Nader ons nou ’n beslissende draaipunt in die geskiedenis? Neem antieke profesieë deesdae gestalte aan? Jesus het nie die vraag ontduik toe Hy as volg gevra was: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Hy het aan Sy dissipels gesê om op die uitkyk te wees vir ’n hele reeks spesifieke gebeure: Die opkoms van militante godsdienstige aktiwiteite, die verspreiding van etniese geweld en oorlog, die onstuimigheid van die weer (droogtes, oorstromings en natuurrampe), die tragedie van voedseltekorte en hongersnood en die beroering van ekonomiese ontwrigtings.

Baie Bybelse profesieë beskryf hierdie veelbewoë eindtyd as “die tye van die nasies” – ’n tyd wanneer opkomende heidense nasies weer die wêreldverhoog sal domineer. Daardie antieke profesieë neem nou gestalte aan. Wat beteken hulle?

Antieke profesieë

Baie eindtydse profesieë fokus op dinge wat in die Midde-Ooste gaan gebeur en sluit die stad Jerusalem in. Dit is hoe Jesus een deurslaggewende gebeurtenis in die eindtyd beskryf: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is ... Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word (Lukas 21:20-22). Christus het ook voorspel dat “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24). Die Griekse woord vir vertrap beteken “op getrap word, onder die hak van” en hierdie uitdrukking is op verskeie maniere vertaal. “Jerusalem sal onder die voet vertrap word deur die heidene ... deur vreemdelinge ... heiden voete sal Jerusalem vertrap” en baie van die stad se inwoners sal as gevangenes weggevoer word na ander nasies toe (Lukas 21:24). Die uitdrukking “totdat die tye van die nasies vervul is” is ook vertaal: ... “totdat hulle dag oor is” of “totdat die tyd wat aan die heidene gegun is verstryk het” of “totdat die tyd van oorheersing deur heidene tot ’n einde gekom het” (sien The New Testament from 26 Translations). Die apostel Johannes skryf dat ná aan die einde van hierdie tydvak, dan word die voorhof van die Tempel in Jerusalem “aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande [1 260 dae of 3½ jaar] lank vertrap” (Openbaring 11:1-2). Die woord wat as “heidene” vertaal word verwys na diegene wat nie afkomstig is van die antieke stamme van Israel en Juda nie. Dit verwys dus na nasies soos Duitsland, Rusland, China en Egipte, wat ’n rol gaan speel in die vervulling van eindtydse profesieë.

Hierdie Nuwe-Testamentiese profesieë herhaal en brei uit op profesieë wat in die Ou Testament gevind word. Sagaria het voorspel dat gedurende die “dag van die Here” aan die einde van hierdie tydvak, al die nasies versamel sal word “om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem ... en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap” (Sagaria 14:1-2). Die “helfte” wat in ballingskap sal gaan, sal bes moontlik Oos-Jerusalem wees – die Joodse helfte! Esegiël beskryf die “Dag van die Here” as “’n dag van wolke; die tyd van die nasies” (Esegiël 30:3). Daniël voorspel dat die wêreld oorheers sal word net voor Jesus Christus se Wederkoms deur die finale herlewing van ’n nie-Israelitiese mag met geskiedkundige wortels in die Romeinse Ryk (Daniël 2:40-45). Daniël voorspel dat ’n bose eindtydse leier van hierdie “Diermoondheid” wat in Europa gesetel sal wees, ’n einde sal maak aan die daaglikse offerandes in Jerusalem en die “ontsettende goddeloosheid” sal opstel (Daniël 8:13), waardeur die heiligdom en die inwoners van Jerusalem vertrap gaan word – net soos Jesus Christus gewaarsku het (Mattheüs 24:15; Lukas 21:24).

Swaar tye aan die kom

Hoedanig sal die “tye van die nasies” wees? Sal ’n wêreld wat deur heidense regerings oorheers word, vrede na die wêreld bring? Gee ag daarop dat Christus voorspel die einde van die tydvak sal godsdienstige en etniese twis beleef, asook oorloë en gerugte van oorloë, die verspreiding van siektes, natuurrampe en die vervolging van diegene wat in die waarheid van die Skrif glo (Mattheüs 24:3-10). Jesus waarsku aangaande toestande gedurende hierdie tydperk van heidense oorheersing. “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” – tensy God ingryp in wêreld-aangeleenthede (Mattheus 24:21-22).

