Jesus sê: “Julle is die lig van die wêreld” (Mattheus 5:14). Hy sê ons moet soos ligte in die wêreld skyn sodat ander “[ons] goeie werke kan sien en [ons] Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mattheus 5:16). God het ons geroep om die lewenswyse van ware Christenskap uit te leef. Ons liefde en gehoorsaamheid aan God se gebooie is ’n getuienis van ons beoefening van die Christenskap van die Apostels, die lewenswyse wat Jesus en Sy dissipels geleef het.

Stel u werklik ’n Christenvoorbeeld? Of ons dit besef of nie, dra ons gedrag, optrede, gesindheid en oortuigings ’n voorbeeld aan andere oor. Daar is ’n gesegde in die kommunikasieveld wat lui: “’n Mens kan nie, nié kommunikeer nie”, met ander woorde, ons kommunikeer of ons wil of nie. Indien ons gesigte uitdrukkingloos bly, sal ons lyftaal aan ander mense oordra dat ons moontlik iets wegsteek. Indien ons egter ’n lig vir die wêreld is, sal ons uitdrukking God se liefde, vreugde en vrede uitstraal!

In 1962 het ek ’n jarelange getroue lidmaat van die Pasadena, Kalifornië gemeente ontmoet. Sy vrou was nie ’n lidmaat nie, maar sy getroue voorbeeld as haar eggenoot het sy vrou oortuig en na elf jaar van sy Christelike voorbeeld, is sy vrou bekeer. Die apostel Paulus skryf dat ’n eggenoot se invloed selfs ’n maat kan “red”. “Maar vir die ander sê ek @ nie die Here nie @ as enige broeder ’n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie; en as ’n vrou ’n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie. Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep. Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?” (1 Korintiërs 7:12-16).

U getroue Christenkarakter kan bydra tot die bekering van ’n ander persoon. God roep mense (Johannes 6:44), maar die goddelike liefde, geduld, vriendelikheid en diens van ’n ware Christen kan ’n groot verskil maak! Later, in die 1970’s het ek ’n vrou ontmoet wat lank ’n getroue lidmaat in Big Sandy in die Texas area was. Haar jarelange voorbeeld van diens aan haar man as ’n liefdevolle vrou het tot sy bekering gelei. Sy was ongeveer 12 jaar gedoop voordat haar man uiteindelik bekeer is.

Ons sending

Het u voorbeeld ’n invloed op ander mense? Ten goede of ten kwade? Het God u al ooit gebruik om iemand “tot regverdigheid” te “lei” (sien Daniël 12:3)? Het God u al ooit gebruik om iemand te “red”? Die krag van iemand se persoonlike voorbeeld is een van die grootste Christen-werktuie om ander te beïnvloed. Trouens, ons het ’n sending om andere te beïnvloed; deur ons gedrag, ons voorbeeldige diens, ons woorde en ons gesindheid!

Ons Verlosser gee ons nog ’n metafoor vir ons identiteit: “Julle is die sout van die aarde” (Mattheus 5:13). Sout is ’n preserveermiddel. Dit gee smaak en geur aan die lewe. Jesus sê in Markus 9:50: “Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar”. Vroeër het ons gesien, vertel Hy ons ook om ons lig te laat skyn! “Julle is die lig van die wéreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ’n mens steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mattheus 5:14-16).

Christus het aan ons die sending toevertrou om die sout van die aarde en ’n lig vir die wêreld te wees! Ons karakter en persoonlikheid moet andere tot geregtigheid oortuig, of ten minste as getuienis vir die wêreld dien. Soos Spreuke 16:21 sê: “’n Wyse van hart word verstandig genoem, en soetheid van lippe vermeerder die lering”. Die Nuwe Vertaling stel dit só: “’n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem, en as hy sy woorde reg kies, kan hy ook ander leer”.

Die Christenlewe straal lig en positiewe invloed uit. In sy book, The Message of the Sermon on the Mount skryf John R.W. Stott: “’n Christen se karakter soos in die Saligsprekinge beskryf en ’n Christen se invloed soos dit in die sout en lig metafore omskryf word, staan organies in verhouding tot mekaar. Ons invloed hang van ons karakter af, maar die Saligsprekinge stel ’n baie hoë en presiese standaard” (bl. 68). Ja, God stel aan ons hoë standaarde vir ware Christenskap, maar Hy gee ook vir ons die krag om daardie standaarde te bereik (2 Timotheus 1:7; Filippense 4:13).

