe mense te vermy, het baie van hulle reageer deur “paniekaankope” te doen. Winkelrakke is gestroop van allerhande items wat mense gedink het hulle dalk nodig sou kry terwyl hulle in isolasie is. Op sosiale media was daar volop foto’s van leë winkelrakke wat net ’n paar oomblikke tevore ’n voorraad van honderde rolle toiletpapier of handreinigers gehad het. Die supermark in u buurt se groente was dalk uitverkoop, terwyl ’n ander winkel aan die anderkant van die stad moontlik nie meer vleis gehad het nie. Was u op soek na bleikmiddels of handreinigers, was u kanse so te sê nul.

Uit vrees het mense gestorm om te gryp wát hulle kon, terwyl hulle kon. Intussen kon die paar mense wat vooruit beplan het vir ’n tyd soos hierdie en wat reeds ’n paar weke se noodvoorrade opgegaar het, rustiger reageer. Hoeveel van hierdie mense het egter onthou om die mees waardevolste voorrade van alles op te eis?

Die voorrade waarvan ek praat, is die beloftes wat regdeur u Bybel gevind kan word. Dit is God se geskenk aan u en dit kan aan u gee wat al die materiële dinge in ons wêreld nie kan doen nie. Anders as die ware op ’n winkelrak, is God se voorrade onuitputlik en van onskatbare waarde!

Sy belofte van oorvloed

Hoeveel mense weet dat Jesus Christus ’n wonderlike belofte gemaak het en wát die doel van Sy koms was? “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Die belofte is daar in u Bybel en indien u soos die meeste mense is, besit u waarskynlik ten minste een Bybel. In ’n opname wat in April 2019 in opdrag van die Amerikaanse Bybelgenootskap gemaak is, is bevind dat 84% van alle Amerikaanse huishoudings ten minste een Bybel besit. Ongeveer 39% van dié mense wat ondervra is, het gesê dat hulle die Bybel minstens een keer per week lees (“State of the Bible 2019”, AmericanBible.org). Natuurlik lees baie mense asook baie intekenaars op die Wêreld van Môre die Bybel daagliks. Net soos Jesus ons aanmoedig om te bid: “... gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matthéüs 6:11), behoort ons elke dag van God se Woord te “eet”.

Watter vertaling behoort u egter te gebruik? Indien u op soek is na ’n Bybel of probeer besluit watter een van u Bybels om te gebruik, beveel ons by die Wêreld van Môre oor die algemeen die Ou Afrikaanse Vertaling vir Afrikaanssprekende mense en die New King James-weergawe vir Engelssprekende mense aan, aangesien dit in alle opsigte die mees akkurate vertalings is. Alhoewel ander tale en vertalings ook nuttig kan wees wanneer u dieper in u studie van die Bybel wil delf.

Om net ’n Bybel te besit is natuurlik nie genoeg nie. Alhoewel die meeste mense een of meer Bybels het, is hulle kennis van die Skrif maar gebrekkig. In ’n opname wat in Februarie 2019 deur die Pew Research Centre gemaak is, word bevind dat 49% van respondente nie geweet het dat Jesus die Man is wat die “Bergpredikasie” gelewer het nie. In ’n Pew-verslag van April 2017 is opgemerk dat slegs 45% van die Amerikaners wat ondervra is, die name van die vier Evangelies geken het. Natuurlik is selfs kénnis nie voldoende as ons nie glo en handel volgens ons oortuigings nie. In ’n Gallup-opname van Mei 2017 is bevind dat slegs 24% van Amerikaners die Bybel as die “werklike Woord van God” beskou wat minder is as die 26% wat dit beskou as ’n “boek van fabels, legendes, geskiedenis en morele opdragte wat deur mense opgeteken is”. (“Record Few Americans Believe Bible Is Literal Word of God,” Gallup.com, 15 Mei 2017).

Indien u u Bybel lees en glo, sal u leef volgens dít wat u lees. U sal nie soos die ryk jongman wees wat vir Jesus Christus gevra het wat hy behoort te doen om die ewige lewe te hê nie. Jesus het gereageer deur te sê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy [die jongman] vra Hom: Watter? En Jesus sê – dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matthéüs 19:17-19).

