Die boek van Openbaring beskryf ’n geheimsinnige “merk” wat die navolgers van ’n valse Jesus Christus sal identifiseer. Sal u die merk aanneem? Het u reeds? Wat is dit?

Wat is dit? Wie sal dit ontvang? Hoe kan u dit vermy? Dit hoef nie ’n geheim te wees nie!


Wat is die geprofeteerde “merk van die dier” waarna verwys word in u Bybel? Is dit ’n mikroskyfie wat onder mens se vel ingeplant sal word? Sal dit ’n papier-dun “data-tattoo” wat op mense se voorkoppe aangebring sal word? Is dit vir die burgers van Amerika hul Maatskaplike veiligheidsnommer? Is dit ’n opsporingstoestel, of ’n gedagte-beherende inplanting? Daar is volop teorieë oor wat hierdie onheilspellende merk sal wees.

Dit is die volgende verse wat baie mense laat sidder: “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het” (Openbaring 13:16-17).

Die Skrif waarsku dat hierdie dier, wie se volgelinge uitgeken word aan ’n geheimsinnige “merk”, in samewerking met ’n magtige militêre en politieke stelsel, groot “wonderwerke” sal verrig om die mensdom te mislei. Daardie magtige stelsel sal uitgeken word aan die geheimsinnige getal “666” (Openbaring 13:18). Enigeen wat die dier se merk aanvaar, sal God uittart! Die apostel Johannes skryf dat diegene met die merk sal: “... self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn” (Openbaring 14:9-10). Ons behoort sekerlik daardie waarskuwing ernstig op te neem!

Wat is dus hierdie merk? Hoe sal dit u en u gesin raak? Namate ons op koers is na hierdie moeilike dae aan die einde van hierdie huidige tydvak, is dit lewensbelangrikevrae!

’n Valse kerk met antieke wortels

’n Godsdiensstelsel genaamd, “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” word in die Skrif beskryf (Openbaring 17:5). Hierdie stelsel het sy wortels in die antieke Babiloniese verborgenheidsgodsdiens. Dit word beskryf as ’n gevalle vrou – ’n afvallige kerk – dit is in direkte opposisie met God. Die Skrif beskryf hierdie stelsel as sou dit groot politieke invloed uitoefen op die wêreld se leiers, deur gunste te ontvang en uit te deel (verse 1-2).

Johannes identifiseer verder die Babiloniese verborgenheid as ’n baie ryk en welvarende kerk, “versierd met goud en kosbare stene en pêrels en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery” (Openbaring 17:4). Jesus Christus waarsku Sy volk ernstig om hierdie kerk te verlaat en te vermy: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4).

Waarom sou enige kerk egter vandag so ’n antieke naam soos “Verborgenheid, die groot Babilon”, genoem word? Dit is omdat daardie kerk leerstellings het wat direk afkomstig is uit die antieke Babiloniese verborgenhede, wat die voorlopers is van baie van die wêreld se heidense praktyke (The Worship of the Dead, Kol. J. Garnier, 1909, bl. 8). Wat was een van die sleutelkomponente van hierdie antieke heidense gelowe? Sonaanbidding.

’n Geskiedenis van sonaanbidding

In die dae van die antieke Israeliete was sonaanbidding “wyd verspreid in die lande aangrensend aan Palestina” (“Sun, Worship of”, Unger’s Bible Dictionary, bl. 1049). God het die Hebreërs uitdruklik gewaarsku teen hierdie vorm van afgodery, wetende dat dit ’n sterk versoeking vir hulle sou wees: “Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele ... dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie” (Deuteronomium 4:15, 19). God is ’n onsigbare Gees (Johannes 4:24). Hy het die son gemaak om fisiese lig en hitte te verskaf aan die aarde en sy bewoners, nie om aanbid te word nie! God moet aanbid word, nie Sy skepping nie (Romeine 1:25)!

Tog, ten spyte van duidelike waarskuwings, het die Israeliete in afvalligheid en sonaanbidding verval. Die profeet Esegiël het hierdie vreesaanjaende gesig gesien in ’n bonatuurlike visioen van God: “Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die huis van die Here; en kyk, by die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf-en-twintig man, met hulle rug na die tempel van die Here en hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste” (Esegiël 8:16). Die 24 spanne van God se priesters, plus die hoëpriester, was besig om te “buig in die rigting van die opkomende son” in die ooste. Het God dit as ’n nietige saak beskou? Beslis nie – Hy sê in die volgende vers dat hierdie en ander gruwels Sy woede opwek! Wat is die les vir ons vandag? Sal God tevrede wees met ons as ons voortgaan met hierdie gruwelike praktyke? Natuurlik nie!