Hoe toegewyd is ons daaraan om die hele lewenswyse wat deur ons Verlosser onderrig was, te vervul? In sy artikel “Our Mission as a Church” (Living Church News, Mei-Junie 2001, bl. 20) omskryf ons voorsittende evangelis, dr. Roderick C. Meredith die “sewevoudige” opdrag aan die Kerk. Let op die vierde van die sewe items: “Wees VOORBEELDE van Christus se lewenswyse vir die Kerk as geheel en vir die wêreld”.

Christus het ons opdrag gegee om as voorbeeld van ’n lewenswyse te dien. Die meeste van ons weet goed dat Christenskap ’n hele lewenswyse is, nie net ’n een-dag-per-week of oppervlakkige godsdiens nie! Die dissipels was in Antiochië vir die eerste keer “Christene” genoem, maar let op wat die ware godsdiens genoem was. Voor Saulus se bekering, het hy die dissipels vervolg en hy het “van hom [die hoëpriester] briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring” (Handelinge 9:2; 19:9, 23; 24:22). Ja, ons moet vir die wêreld ’n voorbeeld stel van God se hele lewenswyse! Dit beteken ons moet daarna streef om van “elke woord van God” te leef (Mattheus 4:4; Lukas 4:4).

Deur die profeet Daniël verduidelik God nog ’n belangrike aspek van ons sending. In die eerste twee verse van hoofstuk 12 profeteer Daniël van “’n tyd van benoudheid” en die opstanding wat sal volg. Wie sal in daardie opstanding verheerlik word? “En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (vers 3). Ons verkondiging van die Evangelie en ons voorbeeld, het baie tot geregtigheid gekeer en sal voortgaan om baie tot geregtigheid te keer. Later in hierdie artikel sal ons meer beginsels vir getuienis aan asook positiewe invloed op andere sien.

Volg die regte voorbeelde

Wie is u held? Wie se voorbeeld volg u? Baie mense kyk op na sporthelde soos Jacques Kallis, Shaun Pollock, Ernie Els, Wayne Ferreira of Penny Heyns. Ander kyk op na groot presteerders onder musikante, rolprentsterre, besigheidsmense, politici, militêre leiers en staatsmanne. Terwyl sommige mense suksesbeginsels op fisiese vlak mag uitbeeld, wie moet ons op geestelike vlak navolg?

Jesus gee ons opdrag om Hom te volg! Hy vertel Sy dissipels: “Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg” (Mattheus 4:19-20). Ons verbintenis daartoe om Hom te volg vereis onselfsugtigheid en toewyding. “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind” (Mattheus 16:24-25). Ons gewilligheid, om ’n lewende offer te wees en ons Verlosser te volg, moet elke dag aktief wees! Volg u daagliks Sy voorbeeld? Jesus sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Lukas 9:23). Ons geestelike voorbeeld aan andere moet hierdie gesindheid elke dag weerspieël!

As die groot geestelike Herder ken Jesus diegene wat Hom volg, en Sy skape @ Sy volgelinge @ ken Hom: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Johannes 10:27-28). Jesus beloof ewige lewe aan diegene wat Hom getrou volg! Hy het die voorbeeld van diens en opoffering gestel, beide in die lewe en in die dood. Hy was gewillig om Sy lewe vir die sondes van die wêreld te gee: “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mattheus 20:27-28).

Is ons gewillig om ons lewens in diens tot die Meester te gee? Is ons gewillig om andere te help met hul mees basiese behoeftes? In die klassieke rolprent, Ben Hur, gaan Romeinse gevangenes deur die dorpie Nasaret. Een van die gevangenes in kettings, Ben Hur, word met ’n sweep geslaan en Jesus gee hom water om te drink. Aan die einde van die rolprent dra Jesus, geslaan en vol littekens, die kruis. Oppad na Golgota, val Jesus. Ben Hur beur deur die skare en gee aan Jesus water! Hierdie uitbeelding, hoewel dit nie histories korrek is nie, het my geraak. Ons moet gewillig wees om op te offer om andere tot diens te wees volgens Jesus se voorbeeld: “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21).

