Waar was u toe u van die tragiese gebeure van 11 September 2001 te hore gekom het? Ekself was onderweg na Abilene Texas, en het kort na my vertrek van die huis af die eerste berigte oor die motorradio gehoor. Soos die ure van my lang reis verbygegaan het, het ek my radio laat speel en die gruwel hoor ontvou. Terwyl ek die wolklose hemelruim oor die Wes-Texas landskap aanskou soos ek ry, tref dit my dat ons beslis in dié tyd is waarna Jesus in Mattheus 24 verwys as “die begin van smarte.”

In die maande en jare tussen die hede en die wederkoms van Christus, sal ons sonder twyfel van talle gruwelike dinge hoor en selfs persoonlik aanskou. Die probleme wat ons nasie en die ganse wêreld beïnvloed, sal nie net op ander mense en ander plekke betrekking hê nie. Elkeen van ons sal op 'n verskillende manier beïnvloed word. Die grootste tyd van swaarkry en druk wat daar nog ooit was, is aan die kom oor hierdie nasie en oor die res van die wêreld. Saam met die grootste geprofeteerde moeilikhede, het elkeen van ons verskeie probleme en beproewinge in ons eie lewens. Dit mag gesinsprobleme, werk- of finansiële probleme, asook gesondheidsprobleme insluit – ons weet almal van die druk en spanning wat dit tot gevolg kan hê. Beproewinge en toetse is nie iets waarna enige van ons gretig uitsien nie, maar dit is egter dinge wat ons wel almal ervaar.

Ek het jare gelede 'n dame in die hospitaal besoek wat in 'n ernstige motorongeluk betrokke was. Sy het verskeie been-breuke opgedoen en het in traksie gelê. Dit het vir my gelyk asof katrolle en toue in alle rigtings geloop het. Soos ek langs haar bed gestaan en troos probeer bied het, het ek die uitlating gemaak dat nie een van ons ons eie beproewinge kan kies nie. “Nee,” stem sy saam, “maar dit is wel ons keuse hoe ons op daardie beproewinge reageer. Hierdie beproewinge kan ons bitter maak of beter maak. Ek wil hê dat myne my beter maak.” Toe ek daardie hospitaalkamer verlaat, was dit met die gevoel dat ek daardie dag baie meer geléér het as wat ek onderrig het!

Waarom laat God toe dat beproewinge en toetse Sy mense tref? Is daar 'n spesifieke doel met die beproewinge en toetse wat ons ondervind? Is daar 'n korrekte en 'n verkeerde benadering van beproewinge?

In die Nuwe Testament is die Griekse terme wat as “versoeking,” “beproewing” en “toets” vertaal word, naverwant. Hulle word afgelei van die woord peirazo, wat beteken “om te toets,” “te probeer” of “op die proef te stel” en ook van die woord peira wat beteken “om te poog” of “deur ondervinding te weet.” Nog 'n woord, dokime, wat beteken “om iets se egtheid te beproef”, word ook gebruik. Laasgenoemde term word in 1 Petrus 1:7 gebruik waar die beproefdheid van ons geloof vergelyk word met die bepaling van die kwaliteit en suiwerheid van goud.

Die boek Jakobus sê vir ons dat die versoekinge (peirasmos, 1:2), 'n doel het. Dit is die proses waardeur die lydsaamheid [egtheid] van ons geloof bepaal word (dokime, vers 3). Die eienskap van standvastige karakter word regdeur hierdie proses ontwikkel!

Nie alleenlik word daar vir ons gesê om talle toetse deur hierdie lewe te ondergaan, soos alle mense inderdaad ook moet ondergaan nie, maar ons word ook 'n patroon gegee om te volg tydens die hantering daarvan. Dit is swaar genoeg om 'n welvoeglike gesindheid te handhaaf wanneer ons deur beproewinge gaan wat ons oor onsself gebring het. Maar wat van dinge wat ooglopend onregverdig is? Menslik gesproke, vererg ons ons almal graag by die gedagte van onregverdigheid. Ons wil weerwraak neem en selfs “die skuld vereffen.”

Let op wat die apostel Petrus vir ons sê: “Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly – dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan volg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:19-23). Die Afrikaanse woord “voorbeeld” in vers 21, is afkomstig van die woord upogrammos, wat “'n geskrewe kopie” beteken. Dit is 'n term wat gebruik was vir 'n kind se afskrifboek. Deurdat die kind elke haal van elke letter wat sy leermeester gemaak het nageteken het, het hy geleer om sy leermeester se skrif na te boots. Christus moet ons patroon wees. Ons moet daarna poog om Sy benadering tot die lewe se swaarkry so na as moontlik te volg.