Deur elke geslag heen moes God se volk veg teen kompromie met God se waarheid. Dit is vandag steeds waar, net soos in die tyd van Esegiël. Weeg u oortuigings dus regtig op teen God se opdragte? Die apostel Paulus beveel Christene: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Indien ons bely dat ons volgelinge van Christus is, moet ons Sy gebooie gehoorsaam! Ons kan nie net die tradisies en idees van mense navolg nie. Vra uself dus: Waar het u u geloofsoortuigings gekry?

Die kultus van die son in die Christelike era

Die oorsprong van baie moderne godsdienstige tradisies kan teruggevoer word na antieke Babilon. Die ou Babiloniese songod was Shamash genoem. In die Romeinse tyd was hy bekend onder sy Persiese naam, Mithra. Die kultus van Mithra het meer prominent geword in die Romeinse Ryk rondom die tyd van Christus. Skrywer Samuel Dill merk op: “Van al die oosterse godsdienste wat die aanhang van die Weste in die laaste drie eeue van die Ryk gehad het, was dié van Mithra die sterkste” (Roman Society, bl. 585). Geleerdes het opgemerk hoe nou die storie van die god Mithra blyk om ooreen te stem met die storie van Jesus. Kyk na ’n paar voorbeelde: Mithra sou ’n “koning en ’n herder” wees, net soos Christus. Hy sou lewe gee en siekes genees en selfs die dooies opwek. Hy sou die bande van gevangenes losmaak, asook ’n einde maak aan goddeloosheid en sy vyande vernietig (Religion of Babylonia and Assyria, bll. 71-72).

Mithraïsme het oënskynlik baie ooreenkomste met die Christendom. Tog, dit was gegrond op sonaanbidding – wat God ’n gruwel noem! Hoe kan dit wees? Die antwoord is dat daar ’n groot bedrieër is, Satan die duiwel, wat “in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” en “die hele wêreld verlei” [mislei] (Efesiërs 2:2; Openbaring 12:9). Sy meesterskuif was om ’n vervalste Christendom te skep wat oënskynlik baie ooreenkomste sou hê met God se ware godsdiens, maar wat nogtans kenmerkend sou wees van die heidendom (vir meer inligting oor hierdie onderwerp, vra gerus ’n kopie aan van ons gratis boekie, Satan se Vervalste Christendom).

Verregaande? Vra uself af: Wat is die beste manier vir ’n kulkunstenaar om niksvermoedende slagoffers te mislei – deur sy produk so te maak dat dit drasties verskil van die werklike artikel, of om iets te maak wat in baie opsigte byna net soos die ware Jakob lyk? Dit is presies wat Satan die duiwel gedoen het. Hy het probeer om die verskil tussen heidense aanbidding en ware Christelikheid te verdoesel.

Mithra was ’n “god van lig” en is aanbid deur eer te betoon aan die bron van lig – die son. Jesus Christus het Homself “die lig van die wêreld” genoem (Johannes 8:12). Hy sê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (ibid.). Jesus Christus as “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld” (Johannes 1:9). Tog het Jesus nie Sy dissipels geleer om Hom te aanbid deur die son te vereer nie!

Sommige mense probeer om ’n vermenging van sonaanbidding en die ware godsdiens te regverdig, deur te sê dat Christus geprofeteer was om die “son van redding” te wees en dat daar “genesing in sy strale” sal wees (Maleagi 4:2 NV). Ware aanbidders van God besef dat die “lig” van Christus geestelike waarheid is. Die “duisternis” waarvan Christus praat is geestelike dwaling en misleiding.

Is u godsdiens dus “gekenmerk” deur gehoorsaamheid aan God se opdragte om die Skepper te aanbid, nie die skepping nie? Klou dit dalk nog steeds vas aan die antieke tradisies wat God duisende jare gelede al “gruwels” genoem het?

“Christelike” sonaanbidding?

Baie belydende Christene aanvaar net eenvoudig dat hulle tradisie om op Sondag te aanbid, uit die Bybel kom. Nogtans beveel die Bybel duidelik onderhouding van die sewende-dag Sabbat aan, nie van die eerste dag van die week nie! Daniël het voorspel ’n ketterse godsdienstige moondheid sal “die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander” (Daniël 7:25). Skokkend, tog is dit presies wat gebeur het tydens die vroeëre jare van die Nuwe-Testamentiese Kerk, toe leiers hul Sabbat-onderhouding verskuif het na Sondag.

Geleerdes – selfs die mees gerespekteerde Sondag-onderhouers – erken dat die Nuwe Testament nie ’n Sondag “Sabbat” magtig nie – “Ons vind nie die geringste spoor van ’n wet of ’n apostoliese edik wat die onderhouding van die ‘dag van die Here’ instel nie; nog minder is daar in die Skrif enige aanduiding van ’n vervanging hiervan vir die Joodse Sabbat” (Unger’s Bible Dictionary, “Sunday”, bl. 1050). Geen skriftuurlike of apostoliese gesag beveel die Nuwe-Testamentiese Kerk om sy dag van aanbidding te verskuif na Sondag nie!

