Genade is ’n wonderlike geskenk van God. Tog word dit dikwels verkeerd verstaan. Hoe kan u seker wees u maak die meeste van God se genade in u lewe?

“Genade” is ’n woord wat deur baie Christene gebruik word, maar wat verstommend min van hulle verstaan. Dalk doen u ’n dankgebed. Miskien dink u aan grasie as u ’n bedrewe danser of ’n daad van groot beleefdheid sien. Dalk skuld u geld op u kredietkaart en die “grasietydperk” laat u toe om amper ’n maand te wag voordat u ’n betaling hoef te maak.

Christene praat egter op ’n baie spesifieke manier oor genade. In ons Christelike lewens is genade die gratis en onverdiende guns wat God aan diegene gee wat na Hom soek.

Indien genade regtig gratis is, mag sommige mense wonder of dit nie beteken dat ek enigiets kan doen wat ek wil nie? Deur die eeue heen het sommige mense verkeerdelik geleer dat wanneer Christene “Jesus aangeneem het”, dit nie saak maak watter sondes hulle daarna pleeg nie; hulle is kwansuis verseker van redding, selfs al gee hulle nie hulle ou gewoontes van moord, afgodediens en allerhande ander gruwelike gedrag prys nie. Dit kan tog sekerlik nie reg wees nie. Aan die ander kant, aangesien genade God se gratis geskenk is, hoe kan daar dan enige “voorwaardes” aan verbonde wees?

Dit is duidelik dat baie mense nie God se genade verstaan nie. U mag verbaas wees om te verneem dat die meeste mense – selfs baie Christene – nie werklik verstaan wat redding is, of selfs nie wat sonde is nie. Kennis van sonde en redding is nogtans noodsaaklik om te verstaan hoe genade in u Christelike lewe werk! In hierdie artikel sal ons kortliks ondersoek wat dit beteken om God se genade te ontvang, wat daardie genade in die Christen se lewe beteken en hoe dit verband hou met redding en vergifnis van sonde.

“Goedkoop genade”?

Indien genade ’n gratis geskenk is, hoeveel is dit vir ons werd? Behandel ons dit as iets waardevol? U mag dalk gehoor het dat mense van “goedkoop genade” praat, maar wat bedoel hulle? Die beroemde Duitse prediker Dietrich Bonhoeffer het opgemerk: “Goedkoop genade beteken die regverdigmaking van sonde sonder die regverdigmaking van die sondaar. Daar word gesê dat slegs genade nodig is, dus kan alles bly soos dit voorheen was ... Wel, laat die Christen dan leef soos die res van die wêreld, laat hy sy lewe dan in elke sfeer van die wêreld se standaarde leef en nie kastig daarna streef om ’n veranderde lewe te leef onder genade teenoor sy ou lewe onder sonde nie” (The Cost of Discipleship, vertaal deur R.H. Fuller, 1963, bl. 46).

Bonhoeffer het dit in kontras gestel met wat hy genoem het “duur genade”. Hy skryf: “Sulke genade is duur want dit roep ons tot gehoorsaamheid en dit is genade omdat ons geroep word om Jesus Christus te volg. Dit is duur, want dit is kosbaar en kan ’n mens sy lewe kos. Dit is genade, want dit gee ’n mens die enigste ware lewe. Dit is duur want dit veroordeel sonde, asook genade omdat dit die sondaar regverdig. Dit is bowenal duur omdat dit die lewe van God se Seun gekos het: ‘Julle was teen ’n prys gekoop’ en wat vir God duur was, kan nie vir ons goedkoop wees nie. Dit is veral genade omdat God nie Sy Seun se lewe te duur geag het om vir ons lewens te betaal nie, maar Hy het hom vir ons oorgelewer” (bl. 47-48).

Gee u gehoor aan die genade wat God aan u gegee het of behandel u God se genade as “goedkoop genade”? Aanvaar u God se geskenk as vanselfsprekend en leef soos wat u nog altyd geleef het? Baie Protestantse evangeliste het grootgeword met die slagspreuk: “Een maal gered, altyd gered”. Dit sou gerusstellend wees as dit waar was. In werklikheid het ons almal al baie mense gesien wat “opreg en eerlik” gereageer het op die emosionele aantrekkingskrag van ’n kansel-uitnodiging en glo dat hulle “gered” is, net om weer terug te keer na hulle ou sondige lewenswyse sodra die emosionele “hoogtepunt” verflou het. Indien “eenmaal gered, altyd gered” waar was, sou hierdie mense net so “gered” gewees het soos diegene wat opgehou het met hulle ou sondige gewoontes omdat hulle berou gehad het.