Behalwe Christus se persoonlike voorbeeld, sê dit in Jakobus 5:9-10 dat die profete 'n waardige voorbeeld stel wanneer dit by die hantering van beproewinge kom. Die meeste van God se profete het gely weens hul getrouheid. Benewens die profete, word die Aardsvader Job in vers 11 genoem as 'n uitstaande voorbeeld van standvastige geloof in die wyse waarop hy erge beproewinge hanteer het. Die boek Job is die verhaal van 'n gewone mens wat deur ongeluk en swaarkry omring was. Hierdie artikel sal sewe spesifieke lesse voorlê waardeur ons kan leer hoe om op beproewinge te reageer, soos dit in die boek Job onthul word.

Les 1 – God weet

Een van die oorweldigendste aspekte van 'n erge beproewing kan die gevoel van afsondering wees. Ons wil seker maak daarvan dat God weet, omdat Hy sekerlik iets daaraan sal doen wanneer Hy uitvind! In Job 1 word die agtergrondgebeure, waarvan Job totaal onbewus was, aan ons bekend gemaak.

God was egter deeglik bewus van Job en die heelhartige gehoorsaamheid waarna hy gestreef het. God Self vestig in der waarheid Satan se aandag op Job. Christus herinner Sy dissipels in Lukas 12:6-7 dat God, wie selfs nie eens 'n mossie vergeet nie, baie dieper geïnteresseerd is in die sake van Sy eie kinders. Die Vader is bewus van alles oor ons, tot in die fynste besonderhede. Selfs die hare van ons hoof is almal getel!

Wanneer ons deur persoon-like tragedie getref word of weens gehoorsaamheid vervolg word, kan ons daarvan seker wees dat God dit weet. Dít is 'n noodsaaklike teenvoeter om in gedagte te hou om die gevoelens van afsondering en eensaamheid teë te werk wat ons gereeld op sulke tye tref. “Niemand verstaan wat ek deurmaak nie,” dink ons. Maar Jesus Christus verstaan! Ons het 'n getroue Hoëpriester wat in alle opsigte net soos ons versoek is en daarom by magte is om empatie met ons te hê en ons die nodige hulp kan gee (Hebreërs 4:15-16).

Hoewel Job nie eens kon begin verstaan waarom al hierdie dinge met hom gebeur het nie, het hy geweet dat God daarvan bewus was. Hy het nie soos Satan voorspel het, gereageer deur God in Sy aangesig te vervloek nie, maar eerder aan sy vrou gesê: “Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie?” (Job 2:10).

Les 2 – God beperk die beproewing

Die opsomming van die verhaal in hoofstukke 1 en 2 gee ons insig in werklike gesprekke tussen God en Satan! Wanneer ons die boek Job begin lees, vind ons dat, hoewel God toegelaat het dat Satan vir Job laat swaarkry, Hy grense gestel het waarby die duiwel nie kon verbygaan nie. Ons weet uit die staanspoor dat daar beperkinge op Job se beproewinge is en ons is bewus van wat daardie beperkinge is. Aanvanklik het God vir Satan daarvan weerhou om Job se gesondheid te skaad. Later laat Hy toe dat Job persoonlik getref word, maar dring daarop aan dat sy lewe gespaar moet bly. In al hierdie dinge het ons 'n voordeel bo Job. Ten tye van sy swaarkry, het Job geensins van die gesprek tussen God en Satan geweet nie. Hy het niks van enige beperkinge geweet wat God vooraf op sy beproewing gestel het nie.

Wanneer ons onsself te midde van 'n groot teëspoed bevind, moet ons altyd in gedagte hou dat daar moontlik 'n soortgelyke “agtergrond” gesprek oor ons was. God het die beperkings van ons beproewinge vasgestel, ons weet net nie wat daardie beperkinge is nie!

Wat ons as Christene ervaar is gewoonlik nie sommer toevallig nie. Die duiwel “bekruip” ons nie terwyl God se rug op ons gekeer is nie. God is betrokke by elke toets wat ons deurmaak en Hy het voorafgestelde beperkings bepaal waar Satan nie kan verbygaan nie. Nòg die duur nòg die intensiteit van die beproewing is onbepaald. Per slot van rekening, God is in beheer!