Indien die Skrif nie Sondagaanbidding beveel het nie, hoekom is dit die gebruik van honderde miljoene belydende Christene vandag? Kan dit wees dat aanbidding van die “eerbiedwaardige dag van die son” deur middel van ’n groot bedrieër ingeglip het in die tradisies van niksvermoedende mense?

In die boek Pagan Christianity, wys skrywers George Barna en Frank Viola insiggewend daarop dat populêre Christelikheid vol is van baie onbybelse elemente. Hulle merk op dat Sondagonderhouding tot stand gekom het as gevolg van ’n kompromie tussen Mithraïsme en die Christendom soos wat dit versoek is deur die heidense keiser Konstantyn. Die skrywers skryf “dit was Konstantyn wat in 321 n.C. besluit het dat Sondag ’n dag van rus sou wees – ’n wetlike vakansiedag. Dit lyk of Konstantyn se voorneme om dit te doen, neerkom op verering van die god Mithras, die Onoorwonne Son ... Verdere bewyse van Konstantyn se aangetrokkenheid tot sonaanbidding is opgrawings van Sint Petrus in Rome wat ’n mosaïek van Christus as die Onoorwonne Son ontbloot het” (bll. 18-19). Dus, as u Sondag onderhou, op wie se gesag doen u dit? ’n Polities-slinkse Romeinse keiser?

In sy Outline of History, merk H.G. Wells op dat “dit blyk asof Christene Son-dag daaruit [die Mithraïse kultus] oorgeneem het as hul belangrikste dag van aanbidding, in plaas van die Joodse Sabbat” (bl. 543). Unger’s Bible Dictionary stel dit só (vry vertaal): “Sondag is die eerste dag van die week en is deur die eerste Christene oorgeneem uit die Romeinse kalender (Latyn: Dies Solis, Day of the Sun), want dit was opgedra in aanbidding van die son” (“Sunday”, bl 1050).

Sommige mense aanvaar dat Johannes, in Openbaring 1:10, Sondag beskryf het as die “Here se dag”. In werklikheid is dit egter ’n verwysing na die visioene wat hy van die komende Dag van die Here – die profetiese jaar voor Christus se wederkoms – gesien het. Onthou, die Sabbatonderhoudende Jesus Christus het duidelik gesê dat Hy “Here is van die Sabbat” (Markus 2:28), dit beteken die sewende dag, nie die eerste nie!

Die Skrif toon dat die apostel Paulus die dissipels laat bymekaarkom het op die eerste dag van die week om ’n offergawe te bring (1 Korinthiërs 16:2). Daar is egter geen aanduiding dat hierdie dag van samekoms ’n dag van aanbidding was nie. Soek die Skrif deur en u sal nie ’n weeklikse Sabbatonderhouding op ’n Sondag vind nie. Ander mense regverdig hulle onderhouding van Sondag deur te verwys na die weergawe waar Paulus in Handelinge 20:7-12 met die dissipels gepraat het “op die eerste dag van die week”. Noukeurige bestudering sal openbaar dat dit nie ’n aanbiddingsdiens was nie – dit was ’n vergadering met die dissipels, voordat hy op ’n reis vertrek het.

Die boek Handelinge gee aan ons een van die duidelikste skriftuurlike verwysings na Christene wat die sewende-dag Sabbat onderhou het in apostoliese tye. Paulus het vir die Joodse gelowiges op die Sabbat, die sewende dag van die week, gepreek (Handelinge 13:14). Baie het hom egter verwerp, toe draai hy na die heidene, wat hom gesmeek het om hulle ook te leer op “die volgende Sabbat” – wat hy toe ook gedoen het (verse 42-44)! Dit is ’n duidelike aanduiding dat die apostel Paulus selfs nie onder die heidene die Sabbat verwaarloos het nie; in werklikheid het hy op die sewende-dag Sabbat aanbid en [die heidene] geleer en dus onderhouding daarvan ondersteun!

Watter merk sal u aanneem?

Sommige mense sê dat dit nie saak maak hoe ons God aanbid nie, solank as wat ons dit net doen. Is dit egter wat God sê? Dit is duidelik dat Hy Sy mense beveel het om nie die manier van aanbidding van die volke rondom hulle aan te neem nie. (“Moenie die gewoontes van die heidennasies aanleer nie” Jeremia 10:2 NV), maar om eerder getrou en toegewyd te wees aan God se opdragte!