Hierdie belangrike punt – berou – is wat alte dikwels ontbreek in mense se definisie van redding. God skenk ons nie net genade nie; Hy skenk aan ons berou, wanneer ons in opregtheid na Hom toe kom. Ons kan nie eerlik sê dat ons op Hom “vertrou” wanneer ons sê dat ons Sy genade aanvaar, maar nie Sy gawe van berou nie. Soos die apostel Paulus die Christene in Rome gevra het, “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?” (Romeine 2:4). Ja, geagte Lesers, wanneer ons gehoor gee aan God se genade, sluit daardie gehoorsaamheid berou en selfs meer in.

Petrus se preek

Op Pinksterdag in 31 n.C. tydens die eerste, geïnspireerde preek van die Nuwe-Testamentiese Kerk, het die apostel Petrus in Jerusalem met ’n paar duisend mense gepraat, waarná hulle oortuig geraak het van hulle aandeel in Jesus die Messías se dood. Duisende van hulle het Petrus en die ander Apostels gevra: “Wat moet ons doen, broeders?” (Handelinge 2:37).

Hier was Petrus se geleentheid om aan hulle te vertel dat hulle niks méér hoef te doen as om net te “vertrou” of te “glo” in God nie. Hy het dit egter nie gesê nie. Wat het hy gesê? “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Petrus het wonderlike nuus verkondig naamlik dat sondaars se sondes vergewe kan word en die geskenk van die Heilige Gees kan ontvang. Vir dit om te kan gebeur, het hy twee punte benadruk – dat hulle hul moes bekeer en dat hulle daarna gedoop moes word.

Indien u na Petrus geluister het en bedroef was oor u aandeel in Christus se dood en graag u lewe sou wou verander, asook vergifnis wou ontvang, wat sou ú gedoen het? Sou u met Petrus geargumenteer en gesê het: Ek sal my nie bekeer nie, ek wil nie gedoop word nie, want dit is werke en ek het nie nodig om my redding te verdien nie? Indien u op daardie manier gereageer het, sou dit in stryd wees met baie van God se duidelike opdragte, met inbegrip van hierdie basiese Nuwe-Testamentiese leerstellings.

Natuurlik kan niemand redding verdien nie. ’n Moedswillige ongehoorsaamheid aan God se opdragte is ’n seker teken daarvan dat u u nie regtig bekeer het nie.

Hoe het die skare dus gereageer op hierdie eerste Pinksterdag in die Nuwe-Testamentiese Kerk? Die Skrif vertel aan ons die wonderlike nuus: “Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring. En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede” (Handelinge 2:41-42).

Op daardie dag het 3,000 nuwe Christene God se opdrag gehoorsaam – hulle het hul bekeer en is gedoop. Hulle het gedoen wat Jesus vir alle Christene sê om te doen: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Dink anders!

Wanneer ons berou het oor ons sonde, is ons innig jammer dat ons God se Wet oortree het. Ons het nie meer ’n vyandige gesindheid teenoor God en Sy Wet van vryheid nie. Ons het nie langer ’n vleeslike gesindheid wat in “vyandskap” teenoor die Wet van God staan nie (Romeine 8:7). Na bekering wil ons in ooreenstemming met God se Wet van liefde – die Tien Gebooie – leef. Bekering bring ’n ingrypende verandering in ons denke mee, asook ’n verbintenis om volgens elke Woord van God te leef. Soos Jesus gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Bekering is meer as ’n intellektuele bewustheid van sonde. Diepe berou bring innige droefheid oor ons sondes mee. Dink aan die vrou wat Jesus se voete gesoen en met haar trane gewas het (Lukas 7:37-38) – wat sy getoon het was diepe berou.

Ons behoort bewus te wees daarvan dat daar ook ’n wêreldse berou bestaan wat nie opregte berou is nie. Let op dat Paulus erkenning gee aan die Korinthiërs se berou: “Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie. Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Korinthiërs 7:9-10).

Sommige misdadigers toon wêreldse berou en sê dat hulle spyt is oor hulle misdade – hulle sondes – terwyl hulle eintlik innerlik sê: Ek is jammer dat ek uitgevang is, ek is jammer dat ek gestraf moet word vir my misdaad, maar as ek ’n kans kry om nog ’n misdaad te pleeg, sal ek. Dit is nie net misdadigers wat hierdie wêreldse berou het nie. Baie mense wat verslaaf is aan afbrekende en ongesonde gewoontes, soos seksuele sondes, dwelm- of alkoholmisbruik, kan ’n soort berou voel, maar eintlik slegs die gevolge van hulle gedrag betreur. Sonder ’n ware verandering van hart en ’n blywende verandering van gedrag, sal hulle voortgesette sonde tot die dood lei! Dit is waarheen die berou van hierdie wêreld lei!