Diegene van ons wat die voorreg gehad het om aan die Nuwe Testament Pasga deel te neem, het die les van nederigheid en diensbaarheid geleer. Jesus het weer eens vir ons die voorbeeld gestel. Toe Hy Sy dissipels se voete gewas het, sê Hy: “Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ’n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ’n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Johannes 13:13-17).

God die Vader het Sy Seun gestuur om die grootste voorbeeld van liefde en lewe, wat die wêreld nog ooit gesien, te wees en Hy roep ons om daardie voorbeeld met ons hele hart te volg! Jesus, die Hoof van die Liggaam, het ook opgeleide en verkose leiers om ons geestelike leiding te gee. Die apostel Paulus skryf aan die Gemeente in Korintië: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is. En ek prys julle, broeders, dat julle in alles aan my dink en aan die leringe vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het” (1 Korintiërs 11:1-2). Ons moet gewillig wees om die Christenleierskap van God se dienaars te volg.

Hebreërs 11, die “geloofshoofstuk”, gee aan ons baie meer voorbeelde van God se getroue dienaars. In ons moderne tydvak weet ons van baie andere wat in die geloof (Hebreërs 11:13) gesterf het, insluitend mnr. en mev. Herbert W. Armstrong, wie se positiewe voorbeeld ons volg. Let op hierdie vermaning: “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na” (Hebreërs 13:7).

Ons word ook in die Bybel gewaarsku teen negatiewe voorbeelde. Die Israeliete het te min geloof gehad en het “ongeloof” beoefen. Luister na hierdie vermaning: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Hebreërs 3:12-13). Ons moet ’n positiewe voorbeeld stel: “Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:11).

Die apostel Judas (soos Petrus in 2 Petrus 2:6), waarsku ons met die verskriklike voorbeeld van Sodom en Gomorra: “Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan” (Judas 7). Lesers, mag almal van ons ag slaan op hierdie voorbeelde en daarna streef om positiewe voorbeelde na te volg.

Ons persoonlike voorbeeld

Watter soort voorbeeld stel ek en u vir andere? Jesus vertel ons om ons ligte te laat skyn. Hoe kan ons die regte voorbeeld stel? Hier volg ’n aanhaling wat dr. Meredith in Mei 2001 in die Living Church News geskryf het:

“In dit alles moet ons almal probeer help wat ons kan, beide diegene binne en buite die ware Kerk, om ten minste die konsep te begryp dat ware Christene “na ELKE woord … van God” moet leef en dat Christus letterlik Sy lewe binne ons LEEF deur die Heilige Gees (Galasiërs 2:20). ’n Noodsaaklike deel van hierdie sending is dat ons ‘voorbeelde’ en ‘ligte’ vir die wêreld moet wees (Mattheus 5:14-16). As die “huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Timotheus 3:15), moet ons, geagte lesers, die VOORBEELD vir die wêreld @ en vir alle belydende Christene @ stel van die lewensWYSE wat Jesus onderrig het!

In ons persoonlike lewens, in ons ywerige werk en produktiwiteit, deur ons noue bande met ons vroue en gesinne, en in ’n gedurige VRYGEWIGE gees waardeur ons andere help en dien, moet ons ’n suiwer voorbeeld stel van waarvoor Christus werklik staan! Dit is ’n baie groot verantwoordelikheid vir elkeen van ons en is trouens deel van ons opdrag.

Deur ons eie voorbeelde, moet ons ’n standaard van selfbeheersing, wysheid, oordeel, geloof, moed en @ belangrikste van almal @ ware LIEFDE en spontane besorgdheid stel. Ons moet deur ons optrede aan andere wys dat ons God wel LIEFHET en Hom en Sy gebooie bo alles plaas wat ons sê, dink en doen” (“Our Mission as a Church”, Living Church News, Mei-Junie 2001, bl. 19).

Ons moet die beginsels wat in dr. Meredith se kommentaar omskryf is, toepas. Of ons dit besef of nie, ander mense neem ons optrede, woorde en lewenswyse waar. Dink aan die maniere waarop u andere gehelp het. Om die hele lewenswyse wat deur Christus uitgebeeld was te leef, is noodsaaklik! Watter ander belangrike sleutels is daar om die regte voorbeeld te stel? Hier volg verskeie bykomende praktiese stappe:

1. Bid vir gemeentelede in nood. Bid vir hul genesing (Jakobus 5:16). Bid vir nasionale leiers en bure (1 Timotheus 2:1-4). Bid vir u vyande (Mattheus 5:44). Vertrou op God, dat @ al kan mense u nie “sien” bid nie @ Hy diegene beloon wat ongesiens diens doen (Mattheus 6:4). U “lig” sal skyn deur u spontane gesindheid.