Hoofstroom Christendom het die kenmerke van antieke sonaanbidding. In teenstelling daarmee gee God ook kenmerke waarvolgens Hy Sy ware volgelinge identifiseer. Hy sê een van die “kenmerke” van Sy mense sal onderhouding van die sewende-dag Sabbat wees. God sê deur Esegiël toe Hy van die Israeliete gepraat het: “Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die Here, is wat hulle heilig” (Esegiël 20:12). In die komende dae van wraak en toorn, wat kan belangriker wees as om “geheilig” (apart geplaas) te wees vir spesiale beskerming deur God? Daardie belofte is vandag beskikbaar vir God se mense!

Die merk van die dier van Openbaring 13 is regtig glad geen geheim nie. Dit het te doen met die hand en die voorkop – dade en geloof (Openbaring 13:16).

By wyse van spreke is een merk [of teken] van ware Christelikheid die sewende-dag Sabbat van die vierde gebod, wat behels om God te aanbid terwyl ons rus van ons werk (Eksodus 20:8-11; Levitikus 23:3). “Sondag”-wette wat onderhouding van die sewende-dag Sabbat verbied, sal sekerlik in die dae wat kom, ’n ernstige toets wees vir ware Sabbat-onderhoudende Christene. Sal hulle die “merk” van ongehoorsaamheid en sonaanbidding aanneem en hul God se toorn op die hals haal? Of sal hulle ​​die mens se tradisies weerstaan en getrou bly aan die God van die Bybel – deur hul Saligmaker, Jesus Christus op alle maniere te gehoorsaam, ingeslote die onderhouding van die sewende-dag Sabbat – om God te behaag en die ewige lewe te verkry?

Wat van u? Sal u die toegewydheid aan die dag lê om God en Sy gebooie te gehoorsaam? Sal u die moed hê om op te staan ​​vir die waarheid, maak nie saak wat u vriende of bure dink nie? Sal u ’n ware volgeling van Christus wees, bereid om alles prys te gee, indien nodig (Lukas 18:22)? Soms beteken daardie “alles” om ons vooropgestelde idees van wie God is en hoe om Hom te aanbid, prys te gee.

Ondersoek die Skrifte. Vind self uit. Verwerp die “merk” van ongehoorsaamheid aan God. Aanvaar Sy “merk” van gehoorsaamheid, ingeslote die onderhouding van die sewende-dag Sabbat. Neem die besluit om gehoorsaam te wees aan Hom, ongeag die gevolge. Nader tot God en Hy sal tot u nader (Jakobus 4:8)! Indien u God heldhaftig en gehoorsaam dien met u hele hart, kan u verseker wees dat, wanneer Christus binnekort weer kom, u die regte merk sal hê!

Ander tekens van Mithraïsme

Dit is nie net Sondagaanbidding wat hoofstroom Christendom van Mithraïsme oorgeneem het nie. Ander tradisies is ook oorgeneem. Het u al ooit gewonder waar die datum vir Kersfees, 25 Desember, vandaan kom? Is daar enige bewys dat dit die geboortedag van Christus was? Absoluut nie! Jesus Christus is nie in Desember gebore nie, want herders het nie hulle vee in die veld gehou in die middel van die winter nie (Clarke’s Commentary, Volume V, bl. 370). 25 Desember was egter vir die heidene ’n baie belangrike dag as die geboortedag van Mithra: “Die 25ste dag van Desember ... is gehou as die Natalis invicti Solis, ‘Die geboortedag van die onoorwonne Son’” (The Two Babylons, Alexander Hislop, bl. 98).

Dink ’n bietjie! Indien u en u gesin Kersfees vier, watter god aanbid u? Beslis nie Jesus Christus nie! Hoe kan God enigiets te doen hê met ’n fees wat gehou word ter ere van die geboorte van ’n heidense songod?

Paasfees sonopkomsdienste is ook een van die kenmerke van die hoofstroom Christelike kalender. Baie opregte, belydende Christene probeer sekerlik om Jesus Christus te vereer deur dit te vier. Het Christus egter werklik teen sonop opgestaan? Die Skriftuurlike verslag toon dat die vroue op Sondag oggend na Sy graf gegaan het toe dit nog donker was, maar Hy het toe alreeds opgestaan (Johannes 20:1)!

Waar het die gewoonte dus vandaan gekom om na die ooste toe te bid? Dink ’n bietjie na oor wat die historikus F.A. Regan te sê gehad het: “’n Geskikte, enkele voorbeeld van die heidense invloed [op die belydende Christendom] kan verkry word uit ’n ondersoek na die Christelike gebruik om na die Ooste te draai, die land van die opkomende son, terwyl hulle gebid het ...” (From Sabbath to Sunday, dr. Samuele Bachiocchi, bl. 256). Dit is duidelik dat die tekens van antieke sonaanbidding oral te vinde is in die tradisies wat in die hoofstroom Christendom ontwikkel het!