Goddelike berou – ware bekering – bring ander en beter vrugte mee. Let op na die eienskappe daarvan, soos dit in die Skrif beskryf word: “Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God – wat ’n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is” (2 Korinthiërs 7:11).

Tree anders op!

Hoe het Jesus gereageer toe ’n Fariseër gevra het wat die grootste Gebod is? “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matthéüs 22:37-40). Wanneer ons leer om soos God te dink, leer ons ook om soos God op te tree.

Wanneer ons dink dat ons “gered” is, maar ons gaan voort om sonde te beoefen met geen verandering in ons gesindheid of gedrag nie, het ons nie werklik tot bekering gekom nie. Psalm 51 is Dawid se erkenning van sy sonde en as u daardie Psalm lees, sal dit u help om ’n dieper begrip van bekering te kry. Let op dat Dawid nie vir “geregtigheid” gevra het nie, want geregtigheid sou vir Dawid die doodstraf beteken het. “Die loon van die sonde is die dood” vir ons almal (Romeine 6:23)! Met ’n boetvaardige gesindheid het Dawid eerder om genade gesmeek: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van U barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid, en reinig my van my sonde” (Psalm 51:3-4).

Ja, Dawid het sy sonde erken! Hy het ernstig gebid dat God hom moes reinig. Het u al ooit so gebid? David het verder gebid: “Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou” (verse 5-6).

Hoe het Dawid “slegs” teen God gesondig? Hy het owerspel gepleeg met Bátseba. Hy het Bátseba se man, die soldaat Uría, na die voorpunt van die hewigste geveg gestuur om vermoor te word. Dawid het beslis “teen hulle gesondig”. God het egter beveel: “Jy mag nie doodslaan nie. Jy mag nie egbreek nie” (Exodus 20:13-14). Dawid het teen die Wetgewer gesondig en die doodstraf verdien.

Dawid se boetvaardigheid stel ’n voorbeeld vir ons almal. Ons het almal daardie nederige en berouvolle gesindheid nodig! “Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie” (Psalm 51:19).

’n Lisensie om te sondig?

Nadat ons net soos Dawid, op die punt van bekering gekom het en ons gehoorsaam Christus se opdrag om gedoop te word, word ons van al ons sondes van die verlede vergewe en ons begin dan met ’n nuwe lewenswyse. Hoe behoort ons dan voortaan te reageer op die genade – die onverdiende vergifnis – wat God aan ons gegee het? Kyk: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Romeine 6:1-2). Behoort ’n nuut-verwekte Christen aan wie God onverdiende vergifnis en kwytskelding geskenk het, voortgaan om God se Wet te oortree en ongehoorsaam te wees aan God? Paulus sê duidelik: “Nee, stellig nie!” Die Bybelse getuienis is oorweldigend: Ons kan nie voortgaan om opsetlik aan God ongehoorsaam te wees én die gawe van verlossing gegee word nie! Paulus het te doen gehad met valse Christene wat probeer het om genade te gebruik as toestemming om te sondig – soos wat baie mense vandag doen!

Die apostel Judas het ook hierdie onbybelse benadering tot genade veroordeel: “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 4).

Hoeveel belydende Christene doen nie presies dít vandag nie? Diegene wat die genade van God misbruik, sê deur hulle gedrag: Ons is vry om die Tien Gebooie te oortree; ons hoef God nie te gehoorsaam nie! Dit is verkeerd! Daardie vorm van opstandigheid is vleeslik, nie bekering nie! Bekeerde Christene erken dat die onderhouding van God se Gebooie 'n betuiging van liefde is. Die eerste vier Gebooie wys ons hoe om God lief te hê en die laaste ses Gebooie wys ons hoe om ons naaste lief te hê. Soos die apostel Johannes geskryf het, “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

Dus, soos Paulus dit so kragtig stel, ons kán nie voortgaan om onder genade te leef wanneer ons terselfdertyd sonde beoefen nie. Geen ware berouvolle Christen sal wil aanhou sondig terwyl hy op genade aanspraak maak nie. Die ware Christen het tydens die doop “in homself gesterf”, soos Paulus verduidelik: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel” (Romeine 6: 3-4). Daardie “begrafnis” word gesimboliseer deur die berouvolle sondaar se volledige onderdompeling in water. Na die doop, begin die sondaar wat vergewe is ’n nuwe geestelike lewe.

Die Heilige Gees

Ons kan nie geestelik groei sonder God se Gees nie. God gee aan ’n berouvolle sondaar die gawe van die Heilige Gees, ná die doop en die oplegging van hande.