Die jongman was trots en het gesê dat hy die Gebooie wat Jesus opgenoem het, lankal reeds onderhou. Jesus toets hom toe aangaande die Tiende Gebod. Sou hy sy aardse skatte prysgee in ruil vir die ware skat in die hemel (Matthéüs 19:21)?

Ongelukkig het die jongman in Matthéüs 19 “bedroef weggegaan” (vers 22) en verkies om nie Christus se woorde te gehoorsaam nie. Hy was te geheg aan sy “baie besittings” en kon nie insien dat hy die Tien Gebooie nie volledig gehoorsaam het nie en ook nie gehoorsaam was aan Jesus Christus wat hom hierdie Gebooie gegee het nie.

Ja, Jesus het vir die jongman gesê om die Tien Gebooie te gehoorsaam! Hy het vyf van die Tien Gebooie opgenoem en indien iemand sou dink dat Hy toestemming gegee het om die ander Wette te oortree wat nie opgenoem is nie, het Hy geëindig deur uit die boek Levítikus aan te haal: “...maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levítikus 19:18).

Sy Gebod met ’n belofte

Hier het Jesus daarop gewys dat die Tien Gebooie noodsaaklik is, nie net in ons fisiese lewens nie, maar ook om die ewige lewe van God te kan ontvang. Ons behoort daarop te let dat die Tien Gebooie nie net verbodsbepalings is nie; die vyfde Gebod wat sê dat ons ons ouers moet eer, word selfs “die eerste gebod met ’n belofte” genoem (Efésiërs 6:2). God sê aan ons dat diegene wat die Vyfde Gebod gehoorsaam, seëninge sal ontvang! Eer u u ouers? Kan u dalk help om te voorsien in behoeftes wat hulle dalk mag hê? Het u hulle bedank vir hulle sorg?

Moontlik is ons onder moeilike omstandighede grootgemaak. Soms eer ons ons eiewys ouers, deur te weier om hulle sondige gedrag na te volg, maar kan u hulle ook eer vir enige goeie dinge wat hulle dalk gedoen het, selfs al was hulle nie die “beste ouers” wat hulle kon gewees het nie? Dit mag soms moeilik wees om ons ouers te eer, maar God het aan ons seëninge beloof indien ons dit sou doen!

Ongelukkig kon die ryk jongman nie die Tiende Gebod nakom nie. Wat het hy dus prysgegee as gevolg daarvan? Hy het vertroue gehad in sy rykdom, maar wat was hy besig om mis te loop? Wanneer u u Bybel lees sal u die beloftes van God ontdek wat die seëninge van fisiese sekuriteit insluit – maar ook van sóveel meer. Sy beloftes aan diegene wat daarna streef om Sy Gebooie te onderhou, sluit onder meer in:

• Om ons gebede te beantwoord (Matthéüs 7:7-8)

• Om in al ons behoeftes te voorsien (Filippense 4:19)

• Om leiding te gee in ons lewens (Spreuke 3:5-6)

• Om aan ons ons hartsbegeertes te gee indien ons ’n welbehae in Hom het (Psalm 37:4-5)

• Die vermoë om beproewings te verduur (1 Korinthiërs 10:13)

• Die Gawe van die Heilige Gees (Handelinge 2:38; Lukas 11:13)

• Die gawe van Sy liefde (Romeine 5:5)

•Vergifnis van ons sondes na bekering (Handelinge 2:38)

• Die ewige lewe (1 Johannes 2:25)

Een van die kosbaarste beloftes en tóg een van die beloftes wat die meeste oor die hoof gesien word, word gevind in die sendbrief aan die Filippense. Indien u gemoedsrus wil hê in ons moeilike tye, sal u wil handel volgens hierdie belofte: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6-7). Ja, God wil hê dat u bid oor u begeertes en behoeftes, asook om Hom te bedank vir u vele seëninge.

Is daar iets wat vir u baie spesiaal is – iets baie persoonlik – wat u graag wil hê? Dink aan hierdie antieke woorde van koning Dawid van ouds: “Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Psalm 37:3-4). Ek het dit sélf ondervind. Ek het ’n diepe begeerte gehad om die land Israel te besoek en het vir baie jare daaroor gebid. Ek het God vertrou dat Hy my gebed sou beantwoord, maar dit het van Hom afgehang presies wanneer Hy dit sou doen. Werklikwaar, na letterlik jare van gebed, het daar ’n geleentheid vir my opgeduik om Israel toe te gaan! Nadat ek daarvan gehoor het, het ek letterlik van blydskap gespring! Sedert daardie eerste besoek was ek al ’n paar keer terug en het ek God altyd dankbaar gebly vir die vervulling van hierdie begeerte van my hart. Omdat ek op Hom vertrou en met vreugde Sy wil doen (met die noodsaaklike hulp van die Heilige Gees), weet ek dat Hy gehoor sal gee aan my gebede. Ons God hou by Sy beloftes!