2. Bemoedig en spoor mekaar aan. Hebreërs 10:24-25 vertel ons: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom”. ’n Algemene boekwinkel kaartjie: “Kinders leef wat hulle beleef” gee ons hierdie perspektief: “As ’n kind met kritiek saamleef, leer hy om te veroordeel …. As ’n kind met bemoediging saamleef, leer hy vertroue”. Bemoediging doen baie om ander mense positief te beïnvloed.

3. Loop die ekstra myl saam. Ons bereik dikwels net wat verwag word, maar Jesus sê: “En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam” (Mattheus 5:41). Streef daarna om meer te doen in u werk, in u diens aan die behoeftiges en u verpligtings teenoor familie en vriende.

4. Streef daarna om ’n vredemaker te wees. Jesus sê: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Mattheus 5:9). Sê vir iemand u is jammer, vra om vergifnis en vergewe self. Wanneer iemand in ’n konflik situasie iemand kaalkop die waarheid vertel word, gee ’n sagte antwoord (Spreuke 15:1).

5. Praat die waarheid in liefde. Die apostel Paulus skryf: “Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efesiërs 4:15). Bid om eerlik, diskreet en goedig te kan kommunikeer. “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek” (Spreuke 25:11).

6. Deel u geloof. Jesus waarsku diegene wat hulle sou skaam vir Hom en Sy woorde (Markus 8:38). Paulus sê hy is nie skaam vir die Evangelie nie (Romeine 1:16). Wees gereed om ’n antwoord vir u geloof te gee (1 Petrus 3:15). Wees gereed om andere die tyd en radiostasie te gee, sodat hulle na die Wêreld van Môre-uitsendings in u plaaslike area kan luister. Wees gereed om aan iemand die gratis inskrywing op die Wêreld van Môre-tydskrif te gee of inskrywing op die Bybelstudiekursus. Saai die sade van die Koninkryk (Galasiërs 6:7-10).

7. Straal die vrugte van die Gees uit. Wanneer ander mense u ontmoet, straal u liefde, vreugde, vrede en geduld uit? Die heel eerste kenmerke van liefde is geduld en goedheid: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie” (1 Korintiërs 13:4). Bly positief en vreugdevol! “Verbly julle altyd in die Here ek herhaal: Verbly julle!” (Filippense 4:4).

Die krag van persoonlike voorbeeld soos ons gesien het, is een van die grootste Christenwerktuie om ’n invloed op andere te hê. Elkeen van ons het ’n invloed op iemand anders, of ons wil of nie! Christus gee ons opdrag om die sout van die aarde en ’n lig vir die wêreld te wees. Hy wil hê dat ons vele tot geregtigheid keer, ander help om hul menslike potensiaal te bereik en hul Godgegewe gawes te gebruik en om ander in God se Koninkryk in te help. U voorbeeld mag andere tot geregtigheid keer en mag lei tot ’n ander persoon se redding! “Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?” (1 Korintiërs 7:16).

Moet nooit die invloed wat u op andere het gering ag nie. Ons voorbeeld is altyd ’n aktiewe invloed. Ons woorde, gewoontes en dade, openbaar of in die geheim @ moontlik ’n drukkie, ’n dankie-sê kaartjie of ’n bemoedigende woord @ mag iemand na die waarheid en na geregtigheid keer. Ons moet daarna streef om die sending wat dr. Meredith uitgestip het, te vervul: “Wees VOORBEELDE vir die Kerk as geheel en vir die wêreld van Christus se lewenswyse”.

Ons is opdrag gegee om ’n lewenswyse uit te beeld. Ons is die lig van die wêreld en die sout van die aarde. Bid dat u baie tot geregtigheid kan keer. Laat Jesus Christus u gebruik, u invloed, u persoonlikheid, u Christenvoorbeeld. Laat God se Gees in liefde uit u vloei en laat God u en die krag van u persoonlike voorbeeld gebruik!