Les 3 – Streef na groei, nie na regverdiging nie

Hierdie is waarskynlik een van die moeilikste lesse om in gedagte te hou. Job wou hê dat God hom moes regverdig in die oë van sy vriende. Mense het hom uitgelag en gespot (30:1, 9), en dít kan 'n bitter pil wees om te sluk. Wanneer Elíhu hom namens God in hoofstukke 32-37 begin antwoord, wys hy Job daarop dat sy fokus gedurende die grootste deel van die beproewing verkeerd was. In Job 33:12-22 verduidelik Elíhu dat God op verskeie maniere onderrig en kasty. God het Sy redes oor hoe Hy ons hanteer, en soms is dit bo ons menslike begrip.

Job was so seker van sy onskuld en die onregverdigheid van sy beproewinge dat hy vir 'n lang tyd nie verby dit kon sien nie. Hy probeer homself teen die valse gevolgtrekkings van sy vriende verdedig en staar hom in die proses blind vir areas in sy eie lewe waar groei nodig is.

Weereens, God het redes waarom Hy toelaat wat ook al gebeur, al het ons dikwels nie 'n benul waarom nie. Jakobus moedig ons aan om God te vra vir wysheid gedurende beproewinge en toetse (Jakobus 1:5). Indien ons dit in geloof doen, sal Hy dit sekerlik aan ons gee. Wat ook al die beproewing of die toets is, kan groei altyd verkry word. Selfs Jesus Christus het geleer deur die dinge wat Hy verduur het (Hebreërs 5:8). God wil hê dat ons groei. Daarom moet ons periodiek gesnoei word om groei aan te wakker (Johannes 15:2).

Les 4 – Die “waarom” blyk telkens ontwykend te wees

Menslik gesproke hou ons daarvan dat alles netjies inmekaar pas. Ons wil hê dat die wêreld en die gebeure daarin moet sin maak. Deur egter altyd 'n rede vir alles te probeer gee, mis ons soms die punt. Dit is hoe dit vir Job se vriende was.

Elífas is die eerste van Job se vriende wat praat. Hy verklaar: “Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg? Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit” (Job 4:7-8). Elífas, Bildad en Sofar, drie van Job se vriende, is dit almal eens dat die een of ander duistere geheim die oorsprong van Job se nuutgevonde probleme is. Hulle het “geweet” dat daar 'n rede moes wees. Dus karnuffel hulle arme Job om sy verdagte geheime sonde te bely.

Job het geweet dat daar nie 'n groot geheime skandaal in sy lewe was wat sy beproewinge meegebring het nie. Hy het verdedigend in die aangesig van sy aanklaers gestaan, maar hy het ook gewonder – “Waarom?” Een van die moeilike dinge vir ons om te aanvaar is dat talle van die lyding wat ons deurmaak, eenvoudig nie mooitjies geklas kan word nie. Die waarom kom dikwels kort. Slegte dinge gebeur nie net met slegte mense nie. Job erken dat die goddelose telkens oud word en voor-spoedig blyk te wees (21:7-13).

Daar is talle “waaroms” wat ons nooit in hierdie lewe sal weet nie. Die aanvaarding daarvan dat die “waarom” ontwykend blyk te wees, baan die weg na 'n vyfde les uit Job.

Les 5 – Vertroue in die aangesig van foltering

Job was raadop. Sy hele lewe is omver gegooi. Hy het sy rykdom en geliefdes in 'n reeks van rampspoedigheid verloor. Nou is sy gesondheid ook daarmee heen. Waarom? Job was erg gefrustreer omdat hy nie sin uit sy beproewinge kon maak nie. Tog maak hy in die diepte van verbystering een van die diepsinnigste geloofsverklarings wat in die Bybel opgeteken staan: “Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom” (13:15).

In Job 19 lees ons die woorde van foltering wat hy geuiter het. “weet dan dat Gód my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het …. Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei …. My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet …. My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot” (verse 6, 8, 14, 17). Tog verklaar Job selfs in hierdie laagtepunt van foltering en verwarring sy innige vertroue in God. “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan …. sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; Hom wat ék sal aanskou” (verse 25-27).

Job verstaan die waarheid aangaande die opstanding. “As 'n mens sterwe, sal hy weer lewe?” vra Job. Hy gaan voort om die goddelik geïnspireerde antwoord op te teken. “Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom” (14:14). Job het geweet dat God sou roep en dat hy sou antwoord en uit die graf te voorskyn sou kom, omdat God na die maaksel van Sy hande sou verlang (vers 15).