God verwag van ons om aktiewe geloof te beoefen. Hy verwag dat ons Hom sal vertrou, tot so ’n mate dat ons werklik sal doen wat Hy vir ons sê om te doen. Jesus het Sy volgelinge gewaarsku, “En wat noem julle My Here, Here, en doen nie wat ek sê nie?” (Lukas 6:46). Ons behoort te doen wat Hy gedoen het! Onthou Jesus Sélf het die voorbeeld gestel deur Hom te laat doop, in gehoorsaamheid aan God se opdragte!

Die Heilige Gees is die geestelike krag van God wat ons as Sy kinders verwek en ons bemagtig om geestelik te groei. Let op dat hierdie gawe van God se Gees gegee word deur die handoplegging van God se ware dienaars. Die Apostels “het hulle toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 8:17).

Ons het die Heilige Gees nodig om die selfvernietigende krag van die menslike natuur te oorkom. Paulus beskryf sy worsteling met die menslike natuur: “Ek dank God – deur Jesus Christus onse Here! So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde” (Romeine 7:25).

Let op Paulus se gesindheid van gehoorsaamheid. Sal God die Heilige Gees gee aan diegene wat ’n gesindheid van ongehoorsaamheid het? Nee, Hy sal nie! Soos Petrus so duidelik gesê het, die Heilige Gees is iets wat “God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). God sal nie die gawe van die Heilige Gees gee aan diegene wat ’n gesindheid van ongehoorsaamheid het nie.

Petrus en die ander Apostels het voortdurend ’n gesindheid van gehoorsaamheid aan God getoon. Let op Petrus se vrymoedigheid toe hy met die Sanhedrin [Joodse Raad] gepraat het. Hierdie Raad het die Apostels beveel om nie in die naam van Jesus te preek nie. Wat was hulle reaksie? “En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29).

Een van die hooftemas van die Bybel, vanaf Génesis tot Openbaring, is dat gehoorsaamheid aan God seëninge meebring en ongehoorsaamheid aan God bring straf mee. U kan God se genade ontvang – Sy wonderlike seëninge en Sy gawe van die ewige lewe, deur Jesus Christus onse Here. Onthou egter dat God net Sy gratis geskenk van verlossing sal gee aan diegene wat gewillig is om hulle te bekeer, te glo en Hom te gehoorsaam. Soos Petrus skryf, “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Petrus 4:17-18).

Reageer op God se gratis geskenk!

U Bybel openbaar God se ontsaglike plan van verlossing. Verlossing is ’n gratis geskenk wat ons nooit sou kon verdien nie. Die meeste Bybelgeleerdes is bekend met een van die belangrikste skrifgedeeltes oor hierdie onderwerp: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie; dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Efésiërs 2:8-9). Let daarop dat terwyl God se genade ’n geskenk is, so is geloof tot redding óók ’n geskenk van God! Die volgende vers word gereeld oor die hoof gesien deur diegene wat genade probeer omskakel in goedkeuring om te sondig: “Want ons is Sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Efésiërs 2:10). ’n Opregte reaksie op God se genade lewer goeie werke op en ’n dienskneg van God wandel daarin – dit wil sê, lewer voortdurend goeie werke op. Ons moet in ons lewens die vrugte van ware Christenskap dra.

In ooreenstemming, beskryf Johannes die proses van om geestelik vrugte te dra as sou Christus die wingerdstok wees en die Vader die wynboer (Johannes 15:1-8). Hoe eer ons ons Vader in die hemel? Jesus sê: “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra; en julle sal my dissipels wees” (vers 8). Wanneer ons in Hom “bly” (vers 4,7), het ons voortdurend ’n hegte verhouding met Hom en ons vind vreugde in Sy genade of guns.

Die boek Handelinge gee verskeie voorbeelde van genade (charis) as sinoniem van guns. Die International Standard Bible Encyclopedia stel dit mooi en herinner ons daaraan dat “charis ook gebruik word om te sê dat iemand guns in ’n ander se oë gevind het – die vroeë Kerk het charis gevind by ‘al die mense’ ([Handelinge] 2:47). Stephanus het onthou dat Josef guns gevind het by Farao (Handelinge 7:10) en Dawid by God (7:46)” (red. Geoffrey Bromiley, 1982, deel 2, bl. 552).

Paulus begin verskeie van sy briewe met ’n seëngroet wat naastenby so klink: “Genade vir julle en vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus!” (Efésiërs 1:2). Die slotvers van die Bybel gee ons hierdie bemoediging: “Die genade van ons Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen” (Openbaring 22:21). Ek en u het God se guns, vergifnis en voortdurende genade nodig.

Jesus Christus is ons lewende Verlosser. Ons sal gered word deur Sy lewe (Romeine 5:10), maar ons moet volhard in gehoorsaamheid! Ons by die Wêreld van Môre hoop u sal God se genade aanvaar, gehoorsaam wees aan Sy wil, Sy guns soek en deel in Sy wonderlike verlossingsplan!