Voortgedryf deur ’n doel van vasberadenheid en eindbestemming voor oë, brei die Verenigde State van kus tot kus uit. Was ’n onsigbare hand aan die werk?

Waarom het koloniale Amerika op die voorgrond getree as ’n belangrike rolspeler op ’n wêreldtoneel wat lank reeds deur Brittanje, Frankryk en Spanje oorheers is? Wat het die Verenigde State in staat gestel om ’n wêreldmoondheid te word? Waarom het Amerika die magtigste en invloedrykste nasie in die wêreld geword? Was Amerika net gelukkig? Was dit ’n toevalligheid van die geskiedenis of die gevolg van skerpsinnige Amerikaanse diplomasie? Was daar dalk ander faktore betrokke wat vandag selde genoem word?

Ongelukkig het baie mense in ons moderne wêreld vergeet of hulle het nooit gehoor van die bewyse wat dui op die “hand van God” of van “Goddelike Voorsienigheid” nie. Bogenoemde het Amerika se opkoms tot grootheid volgens ’n “voorafbepaalde plan” gelei. Terwyl dit dalk vreemd mag klink in moderne ore, is daar meer as voldoende bewyse vir enigiemand met oë om te sien, dat God in menslike aangeleenthede ingryp om die verloop van die geskiedenis te lei en ten uitvoer te bring wat Hy voorspel het. (sien Jesaja 46:8-11). Soos u in hierdie artikel sal sien, was die vervulling van Amerika se “geopenbaarde bestemming” ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis van die wêreld.

Voorafbestemde geskiedenis

Die opgetekende geskiedenis van die vestiging en ontwikkeling van die Nuwe Wêreld, veral Noord-Amerika, illustreer die aard van “voorsienigheid” in hierdie groot keerpunt. In die 1500’s het die Spaanse en Portugese seevaarders die Nuwe Wêreld oopgestel vir Europese verkenning en die pous het ’n bevel uitgereik wat hierdie nuwe lande tussen Katolieke Spanje en Portugal verdeel het. Hierdie toneel het in die 1600’s begin verander, met die aankoms in Noord-Amerika van die Franse, die Protestantse Engelse en veral die Puriteinse Pelgrims wat hulle nedersettings in Nieu-Engeland as ’n Godgegewe Beloofde Land beskou het. Gedurende die vroeë 1700’s het die Franse en Brittanje teen mekaar geveg vir die beheer oor gebiede in Noord-Amerika. In die laat 1700’s, het die toneel in Noord-Amerika nog meer verander toe dertien, hoofsaaklik Protestantse kolonies, aan die oostelike kus hulle onafhanklikheid van Groot-Brittanje verklaar het en uiteindelik die magtigste nasie op aarde verslaan het. Die koloniale leiers het geredelik erken dat hulle oorwinning die gevolg was van Goddelike ingryping by verskeie geleenthede (sien “Wonderwerke van die Amerikaanse revolusie” Wêreld van Môre, Julie-Augustus 2018). Die geskiedenis bevestig dat dit die Amerikaners was wat die Noord-Amerikaanse vasteland beheer het, nie die Spanjaarde, Franse of Britte nie – dit was ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis.

Terwyl kritici vergeet het en mag spot, was die geloof in “Goddelike Voorsienigheid” – dat God die verloop van die geskiedenis lei en dat Hy ’n spesiale einddoel gehad het vir Amerika om Sy plan deur te voer – algemeen aanvaar in koloniale Amerika en dit was ’n ononderbroke tema in die Amerikaanse geskiedenis van die pelgrims af tot vandag (Providence and the Invention of the United States, Nicholas Guyatt, bll. 1-8). Terwyl skeptici twyfel dat God bestaan of ’n plan het, het die Protestantse Engelse, God se hand gesien in die nederlaag van die Spaanse Armada. Die pelgrims het hulle reis oor die Atlantiese Oseaan en vestiging in Nieu-Engeland gelykgestel aan Israel se ontvlugting uit Egipte oor die Rooi See na die Beloofde Land. Koloniale Amerikaners het hulle skeiding van en oorwinning oor Groot-Brittanje gesien as belangrike rolspelers in God se plan (ibid., bll. 46-51). Amerika se stigters “het verstaan dat daar ’n mag in die heelal is wat groter is as hulleself” en hierdie Goddelike Skepper het ’n “plan vir die mensdom” gehad wat die Verenigde State van Amerika betrek – een wat die verloop van die geskiedenis sou verander (A Nation Like No Other, Gingrich, bl. 21).