Dit is relatief maklik om God te volg wanneer dinge gaan soos ons dit graag wil hê. Wanneer die wêreld rondom ons sin maak, is dit relatief maklik om te glo dat God in beheer is. Maar wat daarvan as dinge in 'n omgekrapte en agterstevoor situasie ontaard? Dit is te midde van sulke verbystering en foltering dat geloof in God op sy nodigste is.

Een ding wat Satan nooit van Job verstaan het nie was sy motief. Satan het gedink dat Job God slegs dien omdat dit hier en nou tot sy voordeel was. Hy was oortuig daarvan dat, indien God sy seëninge en beskerming sou wegneem, Job Hom sou vervloek en uitskel. Dit was egter nie die geval nie. Job het God liefgehad en Hom weens egte toewyding gedien. Selfs toe hy gevoel het dat hy in die steek gelaat is, het hy steeds op God vertrou. Hierdie les van standvastige vertroue is een van die belangrikste karakter-eienskappe wat ons deur enige beproewing mee kan baat vind.

Les 6 – God sal uiteindelik beide goed en kwaad beloon.

Dit blyk soms dat die lewe onregverdig kan wees. Daar is diegene wat geen poging aanwend om God te dien nie en tog vooruitstrewend blyk te wees. Dan is daar ander mense wat werklik probeer, maar talle probleme en terugslae beleef. Wat ons in gedagte moet hou, is dat hierdie 'n tydelike lewe is.

Job merk op dat daar goddelose mense is, en: “Hul huise het vrede, sonder skrik; en die roede van God is op hulle nie. Sy stier bespring en mis nie; sy koei kalf en het geen misdrag nie” (21:9-10). Tog besef hy dat dit nie die einde van die storie is nie. Job sê in vers 30 van dieselfde hoofstuk: “dat die kwaaddoeners gespaar word op die dag van ondergang, dat hulle weggelei word op die dag van grimmigheid?” Selfs al blyk die lewe nie regverdig te wees nie, is God 'n God van geregtigheid.

Dit is uiteindelik tydens die opstanding dat God die regverdige sal beloon en die vrywilliggoddelose sal straf. Daar is egter tóg male sonder tal – selfs gedurende hierdie lewe – dat gebeure skielik 'n ander wending neem. Ter afsluiting onthul Job: “En die HERE het die einde van Job meer geseën as sy begin” (42:12). In die langeduur is daar seëninge vir gehoorsaamheid – waarvan die beërwing van die Koninkryk van God die grootste is – en ook vervloekings vir ongehoorsaamheid.

Les 7 – Ons kom uit ons beproewing wanneer ons leer wat God onderrig

Talle openbare skole bevorder leerlinge en laat hulle slaag ongeag van wat hulle werklik geleer het. By God werk dit nie só nie! Hy is die Groot Leermeester wat ons voorberei op 'n rol in die Koninkryk en Hy dring daarop aan dat ons ons lesse behoorlik leer. Eers toe Job die lesse wat God hom wou leer onder die knie begin kry, het hy uit hierdie tydperk van erge beproewing begin kom.

God konsentreer op die eindproduk. Hy wil hê dat ons soos Hy moet word! Job was 'n voorbeeldige man, maar hy het 'n gebrek gehad. Die Skrif sê Job se probleem was dat hy “in sy eie oë regverdig was” en “hy homself regverdig beskou het voor God” (32:1-2). Die uiteinde is dat Job met 'n veel dieper begrip van die Almagtige, sowel as van homself en sy eie menslike natuur, uit sy beproe-wing na vore gekom het. “Daarom herroep ek en het berou in stof en as,” sê Job aan God (42:6).

'n Noodsaaklike les wat elkeen van ons moet leer ten einde God tevrede te stel en 'n beproewing te deurstaan, is dié van genade en vergifnis. Job se vriende was powere troosters. Ongeag van hul motiewe was hulle 'n groot deel van Job se beproewing. Let egter op die keerpunt toe Job uit sy teëspoed begin opstaan. “en die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het ...” (vers 10).

Job het God werklik leer ken, nie slegs van Hom geweet nie. Hy het weens dít wat hy deur-gemaak het, 'n baie nederiger en meer lydsame man geword. Die feit dat hy hierdie lesse geleer het, was die sleutel daartoe dat hy uit die donker skadus van die lewe te voorskyn gekom het om weereens in die lig te wandel.

Ons beproewinge kan ons bitter maak, of hulle kan ons beter maak! Wat gaan u s'n vir u doen?