Die apostel Paulus waarsku: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” – tye wat gekenmerk sal word deur selfsug, hebsug, ongevoelige en onmenslike dade, losse sedes, najaag van wellustige plesier, oppervlakkige godsdienstigheid en haat vir Bybelse waardes (2 Timotheüs 3:1-5). Paulus voorspel ook: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhangdeur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel” (1 Timotheüs 4:1-3). Paulus voorsien dat in die tye van die heidene, demoniese geeste en misleidende idees mense sal lei om die waarheid van die Skrif te verdraai en om hulle eie, onbybelse leerstellings te versin wat selibaatheid, vegetarisme en ander praktyke sal instel in die plek van God se eie duidelike wette.

Die apostel Johannes voeg ’n ander profetiese besonderheid by wat duidelik maak waarom die tye van die heidene so verskriklik gaan wees: “En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak ... die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp ... wee die bewoners van die aarde ... want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:7-12). Dit is noodsaaklik dat Jesus moet terugkeer om ’n totale ramp op aarde af te weer!

Terugkeer van die heidene

Is “die tye van die nasies” werklik aan die kom? Het ons by ’n kruispad in die geskiedenis gekom? Neem die profesieë van die Bybel deesdae regtig gestalte aan? Wanneer ons na die geheelbeeld van die geskiedenis kyk en dit in aanmerking neem wat geleerdes in internasionale verhoudings verstaan, behoort die antwoord duidelik te wees. Oor die laaste 400 jaar het die nasies van Westelike Europa en die idees van die Westerse beskawing die wêreld oorheers en gevorm. Engeland het ’n globale ryk versamel. Die Verenigde State het nie slegs die rykste en magtigste nasie geword wat die wêreld nog ooit gesien het nie, maar ook die borg van wêreldwye stabiliteit. Die dramatiese opkoms van Engeland en Amerika tot moondhede is uniek in die wêreldgeskiedenis, en vervul die profesieë in die Bybel aangaande die Israeliete – die afstammelinge van Jakob en Josef (sien “Bestuur God wêreld-aangeleenthede?” elders in hierdie uitgawe).

Gedurende die afgelope dekades het hierdie prentjie egter begin verander, ’n ander dramatiese verandering is nou onderweg. Soos geskiedskrywer, Samuel Huntington, opgemerk het, geleerdes erken dat “die uitbreiding van die Weste” in die laaste 50 jaar tot ’n einde gekom het en dat “die opstand teen die Weste begin het” (The Clash of Civilizations, bl. 53). Aangaande die “verval van die Weste” skryf Huntington: “Europese kolonialisme is verby; Amerikaanse leierskap is besig om te taan ... Ons sien ‘die einde van die progressiewe era’ oorheers deur Westerse ideologieë en sien nou in die plek daarvan ’n ‘opstand teen die Weste’” – die “her-Islamisering” van die Moslem gemeenskappe, die “Hindoelisering” van die politiek in Indië en die “Asiatisering” van lande in die Verre Ooste – namate nie-Westerse nasies die meerderwaardigheid van hulle waardes weer verklaar en daarna streef om magtige spelers op die wêreldverhoog te word (ibid., bl. 91-95). Wanneer hy na vandag se geopolitiek kyk, stel Huntington dit so: “Die mag verskuif van die lank-dominante Weste na nie-Westerse beskawings” (ibid., bl. 29). ’n Asiatiese kritikus van die Weste noteer: “Vir die eerste keer sedert ... 1948, is lande wat nie deeglik onderleg is in die Judeo-Christelike natuurlike wet tradisies nie, in die voorste linie. Daardie ongekende situasie sal die nuwe internasionale politiek van menseregte definieer. Dit sal ook die geleenthede vir konflik vermeerder” (ibid., bl. 196-197).

Vir geleerdes wat wêreldaangeleenthede bestudeer, kom die jare wat binnekort voorlê, onheilspellend voor. Huntington sluit af: “Op ’n wêreldwye basis wil dit voorkom asof die beskawing in baie opsigte toegee aan barbarisme, wat die voorkoms van ’n onbekende verskynsel genereer, ’n wêreldwye Donker Eeu, wat moontlik op die mensdom neersak ... botsings van beskawings is die grootste bedreiging vir wêreldvrede” (ibid., bl. 321). Zbigniew Brzezinski, wat aan die Amerikaanse President, Jimmy Carter, diens gelewer het as Nasionale Veiligheidsadviseur, het geskryf dat “die enigste werklike alternatief vir Amerikaanse wêreldwye leierskap ... internasionale anargie is” (The Grand Chessboard, bl. 195). Sodanige gevolgtrekkings oor die agteruitgang van die Weste – hoofsaaklik oor die ondergang van nasies wat van antieke Israel afstam – weerspieël eindtydse profesieë van die Bybel oor “die tye van die nasies” wat die einde van hierdie tydvak sal kenmerk. Ons beleef tans ’n beslissende draaipunt in die geskiedenis namate hierdie profesieëgestalte begin aanneem.