Voorafbestemde geografie

Nog ’n faktor wat ook vandag oor die hoof gesien word, is die belangrikheid van “geografie, as ’n deurslaggewende faktor in die verloop van die menslike geskiedenis” (Prisoners of Geography, Tim Marshall, bl. 7). Wat die Europeërs nie besef het toe hulle aan die strand van Noord-Amerika geland het nie, was dat die vasteland ’n uitnemende stuk vaste eiendom was, beskerm deur twee oseane, vol natuurlike hawens en vrugbare grondsoorte, bykans onbeperkte hoeveelhede hout, steenkool, olie en selfs goud, ’n oorvloed vaarbare riviere en (in die Mississippi-bekken) “die grootste binnelandse watervervoerstelsel in die wêreld ... waaruit Amerika se pad na grootheid gevloei het” (ibid., bll. 64-68). Soos een sekulêre skrywer dit stel, “Geografie het bepaal dat indien ’n politieke entiteit die land ‘van see tot glinsterende see’ kon bekom en beheer, sou dit ’n groot moondheid wees, die grootste wat die geskiedenis nog geken het” (ibid., bl. 65).

Ander bronne dui daarop dat “baie geskiedkundiges die Voorsienigheid se voorbereiding van Amerika erken het ... dat ’n Almagtige, Oorheersende Voorsienigheid van die begin af beplan het om ’n groot, verenigde volk hier te plaas ... en dat geen blinde mag aan ons aarde die formasies wat so geskik is om hierdie funksies te vervul, gegee het nie” (America’s Providential History, Mark Beliles en Stephen McDowell, bl. 17). Die jong Franse waarnemer, Alexis de Tocqueville, het in die 1840’s ook opgemerk dat die uitgestrekte landskap van Amerika “lyk of dit voorberei is om die woonplek van ’n groot, maar nog ongebore nasie te wees. In daardie land moes die groot eksperiment gedoen word deur ’n beskaafde mensdom, om te probeer om ’n samelewing te bou op ’n nuwe grondslag” – wat ook deel was van hierdie belangrike keerpunt in die wêreldgeskiedenis (ibid., bl. 17).

Voorafbestemde uitbreiding

Na die rewolusie het Amerika se nuwe leiers ’n merkwaardige periode van uitbreiding begin. In 1803 het Thomas Jefferson onderhandel in verband met die Louisiana Purchase (met Napoleon, wat fondse benodig het vir sy Europese veldtogte). Dit het die grootte van die Verenigde State verdubbel en só is beheer oor die Mississippi-rivierstelsel verkry wat die grootste vaarbare rivierstelsel in die wêreld is. In 1814 het Generaal Andrew Jackson die Britte in New Orleans verslaan en beheer oor die monding van die Mississippi-rivier verkry. In 1819 het Spanje, wat besig was met probleme elders, Florida aan die Verenigde State oorgedra. In die 1840’s het die Verenigde State, Upper California bekom (wat later Kalifornië, Nevada, Utah en deel van Nieu-Mexiko geword het) sowel as Texas wat ’n uitvloeisel was van die Mexikaans-Amerikaanse-oorlog. Hulle het ook die Oregon-gebied van Groot-Brittanje verkry deur ’n verdrag. Die Alaskagebied is in 1867 van die Russiese Ryk aangekoop.

Die Verenigde State het in minder as ’n eeu nadat onafhanklikheid verkry is, bereik wat baie mense laat glo het dat dit sy “voorafbepaalde bestemming was om oor die hele vasteland te versprei en te besit wat die Voorsienigheid vooraf bestem het” (Manifest Destiny, Anders Stephanson, bl. 42). As gevolg van die Spaans-Amerikaanse-oorlog het Spanje in 1898 sy koloniale ryk in die Nuwe Wêreld prysgegee en Amerika het ’n wêreldmoondheid geword deurdat hulle die oorsese gebiede van Puerto Rico, Guam en die Filippyne bekom het – dit het die Atlantiese en die Stille Oseaan toegange tot die kontinentale Verenigde State bewaak. Ná twee wêreldoorloë en ’n Koue oorlog met Rusland, het Amerika die onbetwiste supermoondheid in die wêreld geword aangesien dit sy taal, kultuur en waardes oor die wêreld uitgebrei het.

Wat min mense vandag besef, is dat die merkwaardige opkoms en uitbreiding van die Verenigde State byna 4,000 jaar gelede voorspel is in die profetiese beloftes wat Jakob aan sy twee kleinseuns, Efraim en Manasse gemaak het. Daar is geprofeteer dat Efraim ’n “menigte van nasies” sou word (die Britse Ryk en Gemenebes) en Manasse (die Verenigde State) sou ’n “groot” nasie word en as afstammelinge van die Bybelse patriarg Josef, sou hulle albei die seëninge van die hemel en die aarde beërwe (sien Génesis 48:14-20; 49:22-26; Deuteronómium 33:13-17). God se bedoeling was dat hierdie twee Israelitiese volke “ligte” vir die wêreld sou wees (Deuteronómium 4:1-10). Dit is waarom die opkoms van Amerika en Brittanje belangrike keerpunte in wêreldgeskiedenis is.