Wanneer u die Bybel lees, sal u ontelbare beloftes vind wat God aan u gemaak het. Vertel aan God in gebed en op u knieë, hoe graag u wil hê wat Hy beloof het en hoe nodig u dit het. Bid met vrymoedigheid. Onthou hierdie Skrifgedeelte: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16). Moenie skaam wees nie. Soos Jakob wat met God geworstel het (Génesis 32:24-32) of soos die volhardende weduwee (Lukas 18:1-8), gebruik u gebede om God daaraan te herinner dat Hy aan u hierdie beloftes gegee het. Vra God met vrymoedigheid, maar nederig en in geloof om hierdie beloftes in u lewe te vervul!

Sy beloofde Koninkryk

’n Kas vol toiletpapier kan aan sommige mense ’n gevoel van sekuriteit gee. Vir ander mense mag sekuriteit uit hulle aandeleportefeulje of bankbalans kom. Baie mense voel onseker, maar selfs diegene wat ’n mate van fisiese sekerheid het, kom voor ’n belangrike vraag te staan: Wat het dit hulle eintlik gebaat? Sal hulle word soos die ryk jongman van Matthéüs 19, wat meer waarde aan sy rykdom geheg het as aan sy God? Jesus se volgelinge soek na ’n ewige skat – die Koninkryk van God. Jesus het beloof: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33). Diegene wat fisiese, materiële skatte najaag, se soektog is dikwels tevergeefs. Indien ons die Koninkryk van God en Sy geregtigheid soek, sal ons die grootste skat van almal vind en God beloof ook om ons te voorsien van wat ons nodig het.

Wanneer u waarlik God se wil nastreef, sal Hy u gebede verhoor. “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee; en as hy ’n vis vra, aan hom ’n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matthéüs 7:7-11).

Natuurlik moet ons óns deel doen. Dit is nodig dat ons “soek” en “klop”. Is u besig om werk te soek? Ja, dan bid u vir ’n werk. God kan verwag dat u self navorsing doen met betrekking tot potensiële werkgewers asook dat u ’n paar oproepe maak. Soek God se geregtigheid en doen wat reg is deur God se Gees.

Die Bybel vergelyk God se Koninkryk met ’n waardevolle pêrel. “Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit” (Matthéüs 13:45-46). Die pêrel wat van groot waarde is, verteenwoordig geestelike rykdom en die ewige lewe. Die mens leer nog steeds die moeilike les dat geen mate van materiële rykdom, blywende geluk kan bring nie. Ons sien dit in die lesse wat koning Salomo geleer het. Hy het alles gehad, maar regdeur die boek Prediker vind ons dat hierdie tema herhaal word: “Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!” (Prediker 1:2). Salomo was die rykste man op aarde, maar sy rykdom het hom nie tevredenheid besorg nie. Tot watter gevolgtrekking het hy gekom nadat hy op soveel maniere na geluk gesoek het? “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Prediker 12:13).

Sy beloofde skat

Soos Christus ons geleer het en soos Salomo uitgevind het, is die ware rykdom selfs beskikbaar vir diegene wat dalk finansieel arm is. Gee u eer en aandag aan diegene met ’n gesonde bankbalans, terwyl u diegene verwaarloos wat finansiële probleme het? Verwaarloos u diegene wat deur God hooggeag word? Die apostel Jakobus herinner ons: “Luister, my geliefde broeders – het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?” (Jakobus 2:5).

God het Sy Koninkryk nie beloof aan dié wat oor groot finansiële hulpbronne beskik nie, maar eerder aan hulle wat Hom liefhet. Al mag hulle armoedig wees in die oë van hierdie wêreld, het diegene wat ryk is aan geloof die regte rykdom – die ware skat. Hulle soek God se weg in hulle lewens en God se weg is die ware skat, soos ons in Spreuke lees: “MY seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die Here verstaan en die kennis van God vind (want die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand” (Spreuke 2:1-6).

Diegene wat die skat van goddelike wysheid ontvang, ontvang ’n wonderlike belofte wat hulle lewens én hulle ewige toekoms kan verander. Soos die apostel Petrus skryf: “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:2-4).

Ja, Sy goddelike krag het aan ons groot en kosbare beloftes gegee. “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efésiërs 3:20). Ons moet egter ywerig wees om die “krag wat in ons werk” naamlik die Heilige Gees te gebruik en deur dit te doen, sal ons meer daarvan ontvang. Wanneer ons ongehoorsaam is aan God en Sy leiding en Sy genade verwerp, kan ons selfs die Heilige Gees in ons “blus” (1 Thessalonicense 5:19). Ons behoort eerder dankbaar te wees vir God se gawe van die Heilige Gees en dit aanwakker deur dit voortdurend te gebruik.

Sy beloofde Gees

Wil u die goddelike natuur in u lewe hê? Omdat ware Christene die Heilige Gees van God ontvang het, is aan hulle ’n mate van daardie goddelike aard gegee. Hierdie is een van die Bybel se kosbaarste beloftes. Op Pinksterdag het die apostel Petrus voor duisende mense gestaan om te preek. “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:38-39).

Indien u voel dat God u roep, is dit nodig dat u op Sy roeping reageer! Bekeer u, bereken die koste van so ’n verbintenis (Lukas 14:28) en gaan na God in gebed en vra vir Sy leiding. Dalk voel u dat u gedoop behoort te word. Indien u raad wil hê oor die doop, kontak die naaste streekkantoor. Die lys kan gevind word op bladsy 2 van hierdie tydskrif en ’n ware dienaar van Jesus Christus sal met u in verbinding tree op ’n tyd en plek wat u pas, om met u te beraadslaag en u te help om voor te berei vir daardie verbintenis.

Sonder God se Gees kan ons nie Sy Koninkryk beërf nie. Soos die apostel Paulus skryf, daardie Gees is die gees “van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timótheüs 1:7). Deur God se Gees kan u menslike natuur verander word en kan u waarlik begin om God te volg en na Hom te luister. Soos Paulus skryf: “... en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Romeine 5:5). Deur God se Heilige Gees kan u u selfsugtige menslike natuur vervang met God se liefdevolle natuur.

Ware Christene ontvang volgens Sy belofte die gawe van God se Heilige Gees ná bekering en aanvaarding van die gestorte bloed van Christus tot vergifnis van sondes. Hierdie geskenk sluit God se wonderlike belofte van verlossing deur die lewende Jesus Christus in. “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. Want nouliks sal iemand vir ’n regverdige sterwe – vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe – maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is” (Romeine 5:6-10). Ja, die wonderlike belofte van God is dat Hy ons sal red deur die lewende Jesus Christus – ons groot Hoëpriester wat namens ons intree. God is liefde en Hy is die grootste gewer (Jakobus 1:17). Hy wil selfs die aarde as ’n erfenis aan ons gee (Matthéüs 5:5). Uiteindelik beplan God om aan ons nog ’n groter geskenk te gee: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7).

Die “geloofshoofstuk” in u Bybel, Hebreërs 11, vertel aan ons van God se getroue knegte wat volhard het in hulle geloof, ten spyte van gevare en struikelblokke rondom hulle. Wat het hulle in gemeen gehad? Hulle was “vreemdelinge en bywoners” in ’n samelewing wat die ware God meestal verwaarloos of verwerp (Hebreërs 11:13). Hulle het as “gesante” van die Koninkryk van God geleef (2 Korinthiërs 5:20). Alhoewel hulle nog nie die uiteindelike belofte van God ontvang het nie – die opstanding in die Koninkryk van God as egte lede van Sy gesin – het hulle die beloftes ontvang wat gepaardgegaan het met hulle geloof.

Christene van vandag behoort en kan en moet ook God se beloftes opeis. Daardie beloftes is nie net vir die helde van geloof waarvan u in u Bybel lees nie – dit is ook vir u! Deursoek u Bybel daagliks en namate u nader aan God kom, bedank u Hom vir die veelvuldige groot en kosbare skatte wat Hy wil hê dat u opeis!